Britse verkiesing gaan oor meer as net Brexit

Theresa May, 22 Maart 2017. (Foto: AP Photo)

Die Britse algemene verkiesing wat op Donderdag 8 Junie plaasvind is ʼn vervroegde verkiesing wat die Britse eerste minister, Theresa May, uitgeroep het – hoofsaaklik om ʼn mandaat van die kiesers te ontvang om voort te gaan met die sogenaamde Brexit-proses.

Die verkiesing, vir die 650-lid Britse laerhuis, sou eintlik eers in 2020 plaasgevind het, maar die Brexit-referendum, waartydens die Britse kiesers in 2016 gestem het om die Europese Unie (EU) te verlaat, het May genoodsaak om ʼn mandaat van die Britse kiesers te kry vir die deurvoer van die Brexit-proses. Die vervroegde verkiesing is egter ʼn berekende waagstuk vir May want ten spyte van haar Konserwatiewe Party (ook genoem die Tories) se aanvanklike groot voorsprong in meningspeilings, het haar teenstanders haar vinnig ingehaal. Volgens die meeste meningspeilings gaan May se party steeds wen, maar word voorspel dat dit nie noodwendig met ʼn volslae meerderheid in die Britse laerhuis sal wees nie.

Die Britse kiesstelsel is interessant en anders as dié van Suid-Afrika op kiesafdelings gebaseer. Suid-Afrika het ook hierdie kiesstelsel voor 1994 gebruik. Die land word opgedeel in kiesafdelings en elke party kan kandidate stel in ʼn kiesafdeling. Die kandidaat wat die meeste stemme kry in die kiesafdeling, word die parlementslid. Dit veroorsaak natuurlik dat die lid van die laerhuis moet seker maak dat die kiesers in sy kiesafdeling gelukkig is met sy/haar optrede in die parlement, anders word hy/sy volgende keer uitgestem. Dit gebeur dus (anders as in Suid-Afrika) dat partylede nie altyd hul politieke partye in die parlement steun nie. Die leier van die party met die meeste setels in die parlement word gewoonlik eerste minister.

Die Tories verloor steun

Die verkiesing is egter nie net oor Brexit nie. Daar is ʼn klomp onsekerhede in Brittanje aan die broei. Natuurlik gaan dit oor binnelandse aangeleenthede, brood-en-botter kwessies, soos dit seker maar in meeste verkiesings gaan. Ander belangrike vraagstukke sluit in die houding van die Skotte (Skotland het sy eie parlement, maar is steeds deel van Brittanje) ten opsigte van onafhanklikheid, die kwynende steun van die Britse nasionalistiese party, UNIP, die skielike toename in steun vir die vernaamste opposisieparty, die Arbeidersparty en sy leier Jeremy Corbyn, en dan natuurlik die toekomstige handelsbande tussen Brittanje en sy Europese buurlande.

Indien die Tories nie ʼn volstrekte meerderheid in die parlement verkry nie, sal hulle moet saamwerk met kleiner partye om ʼn koalisie te vorm. Dit kan regering moeilik maak, aangesien min opposisiepartye juis vreeslik entoesiasties is oor die Brexit-proses. Dit sal ook Brittanje se onderhandelingsposisie teenoor die EU aansienlik verswak, juis die teenoorgestelde wat May probeer vermag met die verkiesing.

Dis nogal duidelik dat May graag die Tories se nuwe Margaret Thatcher wil wees – ʼn sterk konserwatiewe leier wat Brittanje in ʼn nuwe era wil inlei. Sy was voor die referendum gekant teen Brittanje se onttrekking uit die EU, maar sedert haar aanwysing as eerste minister baie doelgerig om soveel moontlik vir Brittanje te beding in onderhandelinge met die EU. Verder is sy, soos Thatcher, gekant teen die uitbreiding van die sosiale welvaartstaat wat haar teenstanders voorstaan. Die Tories is ook gekant teen grootskaalse toelating van “vlugtelinge” uit die Midde-Ooste en Afrika, en pas hierdie beleid beter toe as hulle bure op die Europese vasteland.

Die groot rede vir die Tories se skielike afname in steun in die verkiesingsveldtog is juis May se beleid om staatsbesteding in te kort, soos wat konserwatiewe regerings gewoonlik doen. Dit kom neer op minder besteding aan bejaardes en die afskaffing van gratis middagetes vir Britse skoolkinders. Die Arbeiders, wat soos links-sosialistiese bewegings oral meer populisties wil wees en sosiale besteding wil uitbrei, beloof natuurlik die teenoorgestelde, naamlik ʼn grootskaalse uitbreiding van sosiale hulpprogramme. Gevolglik het Corbyn se steun heelwat toegeneem.

Sedert die Brexit-referendum het die Tories meer na regs gedraai en in die proses die pro-Britse, anti-EU party, UKIP, se steunbasis weggekalwe. Dit behoort egter nie vir Nigel Farage, voormalige leier van UKIP en die grootste voorstander van die Brexit-veldtog, slapelose nagte te besorg nie. UKIP het wel steun verloor in aanloop tot die verkiesing, maar Farage se visie om Brittanje uit die EU te laat onttrek en streng teenstand te bied teen onwettige immigrante, is amper net so deur die Tories oorgeneem.

UKIP gaan beslis slegter vaar as met die vorige verkiesing en hierdie daling in steun sal baie kommentators probeer uitwys om aan te dui dat die “ver-regses” deur kiesers in Europa verwerp word. Dit is egter ʼn feit dat Brittanje met die EU-skeiding nou sy eie lot gaan bepaal en nie deur die administrateurs in Brussel voorgeskryf en/of regeer gaan word nie.

May se grootste probleem is egter nie net Brexit nie. Soos in die VSA en Europa is Brittanje se middel- en werkersklas ook vasgevang in die globale ekonomie, ʼn ekonomie wat rykes bevoordeel, maar nie veel beteken vir die res nie en selfs hul werksekerheid bedreig. Dit lei tot stagnante salarisse, oneweredige verdeling van inkomste, tekort aan bekostigbare behuising en stygende koste ten opsigte van onderrig en gesondheid. Brexit kan op die langtermyn hierdie proses omkeer, maar op die korttermyn sal die Britte se skeiding van die EU moeilik wees.

May probeer egter die verkiesing eerder oor leierskap maak, naamlik sterk leierskap wat voordelige voorwaardes vir Brittanje se uittog uit die EU kan onderhandel. Sy roem dus op stabiele en sterk leierskap teenoor ʼn onstabiele koalisie of swak leierskap (van haar teenstanders).

Die Tories is egter nie verenig oor hoe die proses van Brexit moet werk nie. Sommige glo alle bande met die EU moet verbreek word, terwyl ander steeds ʼn vorm van voordele met die EU wil behou. Die toekoms van Brittanje se verhouding met die EU word egter teengestaan deur kiesers in Noord-Ierland en Skotland, wat nie Brexit ondersteun het nie. Die ander “Kelte”, dié in Wallis, het Brexit ondersteun maar is tradisionele Arbeider-ondersteuners.

Teenoor May staan die Corbyn, die ultra-linkse leier van die Arbeidersparty. Corbyn is ʼn oud-vakbondman en bekend vir sy ekstreem linkse standpunte en aktivisme, wat selfs vir baie van die liberale Arbeiders te erg is. Corbyn is erg gekant teen enige inperking van staatsbesteding aan openbare dienste en welsyn; inteendeel, hy wil dit graag uitbrei. Dan het hy ook ʼn pasifistiese buitelandse beleid. Hy is gekant teen enige Britse deelname aan oorloë en bepleit nie-inmenging in konflikgebiede (soos die Midde-Ooste).

Op sigself is dit wel ʼn positiewe standpunt aangesien die Britte onder leiers soos oudpremier Tony Blair alle oorloë van die Amerikaners ondersteun het (en bitter min daarvoor kan wys). Wat sy standpunt egter problematies maak is dat Corbyn ook erg gekant is teen kernwapens. Om kernontwapening te steun terwyl Brittanje een van vyf lande ter wêreld is wat “wettiglik” kernwapens besit, kan probleme skep. Veral aangesien lran en Noord-Korea se ontwikkeling van kernwapens reeds ver gevorderd is.

Corbyn se linkse standpunte is nie vreeslik gewild in sy party nie, maar pogings om van hom as leier ontslae te raak was voorheen onsuksesvol. Nou het sy beloftes van groter staatsbesteding blykbaar jong mense en vroue se steun getrek en die Arbeiders ʼn kans gegun om die Tories in te haal.

Skotland is ʼn groot tameletjie vir die Britte. Skotland het verteenwoordiging in die Britse laerhuis en het ook ʼn eie parlement. Die Skotte beskik basies oor selfregering. In die proses ondersteun die Skotte meestal die Skotse Nasionale Party (SNP), wat in die vorige verkiesing onder partyleier Nicola Sturgeon, amper al die setels dáár gewen het. Die SNP is egter pro-EU en pro-immigrasie, wat ʼn mens laat wonder oor hul rol in Brexit. Die Skotte is stadig maar seker besig om weg te beweeg van die Britse unie en behoort in die volgende dekade of selfs vroeër hulself onafhanklikheid te verklaar. Hulle is tans egter nog nie gereed daarvoor nie. In ʼn referendum in 2014 het hulle net-net gestem teen onafhanklikheid.

 ʼn Verswakte regering

Om op te som, daar is basies drie verskillende algemene verkiesings aan die gang in Brittanje. In Engeland en Wallis gaan dit basies daaroor of May die Brexit-proses kan lei asook welsynskwessies. In Skotland gaan dit oor hul toekoms – onafhanklikheid of nie; terwyl daar ook meer onsekerhede in Noord-Ierland is oor hul toekoms aangesien baie Iere ʼn verenigde Ierland wil sien.

Hoewel die jongste meningspeilings daarop dui dat die Tories nie ʼn meerderheid setels gaan verkry nie, is Britse meningspeilings gewoonlik minder betroubaar as dié op die Europese vasteland. Op stemdag kan kiesers meer konserwatief stem of jong mense gaan stem eenvoudig nie.

Hoe dit ook al sy, dit is moontlik Brittanje se belangrikste verkiesing in ʼn lang tyd. May is egter nie Margaret Thatcher nie, en ʼn slegte vertoning in die verkiesing (soos voorspel word) kan haar die leierskap van die Tories kos. Nietemin sal die leierskap van die nuwe regering vinnig moet besin oor Brittanje se toekoms en sy betrekkinge met die EU. ʼn Swak mandaat van die kiesers gaan die Britse unie (die Verenigde Koninkryk) dalk vinniger laat disintegreer as wat voorheen verwag is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

ben ·

Dit is die begin van die einde van die Britte. Dit staan so gekrywe. Bankrotskap is hulle voorland en ook die immigrante gaan hulle op hulle kniee bring.

Jacoba ·

Stem saam ben…Ons hièr is ook op ons knieë .. Kyk nié terug dis verby, voorentoe ??? Nou Kyk ons OP dis al uit weg.

Nico K ·

Brittanje se kiesstelsel maak voorspelings natuurlik moeiliker. Jy kan nie net gaan op persentasie stemme nie. Dit hang af waar daardie stemme uitgebring word. Soos ook in die VSA waar voorspellers heelwaarskynlik net op stempersentasies hul voorspellings uitgebring het. Ook daar wen die persoon met die meeste stemme nie altyd nie.

Paul ·

“UNIP”?

Verwys dit na “UKIP”?

Die Afrikaans vir UKIP sal tog sekerlik “VKOP” wees? “Verenigde Koninkryk Onafhanklikheidsparty”?
Of dalk “OPVK”?

Of is daar ‘n ander party wat as “UNIP” bekendstaan?

John ·

Corbyn is ‘n vreemde siel. Hy wil immigrasie laat gedy en omarm almal, maar dan val hy vir May aan oor sy glo te min polisie het. Hoe dan nou.

Fanie ·

Uitstekende artikel!! Nóg ‘n gehaltestuk van Maroela. Brittanje is nie op ‘n goeie plek nie. Dis skrikwekkend as Britse jongmense ‘n Nar soos Corbyn steun. Wil elke geslag sy eie foute maak?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.