Brexit-ooreenkoms kort voor afsnydatum bereik

Argieffoto (Foto: CHRIS J RATCLIFFE / AFP)

Kort voor die einde van die jaar, nogal op Oukersaand, is aangekondig dat die ooreenkoms wat die verhouding tussen die Europese Unie (EU) en Brittanje ná Brexit sal bepaal, bereik is. Dit volg op nege maande se meestal vrugtelose onderhandelinge nadat Brittanje op 31 Januarie verlede jaar ’n oorgangstydperk betree het waartydens onderhandel moes word. Dit het nog tot onlangs toe gelyk asof Brexit sonder ʼn ooreenkoms, dus Brittanje se uittrede uit die EU sonder ooreenkoms en die terugval op die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie, die waarskynlikste scenario sou wees.

Die tydvenster met die einde van die oorgangstydperk, en ook die feit dat die Britse premier Boris Johnson, anders as sy voorganger Theresa May, nie uitdruklik gekant was teen Brexit sonder ʼn ooreenkoms nie, het tot gevolg gehad dat die EU se hoofonderhandelaar, Michel Barnier, gedwing is om ʼn kompromie aan te gaan.

(Foto: Frank Augstein, AP)

Die EU se houding was dat die Britte gestraf moet word vir hulle vermetelheid om vir Brexit te stem, maar Brittanje onder Johnson het met selfvertroue opgetree en sy absolute verbintenis tot die kiesers se keuse vir Brexit beklemtoon en aangedring op onderhandelinge as gelyke vennote. So kon ’n ooreenkoms wat vir beide kante aanvaarbaar is, beding word. Alle 27 EU-lande het die ooreenkoms aanvaar, en die goedkeuring deur die Britse parlement op 30 Desember was net ’n formaliteit.

Die ooreenkoms van sowat 2 000 bladsye bevat heelwat tegniese detail, maar laat nog steeds genoeg ruimte vir interpretasie en maak selfs nog verdere onderhandeling oor sekere areas, wat net aangestip is, nodig. Die ooreenkoms is taamlik vaag oor die hantering van dienste (in teenstelling met goedere) wat Brittanje se ekonomie dryf.

Een twispunt wat die onderhandelinge amper laat misluk het, was die kwessie van visserykwotas. Brittanje besit as eiland uit die aard van die saak ’n groot seegebied met visryke waters, waar die vissersvlote van verskeie EU-lande tans vang. Brittanje het hier oor die kwotas (slegs 25% vir Britse vissers) die groter toegewings gemaak, maar dit geld net vir vyf jaar en sal dan weer onderhandel word.

Die kern van die ooreenkoms is egter dat Brittanje ’n vryhandelsooreenkoms kon bereik, met ander woorde dat produkte sonder tariewe en doeanes verder toegang tot die EU het, sonder om aan al die regulasies en veral politieke doelwitte van die EU gebind te wees. Meer nog, Brittanje kan nou sy eie handelsooreenkomste met ander state sluit. Die EU het wel aangedring op ’n “gelyke speelveld”, met ander woorde dat Brittanje by die EU se standaarde vir omgewing- en arbeidsregulasies hou en deur tariewe gestraf word indien dit nie gedoen word nie.

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Johnson het wel vasgestaan dat die Europese geregshof geen seggenskap oor Brittanje meer het nie. Ook die beheer oor immigrasie is weer volledig in Britse hande. Die vrees vir massa-immigrasie via ander EU-lande na Brittanje was een van die faktore vir die pro-Brexit-stem. Natuurlik sal albei kante die ooreenkoms so vertolk dat hulle hul doelwitte bereik het, maar dit wil lyk asof Johnson, uit ’n swakker posisie, meer bereik het.

Brittanje, wat in 1973 deel van die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap geword het, het die EU gesien as in die eerste plek ’n vryhandelsone, nie as superstaat met ideologiese doelwitte wat sy lidlande in alles voorskryf nie. Na vier en ’n half jaar waar dit dikwels gelyk het asof die EU en die Britse parlement die Brexit-referendum gaan ignoreer of omseil, het Brittanje nou uiteindelik sy onafhanklikheid teruggekry. Die voorspelde groot ekonomiese insinking het nie ingetree nie en sal ook nie vanjaar intree nie. Dalk die teendeel.

Dit het in die lang geskiedenis van die EU en sy voorgangerorganisasies nog nooit gebeur dat ’n land die unie verlaat nie. Die doelwit is veral sedert die 1990’s ’n al hoe nouer en al hoe groter unie wat uiteindelik uit die hele geografiese Europa een federale superstaat met ’n linkse ideologie maak. Die grootste vrees vir die EU is dat Brittanje suksesvol is na sy uittrede, en dat die EU sy houvas op sy lidlande verloor. Die ergste scenario vir die EU sou wees dat Brittanje ’n alternatief tot die EU ontwikkel en die amper ontbinde Europese Vryhandelsone, waar state handel dryf sonder tariewe, maar mekaar se interne politieke wese en besluite respekteer, weer laat herleef.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.