Bulgarye: Wat om te doen teen bevolkingsinkrimping?

Foto: Shannahan/Pixabay

Terwyl bevolkingsgroei – daar is selfs sprake van bevolkingsontploffing – in Afrika en die Midde-Ooste aan die orde van die dag is, krimp bevolkings in die meeste Europese state. Eintlik neem die inheemse bevolking oral af, hoewel die totale bevolking van sekere lande, soos Duitsland, Frankryk en Groot-Brittanje, wel groei weens immigrasie uit armer lande. Daarby kom nog die natuurlike aanwas van onlangse immigrante, wat die bevolkingsamestelling al hoe meer skeeftrek (of al hoe meer divers maak volgens die voorstanders daarvan).

Die gebruiklike argument van die voorstanders van immigrasie is dat vir volgehoue ekonomiese groei bevolkingsaanwas nodig is, veral omdat die jonges die oues se pensioene moet betaal. Natuurlike aanwas word nie eens meer oorweeg nie, want as dit al ʼn land se kultuur geword het om enkel te bly, of ten beste op ’n laat stadium een kind te kry, dan kan dit eintlik nie meer omgekeer word nie. Kindertoelaes, gratis kleuterskole en ʼn gesinsvriendelike werksopset het nog geen noemenswaardige uitwerking op die fertiliteit gehad nie.

In Europa is bevolkingsinkrimping deur die bank aanwesig. Die praktyk dat hoe ryker ʼn land is, hoe kleiner die bevolkingsgroei, en hoe armer, hoe groter die aanwas, geld oor die algemeen wêreldwyd, maar nie in Europa nie. Trouens, in armer Oos-Europese lande soos Bulgarye, Roemenië en Moldawië asook Rusland is die inkrimping selfs nog meer as in die voorspoediger Wes- en Middel-Europese lande.

Behalwe vir die bevolkingsinkrimping weens lae fertiliteit kom nog emigrasie as faktor by. Die meeste Oos-Europese lande is nou deel van die Europese Unie (EU) en hul burgers mag dus op enige plek in die EU werk. Soos wat die groeiende ekonomieë verpleërs, skoonmakers, ambagsmanne maar ook hoogs geskoolde werkslui nodig het, trek mense uit Oos-Europa na groener weivelde.

Bulgarye is ʼn voorbeeld van dié neiging. Hoewel dié land die armste in die EU is, gaan dit ekonomies beter as in die verlede en is werkloosheid relatief laag. Lone is egter ʼn fraksie van wat dit in byvoorbeeld Duitsland is. Die land se bevolking was teen 1990 sowat 9 miljoen, maar staan nou op net 7 miljoen. Na verwagting gaan die bevolking verder krimp tot minder as 6 miljoen oor die volgende paar dekades. Lae fertiliteit en emigrasie knou die land dubbeld.

Anders as in welvarende lande is die mense van Bulgarye heeltemal gekant teen die idee om die bevolkingsafname deur immigrasie aan te vul. Hoewel die land eintlik op die hoofmigrasieroete van die Midde-Ooste na Sentraal-Europa lê, is die land uiters onverwelkomend teenoor immigrante en beskerm hy sy grense. Dit is seker te verstane, want Bulgarye het ʼn lang geskiedenis van Moslem-oorheersing deur die Turke, en kan met sy klein bevolking vinnig oorgeneem word.

Die enigste opsie teen bevolkingsinploffing is dus om Bulgare van oorsee te oortuig om terug te keer en om hul vaardighede en geld ten bate van hulle vaderland aan te wend. Daar is sowat 1 miljoen Bulgare in die buiteland, maar in die era van globalisering verhuis niemand net uit patriotisme nie, as die lewensgehalte laag en die geleenthede min is. Om geleenthede te skep is die uitdaging. Dit is nie iets wat die staat kan doen nie, maar die staat kan wel die omstandighede skep waarbinne dit moontlik word: veiligheid, goeie en skoon administrasie en werkende infrastruktuur. Die regering het nog heelwat huiswerk om te doen in dié opsig.

Dit is egter nog nie genoeg nie. Vir beleggers sowel as vir terugkerende burgers speel die beeld van ʼn land ook ʼn rol. Verder moet emigrasie nie meer as suksesverhaal verkoop word nie, maar die sukses in jou eie land, van iemand wat gebly het, of wat teruggekeer het. Pleks om deur televisieprogramme die emigrante se verhale te wys en as voorbeelde te stel, word Bulgare gewys wat teruggekeer het en verduidelik wat hul redes was. Dit beïnvloed ander. Die verlange na die heimat speel natuurlik ’n rol, maar sonder geleenthede en ʼn goeie lewe bly dit net nostalgie. Bulgarye kan sy terugkerende burgers egter iets bied wat die voorspoedige Westerse lande nie kan doen nie: ʼn etnies grootliks homogene land met baie ruimte en goedkoop behuising.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Ek was daar 1993 spele vir dowes in Bulgarye. Mooi wereld daar ou geboue klein strate,groen maar land baie verwaarloos . Nooit..nooit vergeet nie ons het in straat geloop as besoek. Daar was daarn mooi vrou lank , blond hare…. maer… swart klere aangehad met trane van gesig afgeloop terwyl sy geloop het die gesig gestaar vorentoe…..

Marthinus Willemse ·

Met Duitsland se demografie wat besig is om te verander weens immigrante, vertel hulle die volgende grappie:

Duitsland. Die jaar 2019. Twee polisiemanne op voetpatrollie sien `n welgeklede man wat dronk op `n sypaadjie lê. Hulle voel deur sy sakke en haal sy ID uit. Die een polisieman sê, “Petró, hoor hierdie ou se snaakse van: Müller!”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.