Britse burokrasie te stadig vir Bolt

Usain Bolt van Jamaika

Usain Bolt van Jamaika

Die rugbyseisoen blyk nimmereindigend te wees. Skaars het die stof gaan lê oor die Super 15 of die Curriebeker skop met ʼn verrassing of twee af.

Vrydagaand kom ek ʼn belofte aan my kleindogter na dat, as sy 12 jaar oud is, ek haar na ʼn Curriebekerwedstryd op Loftus sal vat. Gepantser teen die koue met die nodige biltong en ʼn paar lemoensappies in plaas van die gebruiklike nartjies, betree ons die byna leë Loftus Versveld. Heiligdom van die Blou Bulle en roemryke veld vir menige Springbok-oorwinning. Ons neem plek in op die halflyn aan die oostekant van die veld en wag vir die afskop van die Curriebeker. Ons sit só naby aan die veld dat jy elke duikslag kan hoor en voel.

Die Bulle lyk maar klein teen die Griekwa-manne en toe die Griekwas sommer so gemaklik ʼn drie hier voor ons verby druk, begin ek swarigheid vir my span sien. Die voorspelers sukkel om hulle stempel af te druk en ʼn paar onnodige foute word gemaak. Met die omdraaislag is die Bulle dan ook agter. Gelukkig het ʼn paar manne met die terugkomslag gewys dat ʼn wenkultuur tog gekweek kan word en is die tempo van die wedstryd, van die Bulle se kant af, verhoog.

Na ʼn goeie breekslag van CJ Stander en daarna Willie Wepener, druk die Bulle vinnig twee drieë en kyk toe nie weer terug nie.
Gelukkig vir my kleindogter eindig die wedstryd in ʼn klinkende oorwinning vir die Bulle.

Die groot verrassing vir my was die absolute oorgawe waarmee die Lions die wedstryd teen die Cheetahs aangepak het. Die Vrystaat moes sekerlik wonder wat gebeur het. Ná twintig minute se spel loop die Leeus 20-6 voor en dit terwyl die balbesit 70% ten gunste van die Vrystaat was. Dit lyk vir my tog of die Leeus hulle moet toespits op die Curriebeker en die Super 15 heeltemal uitlos. Dit sal beteken dat die Leeu ondersteuners dan die heeltyd ʼn wenspan kan ondersteun.

Welgedaan aan die Leeus en Johan Ackerman.

Wat agter die druiwegordyn gebeur sal net Mnr. Coetzee en sy afrigtingspan weet. Die WP het met ʼn vaart weggespring en op die reëndeurweekte Nuweland gou die hef in die hand gehad. Dit het na ʼn blote formaliteit gelyk dat hulle die Haaie met die kous oor die kop sou huis toe stuur. Daarna begin die WP die mees elementêre foute maak wat die Haaie toelaat om vinnig drie drieë te druk wat die wedstryd in die guns van die besoekers swaai. Alhoewel die WP weer neusie voor gekry het, was dit die flinke skopvoet van die gemaakte losskakel, Riaan Viljoen, wat die WP se doppie finaal geklink het met ʼn skepdoel reg voor die pale.

Volgende week skop die viernasiereeks af op die einste Nuweland en, as ek na die weervoorspellers luister, nog steeds sopnat. Sterkte vir die Bokke.

Die Olimpiese Spele het ook sy laaste asem uitgeplaas en die Britte moet gelukgewens word met die byna foutlose aanbieding van die spele.

Dit was egter opvallend dat die burokrasie wat so gevestig is in die Britse staatsdiens byna die kommentators ʼn hartaanval gegee het. Ná die skitterende wêreldrekord in die 4 x100 meter aflos van die Jamaikane wou Usain Bolt die aflosstokkie as aandenking hou. Dit was die laaste baanitem vir die aand. Die Britse amptenaar het dit volstrek geweier en die TV-kommentators wat die episode aanskou het, het gewonder of daar dalk ʼn diskwalifikasie was. Na ʼn ruk is die stokkie wel aan Usain Bolt oorhandig ten aanskoue van die hele wêreld.

Ons gelukwense aan die Suid-Afrikaanse span wat met 6 medaljes weer die aandag op sport as versoener bevestig het.

Sportgroete tot volgende keer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.