Brexit gevolg deur goue somer, onsekerheid

brexit

Foto: Pixabay.com

Deur Pieter de Lange

Kan jy onthou hoe die bekende sielkundige Elizabeth Kubler-Ross destyds die verskillende stadiums in die rouproses beskryf het? Dit was eers ontkenning, gevolg deur woede, en dan rasionalisering, depressie en uiteindelik aanvaarding.

Die Brexit-opskudding is gevolg deur ʼn gevoel van “oeps, ons wou julle net goed skrik gemaak het”, en daarna ʼn stemming van “waarheen nou?” as gevolg van die leierskapleemte met Cameron se bedanking en al die prominente “uit”-leierfigure wat skielik ontdek het dat hulle elders moes wees. Die gewoonlik terughoudende tydskrif The Economist het Brexit eers begroet met die beskrywing van “ A Tragic Split” en daarna verwys na “Anarchy in the UK” op die voorblad.

Geen wonder nie dat die pond geval het tot die laagste vlak sedert 1985 en dat die gesamentlike waarde van Brittanje se eiendomsontwikkelaars met 40% gedaal het. Dit was ook nie ʼn verrassing dat tweederdes van die lede van die Institute of Directors die gevoel van skok en ongeloof weerspieël het in hulle verklaarde voorneme om investering in te kort nie.

ʼn Goue somer

Dit is nou net meer as twee maande later en die paar weke van warm sonskyn en die uitstekende vertoning van die Britse Olimpiese deelnemers het die algemene stemming dramaties verander. Verbruikersvertroue is nou op ʼn sesmaande-hoogtepunt, en die toeriste waardeer die goedkoper pond en koop Britse produkte dat dit klap. Die Britse vervaardigingsektor toon ook die grootste styging in 25 jaar, die uitvoerbestellings is die hoogste in twee jaar en die aandele styg tot ʼn gesonde vlak. Dit is dan ook geen verrassing dat die meerderheid van die direkteure nou van plan is om investering te verhoog nie.

Die wye Brexit-web

Maar die skokgolwe duur voort, dis net minder sigbaar. DS Smith, ʼn maatskappy met 200 fabrieke en 26 000 werknemers dwarsdeur Europa wat gespesialiseerde verpakking vervaardig vir Amazon, asook  bekende groepe soos Unilever, Nestlé, Procter & Gamble en Cadbury, se uitvoerende hoof, Miles Roberts, het die moontlikheid dat hy sy hoofkwartier na Europa sal moet skuif onlangs beklemtoon.

Roberts het drie kritieke faktore beklemtoon wat in die Brexit-onderhandelings vir sy maatskappy belangrik is: Die vermoë om geskoolde werkers vrylik dwarsoor Europa te kan rondskuif; om nog steeds ʼn gemaklike handelsverhouding met Europa in die algemeen te kan handhaaf om hulle wêreldwye kliente te kan bedien en laastens die behoud van algemeen aanvaarde standaarde vir sakeondernemings sodat daar gemaklik oor grense handel gedryf kan word.

Die eerste trans-Europeuse patente-goedkeuringstelsel wat sy takke volgende jaar in Londen, Parys en München sou open, se planne is nou lelik omvergegooi. Die UPC sou ʼn einde gemaak het aan die duur en tydrowende proses vir maatskappye om in elke land afsonderlik vir patente aansoek te doen. Verder is die European Medicines Agency en die European Banking Authority, wat tans hulle hoofkwartiere in Londen se Docklands het, blykbaar op soek na nuwe tuistes.

In teenstelling is die farmaseutiese liggaam die Ethical Medicines Industry Group verheug oor die vooruitsig van die verwagte drastiese vermindering in die regulering van die registrasie van nuwe middels. Die liggaam verwag dat Brittanje binnekort in staat sal wees om baie genetiese siektes te genees jare voordat dieselfde behandeling in Europa beskikbaar sal wees.

Die jongste ekonomiese data dui steeds op die langdurige gevolge van die 2008-bankkrisis. Byvoorbeeld Global Trade Alert sê dat die G20-lande meer as 4 000 individuele nywerheidsbeskermingsmaatreëls ingestel het, wat 40% van wêreldhandel beïnvloed, sedert die resessie posgevat het.

Die bekende London School of Economics wys daarop dat hoewel daar meer werkgeleenthede is, lewenstandaarde in werklikheid gedaal het. Volgens hulle was daar ʼn

10% afname in gemiddelde salarisse tussen 2007 en 2015. Die instituut beklemtoon dat die toename in immigrasie nie die oorsaak is vir die daling nie. Die oplossing volgens hulle is om Brittanje se swak produktiwiteit te verhoog.

Intussen het die prominente Vlaamse leier Geert Bourgeois die moontlikheid van ʼn Noordsee-Unie, wat Vlaandere, Nederland, Denemarke, Duitsland en Noorweë saam met Brittanje sal insluit, in die vooruitsig gestel. Dít terwyl die gewilde direkteur van die beroemde Victoria and Albert-museum, Martin Roth, Brexit as ʼn persoonlike verlies beskryf het “aangesien dit alles kan bederf wat die vorige geslag opgebou het” en sy voorneme aangekondig het om terug te keer Duitsland toe.

Met die oog op die uiters komplekse handelsooreenkomste wat voorlê is die opsomming van Rob Wood van Bank of America Merril Lynch gepas: “Dinge lyk beter as wat dit kon gewees het, maar daar is niks wat aandui dat alles voor die wind is met die ekonomie nie.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Apel ·

Daar gaan niks sleg gebeur nie, dit was net die manipulerende media en superryk magnate agter die media wat mense wou bangpraat. So ook gaan niks sleg gebeur sou Trump president in VSA word nie.

Pietman ·

Baie waar Apel. Inteendeel die Britse aandelemark is al ‘n goeie 7.7 % hoër as die dag voor Brexit. Hoofstroom media kan maar skop en skree , die Britte gaan nie swakker ooreenkomste onderhandel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.