Britte verlaat die Europese Unie

Grafika verskaf aan Maroela Media

Grafika verskaf aan Maroela Media

Deur Victor Correia van Aros

Op 23 Junie 2016 het Brittanje uit die Europese Unie getree. Die skommeling in die geldmarkte het aangedui dat die uitslag onverwags en selfs vir baie ongewens was. Dit is vir ons van belang om te weet hoe die gebeure ons raak. Hoewel dit op die oog af mag lyk of daar nie ’n duidelike verband is tussen die Britte wat die Europese Unie verlaat het en ons in Suid-Afrika nie, is daar wel raakpunte waaroor ons kan besin. Daar is iets wat ons kan leer uit die Britse uittog.

Voordat ons by die punt uitkom, laat ons net kortliks by die reaksie van ander lande oor die Britte se besluit stilstaan. Angela Merkel meen dat Brexit ’n keerpunt kan wees vir die Europese Unie: “Let’s not beat around the bush: Today marks a watershed for Europe”. Tog maan Merkel vir kalmte, omdat sy as leier weet dat die besluit van Brittanje moontlik ’n rimpeleffek kan hê wat uitkring na ander lande wat die Europese projek in twyfel trek.

Skotland wat gestem het om in die Europese Unie te bly, moet nou saam met ander lidlande van die Verenigde Koninkryk die Europese Unie verlaat. Die Skotte sal nou moontlik ’n tweede referendum wil hou om weg te breek van die Verenigde Koninkryk met die doel om daarna sy lidmaatskap van die Europese Unie voort te sit. Dit blyk dat die Skotte se beweegredes hoofsaaklik ekonomies is.

Die vrees bestaan dat die Britte se uittog ’n kettingreaksie kan veroorsaak waar ander Europese lidlande ook vir referendums vra. Front Nasionaal se leier, Marine le Pen, het reeds vir ’n Franse referendum (Frexit) oor lidmaatskap aan die EU aangevra. Waarom is leiers in Europa so besorg oor een lidland van die Europese Unie wat besluit het om dit te verlaat? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers na die geskiedenis van die Europese Unie kyk.

Die Europese Unie het ná die Tweede Wêreldoorlog ontstaan met die doel om te sorg dat daar nie weer so ʼn bloedige oorlog tussen die onderskeie Europese lande ontstaan nie. Die eerste ses lidlande was België, Frankryk, Duitsland, Italië, Luxemburg en Nederland. Die doel van die unie was om vrede tussen lidlande te bevorder, maar ook om ná die verwoestende oorlog te help om ekonomiese bande te verstewig en om handel tussen lande te bevorder. In 1957 is die Verdrag van Rome gesluit met die doel om ’n algemene Europese mark daar te stel.

Die Schengen-ooreenkoms wat in 1995 tot stand gekom het, het dit moontlik gemaak om tussen al die lidlande van die Europese Unie te beweeg sonder ’n paspoort. ’n Verdere verwikkeling was die Euro-geldeenheid wat aan die begin van die millennium in gebruik geneem is. Verskeie ander verdrae is ook geteken met die doel om die Europese projek te bevorder. Tot en met Brittanje se uittrede het die unie gegroei tot 28 lidlande.

Die afgelope jare was daar egter verskeie kwessies wat dit vir lidlande al hoe moeiliker begin maak het om oor die sake wat vir hul eie mense belangrik is te besluit. Een van die redes hiervoor was dat daar in die vorm van die Europese parlement ’n wetgewende liggaam geskep is wat regering nog een stap verder van die gewone burger geneem het.

Die Europese Unie wat die doel van vrede en ekonomiese groei gehad het, word op dié stadium onder geweldige druk geplaas. Die vrye toegang wat deel is van die Schengen-ooreenkoms word deur IS-ekstremiste misbruik om vrees by Europeërs in te boesem. Die ekonomiese krisis wat in 2008 ontstaan het in die banksektor, het dit aan die lig gebring dat verskeie Europese lidlande nie hul skuld kan terugbetaal nie. Dus bring lidmaatskap van die EU nie meer die voordele wat oorspronklik deur die unie beoog is nie. Dit verwonder ’n mens nie dat daar in Brittanje verset teen lidmaatskap van die Europese Unie gekom het nie.

In 2011 word die leier van die Konserwatiewe Party, David Cameron, deur 81 van sy eie party se lede gedwing om ’n referendum vir Britse onafhanklikheid te hou. Cameron het uit sy weg probeer gaan om met die Europese Unie te onderhandel en om die “Bly veldtog” meer stukrag te gee. Hy het lank die referendum uitgestel en nadat dit onafwendbaar geword het vir nege maande na verskeie lidlande van die Europese Unie gereis met die doel om die “Bly veldtog” meer stukrag te gee. Tog kon Cameron (wat nou bedank het) die saak wat aangeroer was nie keer nie.

Die saak van Britse onafhanklikheid is gedryf deur ’n party met die naam van UKIP (United Independent Party) en is later meer stukrag gegee deur Boris Johnson van die Konserwatiewe Party. Nigel Farage, die leier van UKIP, beskou die uitslag van die referendum van 23 Junie as ’n oorwinning vir doodgewone Britte. Ten spyte van geweldig baie politiekery en vrees vir verarming wat deur die “Bly veldtog” aangeblaas is, het die waarheid in die veldtog uiteindelik oorwin. Die waarheid wat gewone Britte aan die lig wou bring, is dat hulle wel bedreig voel deur die vloedgolf van onbeheerde immigrasie en dat hulle hul eie identiteit as Britte wil beskerm selfs ten koste van tydelike ekonomiese agteruitgang.

Een van die hoofkwessies wat gelei het tot die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, is onbeheerde immigrasie. In 2015 het ongeveer ’n miljoen immigrante Europa binnegestroom. Angela Merkel het hulle met ope arms na Duitsland genooi. Merkel se “Willkommen” het die res van Europa nie onaangeraak gelaat nie. Die Schengen-ooreenkoms met ander lidlande van die EU bring mee dat die vlugtelinge vrye toegang tot ander lande in Europa kan verkry. Wat die situasie nog vererger, is dat onlangs bevind is dat IS-vegters tussen die groep immigrante Europa binnestroom het. Ná die onlangse terreuraanvalle in Parys, Brussel en Orlando is dit verstaanbaar dat die Britte wat besorg is oor hul eie veiligheid weer beheer oor hul eie grense wou neem. Farage het keer op keer opgemerk dat dit nie moontlik is om beheer oor ’n land se eie grense te neem terwyl ’n land deel van die Europese Unie is nie. Die Britte het geluister.

Dit kan verwag word dat die idee van vrye beweging tussen lidlande van die Europese Unie in die toekoms al hoe meer onder druk sal kom. Die probleem is egter nie net beperk tot Europa nie, maar word wêreldwyd ervaar. Een van die redes waarom Donald Trump vermoedelik so goed vaar, is sy sterk standpunt oor die beheer van immigrasie in Amerika.

Die een ding wat ons kan leer uit Brittanje se uitstem is dat daar wêreldwyd ’n dieper besef vir groepsidentiteit na vore kom. Die besef word aangedryf deur onbeheerde immigrasie in ’n eeu van globalisering. Dit is ironies dat Brittanje wat histories binne die liberale tradisie staan, wat die regte van die individue vooropstel, nou tot die besef gekom het dat groepsidentiteit ’n groter rol moet speel in die toekoms. Dit blyk verder dat die oorspronklike doelwitte van die Europese projek deur die bedrywighede van IS in die wiele gery word. Vrye toegang vir lede van die Europese Unie word deur hulle misbruik om terreurdade in lidlande van die EU te pleeg. Die enigste manier om die terroriste te keer, blyk te wees om uit die EU te tree, sodat Brittanje weer beheer oor sy eie grense kan neem.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Nico K ·

Ek weet nie of die instroming van die vlugtelinge so ‘n groot rede vir Brittanje se uitrede uit die EU kon wees nie. Sover ek verstaan was Brittanje nooit deel van Schengen nie. Ek dink die rede is maar dat toe dit ekonomies goedgegaan het, het die EU gewerk. Toe die ekonomie begin sleg gaan toe wil elkeen weer vir homself sorg. En dit was heel voorspelbaar.

Paul ·

Korrek dat Brittanje nooit deel van Schengen was nie, maar daar was gevalle waar die Europese howe besluite van Britse howe om sekere mense nie toe te laat nie, omgekeer het.

Victor Correia ·

Goeiedag Nico

Dankie dat jy my daarop wys dat Brittanje nie deel van die Shengan ooreenkoms was nie. So leer ek ook iets.

Groete. Victor.

John ·

Uitstekend! Die beskerming van groepsidentiteit vooropstel… Ons Afrikaners moet simbolies ons waens weer pak na geestelike vryheid. Destyds was daar ‘n groep Afrikaners aan die Kaap, die sg hensoppers, wat maar te gou die witlappie aan ‘n droe druiwe-takkie opgesteek het vir totale oorgawe. Dis weer sulke tyd. Die ware Boere het destyds noord verkas met hul families en bietjie vee, sonder kaapse slawe en allerhande tierlantyntjies. Daar is nou ‘n klomp duimgooiers wat vir eie gewin wil saampiekel. Die versoeking is groot. Die trekgroep wat daarvoor val se ‘bande’ gaan gou afblaas van die baie dorings in die oopvelde van hierdie dorre land. Afrikaans is nie ‘n wapen nie. Dis die geur wat in die lug hang wanneer die ou ysterpot saans na ‘n lang dag prut-prut by die liggie van ‘n klein kersie en daar naas ‘n oop Bybel…

Veritas ·

John jy is ‘n man so na my hart. Jy som die situasie amper digterlik op sonder om ras in die prentjie te bring. Die groot probleem wat die Boere vandag mee te kampe het, is die ondermyning van ons taal en kultuur deur liberale sg Afrikaners. Die tyd het aangebreek vir die formulering van ‘n definisie vir die Boerenasie. So’n definisie moet met groot omsigtigheid en deur weldeurdagte debatvoering geformuleer word sodat ons niemand, as gevolg van beuselagtighede, van die Boerenasie vervreem nie.

Hendrik ·

John en Veritas. Ons kan defineer en skryf en praat. Dit is tyd om te doen. Dit is tyd om ons te onttrek van die demokrasie. Boikot die verkiesing is die begin. Protesaksies is nie ontwettig nie en ons weet ons sal niks beskadig en afbrand nie.

Karma ·

@John – ek dink jy’t jou geskiedenis so bietjie agterstevoorom en verkeerdom gelees. Die trekgroep wat met hul families en besittinkies oor die Groot Rivier getrek het was hoofsaaklik uit die Oos-Kaap afkomstig: in 1936 – 1938 (dit word die Groot Trek genoem O ja, en party gesinne het wel hul [vrygestelde] Kaapse slawe saamgeneem). Die term ‘hensoppers’ kom vanuit die Tweede Anglo Boere-Oorlog (1899 – 1902) en het behels dat ‘n burger wat eens aan die Boerekant geveg het, die Eed van Getrouheid aan die Britse Koningin (tot 1901, Queen Victoria) en later die Britse Koning, Edward gesweer het en teen sy eie mense geveg het. Ten tye van die 2de ABO was die Kaap ‘n Britse kolonie; hulle was onderworpe aan ‘martial law’ en die ‘wit lappie wat aan die droë druiwe-takkie opgesteek is’ is dikwels afgedwing deur wetgewing en vervolging as Kaapse Rebelle. So ja …. so bietjie geskiedenis nou in mindere of meerdere mate reggestel.

Thuunda ·

Meeste kommentare van die gewone mense mense op straat wat Brexit gestem het het genoem dat dit oor immigrasie is wat hulle so gestem het. Dis hoekom daar so erg, en verkeerdelik, na die Brexit stemmers verwys word as rassiste. So immigrasie is wel ‘n groot rede.

HBK ·

Dat die Britte “die regte van die individue vooropstel”? Ek is nie so seker ek kan dit insien nie. Histories het hulle almal om hulle uitgewin, Ierland , Indië, Suid-Afrika, noem maar op. Vandag nog beleef jy dat hulle ‘n meerderwaardige houding het teenoor ander, Dit is natuurlik ‘n veralgemening vanuit my oogpunt, maar ek glo wat die belangrikste les uit Brexit is, is dat die Britte se vensteradvertensie (window dressing) nou bloot sigbaar geword het.

Veritas ·

Die Britte se besluit maak sin. Niemand wil deur ander se besluite regeer word nie en lidmaatskap van die EU, het juis dit veroorsaak. Die aanvanklike gedagte agter die vorming van die EU, was dalk in die eerste twee dekades na WW2 die regte besluit maar stadigaan was lidlande se soewereiniteit daardeur weggekalwe. Die Britte se besluit is ‘n struikelblok in die pad van ‘The New World Order’ en hulle kan hulle maar regmaak vir ekonomiese aanvalle van oral.

DewaldS ·

Baie dankie, Victor.

Hierdie is ‘n baie meer gebalanseerde meningstuk as wat ons gewoonlik moet afsluk in die hoofstroom-media en hulle vertakkings. My opinie is dat langtermyn-ekonomie en soewereiniteit die twee deurslaggewende faktore was – die onbeheersde immigrasie is meer beskou as ‘n aanslag op soewereiniteit en op eie besluitneming as wat dit ‘n ideologiese kwessie is.

Maar daar is ook ‘n ander duiwel hier betrokke – die politici wat prominent in die EU optree het al hoe minder toeganklik geraak vir die gewone mens en het ‘n toenemende arrogansie en superioriteit wat deel vorm van hulle optrede – Juncker se optrede teenoor Farage na Brexit is tipies en is op die heel beste die van ‘n onvolwasse ‘brat’. Die gewone mense vertrou eenvoudig nie dat hierdie politici besig is om hulle belange te beskerm nie – eintlik die presiese teendeel word vermoed – dat hulle van hulle belange beroof word deur hierdie politici en elite waarmee hulle saamwerk. En die gewone mense is dalk net reg.

Henry ·

Is nes jy daar sê DewaldS.
Trump se aweregse aanslag wat deur miljoene Amerikaners ondersteun word en wat Washington burokrate en Politiek Korrekte beterweters ontstig, is ‘n verdere voorbeeld dat die gewone ouens laaaankal verby keelvol is vir die politieke narre wat weinig tot geen geloofwaardigheid meer het nie.
Die perde kluite wat vir solank as vye gesmous is, word nie meer goedsmoeds gekoop nie.

Jcwf ·

”’..Een van die redes hiervoor was dat daar in die vorm van die Europese parlement ‘n wetgewende liggaam geskep is wat regering nog een stap verder van die gewone burger geneem het…”

Nee, Maroela. Een van die redes hiervoor is dat hoewel daar ‘n Europese parlement geskep is wat direk deur al ons Europane gekies word, aan hierdie parlement so min magte verleen is dat daar van demokratiese kontrole niet gespreek kan word nie.

Hierdie demokratiese tekort is veral deur die Britte (en ook Franse) geskep om aan demokratiese kontrole te ontkom. Die meeste besluite word in die Europese Raad geneem waar die Camerons, Merkels en Hollandes hulle geen sorge oor die parlementariërs hoef maak nie.

Dit is wat die mag van die burgers weggehaal het, nie die EP nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.