Burgers bedrywig in Modimolle

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

As ʼn mens so nou en dan iets positief in die nuusvloei raaklees, is dit nogal verfrissend. Die hoogs betreurenswaardige situasie in munisipaliteite is so oorweldigend dat ʼn positiewe storie nog meer impak het.

Volgens die OG het net 41 uit die 257 munisipaliteite in die 20/21-boekjaar skoon oudits gekry. Daarvan was 22 in die Wes-Kaap.

75% van die rade kon nie kwaliteit finansiële state indien vir ouditering nie. In 38 munisipaliteite is daar nou koalisieregerings – twaalf meer as in die vorige kiestermyn.

Verskeie voorbeelde het in die loop van verlede jaar en hierdie jaar ontstaan van inwoners van verskeie munisipaliteite wat self begin inspring het om dienste te lewer wat die munisipaliteit versuim het om te doen.

In Kroonstad in die Vrystaat het dié dorp met die slagspreuk “Ignite and Revive” dit omskep in ʼn netjiese vooruitstrewende plek − soveel so dat Kroonstad onlangs aangewys is as die mooiste dorp in die Vrystaat. Met die besielende leierskap van Andre van Pletzen, ʼn sakeman van die dorp, en die aanmoediging van Barend la Grange, konsultant en bedryfshoof van die Privilege Stigting, is die voorkoms verander van ʼn vuil dorp waar weinig dienste gelewer is, tot ʼn netjiese plek waar geen rommel rondlê nie, middelmanne in strate mooi beplant is en dienste soos watervoorsiening weer gelewer is. Dis gedoen met die uiteindelike steun van die munisipale raad.

In Oktober verlede jaar het menige Suid-Afrikaners asem opgehou in die vrees dat ʼn rasoorlog in Senekal in die Vrystaat sou uitbreek. Dis toe honderde ondersteuners van die EFF opgeruk het na die hof waar beskuldigdes van die moord op ʼn jong plaasvoorman verskyn het. En teenoor hulle het talle boere saamgetrek. Dit was hittete of geweld het losgebars. ʼn Pastoor van die dorp het onverwyld gewerk om leiers van die gemeenskap bymekaar te kry om vrede en orde te verseker. Barend en prof. Giel Bekker, ʼn boorling van die dorp, het betrokke geraak en ʼn omvattende plan saam met die gemeenskap opgestel om al die onderliggende probleme te takel − soos die lewering van sanitasie- en watergeriewe. Dis gebaseer op die kernplan van Barend dat die hele gemeenskap saam moet staan en die dorp se aansien verander op grond van vier pilare:

  • Maak skoon – verwyder rommel ensovoorts
  • Maak reg als wat stukkend is – soos vensters van amptelike geboue
  • Maak mooi – verf afgeleefde geboue; en
  • Maak groen – byvoorbeeld: sny gras van sypaadjies, plant bome en struike ensovoorts.

Terwyl inwoners saam hulle met hierdie take besig hou, raak hulle aan die gesels, leer mekaar ken en begin beter verhoudinge ontwikkel. Senekal is nou rustig en ʼn beter dorp vir almal.

Dis dieselfde plan wat vroeër toegepas is in Coligny, waar daar ook rassespanning was. Ander voorbeelde is Hartswater, Cradock, Alexandra en andere in verskillende stadiums van ontwikkeling.

Verlede week kry Barend uit die bloute ʼn oproep uit die Modimolle-Mookgophong munisipaliteit, voorheen Nylstroom, in Limpopo. “Kom kyk wat hier aangaan”, nooi hulle.

Sodra jy vanaf die hoofweg afdraai na die dorp toe, merk jy dat die gras in die groot spasies aan weerskante van die pad netjies gesny is. Die aanloop dorp toe is nie besaai met gemors en plastieksakke nie.

Oral sien ʼn mens die swart kolle in die pad waar slaggate opgevul is. Dis die handewerk van Sarie van den Berg, koördineerder van die gemeenskapsforum Adopt-a-Pothole. Sarie sê vrywilligers werk omtrent elke dag. So het hulle in die afgelope twee jaar van die forum se bestaan al duisende slaggate gevul. Dit word gedoen met die samewerking van die munisipale raad. Hulle voorsien grootliks die masjinerie vir die padregmaak. Maar dis privaat-ondernemings wat die teermateriaal voorsien of befonds. Op ʼn goeie dag kan van die werkers meer as ʼn honderd slaggate regmaak.

ʼn Ander soortgelyke inisiatief is deur Erna Human begin. Sy noem dit “Aksie opknap”. Hulle kry ook die munisipaliteit en privaat-sektor om by te dra tot die opknapping van die dorp. Die burgemeester, Marlene van Staden, is ʼn woelwater. Sy is nou vir ʼn tweede termyn in die pos verkies. Sy het ʼn uiters uitdagende taak. In verlede jaar se plaaslike verkiesing het die ANC 14 setels gewen en die DA en al die opposisielede saam ook 14. Die ANC het deur die speaker die beslissende stem. In werklikheid beteken dit dat Marlene al die lede as koalisievennote moet hanteer om hoegenaamd maatreëls in die raad goedgekeur te kry. Dit frustreer haar dat sy nie samewerking van die ANC-provinsiale regering kry om die lekkende ou rioolstelsel reg te maak nie. Dis deels hoekom die inwoners die inisiatief geneem het om in te spring en dinge reg te maak. As dit nie vir hulle was nie, sou die dorp heeltemal verval het.

Na ʼn lang raadsvergadering hierdie week, is besluit dat raadgewende ingenieurs binnekort aangestel sal word om die rioolprobleem te pak. Dit alles pas in by Barend se filosofie dat inwoners self die inisiatief moet neem om ʼn beter toekoms te skep daar waar hulle bly. En by Modimolle gebeur dit. Dit lyk asof dié soort optrede deur burgers ʼn golf van entoesiasme begin word. En terwyl inwoners saam skouer aan skouer werk, ontwikkel dialoog en word beter verhoudinge bevorder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Alles sal perfek werk..haal net ANC en politici uit vergelyking

Johan ·

Fantasties dat samewerking tussen verskillende kulture tog moontlik is vir die gemeenskaplike saak!
En nog ‘n klad op die ANC se naam!

Johan ·

Ek wou byvoeg : dankie dat jy hieroor berig Freek, dis baie nodig. Mag dit ander media publikasies regoor die land ook bereik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.