Bozen, ’n hoofstad met letsels

bozen-waltherplatz-suid-tirool

Die stad Bozen se Waltherplatz-plein in Suid-Tirool, Italië. Foto: Mattes/Commons.wikimedia.org

Suid-Tirool het nog steeds ’n sterk landelike karakter en die hoofstad Bozen is eintlik teen sy sin ʼn stad. Die demografiese politiek van die fascistiese leier Mussolini het gemaak dat Bozen vandag ’n Italiaanse meerderheid het, alhoewel die stad histories nog altyd Duits was. Dit was sedert die Middeleeue ’n voorspoedige stad wat weens sy uitstekende ligging as brug tussen Duitsland en Italië veral op handel ingestel was. Die rykdom van sy burgers het ook gelei tot welvarende kerke en kloosters en talle sakrale kunswerke. Suid-Tirool en Bozen was altyd en is nog steeds Rooms-Katoliek.

Ná die aansluiting by Italië in 1918 en die magsoorname deur Mussolini ’n paar jaar later, is gepoog om van Bozen ’n Italiaanse stad te maak om sodoende die hele Suid-Tirool te beheer. Die wonde van die poging is vandag nog sigbaar in die stadsbeeld en daar is geografies twee Bozens: ’n Duitse en ’n Italiaanse een.

Die fascistiese stadsbeplanners het die dorpie Gries sowat 2 kilometer wes van Bozen as beginpunt vir ’n nuwe Bozen rondom die oue geneem. Die wingerde rondom Gries is onteien en tussen die twee dorpe is ’n fascistiese modelwoonbuurt gebou, met breë rylane en winkelarkades met marmerpilare van die landelike Gries tot by Bozen se historiese stadskern. Rondom is woonstelblokke gebou om die nuwe Italiaanse intrekkers te huisves, en om vir hulle werk te gee is talle nywerhede in die suide, naby die spoorlyn en die Etschrivier, opgerig. Aan die einde van die breë rylaan Corso della Libertad is die oorwinningsmonument, ’n nagebootste Romeinse triomfboog vol fascistiese simboliek, opgerig om die Italiaanse oorwinning in die Eerste Wêreldoorlog (wat eintlik te danke was aan die geallieerde magte en nie aan Italië nie) en die kamstige meerderwaardigheid van die Italiaans-Latynse beskawing te vier.

Die oorwinningsmonument was en is nog steeds ʼn argitektoniese en ideologiese uitroepteken en rondom is ook talle openbare geboue in die fascistiese monumentaalstyl gebou sodat dit by die opset pas. Die plan was om die idilliese en historiese stadskern van Bozen ook vorentoe af te breek en die Oostenrykse erfenis te verwyder ten gunste van ’n fascistiese modelstad. Gelukkig het die val van Mussolini se bewind ’n einde aan sulke planne gemaak. Die oorwinningsmonument is wel herdoop tot vredesmonument en ’n museum in sy kelder is krities oor die fascistiese era. Nogtans is dit vir talle Suid-Tirolers nog steeds ’n ergernis en ’n twispunt tussen die taalgroepe.

Die omgang met monumente wat vir sekere volke aanstoot gee, is natuurlik ook in Suid-Afrika ’n gereelde en emosionele tema. Afgesien daarvan dat Suid-Tirool polities deel van Italië is en dus nie onafhanklik kan optree nie, en afgesien daarvan dat die stad Bozen weens sy demografiese verskuiwing ’n Italiaanse burgemeester het, is dit in elk geval onmoontlik om die geskiedenis uit te wis deur sekere bakens te verwyder. Die oorwinningsmonument en ander fascistiese geboue herinner aan ’n slegte episode in die streek se lang geskiedenis en dit is soos ’n letsel wat aan ’n ou wond herinner.

Die verwydering van die uiterlike letsel verwyder egter nie die innerlike pyn nie.

Duitssprekendes en Italiaanssprekendes moet hul verlede erken en is vandag gelukkig grootliks versoen, sonder dat hulle een geword het, soortgelyk aan die verhouding tussen Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaners. Dit is nou al die derde generasie Italianers wat hier woon en wat ook met die huidige tweetalige Suid-Tirool met sy unieke karakter vereenselwig.

Die twee taalgroepe staan deesdae in elke geval saam in die aangesig van die nuwe bedreiging deur immigrante uit Afrika. Dit is nog nie ’n massaverskynsel is nie, maar iets wat oral sigbaar is, veral rondom die stasie, en iets wat die misdaad merkbaar laat styg het. Dit is ook een van die groot vraagstukke in die komende streeksverkiesing in Oktober vanjaar. Tans regeer die Suid-Tiroolse Volksparty nog alleen, maar die kanse is goed dat hulle hul meerderheid verloor en gedwing is tot koalisievorming, dalk met ’n party wat fokus op die migrantekwessie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liberaal ·

My liberaal linkse meesters is baie ontstel dat Duits so sterk staan daar want ons liberale globale heersers wil als germaans sien kwyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.