Bowenal dop skiet-lied die morele toets

“Skiet die Boer!” sing Malema. Met sy hand maak hy ‘n gebaar wat soos ‘n geweer lyk. In ‘n winkelsentrum speel ‘n klerewinkel, wat satiriese T-hemde verkoop, op dié tema en verkoop ‘n hemp wat lees: “Moet my nie skiet nie, ek is ‘n toeris, nie ‘n Boer nie.”

"Treurgrond - 20 jaar van plaasaanvalle" het pas by Kraal Uitgewers verskyn.

In die gelykheidshof in Johannesburg word ure spandeer om die betekenis van die woord ‘Boer’ te ontleed. Getuie op getuie gee inhoud aan die betekenis van die woord. Vir party beteken dit landbouer, vir ander beskryf dit ‘n etniese groep en vir ander verteenwoordig dit ‘n stelsel.

Daar word verduidelik dat die lied bloot ‘n struggle-lied is. Die lied word gesing om die helde van die verlede te vereer. Ure word spandeer om te verduidelik. Daar word te veel verduidelik.

Tydens die hofsaak dink ek aan my Oom Frik Hermann. Hy is doodgeskop. Oom Frik het ‘n pynlike dood gesterf. Sy ribbes het in sy longe gesteek en hulle het hom gelos om dood te gaan. ‘n Skadelose oom van 78. Ek dink aan die doodsreuk in sy huis, die bloedvlekke in sy kamer. Ek dink aan die plat gras agter sy huis waar die moordenaars deur die nag vir hom gelê en wag het. Hulle het gewag om die Boer te “skiet”.

Nie die klerewinkeleienaar of byna geen van die getuies in die gelykheidshof is Boere wie se familie geskiet is nie. Plaas jou in die skoene van ‘n vrou wie se man op die wreedste wyse vermoor is. ‘n Kind wie se pa doodgemartel is. ‘n Man wie se vrou verkrag, en met ‘n strykyster gebrand en toe vermoor is. Staan in daardie mense se skoene en sing dan: “Skiet die boer!” Jy kan nie. Jou mond word droog, jy kry ‘n knop in die keel en trane in die oë. As jy met slagoffers se familie praat, wil jy net een ding sê: hoe kan ek help? As jy na die ontwortelde plaaswerkers kyk, wil jy vra: Here, hoe het dit gebeur? Jy kan net nie meer sing “Skiet die Boer” nie, want dit maak seer.
Hoe onsensitief kan jy wees om “skiet die boer” te sing as daar reeds tussen 1 500 en 3 000 boere (na gelang van watter statistiek gebruik word) vermoor is? Daar is duisende familielede met pyn. Hoe kan jou skynbare konteks en bedoeling ooit swaarder weeg as die pyn en die belewenis van die aanhoorders van die lied?

Die AfriForum-hofsaak het eers werklik vir my konteks gekry met Oom Frik se moord. Die meeste Afrikaners het een of ander verbintenis met ‘n plaas. My skoonpa boer en boewe was in hulle huis terwyl hulle geslaap het; my neef boer en hy is ingewag toe hy van die kerk af teruggekom het; kennisse van ons is vermoor. Afrikaners beleef plaasmoorde baie intens en beleef ‘n lied waarin die woorde “skiet die Boer” gesing word as onsensitief en haatdraend.

Die ANC het ‘n roerende verklaring oor Oom Frik se moord uitgereik. In die verklaring bring hulle hulde aan landbouers en betuig simpatie met die familie. In dieselfde tyd besluit die ANC om tot die Malema-haatspraaksaak toe te tree. Hulle wil die reg hê om “Skiet die Boer” te sing. Dit is nie ‘n heethoofdige jeugleier met sy jeugliga nie, dit is die regerende party.

Met hulle toetrede tot die Malema-saak het die ANC ‘n morele toets gedop. In die vraag na moraliteit is die kwessie eenvoudig: behoort jy iets te doen? Nie noodwendig ‘kan jy’ of ‘mag jy’ nie, maar ‘behoort jy?’ In die konteks van Suid-Afrika met sy hoë moordsyfer en veral moorde op boere behoort jy nie “skiet die Boer” te sing nie. Selfs al sou die hof dit toelaat, behoort jy dit nie te doen nie. Dit is nie reg nie. Alles wat wettig is, is nie reg nie. Daar is sekere dinge wat jy nie behoort te doen nie. Enigeen wat argumenteer, “ek kan en ek wil die hof vra om my die reg te gee om so ‘n lied te sing”, dop die morele toets. ANC, julle behoort dit nie te doen nie.

Malema, Mantashe en Zuma – ek nooi julle uit: gaan staan langs die weduwee van ‘n boer wat gemartel en doodgeskiet is. Laat die ontwrigte werkers en familielede by julle staan. Begin dan met die dreunsang: “skiet die Boer”. Julle gaan niks hoor nie.

[Hierdie skrywe dien as inleiding tot Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle in Suid-Afrika, wat pas by Kraal Uitgewers verskyn het. Vir meer inligting of om die boek te bestel, sien hier.]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

Om neer te skryf   

1  Soms sug mnr en mev Alwyn Hofmeyr saam met twee duisend ander ouerpare as hulle op ‘n gradeplegtigheid in die DF Malan-sentrum sit en luister na die onverstaanbare titels waaroor graduandi navorsing moet doen, en dit terwyl hulle eintlik net kom kyk het hoe hulle oogappel Marinda Hofmeyr haar graad kry.  Laat hulle maar sug!  Soos kennis uitbrei, is daar is ‘n nimmeindigende reeks titels en temas wat deurlopend nagevors móét word en steeds nagevors sál word.  Dit wat nie nagevors en beskryf word nie, bly ongelukkig dikwels buite menslike begrip. 

2  Dit geld ook die geskiedenis.  Deesdae is daar boonop maar ‘n dun beursie beskikbaar vir diegene wat gebeure neerskryf wat ons Afrikanervolk beleef.  Eers as dit geboekstaaf word, begin dit deurdring tot die menslike brein, dán tot die menslike geheue.  Daarom maak die publisering van “Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle in Suid-Afrika” so ‘n onmisbare bydrae tot die geskiedenis waardeur die Afrikanervolk tans leef.  Enkele volksgenote met skerp historiese oë, soos Dirk Hermann en Chris van Zyl, lewer hiermee ‘n liefdesdiens aan ons volk en sy geskiedenis.

Om te onderskei   

3  Naas die vaardigheid om geskiedenis te skryf, weerspieël Dirk se opmerkings hierbo talle fyn aanvoelings oor die regverdiging van ‘n lied wat sangers aanspoor, nie net om ‘n stryd te voer nie, maar om ander lede van jou eie samelewing te “skiet”.  Let wel:  te skiet. 

4  Hoeveel van ons volksgenote lees of dink?  Hoeveel ander absorbeer die SAUK se daaglikse ANC-nuusbeelde – oor die een minister na die ander – omdat hulle pas TV-sepies lê en kyk het?  Hoeveel se enigste opsies is gevolglik ‘n keuse tussen een voorbok van die ANC en ‘n ander voorbok van die ANC?  By hoeveel bestaan die Afrikanervolk steeds as ‘n volk met sy eie doelwitte?  Daarom is Dirk so skerpsinnig as hy ‘n lyn trek: as hy aantoon dat ANC-woordvoers as sulks, en nie net een of twee jeugdiges nie, so ‘n moordlied vertroetel.  Soos Dirk tereg aanvoer: “Dit is nie ‘n heethoofdige jeugleier met sy jeugliga nie, dit is die regerende party.”  So leer ons inderdaad watter party praat oor moord.  Ons leer ook wie praat oor liefde. 

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.