Britse leierstryd begin

Boris Johnson. Argieffoto.

Ná die bedanking van eerste minister Theresa May is die tafel nou gedek vir die opvolgstryd vir ʼn leier van die regerende Konserwatiewe Party en daarmee saam ook vir die pos van eerste minister van Groot-Brittanje.

Die leierstryd is besonder demokraties in die Britse tradisie. In talle lande staan die nuwe leier reeds voor die tyd vas en word deur die voorganger aangewys of aanbeveel, wat dit vervelig, voorspelbaar en ondemokraties maak. Die Britte het egter ʼn lang, uitgerekte verkiesingsproses, amper vergelykbaar met die Amerikaanse proses om kandidate vir president te bepaal: Almal wat wil staan as kandidaat vir die leierskap, moet ten minste 8 parlementslede kry om hom of haar te steun. Daar is tien kandidate wat aan die vereiste voldoen (en wat self ook almal parlementslede is). In die eerste ronde, waar net die Konserwatiewe Party se parlementslede stem, val kandidate met minder as 17 stemme uit. In die tweede ronde val almal met minder as 33 stemme uit. Dan word daar solank gekies (met die verloorder wat elke keer uitval) tot daar net twee kandidate oor is. Die twee oorblywende kandidate word dan per posstem deur al die lede van die Konserwatiewe Party gekies. Dit beteken dat die verkose leier sowel steun in die binnekring asook by die partylede op grondvlak moet hê.

Daar is tans 10 kandidate in die resies. Die hoofvraagstuk is natuurlik die afhandeling van die Brexit, iets wat May nie kon regkry nie. Drie keer is haar voorstel vir ʼn ooreenkoms met die EU deur die meerderheid parlementslede afgekeur. Van die kandidate is almal verbind tot die Brexit. Party was reeds van die begin af ondersteuners van die Leave-veldtog, ander het later oorgekom na die Brexit-kamp toe. Daar is wel nog ʼn meningsverskil of Groot-Brittanje ná 31 Oktober, sperdatum vir die aanvaarding van ʼn ooreenkoms met die EU, ook daarsonder die EU sal verlaat of verder vir uitstel sal vra.

Die voorloper volgens peilings is Boris Johnson, wat die gesig van die Brexit-veldtog was en wat seker die mees uitgesproke Brexiteer is. Hy is baie kleurryk en word soms met pres. Donald Trump van die VSA vergelyk. Hy is gewild op grondvlak, maar nie noodwendig in die koukus nie, en beklee ook tans geen ministeramp nie, nadat hy uit protes teen die Brexit-vertraging as minister van buitelandse sake bedank het.

Michael Gove, tans minister van omgewingsake en senior kabinetslid, is eweneens uitgesproke oor die Brexit. Ook Andrea Leadsom, Ester McVeigh en Dominic Raab, tans almal net gewone parlementslede nadat van hulle uit protes teen May se hantering as ministers bedank het, is almal uitgesproke Brexit-aanhangers en is ook bereid om die unie sonder ʼn ooreenkoms te verlaat as dit moet.

Matt Hancock (minister van gesondheid), Mark Harper (gewone parlementslid), Jeremy Hunt (minister van buitelandse sake), Sajid Javid (minister van binnelandse sake) en Rory Steward (minister van internasionale ontwikkeling) was aanvanklik ondersteuners van die Remain-veldtog en lojaal aan May en haar voorganger David Cameron, maar aanvaar die Britte se meerderheidstem vir Brexit en belowe om die knoop deur te haak. Hulle sal egter alles doen om ʼn uittrede sonder ooreenkoms te verhoed.

Trump se onlangse besoek aan Brittanje mag ook ʼn rol speel in die manier hoe die toekomstige leier die EU druk vir ʼn beter ooreenkoms. Trump maak geen geheim van sy steun vir Brexit nie en het ʼn baie voordelige vryhandelsooreenkoms tussen die VSA en Brittanje in vooruitsig gestel, wat sal opmaak vir die verlies van die toegang tot die gemeenskaplike mark indien Brittanje sonder ʼn ooreenkoms wegbreek.

Een twispunt in die voorgestelde ooreenkoms tussen Brittanje en die EU is juis dat Brittanje vir eers deel van die gemeenskaplike vryhandelsone sal bly, maar op sy eie geen ooreenkomste met ander state mag aangaan nie.

Dus bly Brittanje de facto deel van die EU en kan nie sy soewereiniteit herwin nie. Om hierdie rede is die ooreenkoms, waarvoor May onsuksesvol steun probeer werf het, deur die parlementslede afgekeur. Dis onwaarskynlik dat haar opvolger weer dieselfde sal probeer, maar die EU weier volstrek om te heronderhandel. Tans lyk dit na ʼn doodloopstraat, maar in die politiek kan dinge oornag verander.

Die nuwe leierskap van die EU word binnekort gekies en daar mag nuwe leiers wees wat ʼn meer toegeeflike houding as Jean-Claude Juncker, die uittredende president van die Europese kommissie, aan die dag sal lê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eddie Roos ·

Dit sou goed wees as SA so ‘n kiesstelsel vir Parlementslede gehad het !

Andreas ·

Ek het elders, voor ek hierdie gelees het van Boris Trump gepraat, maar toe word ek in die gutter af gespoel. Skuus dat ek dit so uitdruk, ek sal sagter op die oor wees as mense nie in beheer van als wil wees nie. Wat ek ook nie kan verstaan nie, is dat hy het maar vir Me May voorgestoot, want hy was daardie tyd te papbroekig om self die stang vas te gryp.

Therese van Schalkwyk ·

Interessante stryd om dop te hou!
Michael Gove, sover my kennis strek, is die man wat Boris Johnson se leierskapsideaal in die wiele gery het direk na die Brexit-referendum.
Hoop dus Gove wen nié híérdie rondte nie, want m.i. het hy die land destyds geen guns bewys nie, en direk aanleiding gegee tot die uitgerekte EU-sirkus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.