Buys se brief aan Trump

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Geagte (aangewese) President Trump,

Baie geluk met u verkiesing. As medeburger van ons planeet, wil ek graag ʼn voorstel vir u buitelandse beleid te maak, al besef ek dat u dit nie te lese sal kry nie. Die onsekerheid wat gepaardgaan met ʼn regeringswisseling in die VSA as supermoondheid, kan ʼn land se vriendskappe laat afkoel en vyande tot avonture aanvuur.

Buitelandse beleid het twee interafhanklike doelwitte: om jou land se belange te bevorder en om die wêreld ʼn beter plek te maak. Vir my is die wese hiervan drieledig: die bevordering van wêreldvrede, ekonomiese voorspoed en die bewaring van die aarde en omgewing.

U uitdaging is dat hierdie doelwitte uitgevoer moet word in ʼn wêreld wat al skerper verdeeld raak tussen liberale internasionaliste en demokratiese nasionaliste. Hierdie verdelingslyn  word bemoeilik deur die uiterste pole van hierdie twee groepe, naamlik die onliberale internasionaliste en die outokratiese nasionaliste.

Die harde verdelingslyn ten opsigte van buitelandse beleid, wat tans deur die wêreld sny, spruit myns insiens uit ʼn fundamentele verskil oor die verlede en die toekoms van ons planeet. Meer bepaald, wat ons grootste probleme veroorsaak het en hoe die wêreld van die toekoms moet lyk.

Die siening van u voorgangers én die meeste van hul Westerse eweknieë, is dat die liberale internasionalisme die Koue Oorlog gewen het, daardeur die universele wêreldstandaard geword het en nou na die res van die aardbol uitgevoer moet word. Hulle glo hul stelsel is die finale hoogtepunt van menslike ontwikkeling en dit moet, indien nodig, selfs met geweld afgedwing word. Anders gestel, die ooste en die suide moet verwesters.

Weerstand daarteen word ervaar as ʼn agterlike teenreaksie teen die onkeerbare opmars van verligte vooruitgang, waar agtergeblewenes skoppend en skreeuend ingesleep moet word. Hulle sien die doel van hul buitelandse beleid om hul agenda van internasionalisme, oop grense en oop immigrasie uit te voer en die demokratiese nasionaliste se voorkeur vir nasionale belang, veiligheid en gemeenskapsbelange te beveg.

Politiek of kultuur

Daarteenoor sien die demokratiese nasionaliste hierdie poging om die ooste en suide te verwesters volgens die bloudruk van die liberale internasionaliste, juis as die oorsaak van die groeiende kloof in die wêreld. Daarom staan die demokratiese nasionaliste eerder politieke en ekonomiese samewerking tussen lande voor op grond van wedersydse erkenning en respek, eerder as ʼn gedwonge inlywing by die liberale internasionale orde. In kort, die liberale internasionaliste beskou hul politieke ideologie as die toekomstige bepaler van die wêreldorde, teenoor die demokratiese nasionaliste wat kultuur en identiteit as die grondslag van die toekomstige wêreld beskou. Die nuwe verdelingslyn is dus politiek teen kultuur, waar die een kant hul kultuur sal opoffer ter wille van politiek en die ander politieke toegewings sal maak ter wille van kultuur.

Hoewel ek, as Westerling, bly is dat baie state vrywillig demokrasie, die oppergesag van die reg en die markekonomie aanvaar het, glo ek dit is verwaand en selfs rassisties om Westerse waardes as meerderwaardig te sien. Om Westerse waardes op die wêreld af te dwing, was histories onhaalbaar. Dit is tans onafdwingbaar en sal in die toekoms gevaarlik wees. Westerse waardes is uniek, maar nie universeel nie en die afdwing daarvan word beskou as ʼn nuwe vorm van Westerse kolonialisme onder die vaandel van ʼn universele liberalisme. Dit moet met ʼn wortel bevorder word, maar kan nie met ʼn stok afgedwing word nie. Die puinhope van Afghanistan, Irak en Libië en die vlugtelingkrisis na Europa, was die finale antwoord op daardie vraag. Pogings om die wêreld met geweld te verwesters, het in 1945 met Japan en Duitsland gewerk, maar het nou die “Weste teen die Reste” verdeel.

Ideologiese wêreldoorlog

Sowat ʼn eeu gelede was die einde van die Eerste Wêreldoorlog inderwaarheid die begin van die Tweede Wêreldoorlog. Daarom moet die doel van die VSA se buitelandse beleid wees om te keer dat die einde van die eerste Koue Oorlog nou weer die begin van die Tweede Koue Oorlog is. Die manier om dit te doen is om nie ideologiese “oorloë” te voer nie, maar om die geregverdigde belange van ander magsblokke te erken en respekteer.

Die eerste Koue Oorlog was al grootliks in 1972 gewen, toe President Nixon en sy minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, Mao Zedong besoek en betrekkinge met China aangeknoop het. Dit het tot ʼn skeur in die kommunistiese blok gelei, wat die globale magsbalans dramaties ten gunste van die Weste laat swaai het. Die Sowjetunie is gedwing om meer as ʼn miljoen troepe uit Oos-Europa na die Chinese grens te verskuif en ook die eerste kernsperverdrag met die Amerikaners te onderteken, die “Salt 1” of “Strategic Arms limitation treaty”. Nixon en Kissinger het dit nie gedoen omdat hulle met kommunistiese China saamgestem het nie, maar juis omdat hulle radikaal van die kommunisme verskil het.

Die “Kissinger-formule” was juis dat die VSA beter verhoudinge met die Sowjetunie en Rooi China afsonderlik moes handhaaf, as hierdie twee lande met mekaar. Daarom is die oplossing vir die nuwe Koue Oorlog nie om gelyktydig in ʼn wapenwedloop met die Russe, ʼn handelsoorlog met die Chinese en ʼn ideologiese stryd met die Ooste en die Suide te voer nie. Dit sal lei tot die “imperiale oorstrekking” van die Weste, wat Westerse én liberale belange ernstig sal benadeel.

Tweedens sal so ʼn ideologiese “wêreldoorlog” ook nie die belang van wêreldvrede, die globale ekonomie en die bewaring van die aarde bevorder nie. Die VSA se rol as globale polisieman van die liberale wêreldorde is weens demografiese, ekonomiese en politieke redes net nie meer volhoubaar nie. Die VSA se aandrang op “volle sekuriteit” vir homself, lei tot “volle onsekerheid” vir die ander groot moondhede en ʼn gevolglike wapenwedloop tussen die VSA en hierdie lande.

Kultuur sterker as ideologie

Die internasionaliste se aanname, dat hul liberale politiek en ideologie nou die algemene wêreldstandaard word, het met die publiek se reaksie op grootskaalse migrasie ʼn groot terugslag gekry. Die rede daarvoor is dat die migrasie die publiek bewus gemaak het van kultuurverskille aan die een kant en die gemeenskaplikheid van hul eie kultuur aan die ander kant. Daarteenoor het die liberale aanname, dat die nuwe immigrante hul kultuur en godsdiens as’t ware by die grens sal los en hulself vrywillig sal laat inlyf by die sekulêre liberalisme van hul nuwe lande, op die rots van die werklikheid gestrand. Kultuur het sterker as ideologie geblyk te wees. Die Westerse internasionaliste wou werkers hê, maar hulle kry mense met hul eie waardes, kulture, gelowe en lewenswyse.

Terselfdertyd het die liberale internasionaliste se selfontbinding van hul nasionale identiteit en kultuur en die vervanging van “volk met (multikulturele bevolking)”, gaandeweg hul eie kiesers begin vervreem. Die gevolge hiervan gaan binne die volgende jaar al duideliker raak, namate die kiesers in lande soos Oostenryk, Nederland, Frankryk en Duitsland hul stemme laat hoor. Dit kan ook tot nuwe alliansies lei tussen sommige van hierdie lande met die VSA, Brittanje en lande in Oos-Europa wat deur die Merkel-regering vervreem is.

Dit bring my by ʼn voorstel vir ʼn pro-Westerse strategiese magsbalans in die wêreld, waar vrede, die historiese Westerse waardes, die globale ekonomie en die omgewing veilig sal wees.

Globale magsbalans

Die strategiese uitdagers van die Weste is tans China, die Moslem-wêreld en die Russe. Die belangrikste ander magsblokke is Japan en Indië, met Afrika en Suid-Amerika wat nie groot rolspelers op die internasionale toneel is nie.

Strategie 1: Bondgenootskap tussen die Weste, Indië, Japan en Rusland

Indien die Weste vier van die wêreld se groot magsblokke aan sy kant kan kry, is die Weste verseker van ʼn oorheersende rol. Die prys vir die beëindiging van die tweede Koue Oorlog met die Russe, is dat die Weste die inlywing van die Krim-skiereiland by Rusland sal moet aanvaar. Die Krim was eeue lank deel van Rusland. Daarmee saam sal die skepping van ʼn Russies-gesinde federale deelstaat in die ooste van die Oekraïne nodig wees om die Russe te oortuig die Weste het nie vyandige bedoelings in hul agterplaas nie.

Strategie 2: Bestendiging van die Midde-Ooste

Die les van die verwydering van diktators soos Saddam Hoessein in Irak, Ghadaffi in Libië en die poging om Assad van Sirië uit te kry, is dat slegte regeerders beter is as geen regeerders nie. Anders gestel, ʼn stabiele diktatorskap is minder verwoestend as die gevolge van hul afsetting en pogings om hierdie lande te demokratiseer. Fundamentalistiese groepe soos Isis, onbeskryflike menslike leed en die vlugtelingkrisis is die vrot vrugte van Westerse goeie bedoelings.

Strategie 3: Die hervorming van Europa

Die prioriteite behoort hier te wees dat die Europese Unie gered moet word deur demokratiese hervormings wat die politieke onafhanklikheid van sy lidlande erken, maar ekonomiese interafhanklikheid versnel.

Tweedens kan die groeiende ontevredenheid van Europeërs vir massamigrasie besweer word, deur die hervorming van emmigrasiestelsels en beter grensbeheer om net mense, wat vir hul lewens vrees, binne te laat. Australië se beleid kan hier as voorbeeld dien.

Derdens behoort Europese lande aangemoedig te word om weer hul onderskeie Westerse identiteite op te neem, terwyl volle minderheidsregte aan permanente Moslem-immigrante toegeken moet word. Dit is onmenslik om van hulle te verwag om hul lewenswyse, kultuur en identiteit prys te gee en sekulêre Europeërs te word. So kan Europeërs en die immigrante se menseregte én gemeenskapsregte wedersyds erken word.

Strategie 4: Hulp aan arm lande

Dit is weer tyd vir ʼn nuwe soort “Marshall-plan”, soos die skema wat Europa na die Tweede Wêreldoorlog opgebou het. So ʼn plan, waar beleggings na die privaatsektor in plaas van die regerings kanaliseer word, sal die grootskaalse korrupsie en wanbestuur van die huidige planne beïndig. Die vernuwende planne van die huidige hoof van die Wêreldbank, Paul Romer, om deur “Stadstate” armoede te verbreek, kan deel van hierdie projekte wees. Ontwikkelingshulp moet verleen word aan die massa armes in arm lande en nie aan die klein groepie ekonomiese vlugtelinge in ryk lande nie. Dít salf die gewete, maar beteken nie iets vir die groot meerderheid se swaarkry nie.

Ek vertrou u regeringstermyn sal bydra om van die wêreld ʼn vryer, veiliger en voorspoediger plek te maak, want dis die enigste wat ons het.

Groete,

Flip Buys

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Pieter-Jan ·

Hy moet die brief in Engels skryf. Ek dink nie Trump se Afrikaans is op peil nie.

kerneels ·

Ek dink Flip moet vir die nuwe Pres twiet. Donald mors nie sy tyd met briewe nie, al verstaan hy Afrikaans.

Sid ·

Pieter-Jan word wakker, ek glo beslis dat Flip die skrywe in engels geskryf het. DIe redakteur van Maroela het dit reeds vertaal om dit vir ander wat engels nie magtig is makliker te maak om dit ook te lees. Dankie aan die redakteur wat dit in puik en duidelik afrikaans vertaal het.

YvonneL ·

Sjoe, ek stem saam Pieter-Jan. Hierdie artikel moet meer blootstelling kry. Mens kan maar net hoop dat Donald Trump se raadgewers op dieselfde vlak as Flip Buys is. Dankie Flip, dat jy met hierdie artikel my nie meer soos ‘n muishond laat voel omdat ek die winde van verandering in Amerika voorstaan nie. Ek sien myself nou as n onbeskaamde demokratiese nasionalis wie se kultuur darem ook vir haar belangrik is.

Jan ·

Jip, en buiten vir Engeland, kyk wat is nou ook besig om in Italië, Duitsland en Frankryk te gebeur.

Disselboom ·

Daar is ‘n gesegde dat as ‘n politikus sy binnelandse probleme nie regkry nie, hy hom maar wend tot menings oor die buiteland.

John ·

Die dominerende rol van Duitsland in die EU tov immigrante en arm EU-lande (soos Griekeland en Italie) afpers, sal beslis aandag vra want die Nazi’s het net ander ‘uniforms’ ontwerp vir ‘n nuwe aanslag. Trump se siening oor aardverwarming suig hy nie uit sy duim nie. Vername klimaatskenners waarsku dat die huidige teorie langtermyn klimaatsveranderinge minag; die lang siklusse wat ook sonsveranderinge (verhitting en afkoeling) insluit. Die’ sg mensgemaakte aardverwarming sluit aan by die evolusie-teorie en by die VSA se dominasie-droom om ander lande se vooruitgang en produksie se manipuleer. Wetenskaplikes wat die nuwe teorie afskiet word as dom en outyds beskryf. Trump weier om in te pas by bestaande paradigmas.. en wegbrekers word altyd gekruisig…

Joetjie ·

Ag kan iemand asb vir ons President Trump se telefoon nommer kry? Ek wil ook graag n paar dingetjies op my hart met hom deel onder andere of hy nie SA wil koop nie (grappie).

Maar Mnr Uys, jy is n yster en dankie. Tenminste probeer jy en sit nie op jou agterend en lewer kritiek oor ander mense se pogings om n verskil te maak nie. Hoop ou Steve volg in jou skoene en skryf ook n ou briefietjie of twee aan hom.

En vir die wat weer negatief wil reageer oor die “kommentaar en artikel”, mors maar gerus verder julle tyd.

Nel ·

Joeltjie skryf sommer vir Trump op sy FB-blad – miskien kry hy tydjie om daar te lees.

Loslip ·

Joetjie
Terwyl jy op Facebook is, kan jy sommer vir mnr Uys ook skryf.

Theresa ·

Soos altyd – ‘n wennerartikel – baie dankie Flip Buys.
Insig, waarheid, in die kol en waardevol! Dit sal wonderlik wees om die antwoord wat gegee gaan word op hierdie brief vanuit Amerika, ook gepubliseer sal word.
Net ‘n dwaas luister nie na goeie raad nie. Stel opreg belang om die terugvoer hierop te sien.

Joetjie ·

Nel, dankie, goeie idee!!!!

En vir die wat wonder oor die taal kwessie (want soms is dit nie nodig om die obvious uit te wys nie), maar nou ja……dit sal VERSEKER in Engels wees. Dan verstaan ek hoekom wiskunde se slaag syfer op skool nou net 20% gaan wees.

hanno visagie ·

‘n Bybelse, Christus-perspektief ontbreek. Lees bv prof Johan Malan se Bybelgegronde artikels op die webwerf Bible Guidance onder Eskatologie : Profesiee oor die Eindtyd

Lieplapper ·

Hetbjy geweet Prof Malan se phd graad is nie in teologie nie. Hy is ietwat die pad byster en moet terug gaan na 1ste beginsels van bybel interpretasie

gatiep ·

Die goed kon n goeie debad gewees het want ek stem met baie goed saam met jou maar verskil ook van paar punte ,maar mens kan dit nie op Maroela doen nie want jou post gaan nie altyd op nie.Geen mens kan so debat hou waar jy gesensor word nie.
Lyk vir my daar is amper geen vryheid van spraak oor vir mense nie gaan net erger raak nog.
Bekhou en aanhou Die waarheid mag nie gese word nie want jy gaan iemand se gevoelens seer maak en dit is erger as om iemand dood te maak.
Ek weet sensor is n liberale ding.

Verıtas ·

Gatıep, debatvoerıng kom van twee kante af en as een van dıe partye lıggeraak ıs, gaan dıt ın ‘n morsıge spul ontaard. Debat gaan ook nıe net daaroor om jou sıenswyse te verdedıg en op jou opponent af te forseer nıe. Dıt gaan ook oor ‘n oop gemoed en aanvaardıng van dıe ander se opınıe. Dıe groot probleem lê ın dıe woordjıe ‘kompromıe’. Sommıge sıen dıt as ‘n teken van swakheıd maar, ındıen reg aangewend, kan dıt ‘n belangrıke wapen ın dıe debat-arsenaal wees. Groetnıs.

chrisp ·

Veritas Gatiep is reg.
Ek het met Pietser ‘n gesprek aangeknoop waarvan die helfde nie geplaas word nie terwyl ek dieselfde by ‘n ander leser gevoeg het en dit gaan deur dws daar was geen woorde wat verkeerd was nie. Maroela laat nie debat toe nie en indien wel net wat hulle of die skerhanteerder pas.

Ek dink hulle is opad na Naspers toe(sluit kommentaar) eintlik moet hulle want hulle laat selektief kommentaar toe.

Dit is werklik baie jammer waar gaan ons heen om dalk van opinie te verander of nog beter om ‘n beter insig te verkry as wat net deur skrywers geskryf word. Dit is hoe Trump oa gewen het(mense word nie ‘n stem gegun nie). Ek is al keelvol vir sensor mensies

Henry ·

Soos gewoonlik – ‘n deurdagte en raak skrywe van Flip Buys.
Mynsinsiens is dit onnodig om die skrywe in Engels te vertaal.
Trump se beleidverklarings oor die afgelope maande bevestig dat die inhoud van hierdie skryfsel reeds by talle geleenthede in Donald Trump se denke en toesprake neerslag gevind het.

Anti-liberaal ·

Heg sommer vir Trump n vertaalde klankopname van gisteraand se libersle uitbarsting van Kyknet Verslag en soortgelyke RSG Praatsaam.wat vanoggend oor die lug was.

sarie van heerden ·

Die aanmerking van mnr Buys in sy brief aan mnr Trump dat lg die brief seker nooit onder oe sal kry nie kan dalk eindig in ‘n verbasing as mense hoor dat soortgelyke briewe al deurgeglip het na belangrike wereldburgers. Briewe het al deurgeglip na Koningin Elizabeth, baie bekende sportmense en akteurs, …… so, wie weet kom mnr Buys se ENGELSE brief te lande op mnr Trump se lessenaar se IN BOX.

hans ·

Mc donald sou glo ou mugabe in die tronk gegooi het,wie glo hom,lieg soos al die ander politikuste.

TTh ·

Geagte Flip, uitstekende skrywe. Jou paragraaf onder Strategie 2, stem ek nie heeltemal mee saam nie, Sadam H is vir die verkeerde redes aangevat en sy land wat heel goed bestuur was is vir die verkeerde redes verwoes deur die VSA, Gadaffi was ‘n uitstekende leier en fantasties vir sy land en mense en is ook vir die verkeerde redes deur die VSA uitgehaal en sy land verwoes, so ook Asad word vir die verkeerde redes deur die VSA bygekom. Net so terloops waar is ons land se president se ‘Political Positions’ en sy bydra tot Trump se oorwinning (wat eintlik nog in die weegskaal is totdat 19 Desember se stemming in sy guns sou tel).

Twakkie ·

Mooi idealisme maar Trump is ‘n pragmatis. En as ek die tekens reg lees, gaan hierdie beweging wereldwyd juis daaroor dat kulture wat suksesvol is deur sekere beginsels te volg sat is vir kulture wat misluk deur juis ander beginsels te volg en dan net op eersgenoemde wil kom afpak. Parasiete vernietig uiteindelik hulself en hul gasheer. Oorbevolking maak die wereld ‘n harde plek en dis tyd vir die regte keuses vir oorlewing.

Rupert Ashford ·

Flip ek dink jy en Trump is baie na aan mekaar in so baie opsigte – hy maak baie “common sense” geluide. Laat ons sien wat gebeur. John jy is op dun ys met baie van jou stellings – die mense hou nie van sulke opinies nie…:-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.