Brasilië – die karnaval, muskiete en rommelstatus

brazil Uitsig_oor_Rio_en_Christusbeeld_brasilie

Uitsig oor Rio en die Christusbeeld. Foto: Plane News via Travel Tales

Die president is in die sop oor korrupsie, die ekonomie gaan drasties agteruit, rassespanning neem by die dag toe, protes teen die regering het reeds ernstige afmetings aangeneem, daar is ongelukkigheid oor sportstadions wat gebou is teen enorme koste en plakkerskampe is misdaadneste.

Verkeerd. Dis nie “Zupta” se Suid-Afrika nie, ons praat van Brasilië. Brasilië wat die Wêreldbeker-sokkertoernooi teen alle verwagtinge suksesvol aangebied het in 2014, wat oor vier maande (Augustus) die Olimpiese spele vir die eerste keer in ʼn Suid-Amerikaanse stad, Rio de Janeiro, gaan aanbied en wat ʼn vooruitstrewende bevolking van oor die 200 miljoen mense het.

Lula en Roussef

Brasilië is egter ook in die nuus oor sy ekonomiese rommelstatus, wat blykbaar ook deur internasionale graderingsagentskappe oor Suid-Afrika uitgespreek gaan word. ʼn Week of wat gelede wou Brasilië se owerhede die voormalige president, Luiz Inacio da Silva, in hegtenis neem oor sy moontlike aandeel in korrupsie tydens sy bewind.

Lula, soos hy bekend staan het, met groot hoop van die agtergeblewe Brasiliërs, die presidensiële verkiesing in 2002 gewen met sy ultra-linkse Werkersparty. Gedurende sy bewind het hy groot groei bewerkstellig, hoewel hy grootliks sy kommunistiese retoriek agtergelaat en belastings en regeringsinmenging eerder verminder het. Sosiale programme het mense egter afhanklik van staatsaalmoese gemaak. Die ontdekking van olie en die ontginning van grondstowwe het ook ʼn groot rol gespeel in die bloeitydperk van die 2000’s.

Die partytjie is egter vir eers verby. Lula se opvolger, Dilma Roussef, wat in 2011 oorgeneem het as gesalfde van Lula, het sy beleidsrigtings voortgesit, maar die val van grondstof- en oliepryse, korrupsie, swak bestuur en sosialistiese retoriek het die land nou ingehaal. Roussef het eers te kampe gehad met sosiale onrus oor die sokker-wêreldbeker stadions wat teen groot koste gebou is, terwyl armlastiges daar naby krepeer van ellende in die favelas (of plakkerskampe).  Grootskaalse korrupsie het die kostes van die bouwerk aan stadions vir die Rio Spele geweldig opgejaag. Sy word self ondersoek vir verskeie oortredings wat grens aan korrupsie. Dit lyk of Roussef se regering op sy laaste bene staan weens ongelukkigheid met haar leiding.

Roussef is nietemin in 2014 as president herkies. Daarna het die drama toegeneem. Die ekonomie het in 2014 met 1,4% gekrimp en toe, in 2015, met 3,8%. Werkloosheid neem toe en die ontevredenheid met die regering het in 2015 oorgekook, toe miljoene Brasiliane die strate ingevaar het in protes teen Roussef se regering.

In plaas daarvan om te vernuwe, klou Roussef aan mag en gebruik haar presidensiële magte. Sy het pas ʼn “kom gratis uit die tronk”-kaartjie aan Lula gegee deur, in tipiese derde wêreld-styl, hom as stafhoof in haar kabinet op te neem. ʼn Kabinetspos gee Lula vrywaring van vervolging. Dit is egter te betwyfel of graderingsagentskappe so ʼn stap positief sal beskou en hulle oortuig dat Brasilië sy status wil verbeter.

Krisisse en rassespanning

Brasilië steier van een krisis na die ander. Die spele van 2016 (wat nog moet plaasvind) word reeds eerder onthou vir nog ʼn kontroversie: die Zika-virus. Die virus word deur muskiete versprei en lei blykbaar tot infeksie in swanger vroue en tas breinontwikkeling van babas aan. Duisende gevalle is al geïdentifiseer in Brasilië en dit het tot wêreldwye paranoia aanleiding gegee dat besoekers en selfs atlete, die Rio Spele moet vermy om te ontkom aan die Zika virus.

Soos gewoonlik word natuurlik oorreageer en sal Zika heel moontlik min invloed op die besoekers of die spele hê, maar die alarmiste sal sekerlik Brasilië se vermoëns om te reageer of gebrek aan reaksie aan die kaak stel en so Brasilië se luisterrykste geleentheid effens versuur.

Brasilië is natuurlik bekend vir sy veelkleurige karnaval wat jaarliks die wêreld se verbeelding aangryp. Die enorme probleme waarmee die gemiddelde Brasiliaan spook, word egter meestal misgekyk.

  • Die verskil in welvaart tussen die rykes en armes is geweldig en van die hoogste in die wêreld (soos in Suid-Afrika word dit in ʼn rassekonteks beskou). Lula het programme tydens sy bewindstydperk begin om arm families geldelik te ondersteun, maar soos dit maar gebeur, het mense afhanklik geraak van hierdie sosialistiese skemas.
  • Die land sukkel met misdaad. Halsmisdaadsyfers is hoog en gewapende roof, bendegeweld en ontvoerings, van veral rykes se kinders, gebeur gereeld. Polisiegeweld en korrupsie gedy in die stelsel.
  • Die onderwysstelsel is gratis, maar standaarde het so laag gedaal dat die middelklas genoodsaak is om hul kinders na privaatskole te stuur.
  • Favelas word oral opgerig, aangesien verstedeliking na die groter dorpe en stede toeneem. Daar word bereken dat Brasilië ʼn tekort van 7 miljoen huise het en die onwettige opneem van stedelike grond lei tot ernstige sosiale probleme, weerstand van die gevestigde inwoners en beskadiging van die natuurlike omgewing.
  • In hierdie omstandighede is rassespanning besig om toe te neem.

Dit word reeds lank verklaar dat Brasilië nie institusionele rassisme het nie en dat rassevermenging grootliks vreedsaam plaasgevind het. Brasilië word inteendeel meestal as ʼn suksesvolle geïntegreerde rassemodel voorgehou.

Brasilië het tydens die Portugese koloniale era miljoene swart slawe ingevoer. Daar was ook inheemse Indiaanse stamme en dan het verskillende Europeërs, Arabiere, Japannese, Koreane, Chinese en ander deur die jare in groot getalle na Brasilië gestroom om ʼn nuwe lewe te begin.

Swart Brasiliane voel veral dat teen hulle gediskrimineer word. Hulle noem dat geen hoof uitvoerende beampte van Brasilië se groter maatskappye swart is nie, swart of gemengde Brasiliane verdien ongeveer die helfte van dit wat wit werkers verdien en slegs een kabinetsminister is swart. Daar word ook gekla dat min of geen swartes in die land se gewilde TV-sepies te sien is nie. In ʼn land waar meer as 51% van die bevolking swart of gemeng is, voel baie hulle kry nie geleenthede kry nie en is tweedeklas burgers.

Om dinge verder te kompliseer, het Brasilië ʼn komplekse rassestelsel. Gemengde rasse het elkeen ʼn ander naam in die volksmond. ʼn Persoon van gemengde afkoms word ʼn “mestiço” genoem, wat dan verder in kategorieë ingedeel word. ʼn “Mulatto” is byvoorbeeld iemand van wit en swart gemengde afkoms, ʼn “Cafuzo” swart en Indiaan, ʼn “Caboclo” wit en Indiaan, ʼn “Jacara” swart, wit en Indiaan en ʼn “Ainoco” wit en Japannees. ʼn Totale deurmekaarspul met min gemeenskaplike identiteit, behalwe miskien as die Brasiliaanse sokkerspan internasionaal meeding.

Soos in Suid-Afrika

Die ooreenkomste tussen Brasilië en Suid-Afrika is eintlik verstommend, maar aan die ander kant, enige land met grootskaalse armoede en uiteenlopende rasse- en kultuurverskille sal seker noodwendig met dieselfde oorhoofse probleme sit. Dit maak Suid-Afrika, of Brasilië, dus nie uniek nie. Dat rassespanning soos hier by ons aangeblaas word deur oproermakers en selfs regeringsinstansies en ministers, is egter ʼn resep vir verdere konflik en spanning, wat geen voordeel vir die land of sy mense het nie.

Suid-Afrika is soos Brasilië op pad na rommelstatus. Rasseverhoudinge versleg, staatsosialisme maak mense afhankliker van die staat, staatstrukture is oneffektief en korrupte politici bevoordeel hulself en benadeel die onafhanklikheid van instansies wat as waghond teen staatsvergryp moet dien.

Dalk is dit waarom sport, karnavalle en sogenaamde rassisme mense se aandag moet aflei van werklike probleme.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Loeis ·

Jap. Toe die springbok rugbyspan teen Japan verloor het (ek het lekker gelag, want dit maak regtig nie saak nie), is dit as nasionale ramp voorgehou. Daar is daardie selfde naweek ‘n paar boere vermoor, maar dit het maar stil-stil verby gegaan. Elkeen wie tot hierdie geklike stand van sake bydra, hou die stand van sake in stand.

Koos ·

Interessant. Nou waarom is die swartmense in Brasilië dan armer? Daar was nie apartheid nie. Slawerny is afgeskaf in 1888. Selfde geval in die VSA.

Plaasjapie ·

Suid Afrika is die enigste land waar die meerderheid deur regstellende aksie gehelp moet word. En dan het die meerderheid na meer as twintig jaar nog niks reggekry behalwe dat n klompie hulle dik gesteel het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.