Broei hier ’n nuwe vorm van internasionale terreur?

brug-bosporus-istanbul-youtube

Een van die brûe by Bosporus in Istanbul. Foto: Youtube.com

Die nuus dat die Turkse owerhede ’n Oesbeek in hegtenis geneem het in verband met die aanslag op ’n nagklub langs die Bosporus in Istanbul is interessant. Vroeër is berig dat ’n verdagte Oegjar uit China gesoek word.

Die Islamitiese Staat (IS) het vroeër aanspreeklikheid vir die aanval geëis.

Tot onlangs is daar uiters selde van die Oesbeke gehoor, omdat die staat Oesbekistan tot die uiteenval van die USSR deel van die Sowjetunie was. Van die Oegjare verneem ’n mens eintlik net af en toe as daar terreur gepleeg word om groter selfseggenskap of onafhanklikheid van China te verkry.

Die twee groepe is egter onderling verwant, en val albei onder die sambreel van die Turkmene. Die Turkmene is ’n groep, hoofsaaklik Moslem, wat uit ongeveer 170 miljoen mense bestaan. Dit sluit die Turke van Turkye in, hoewel die Turke self ’n onderskeid tref tussen hulself en die Turkmene. Trouens, daar woon ’n minderheid Turkmene in Turkye.

Die Turkmene praat sowat 30 tale. Hulle is dominant in verskeie state, waaronder Turkmenistan (ook bekend as Turkmenië), Oesbekistan en Kazakstan, asook in verskeie Russiese republieke.

Minderheidsgroepe Turkmene woon ook in ander lande, soos Sirië en Irak. Hulle word gewoonlik nie eens in die literatuur wat oor die Turkmene handel genoem nie, maar ons is gereeld deur die Unrepresented Nations and People’s Organisation (UNPO), waarvan die Afrikaner ook lid is, van die Siriese Turkmene se lot op die hoogte gehou. Nie dat dit juis die hoofstroommedia gehaal het nie, tot ’n Turkse vegvliegtuig ’n Russiese bomwerper afgeskiet het wat Turkmeense teikens in Sirië gaan bombardeer het.

In Irak woon sowat 3 miljoen Turkmene wat hulself as derde grootste entiteit, naas die Arabiere en die Koerde, wil laat erken. Hul geskrifte is egter nou erg hatig teen die Koerde gemik, wat glo Turkmeense grond steel en by die semi-outonome Koerdistan inlyf. Erge wandade deur die Koerde word beweer.

Uit die literatuur is dit duidelik dat daar oor die Turkmeense lande en minderheidsgroepe in ander lande ’n stroom is wat ’n vorm van eenheid nastreef. Hoe groot die stroom is, is moeilik om te bepaal. Die oorgrens- Turkmeense terreur, soos in China, is elders ook nie noodwendig aan onderlinge simpatie te wyte nie. Terreur vanuit Afganistan in Oesbekistan is vermoedelik meer gekoppel aan die Islamitiese leerstellinge van die Taliban en die Islamitiese Staat.

Die probleem is dat Turkmene wêreldwyd óf as minderheidsgroepe erg onderdruk word, óf in hul eie lande nog nie veel van demokrasie beleef nie. Dit bied ’n geil teelaarde vir die verspreiding van die radikale Salafistiese Islam. Die Islamitiese Staat en die Taliban verspeel ook geen kanse om hul verderflike saad so te saai nie.

Dit is die moeite werd vir die wêreld om ’n ogie te hou, anders kan nog skokkende voorvalle soos dié in die nagklub voorkom.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oupa Denkende Erdvark ·

Mnr Toerien, baie dankie vir hierdie insiggewende inligting. Ek is bevrees die Homo sapiens sapiens-bevolking is besig om ongebreideld te groei met die gevolg dat die stryd om beperkte bronne net eenvoudig gaan toeneem in elke denkbare vorm ookal. Verslaan byvoorbeeld die Taliban en Islamitiese staat en ander ontevrede groepe spring weer op soos nuwe paddastoele. Daar is geen einde aan. Voeg hierby die menslike sondige aard, magsbeheptheid en gierigheid en die liefdeloosheid, onvrede en hopeloosheid vier hoogty.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.