BTW betrek almal in die land

finansies-sakrekenaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Jeannette Gnade

Dit gons al geruime tyd oor die land se begroting, wat vanaand deur minister Pravin Gordhan gelewer word. Hy verkeer onder enorme druk om staatskuld te verminder en die regering se belasting-inkomste te vergroot.

Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler is nie baie geneë met die voorspelling dat die betroubare middelinkomste-groep al weer moet opdok vir die regering se oordadigheid en/of armoede nie. Die land se superrykes is ook nie te vinde vir ʼn spesiale welvaartbelasting om die boeke te laat klop nie.

Daarom is verskeie finansiële ontleders dit eens dat ʼn 2% verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) die ideale oplossing is om die land se oortrokke rekening te verlig.

Die ANC is gekant teen die voorstel, want dit is kort voor sy leierskapskonferensie en die volgende algemene verkiesing, wat uiteindelik sal bepaal wie die land oor die volgende paar jaar gaan lei.

Vakbonde is ook glad nie ten gunste van verhoogde BTW nie, want hulle dink dit sal werkers en diegene sonder werk net nog verder benadeel. ʼn Paar onduidelikhede moet in dié verband opgeklaar word. Baie produkte, veral stapelvoedsel, was nog altyd vrygestel van BTW. Daarby bied die Staat gereeld hulppakkette in die vorm van voedsel aan die armstes van die armes.

Nóg konsessies kan bygevoeg word.  Gewone belastingbetalers sal ʼn 2% verhoging in BTW kan bekostig. Hulle het ook nog altyd die keuse om van sekere produkte en dienste af te sien as hulle nie regtig meer wil betaal nie.

Die groot voordeel is dat almal in die land met verhoogde BTW betrek word. Die staat se probleme word dus nie net deur sekere groepe en groepies gedra nie, want almal maak ʼn bydrae, of hulle nou ryk, arm, swart of wit is. BTW is dus inklusief en transaksie-gedrewe en sal beslis die belasting-gaping verklein en die Staat ʼn bykomende inkomste van R30-miljard besorg.

Dit was nog altyd ʼn ongesonde beginsel om superbelasting te hef. Mense in dié kategorie dra al reeds die las, of beskik oor strukture om die bykomende verhoging te systap.

Die Verenigde Koninkryk en Amerika het bevind ʼn verlaging in korporatiewe belasting lei juis tot verbeterde groei en werkskepping. Ongelukkig is Suid-Afrika se fiskale nood te groot om langtermyn te dink.

Opposisiegroepe, onder leiding van die DA, gaan ná die begroting vra dat ʼn omvattende bestedingshersiening gehou word om uitgawes oor die volgende twee boekjare te herpriotiseer. Australië, Kanada en Brittanje doen dit al jarelank. Dit stel die regering in staat om vir toekomstige voorkeur-uitgawes te beplan.

Dit kan dalk net daartoe lei dat minder diensleweringsbetogings en stakings in Suid-Afrika plaasvind.  Die bestedingshersiening moet in samewerking met die Tesourie en die nasionale, provinsiale en munisipale regerings gedoen word. Geld wat op dié manier bespaar word, kan vir werkskepping, infrastruktuur en nóg fiskale dissipline gebruik word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jean ·

JAwat ek betaal ook eerder 15% BTW saam met al die ander landsgenote as wat petrol weer die hoogte moet instyg of persoonlike belasting. 4 miljoen belastingbetalers kan nie meer vir 50 miljoen sorg nie… elkeen moet nou sy deel bydra. Almal gebruik die paaie en sypaadjies en straatligte en verkeersligte, hoekom moet net die belastingbetaler bydra? Sit op die BTW dan hoes almal.

Koos1 ·

Die verhoging van enige belasting is soos om ‘n pleister op ‘n gapende groot bloeiende wond te plak. Die berig gewys duidelik na die probleem. Die staat het al hierdie probleme self veroorsaak en dan moet die landsburgers die kastaings uit die vuur krap. Verklein die staatsdiens met 10% en kyk hoeveel geld word gespaar. Stop maatsakplike toelaes aan moeders met kinders en laat die hulle daarvoor WERK. Vee paaie, maak parke skoon is sommer twee idees wat by my opkom.
My voorstel is staak persoonlike belasing en maak BTW 25%. Dan maak almal ‘n bydrae.
Soos Jean hierbo gesê 5 miljoen werk om 50 miljoen aan die gang te hou!

Alida ·

15% BTW is 100% reg dan is ons verseker dat ALMAL belasting betaal. Geen probleem sover dit my aangaan nie. Gordhan moet net bly waar hy is want hy hou sy hand op die geldkas.

anne ·

Dis belaglik dat die wat wil werk die wat sit te moet onderhou deur belas te word tot die dood toe. Ek is heeltemal vir 15% BTW.

Johann Marx ·

Die rykste miljardêrs in die land betaal GEEN belating nie EN kry gesubsidieerde brandstof…..die TAXI “bosses”!!! Ek dink ook die naam “BTW” moet verander word….dit staan vir Belasting op Toegevoegde WAARDE…..nou HOE word “waarde” toegevoeg as ek my huis moet toespan met lemme-draad omdat die regering nie die misdaad kan beheer nie? Hoe betaal ek belasting op “Toegevoegde Waarde” as ek ‘n kis moet koop vir my vermoorde plaasboer pa? As ek iets vat en ek maak dit BETER….dan het ek “waarde toegevoeg”. As ons in hierdie land NET BTW betaal waar daar werklik “waarde toegevoeg” is…..gaan dit maar bitter min wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.