Breyten Breytenbach en die soort stiltes oor Afrikaans

Breyten Breytenbach en William Sezoe met Breytenbach se 80ste verjaardagvieringe in Wellington verlede jaar. (Foto: Verskaf.)

Deur William Sezoe

Ek dink nie Breyten het enige bekendstelling nodig nie, maar laat ek hierdie formidabele man op ʼn gepaste wyse aan jou voorstel. Breyten Breytenbach, die vreeslose en onbeskaamde digter, wat krities en sonder perke na die lewe kyk, het onlangs in ʼn onderhoud saam met Willem de Vries, sy boodskap gedeel oor die situasie waarin ons onsself bevind. Die volledige stuk, is beskikbaar op LitNet.

Ek het die voorreg gehad om vir Breyten verlede jaar, op sy 80ste verjaardag in Wellington te ontmoet. Mens, wat ʼn man! ʼn Man van vele woorde, plat op die aarde en duidelik mal oor die kleur rooi (so lei ek af). Ek noem hom sommer Breyten Taalbek. Hy is verskriklik lief vir sy taal, sy mense en kultuur. En in hierdie onderhoud saam met Willem, praat hy oor verskeie onderwerpe, spesifiek oor die stiltes wat ons as mense beleef. Nog ʼn punt wat vir my uitstaan, is sy siening oor Stellenbosch en sy taalbeleid, en dan ook die “rumoer” rondom die US se nuwe kanselier, oudregter Cameron.

“Daar is die stilte wanneer jou mond met hartgare toegenaai word omdat jou taal in al haar variante agterlik, besmet, mensonterend, peasant, rassisties is”, noem Breyten aan my.

Hierdie woorde laat my nogal baie dink aan die onkundige ideologieë van sekere mense. Mense in hoë posisies, wat geen bekendstelling benodig nie, maar ek wil hulle eerder nie noem nie. Laat ek eerder die vrede bewaar deur stil te bly. Maar iets waaroor mens nie kan stilbly nie, is die aanhoudende gehamer teenoor ons moedertaal. “Die taal van die onderdrukker”. Ek dink elke Afrikaanssprekende het al dié woorde gehoor. En dit maak jou tot ʼn mate so skaam dat jy sommer nie die taal wil praat nie. Jy is te skaam oor wat die mense gaan dink of wat hulle gaan sê. Dalk kyk hulle jou anders aan. Dalk laat dink jy hulle aan apartheid as jy Afrikaans praat, dalk is jy, soos Breyten sê, rassisties as jy jou moedertaal wil praat. En nou bly jy maar eerder stil om die vrede te bewaar. Nou bly jy maar eerder stil om nie uitgesluit te word nie. Nou bly jy maar stil om nie geoordeel te word nie. Nou bly jy maar stil, min wetend dat jy jou eie moedertaal onderdruk. Nou bly jy maar stil, en verkies jou studies in Engels, want hulle gaan jou oordeel, hulle gaan jou snaaks aankyk, hulle gaan vir jou lag. Hulle gaan sê jy is teen transformasie.

Maar wie is dié hulle presies?

Nou is jy maar ʼn sementbek. Nou is jy maar soos Breyten Taalbek sê, ʼn bek wat met hartgare toegenaai is, terwyl jou moedertaal stadig maar seker besig is om sy laaste asem as hoëfunksietaal te verloor. Nou sit en kyk jy maar toe, want jy wil die vrede bewaar.

Oor die US en sy belaglike taalbeleid raak Breyten egter meer hartseer oor die situasie. Breyten Taalbek verander oor hierdie onderwerp na Breyten Buitetjank:

“Miskien word dit nou tog duidelik dat die kwessie veel groter was – veel groter is – as die Universiteit Stellenbosch se gewraakte (en uiteindelik kortsigtige en mensonterende) taalbeleid; dat die moontlike voortbestaanvraag wat ons aan die strot gryp, is of ons leiersfigure oor genoeg insig en etiese ruggraat beskik om te realiseer. Die totalitarisme, van watter aard ook al, wérk eenvoudig nie; dat die saamsnoering ’n dinamiese en dialektiese proses is wat lewend gehou moet word indien dit ons erns is om saam te wil lewe; en dat hierdie proses se lewensvatbaarheid afhanklik is van die mate waartoe struktureel, konkreet, kultureel ruimte gelaat en bevorder word vir die lokale, vir tekstuur, vir die verantwoordelike aanvaarding van ’n saam-mekaar-anders-maak aan die hand van ’n etiese verbeelding, van verantwoordbare interaksie. Daar kán geen “eenheid” wees sonder die daadwerklike inagneming van “diversiteite” nie. Mens wil byna sê: geen “universiteit” sonder die erkenning en waardering van “diversiteit” nie. Goeie genade, is dit dan so moeilik om te verstaan?”, noem Breyten ten slote oor Cameron en die US-taalbeleid.

Soos ons die naweek van Breyten se 80ste verjaardag afsluit in Wellington, fluister Breyten ʼn kort boodskap in my oor. Let wel: Breyten was nie bewus dat ek vanjaar by die US, gaan begin as onderwysstudent nie.

“William, jy is die toekoms, en ek is vir eers die verlede: die stryd vir ons taal gaan voort”.

Hierdie woorde het my laat besef om nie stil te bly nie. Hierdie woorde het my geleer om die stereotipes teenoor Afrikaans te veg. Om vreesloos in Afrikaans te praat en te doen. Dit het my geleer om die US se sogenaamde “meertaligheidsbeleid” te bevraagteken, sonder om sleg te voel daaroor. Al wil mense my daaroor kruisig.

Om watter redes gaan jy stilbly?

  • William Sezoe is van die Paarl en´n student aan die Universiteit Stellebosch (US).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Puik stuk deur William Sezoe!
Tans is daar aan geen universiteit hoegenaamd enige “leiersfigure met genoeg insig en etiese ruggraat” om Afrikaans se akademiese voortbestaan te verseker nie.
William se generasie sal dus skouer aan die wiel moet sit en Breytenbach en ons almal se harte blymaak.
Sterkte en Voorspoed!

Danie

In die apartheids jare is breytenbach natuurlik soos verskeie ander anti apartheid aktiviste as die sogenaamde intulektueles beskou. Hulle het daarop geroem dat hulle anders denkend was en het as gevolg daarvan baie lof en erkenning gekry. As jeugdige was dit vir my duidelik dat hierdie sogenaamde intulektueles in hulle absolute naiwiteit nie kon raaksien dat hulle kammeraadskap met die aanval op die taal en alles wat daarmee gepaardgaan eers sou stop wanneer alles wat vir ons waarde het vernietig is nie. breytenbach is natuurlik nie mans genoeg om te erken dat hy eintlik naief was nie en nou het… Lees meer »

popsa

En soms is stilbly ook ‘n antwoord. Soos nou en hier.

Alexander

Breyten en sy liberale meelopers het Afrikaans as wetenskapstaal groot skade berokken. Hy het die pad help voorberei vir die verguising van Afrikaans op ons kampusse. Afrikaans sal egter voortbestaan, danksy Akademia wat ‘n platvorm skep vir Afrikaans om as wetenskapstaal te gedy.