Burgerregteorganisasies van kardinale belang

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Daar het jy dit nou! Skaars was my artikel klaar, toe breek die nuus dat 337 invloedryke persone en burgerlike organisasies ’n veldtog begin het om die Grondwet en die oppergesag van die reg te verdedig. Die voorleier, bekende kerkman eerwaarde Frank Chikane, sê ook: “Dis tyd dat die parlement verantwoordelikheid aanvaar en nie bloot toeskouer is nie”.

My artikel begin by ’n gesprek wat ek gehad het met die voormalige leier van die DA, Tony Leon. Dit het gegaan oor sy nuwe boek: Future Tense. Reflections on My Troubled Land.

Soos die titel aandui, is hy bra bekommerd dat dinge ’n lelike loop gaan neem. Hy reken Suid-Afrika sal in die volgende klompie jare onwaarskynlik ’n goed groeiende ekonomie beleef, maar dit is nie onmoontlik nie. Wat hom moed gee, is die vele burgerlike organisasies wat elke dag ’n sterk oorsigrol vertolk oor die regering en staatsinstellings. Hulle wys korrupsie en wanbestuur uit, maak lawaai en tree selfs in die hof in die bresse vir gewone burgers. Ander instansies met ’n oorsigrol, is die regbank, die media en die parlement. Ons konsentreer hier net op die parlement en die burgerlike samelewing.

In dié verband noem Leon spesifiek Solidariteit en AfriForum. Hy sê as dit nie vir hul optrede was nie, sou dienslewering in vele munisipaliteite veel slegter daaraan toe gewees het. Dis nogal vreemd om iemand soos hy, met sy diep spore in die opposisiepolitiek en Engels-liberale agtergrond, te hoor gunstig praat van sulke sterk Afrikaner-geankerde organisasies. Ironies was die DA al in ’n situasie waar hy klei getrap het en AfriForum die kole uit die vuur moes krap.

Dit blyk dat daar by die DA ’n deeglike hertaksering van sy ondersteunersbasis gedoen is ná sy swak vertoning in die 2019-verkiesing. Leon verwys na wat hy die Schweizer-Reneke-debakel noem. In dié dorp in Noordwes het die DA en andere ’n rassevoorval geskep uit die oënskynlike diskriminerende optrede van ’n onderwyseres. ‘n Foto is gedeel waar swart leerlinge eenkant by ’n tafel gesit het, afsonderlik van die ander. Dit het later geblyk dat die vier spesiaal daar geplaas is sodat hulle toegewyde aandag kon kry om by te hou. Die jong klasonderwyser, Elana Barkhuizen, is uitgekryt as ’n rassis – ook deur die DA se jeugleier, Luyolo Mphiti. Die onderwysdepartement het Elana geskors, maar met die ingryping van Solidariteit en AfriForum is sy heraangestel en selfs lof toegeswaai vir haar toegewyde aandag aan die kleuters.

’n Interne ondersoek van die DA het getoon dat daar minstens 13 gevalle voor die 2019-verkiesing was waar die belange van Afrikaanse ondersteuners geminag en hulle selfs beledig is. Die gevolg was dat Afrikaanse kiesers in hordes, minstens 450 000, die DA landwyd die rug toegekeer het en meestal vir die Vryheidsfront Plus gestem het.

Dit bring my by die eintlike punt uit, en dis hoe verskeie instansies ’n kardinale oorsigrol te speel het om ’n demokratiese bedeling gesond te hou en wanpraktyke uit te wys. Een van hulle is die Solidariteit Beweging waaronder AfriForum val. Max du Preez van Vrye Weekblad het drie jaar gelede gesê AfriForum het ’n hoogs suksesvolle resep as ’n drukgroep en is die rykste burgerlike organisasie in Afrika.

Behalwe die kru veroordelings van AfriForum deur EFF-leier Julius Malema, is daar ook ’n persepsie dat dit ’n instansie is wat teer op die mislukking van munisipaliteite. AfriForum blaas wit paranoia aan ten einde meer lede te werf. Hy doen hom voor as ’n burgerlike organisasie in belang van die samelewing, maar is in wese net ’n nasionale wit Afrikaner-beweging. AfriForum is ’n gevaarlike politieke mag wat vreedsame naasbestaan in die land bedreig. Maar in die afgelope jaar of twee, het van die persepsies verander.

Dit lyk ook asof daar in die breë swart gemeenskap meer waardering vir die organisasie is en sy vermoë om resultate te kry. Daarom begin al hoe meer verontregte swart mense AfriForum nader om hulle te help. Een sterk voorbeeld is die familie van die vermoorde sokkerheld, Senzo Meyiwa, wat AfriForum genader het om hulle saak te hanteer siende dat die staat ná sewe jaar nie resultate kry nie. Die privaat vervolger van AfriForum, Gerrie Nel, gee nou aandag aan die saak.

Ek het die geleentheid gehad om verskeie vergaderings by te woon waar Gerrie verduidelik het wat hy doen. Hy wys eerstens daarop dat van sy eerste aanstellings swart mense was. Hy het ook die versekering gegee dat kleur geen rol speel in sy oorweging om te vervolg nie – net die moontlikheid van ’n suksesvolle vervolging om geregtigheid te laat geskied vir die burgers van die land. Hy sal ook net ’n saak pak as die staat dit nie kan of wil hanteer hy dit. En dikwels is die gevolg dat die staat skielik tot aksie oorgaan as hulle agterkom dat Gerrie op die spoor van ’n saak is.

Maar so is daar etlike ander burgerregteorganisasies wat elk op sy manier en terrein kardinale bydraes lewer om amptelike strukture te konfronteer oor magsvergrype en korrupsie. In ’n interessante ontwikkeling het sowat 23 organisasies begin saamwerk om die Zondo-kommissie na staatskaping se werk te help bevorder. Hulle noem hulleself die Defend our Democracy-veldtog. Dit sluit onder meer in die Ahmed Kathrada-stigting, die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), Corruption Watch, die Dullah Omar-Instituut, Freedom under Law, die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), Right2Know en die Regshulpsentrum.

Daarby kan ’n hele aantal navorsingsinstansies genoem word wat help om perspektief te gee oor die omvang en impak van korrupsie. Dit is byvoorbeeld die Instituut vir Sekerheidstudies, die Instituut vir Rasseverhoudinge, en Anne Bernstein se Centre for Development and Enterprise (CDE). Dis ’n formidabele falanks van instellings met sterk gemotiveerde, intelligente en kundige mense. Hulle skroom nie om die regering en staatsinstellinge in die openbaar of in die hof aan te vat nie – en dikwels wen hulle.

Dit kan ongelukkig nie van die parlement gesê word nie. Regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie na staatskaping, het ook al verskeie kere sy ergerlikheid uitgespreek oor die gebrek aan toesighouding deur die parlement op die doen en late van die regering. Hy het sover gegaan om te sê hy wil ’n taakspan aanstel om die versuim te ondersoek.

Tony Leon glo die parlement het ’n ernstige verantwoordbaarheidsgebrek. Dié instelling het verskeie komitees wat wandade kan ondersoek, maar hulle doen dit skaars of glad nie. Een komiteevoorsitter het dit reguit aan regter Zondo gestel dat sy haar opdragte van die ANC kry oor sake wat ondersoek moet word of nie. Weens sy parlementêre meerderheid, is die meeste van die voorsitters van die komitees, ANC-lede. En hulle volg eerder partyvoorskrifte as om hul grondwetlike plig na te kom.

Die rede vir hierdie party-ingesteldheid is in wese die kiesstelsel van proporsionele verteenwoordiging. Daardeur word voornemende parlementslede se name op partylyste aangebring in orde van dienstigheid aan die party. ’n Parlementslid se loopbaan word dus nie in die eerste plek bepaal deur harde werk en nastrewing van skoon regering nie, maar deur lojaliteit aan die party. Daar word op hofbevel nou gewerk aan ’n kiesstelsel wat minstens van die parlementslede direk kiesbaar en verantwoordelik sal maak aan die kiesers in afgebakende kiesafdelings. Die kiesers kry met ander woorde die oorsigrol om deur die mag van ’n stem ’n parlementslid pligsaam te hou.

Leon maak ook die punt dat president Cyril Ramaphosa en sy kabinetslede in een jaar net 17% van die vrae wat aan hulle gestel is in die parlement, beantwoord het. Die uitvoerende gesag hanteer dus die wetgewende gesag met minagting en erken nie die rol wat parlementslede moet speel om die regering verantwoordbaar te hou nie. Dikwels daag die ministers eenvoudig nie eens op om vrae te beantwoord nie. Die meeste van die vrae kom natuurlik van die opposisiepartye.

Suid-Afrika kan inderdaad trots wees op die werk van die media en burgerlike organisasies om wandade aan die kaak te stel en toesig te hou totdat regstellende stappe gedoen is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Hoe mooi en edel en goed bedoel ook, so word geen land nèrens bestuur nie. En dan is ‘n eerwaarde weer ‘n voorbok vir grootse dwarrelwinde en vergesigte… terloops wat het van die ander oom met sy heli geword? Al wat die ANC wil hè is geld. Verniet geld. Geen raat en oorsigtelige raadgewers met hul neuse in sake nie. Natuurlik sal arbeiders wat verniet paaie stop en gratis reddingsboei uitgooi, so mooi in Engels, ‘pledge’, veral die wat in goud tiengelieng, altyd welkom wees… soos alle kardinale weet…

Groen Ghoen

Dit is BESONDER interessant dat die DA eers nadat sy steun erg gedaal het na o.a die “Schweizer-Reneke debakel” skielik weer die Afrikaanse stemme begin inkatrol? Is dit hier waar die DA se stemvee was, bruikbaar, maar tog net nie ‘n bron van aanstoot vir Zille se maniese gespartel om die swart stemme te lok nie? En dan dr. Max du Preez se politieke kommentaar, wat dikwels meestal ‘n “Antie-klimaks” vir die reeds uitgemergelde Afrikaners is. Hy het tot so onlangs as vier jare gelede sy bes gedoen om Afriforum se werk en doelstellings te bevraagteken. So spartel die Afrikaners… Lees meer »

Aikie

Saamstaan is die enigste uitweg vir die Afrikaner om sy stem dik te maak by die ANC. Maar weereens, die klomp korrelkoppe wil elkeen in sy eie rigting trek en dit gee die regering die voorsprong al is daar binnegevegte in die ANC.
Ek hoop en bid ons kan vir net eenkeer ‘n Simson aksie uitvoer en net EENKEER saamstaan, maar ek hou nie my asem op nie.