Burgerlike samelewing moet ʼn skans vorm

demokrasie

Foto: Davienjugunah.wordpress.com

Gewoonlik val die media se kollig op die ANC: Dié party is immers aan bewind en het die mag. Wat hy doen, is derhalwe nuuswaardig.

Die laaste maand of twee het die kollig egter ook ʼn bietjie meer as gewoonlik op die DA geval. Dié party het ongunstige publisiteit uitgelok deur ’n polities nalatige Twitter-berig wat sy parlementslid Dianne Kohler-Barnard herhaal het. Sy is toe geskors en is pas, behoudens sekere voorwaardes, weer in die party se boesem aanvaar.

Dit gaan hier nie oor die vraag of die DA verstandig opgetree het nie (in my rubriek in Die Burger het ek betoog dat hy ’n gebrek aan ideale en beginsels ten toon gestel het). Hier word eerder besin welke plek die DA in die breë Suid-Afrikaanse politieke stelsel kan inneem.

Kom ons begin by die begin: Die Suid-Afrikaanse politiek word oorheers deur die ANC. Dis ’n party waaraan soveel mankemente kleef dat dit hom eintlik ongeskik maak om te regeer.

Aan die grondslag lê die feit dat die party se ampsdraers op al drie regeringsvlakke – behoudens sekere opmerklike uitsonderings – nie in belang van die land of die mense regeer nie. Hulle regeer in hul eie persoonlike belang – dié van mag, aansien, veral geld en gerief.

Pres. Jacob Zuma is die versinnebeelding hiervan. Ek hoef maar net die begrippe wapenskandaal, Nkandla, Guptagate en nuwe presidensiële vliegtuig te noem, en elkeen wat die nuus volg, weet onmiddellik wat bedoel word.

Daarby word die ANC gekenmerk deur ’n verregaande onbekwaamheid. En onbekwaamheid, magsmisbruik en korrupsie is ’n giftige mengsel.

Wat ek hiermee wil sê, is dat enige opposisieparty gemeet moet word onder meer aan die mate waarin hy die ANC se ergste vergrype kan keer of aan die kaak stel. Die allerbeste sou natuurlik wees om die ANC te dwing om goed te regeer, maar só ’n hoop sal wel beskaam word; daartoe is die party eenvoudig nie in staat nie.

In welke mate voldoen die DA hieraan? Akkurater gestel: In welke mate kán die DA, gesien die grense van die moontlike, hieraan voldoen?

Wel, ’n mens moet die potensiaal van ’n knap opposisie nie onderskat nie. Die DA doen goeie werk deur skandale, vergrype, mislukkings en die onbekwaamheid van die ANC in die openbaar te ruk.

Die party doen ook goeie werk deur self die voorbeeld te stel in die stede en provinsies waar hy regeer. DA-regerings is nie volmaak nie, ver daarvandaan, maar gemiddeld vaar DA-regerings aansienlik beter wat dienslewering en bestryding van korrupsie betref as die ANC.

Met die Kohler-Barnard-geval het die party die bal wel lelik laat val deur toe te laat dat die ANC die agenda bepaal en dit toe agterna te hardloop. In ’n oorlog veg jy immers nie op terrein wat die vyand uitgekies het nie, maar op gunstige terrein waar jý die reëls bepaal en die vyand moet reageer. Maar dit daar gelaat.

Uiteindelik is selfs die briljantste DA-opposisie egter nie voldoende nie. Rondom die ANC hang vir miljoene swartmense nog steeds die aura van bevrydingsbeweging, nes die meeste Afrikaners dekades lank die ou Nasionale Party-regering baie vergewe het omdat hy hulle van die Engelse juk bevry het.

Daardie aura is weliswaar stadig maar seker aan die dunner word, maar dit gaan nog ’n ruk duur voordat dit verdwyn. En wanneer dit gebeur, is daar ’n beduidende kans dat die jong swartes eerder in die rigting van die EFF afgly as na die DA.

Die VF+, wat gelukkig al lankal die KP-blok aan sy been afgeskud het, is te klein om veel van ’n verskil te maak. Dieselfde geld die ander kleiner partye, soos die IVP, die ACDP, die UDM en Cope.

Dit alles beteken dat parlementêre partypolitiek nie sonder waarde is nie, maar dat dit nie saligmakend is nie. Die DA en ander opposisiepartye se rol moet gepaard gaan met buite-parlementêre aksie van die burgerlike samelewing.

In Suid-Afrika het die burgerlike samelewing enorme lewenskragtigheid. Dis bewys deur die #FeesMustFall-beweging, wat Zuma tot ’n vernederende knieval insake studiegeld gedwing het.

En ja, dis waar, die Open Stellenbosch-beweging het ook “Slim Wim” en sy luitenante se ruggrate by die Universiteit Stellenbosch in jellie laat verander, wat wys dat die burgerlike samelewing ook nie alle wysheid in pag het nie.

Tog speel die burgerlike samelewing, as ’n mens alles in aanmerking neem, net so ’n positiewe rol in ons land.

Vanuit die oogpunt van Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes speel die Solidariteit-familie ’n uiters positiewe rol. Sy filiaal AfriForum is byderhand om waterpype te herstel of slaggate in paaie te vul waar die ANC dit nie doen nie, of om hofsake vir die behoud van Afrikaans se regte of ander belangrike kwessies aan te gaan.

Ook die media speel ondanks gebreke op die keper beskou ’n positiewe rol. Verreweg die meeste van al die skandale waarby die ANC en sy kaders betrokke is, is deur die media oopgevlek.

Hier moet ek iets sê wat my by sommige van my vriende ongewild maak. Die feit dat die burgerlike samelewing dit alles kan doen, is te danke aan die grondwet, wat die ruimte daarvoor skep.

Natuurlik is die grondwet nie volmaak nie. Ek sou byvoorbeeld ’n meer onomwonde beskerming van Afrikaans en moedertaalonderrig in dié dokument wou sien. Ook het die ANC te veel seggenskap in die aanstelling van allerlei sleutelposte ter beskerming van die demokrasie (die sogenaamde hoofstuk 9-instellings).

Maar in teenstelling met Zimbabwe, Rusland, China of ander diktature het ons ’n grondwet wat wye ruimte bied aan ’n burgerlike samelewing met die politieke wil om daarvan gebruik te maak.

Die probleem lê nie soseer by die grondwet nie, al het hy gebreke. Die probleem lê by die ANC wat traag is om die grondwet na te kom.

Trouens, vanuit sy Marxisties-Leninistiese en Afrikanistiese agtergrond sien die ANC die grondwet as ’n lastige blok aan sy been. Veral sedert Zuma se oorname het die onweerswolke oor die grondwet begin saampak, en as jy realisties is, moet jy vorentoe ’n steeds feller aanslag teen ons demokratiese vryhede verwag.

Dis óns – “ons” synde die burgerlike samelewing – se taak om ’n skans voor die grondwet, en dus voor ons vryheid, te vorm. Zuma en sy korrupte bende mág nie slaag nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VeronicaF ·

Dit was insiggewend om hierdie berig te lees! Ek geniet jou skrywe Leopold Scholtz. Dis presies hoe ons hier in die buiteland voel, dat Zuma en sy korrupsie omver gegooi moet word. Die wêreld regerings moet ingespan word vir sanksies teen hierdie korrupsie. Gee hulle hul eie medisyne. Globale Propaganda sal die regerings bewus maak van die ware stand van sake in SA!
Organisasies soos Afriforum en leiers soos Steve Hofmeyr wat opstaan vir die Afrikaner minderheidsgroep het ons ondersteuning nodig!

Gerhard ·

Leiers? Steve Hofmeyer? Jy speel seker jou stouter! Sies man! Amper val ek vir dit. Hahaha.

Therese van Schalkwyk ·

Gerhard

Wanneer SA se treurmares vanuit die buiteland beskou word, staan mense soos Steve Hofmeyr soos bakens van lig bo die res uit. Hy stel sy standpunt oor die skokkende moordsyfer van swart op wit moorde gereeld reguit en sonder doekies omdraai, dikwels ten koste van sy bankrekening.

Jou reaksie hier verbaas egter geensins, want die een moord word vinniger as die volgende vergeet deur die grootste deel van die SA samelewing, terwyl dit strykdeur kerm en kla op sosiale media. Was daar maar meer Hofmeyrs het dit dalk beter gegaan.

Gerhard ·

Ek wens mense wil nou ophou om te sê dat die ANC regering onbewaam is. Hulle is, inteendeel, uiters bekwaam en hulle behaal elke doelwit wat hulle vir hulleself stel. Dis net dat daardie mense wat hulle van onbekwaamheid beskuldig nie verstaan wat die ANC kaders se doelwitte is nie. Wanneer dit by kritieke sake soos persoonlike gerief, geld, oorsese studie reise, groot salarisse en nepotisme kom is mens verplig om die bekwaamheid van hierdie openbare dienaars te bewonder. Hulle is innoverend en hulle is waagmoedig. Vat nou maar Zoemsie se brandput by Nkandla. Slim en vinnig gedink! En daai gawe ou koei van rassisme gee nog goed melk, selfs na al hierdie jare. R50 miljoen word uit ‘n kluis by die ministerie van STAATSVEILIGHEID gegaps! Daar is nou vir jou ‘n voorbeeld van bekwaamheid! Wel, aan die kant van die gapser, natuurlik! Nee, nee. Nene raak ek aan’t tjank en gaan lees weer Cry the Beloved Country.

vermeende ·

Gerhard, jy is heeltemal reg, die ANC doen presies wat hy gese het en voor staan.

GOOGLE net ANC freedom charter.

Johann Marx ·

Gerhard, jy is absoluut reg. Vir WIE is die ANC onbekwaam, en nepotisties, en korrup, en doelwit-loos? Net vir omtrent 5 miljoen uit 50 miljoen individue. Dus, vir elke EEN ontevrede persoon is daar NEGE persone wat dink die ANC is awesome, suksesvol, ‘n toonbeeld van leierskap, onomkeerbaar magtig, ryk, voorsiener, beskermer, verlosser, big daddy. Dis daardie persone wat die kontrakte kry, en die poste beklee (ongeag jou kwalifikasie), die weelde ervaar, en die “freedom” (al weet hulle nie aldag WAT om met daardie “freedom” te doen nie). Die probleem wat baie mense voorspel, en wat in omtrent 99% van alle Afrika lande gebeur het, is die volgende: Op ‘n dag raak die koekieblik wat jy gekry het tydens “bevryding” leeg…….want jy het nooit geleer om op te bou, te spaar, te ontwikkel, te beplan, of voorsiening te maak nie. En dan raak die onderdane wat jou in jou posisie gehou het omdat jy vir hulle koekies uitdeel, heel opstandig, want hulle soek NOG. Omdat jy nie gesorg het die koekieblik vol bly nie, is jou enigste opsie nou om daardie koekie-vreters, wat jou verantwoordelik hou vir die koekies wat hulle tot op hede gekry het, met geweld te onderdruk, of JY word met geweld verwyder…om plek te maak vir ‘n “ander” koekie-supplier…..wat OOK nie weet waar hy al die koekies gaan kry nie, maar hoop as HY in die blik kyk, sal daar nog wees, want hy dink die vorige koekie-uitdeler het ‘n “stash” terug gehou. Jy is reg met die een ding: Cry, the beloved country…..want daar gaan NIKS oorbly nie. En dis ‘n feit…

vermeende ·

Baie mooi skrywe en dit is ook waar dit vir my stop.

Ons grondwet is die mees liberale grondwet in die wereld en dit skep wel ruimte vir burgerlike organisasies om hulle geraas te maak maar nooit te byt nie.
Die grondwet se dat almal gelyke regte het maar tog is dit na 22 jaar nog steeds onderhewig aan BEE en regstellings.
Daar is so baie toepassings in ons wette wat teenstrydig is met die grondwet en na 22 jaar kon die organisasie net geraas maak.
Kortliks, die grondwet is ‘n klein bietjie ink op baie pappier, niks meer en niks minder nie.

Soos die skrywer se, in oorlog laat jy nie toe vir die vyand om die slagveld te kies nie.
Miskien moet al die burger organisasies en partye net net na hulle lede luister en dan ‘n weg bepaal, en net miskien het dit tyd geword vir ons om n hinderlaag te le vir die vyand op grond waarmee hy nie vertroud is nie.

Die grondwet is die buitelyne van die spel wat die ANC speel en die meester is op die gebied waar hy nuwe reel instel soos dit hom pas en al die ander partye en organisasies hou 100% by elke reel behalwe die EFF en organisasie wat die EFF steun.

As jy keer op keer teleur gestel wil word dan plaas jy keer op keer jou vertroue op mense beloftes en ooreenkomste!

Shannon ·

Leeupolt, verstaan ek reg : burgers het die reg om slaggate reg te maak omdat die grondwet dit toelaat ?!
Ai jinne.

Gemsbok ·

Die Nasionale Party en Suid-Afrikaanse media het vir ons almal vertel dat ons maar ons beheer oor die Polisie, Weermag, kommando’s, skole, hospitale, munisipalititeit, universiteite en pensioenfondse aan die ANC kan oordra omdat die NP vir ons die ‘beste Grondwet in die wêreld’ geskryf het wat ons sal beskerm teen enige vergrype van die ANC.

Nou lees ek dat dit ons is wat die stomme Grondwet moet beskerm.

Dalk moet Leopold begin besef dat ons huidige Grondwet slegs tydelik met ons gaan wees, want die ANC (veral in samewerking met die EFF) kan maklik veranderinge aan die Grondwet aanbring wat hulle pas, en wanneer meer as twee derdes van die ‘burgerlike samelewing’ die veranderinge ondersteun (dit is hoevel kiesers vir die ANC en EFF stem), dan is daar bitter min wat die 6% Afrikaners of 13.5% Afrikaanssprekendes op straat of in die parlement kan doen om die stomme Grondwet te beskerm.

Maak maar solank gereed om afskeid te neem van private eiendomsreg en van mediavryheid.

Wat Afrikaners en ander Suid-Afrikaners wat buite die twee-derde meerderheid staan wel kan doen, is om die vermoë te skep om die impak van die meerderheidsregering se beleidsbesluite op hulle en hul kinders te versag.

Dit word gedoen deur instellings te skep wat onbeskaamd in die bresse tree vir die regte van die minderheid. Solidariteit is so ‘n voorbeeld. Orania is nog ‘n voorbeeld. Die Royal Bafokeng is ‘n verdere voorbeeld.

Die DA is nie so ‘n voorbeeld nie, want vir solank as wat die DA daarvan droom om self die verteenwoordiger van die meerderheid te word, sal hy altyd die belange van die meerderheid stel bo die belange van die minderheid, selfs al stem die meerderheid nie vir hom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.