Brittanje dawer van juigkrete – om uiteenlopende redes

Jeremy-Corbyn

Jeremy Corbyn. Foto: Gx99g.wordpress.com

Toe Jeremy Corbyn laas Saterdag formeel as die nuwe leier van die Britse Arbeidersparty aangewys is, het Brittanje gedawer van die juigkrete.

Aan die linkerkant van die politieke spektrum is gejuig omdat die Arbeiders eindelik weer ’n leier met ’n onverdunde sosialistiese ideologie het. Aan die regterkant was die gejuig dalk nóg harder, want hiermee het die Arbeiders ’n leier gekies wat kan verseker dat hulle in die volgende verkiesing selfs ’n groter pak slae kry as die een van vroeër vanjaar.

Jeremy Corbyn is naamlik onbeskaamd links, ’n politikus wat gevaarlik naby aan ekstremistiese standpunte beweeg. Vir Suid-Afrikaners, wat self te make het met ’n oormaat aan linkse politici, kan dit interessant wees om iets meer oor dié man te wete te kom.

Corbyn is in 1949 gebore en het hom reeds as jong man tot links-ekstremistiese idees aangetrokke gevoel. In die jare 70 en 80 het hy saam betoog teen atoomwapens en die vuis wat Navo teenoor die Sowjet-bedreiging gebal het. Hy was op die voorpunt van die boikotbeweging teen Suid-Afrika en groot vriende met die ANC en SAKP.

Uit ’n Britse oogpunt is dit ewenwel nog belangriker dat hy ’n groot simpatiseerder met die Ierse Republikeinse Leër (IRL) en dié se terreurveldtog in Noord-Ierland en elders in Brittanje was. In 1982, toe die regering van mev. Margaret Thatcher ’n maritieme taakmag gestuur het om die Argentynse inval in die Falkland-eilandgroep ongedaan te maak, het hy aan die Argentyne se kant gestaan.

Corbyn is heftig krities teen Israel en simpatiseer met die Palestyne. Meer nog: Hy staan aktief aan die kant van terreurbewegings soos Hamas en Hizbollah, wat die Jode met geweld uit Palestina wil jaag. (Al ontken hy dat hy antisemities is.)

Wat die huidige politiek betref, toon Corbyn groot begrip vir pres. Wladimir Poetin se militêre inval in die Krim, en vind in die algemeen dat die Russiese leier verkeerd verstaan word. Hy het te kenne gegee hy wil Brittanje van die Europese Unie (EU) losmaak en ook uit Navo lei.

In een toespraak het hy in ietwat bedekte woorde selfs gemeen dit sou goed wees as Brittanje Costa Rica se voorbeeld volg en sy weermag afskaf, pleks van om trots op sy soldate te wees.

Die man wat hy pas as sy skaduminister van finansies aangestel het, John McDonnell, is eweneens ’n linkse ekstremis wat al gespog het hoe hy ’n polisiebeampte aangerand het en daarvoor in hegtenis geneem is. IRL-terroriste “moet geëer word” vir hul aandeel in die stryd teen Brittanje. Hy is op ’n keer gevra as hy na die jare 80 kon teruggaan, watter enkele daad hy sou verrig om die wêreld te verbeter. Sy antwoord: “Ek dink ek sou teruggaan om Thatcher te vermoor.”

McDonnell het in 2012 voorgestel dat die hoogste belastingkerf van die huidige 45% vir rykes tot 70% verhoog word. Hy en Corbyn is albei ten gunste van die heropening van uitgewerkte steenkoolmyne, en van die nasionalisering van die myne, die spoorweë en die meeste groot maatskappye. Corbyn het selfs sover gegaan om te sê die staat moet in die mediawêreld ingryp om te voorkom dat te veel media aan dieselfde eienaar behoort (waarmee hy die magnaat Rupert Murdoch bedoel het).

Die vraag is hoe só ’n ekstremis dit reggekry het om met só ’n oorweldigende meerderheid – hy het 59% van die ingeskrewe lede se stemme getrek – te behaal.

Een rede wat sy teenstanders aanvoer, is dat tienduisende linkse ekstremiste die afgelope weke as deel van ’n georkestreerde veldtog by die Arbeidersparty aangesluit het om stemreg in die leiersverkiesing te kry. Dis seker nie onmoontlik nie, maar daar is ook ’n ander, belangriker rede.

Dit is dat Corbyn, in teenstelling met die meeste ander politici, geloofwaardig lyk. Hy kom oor as ’n eenvoudige man wat reguit sê waarvoor hy staan en nie mooi broodjies bak nie. Hy gebruik openbare vervoer en woon in ’n eenvoudige huis. Hy sê nie dinge omdat dit mooi klink nie; hy sê wat in sy hart is.

En oor die hele Brittanje is daar honderdduisende mense wat reikhalsend uitsien na dié soort geloofwaardigheid, pleks van die gepoleerde onwaaragtigheid wat dikwels uit die hoofstroom-politici drup.

Maar dit beteken nie dat Corbyn se pad na Downingstraat 10 oop is nie. Inteendeel. Hy sal ’n hele paar haas onoorkomelike struikelblokke moet oorkom.

In die eerste plek het sy verkiesing die party uitmekaar geskeur. Die Arbeiders het in die jare 90 onder leiding van Tony Blair afskeid geneem van sy linkse ideologie en demonstratief na die middelpunt beweeg. Dat Corbyn die party nou by wyse van spreke vorentoe die 19de eeu wil inlei, stuit talle prominente lede teen die bors.

Dus is die laaste dae gekenmerk deur ’n chaotiese geskarrel soos Corbyn mense probeer kry het om in sy skadukabinet te dien. Die meerderheid van die huidige skaduministers het geweier om onder hom te dien en verkies om in die parlementêre agterbanke te gaan sit.

Verslaggewers wat buite Corbyn se kantoor in die Laerhuis gekampeer het, kon flarde opvang van die half wanhopige pogings van Corbyn en sy medewerkers om mense te kry wat gewillig was om onder hom te dien. Dit sal nie maklik gaan om die verskeurdheid onder die Arbeiders te herstel nie.

En dan kom die éintlike toets – die kiesers daarbuite. Soos die nuustydskrif The Economist in ’n hoofartikel opgemerk het, vroeër vanjaar het die kiesers ’n beskeie swenk na links van die vorige leier, Ed Milliband, verwerp deur die Tories ’n volstrekte meerderheid in die Laerhuis te besorg. Hoe sal hulle nou ’n skerp swenk na links beloon?

Corbyn en sy luitenante se hoop is gevestig op die aktivering van die kiesers wat in die loop van die jare ontnugter met die politiek geraak en onbetrokke geword het. Maar dis ’n groot waagstuk. Die kans is veel groter dat die Arbeidersparty onverkiesbaar is solank Corbyn en sy medestanders die party se kitaar slaan.

Dís hoekom die Britse regses juig.

Nou ja, ’n voormalige Britse eerste minister, Harold Wilson, het in die jare 70 glo gesê ’n week is ’n lang tyd in die politiek. Die implikasie was dat dinge opeens blitsvinnig kan verander.

Dit gaan aansienlik langer duur voordat die volgende algemene verkiesing (eers in 2020) plaasvind. Corbyn lyk nóú na ’n onverkiesbare leier. Maar as ’n week ’n lang tyd in die politiek is, is byna vyf jaar ’n ewigheid.

Kom ons skort ons oordeel vir eers op.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Roelfie ·

Leopold is ‘n uitstekende byvoeging tot MM se kommentaarspan.

mamma ·

Poetin het nie Krim militer ingeval nie. Die mense van Krim het self besluit om deel te wees van Rusland.

Gerhardt ·

Eerlikwaar, ek weet nie meer wat beteken “links’ or “regs” nie. Soos ek verstaan kan jy die IRL as “regs” klasifiseer…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.