Met groot afwagting het ons almal uitgesien na die eerste wedstryde van die Super 15.
Spannend was die wedstryde wel maar vir die fynproewer ietwat van ʼn teleurstelling. Die skeidsregters het hulle bes gedoen om enkele tegniese punte in die skrums so aanhoudend te straf dat die wedstryde maar baie rukkerig was. Hier het Mark Lawrence in die katgeveg op Ellispark die eerste prys gekry vir 30 strafskoppe wat toegeken is. Gou sal hy verduidelik dat hy net volgens die reëls geblaas het en dat die spelers oortree het. Toegegee, maar dit het nie van die wedstryd ʼn skouspel gemaak nie.
Die twee beste wedstryde van die naweek was die heel eerste wedstryd Vrydagoggend toe die Blues en die Crusaders mekaar in ʼn opwindende wedstryd gepak wat tot op die laaste in die weegskaal was, maar uiteindelik deur die Crusaders gewen is. Hulle is ook nog sonder twee van die grotes in wêreld rugby nl. kaptein Richie McCaw en die generaal Dan Carter.
Ek voorspel dat baie spanne nog vanjaar die knie sal buig voor die Crusaders en die Blues. Oor die res van die Nieu Seelandspanne is daar nie veel te sê nie. Die Hurricanes is tans ter plaatse en draf volgende week teen die Leeus op Ellispark uit en ek vertrou (hoop) dat John Mitchell se Leeus die Super 15-wedstryd soos die Curriebeker-eindstryd sal benader. Dit sal dan verseker vir hulle die tweede oorwinning in die sak bring. Die opwindendste plaaslike wedstryd was verseker die Stormers teen die Hurricanes op Nuweland. Vyf drieë is in die wedstryd gedruk waarvan die drie Stormers-drieë beplan was en die twee van die Hurricanes ietwat teen die verloop van die spel was. Die Hurricanes gaan verseker nog ʼn wedstryd of twee verloor as hulle nie ʼn plan teen die gevreesde rolmaal-bewegings van die SA-spanne kan maak nie.
Die wedstryd tussen die Bulls en die Sharks was die mees fisiese wedstryd van die naweek waar geen genade gevra of gegee is nie. Weereens was die skopwerk bepalend en het Morné gewys dat hy nog steeds die gevaarman in SA-rugby met sy skopskoen is (ten spyte van Elton Jantjes en Louis Goosen se uitstekende skopwerk. Laasgenoemde is tans seker die blinkste van die opkomende sterre en die monsterskop van ongeveer 63 meter sal nog lank onthou word).
Die ongelooflike gespot oor die nuwe pienk kleure van die Bulle se wegspeeldrag maak die stoere Bulls-ondersteuners nou redelik keelvol, maar die spreekwoord lui mos: “Wie laaste lag, lag die lekkerste”. Wel ek hoop die Bulls speel nie soos verfynde dames as hulle dié berry-kleure aan het nie. Die Bulls speel eerskomende naweek teen die Cheetahs op Bloemfontein en die wedstryd kan ʼn interessante skopstryd tussen die twee meesters stelskoppers afgee.
Die Bulls se hoogskop- en stormtaktiek het teen die Sharks gewerk maar die ander spanne sal vinnig ʼn teenvoeter daarvoor uitwerk. Die Bulls sal sekerlik nou na plan B en selfs plan C toe moet oorskakel.
Die stryd op Nuweland tussen die Stormers en die Sharks kan ook ʼn opwindende wedstryd oplewer.
Die Six Nations is besig om einde se kant toe te staan en ek dink dat Wallis die pyp hier sal rook.
Die groot ongelukkigheid vandag lê in die skedulering van die Varsity Cup-wedstryde waar die hoofdis tussen Maties en Tukkies die enigste twee onoorwonne spanne in die reeks glad nie op TV gebeeldsend word nie. Supersport maak gewoonlik nie sulke foute nie, maar hierdie keer was die beplanning ietwat aweregs.
Sterkte tot volgende week.