By Sasol word gestaak. Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

Solidariteit-lede en lede van die gemeenskap betoog teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema

In die dae voor 1990, in die tyd van kolonialisme en veral van apartheid, was ’n persoon se velkleur die vernaamste faktor in die bepaling van sy regte en behandeling. Dit het bepaal waar jy mog woon, waar jy mog wees, by watter skole of onderwysinstellings jy mog studeer, met wie jy in die kooi mog klim of trou, watse soort werk jy mog doen, die aard van jou politieke regte – te veel om op te noem.

As historikus kan ek verkláár hoe en waarom daardie stelsel ontstaan het. Ek kan ook sien waarom die stelsel misluk het. En as mens, as Christen met ’n regverdigheidsgevoel, kan ek insien dat die stelsel, soos hy in die praktyk toegepas is, immoreel was, ondanks die idealistiese motiewe van sommige van die beleid se vaders.

Teen dié agtergrond was dit nie slegs onvermydelik dat apartheid in die jare 1990-’94 afgeskaf is nie; dit was rég.

Maar afskaffing van onreg is een ding. Die vervanging van daardie onreg deur iets soortgelyks, ’n beleid wat sterk aan die ou wetlike rassediskriminasie herinner, is iets anders.

Sedert 1994 het die konstitusionele hof ’n jurisprudensie geskep wat – kom ons noem dit maar by die naam – die Grondwet verkrag het.

’n Goeie voorbeeld is die manier waarop die flagrante verengelsing van universiteite en skole, ondanks artikels 29, 30 en 31 (die kultuurartikels) van die Grondwet, vergoeilik is. Nog ’n voorbeeld is die wyse waarop die hof die kwessie van regstellende aksie benader het. Die huidige interpretasie van art. 9, wat diskriminasie verbied, is dat enige regstellende-aksie-maatreëls kragtens 9(5) billik is. Daarmee het die hof sy ANC-onderrok baie ver laat uithang.

Dít is waarom die onlangse bevinding van die Menseregtekommissie (MRK) so belangrik is. Die MRK, wat tot dusver die indruk gewek het dat hy maar ’n willose ANC-instrument is, het verrassend tot die gevolgtrekking gekom dat die wyse waarop die regering regstellende aksie toepas, neerkom op “rigiede kwotas” en “absolute hindernisse”. Die kommissie buig wel diep voor die ANC, maar kom nietemin tot die gevolgtrekking dat dié se regstellende aksie-beleid nie voldoen aan die Grondwet of aan die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorms van Rassediskriminasie nie.

Die ervaring elders in die wêreld leer ewenwel dat dit nuttig is om die wet aan jou kant te hê, maar nie genoeg nie. Die Nederlandse spreekwoord sê jy moet nie alleen reg nie, maar reg kry.

Overgezet zijnde, jy moet jou wetlike en morele reg in die praktyk kan vertaal.

Solidariteit het dié waarheid nou in die praktyk met ’n unieke stap toegepas. ’n Staking by Sasol.

Nou ja, stakings kén ons deesdae in Suid-Afrika. Daar gaan haas geen week verby sonder dat daar êrens in die land gestaak word nie.

Maar dié staking is anders. Dis ’n “wit” staking teen rassediskriminasie wat teen wittes gemik is. (Blykbaar neem sommige swart werkers ook deel, maar die dryfkrag kom van wit kant.)

Sasol het naamlik ’n personeel-aandeleskema, bekend as Khanyisa, begin. Daarvolgens ontvang swart werknemers aandele ter waarde van ’n halfmiljoen rand elk, maar wit werknemers niks.

Die rasionaal agter dié skema, soos trouens die hele benadering tot regstellende aksie, is dat die agterstand wat swartes deur die apartheidsbeleid opgeloop het, nog lank nie ingehaal is nie. Spesiale maatreëls is nodig om dit reg te kry.

Dit kan dalk – tydelik – teen wittes diskrimineer, maar met die sanksie van die land se hoogste hof is dít “billike” diskriminasie.

Daar moet begrip wees vir die onontkenbare feit dat swartes gemiddeld steeds armer as wittes is, slegter opgelei, minder verdien, in slegter omstandighede woon, noem maar op. En geen regering wat sy sout werd is, kan hom by só ’n situasie neerlê en hoop om telkens herkies te word nie.

Meer nog: Die bestaan van sulke dramatiese sosiaal-ekonomiese verskille in die land is ’n destabiliserende faktor. Dis ook objektief in die wittes se belang dat die agtergeblewenes opgehef word en hoop vir die toekoms kry.

Die vraag is hoe.

Ja, spesiale maatreëls kan in beginsel geregverdig word. Maar moet dit domweg op velkleur gebaseer word, amper soos in die apartheidstyd? Het die miljoenêr Cyril Ramaphosa se kinders spesiale behandeling nodig, bloot omdat hul vel swart is?

En wat van die kinders van Piet van der Merwe, ’n wit man wat sy werk verloor het en in ’n plakkerskamp moet woon? Wat sy brood verdien deur by parkeerplekke rond te hang en aanbied om mense se motorkarre te was of te bewaak?

Wat is die wesenlike verskil tussen – sê maar – Cyril Ramaphosa en Koos Bekker se kinders? En wat is die wesenlike verskil tussen die kinders van Piet van der Merwe en Sipho Tshabalala, wat ook werkloos is en in ’n plakkerskamp woon?

Die punt is dat die ANC daarin geslaag het om sy ideologie, sy politieke narratief, op ’n te groot deel van die staatsapparaat en die samelewing af te druk. En dus word ons wysgemaak dat krom eintlik reguit is en reguit inderwaarheid krom.

Dis waarom Pule Mabe, ’n ANC-woordvoerder, op die Solidariteit-staking gereageer het deur te sê dat dit die Grondwetlike Handves van Menseregte “misbruik vir afstootlike redes wat ons demokrasie wil ondermyn”.

En dan het ons nog nie eens gepraat oor die manier waarop oudpres. Jacob Zuma toegelaat het dat die ANC en die staatsapparaat deur die invloed van die familie Gupta tot ’n soort Mafia-bende degenereer het nie. Asof dít nie “afstootlik” is nie.

Gelukkig is daar nog onafhanklike kragte in die samelewing. Tot my verrassing is die MRK nie heeltemal deel van die heersende bende nie, en ook ’n groot deel van die media – en die breë Solidariteit-beweging – behou nog hul onafhanklikheid.

As ons wil hê die droom van 1994 moet bewaarheid word, sal ons moet aanvaar dat dit slegs deur politieke stryd kan gebeur.

Staan vas, en moenie toelaat dat die boelies hul magsgreep konsolideer nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jerry ·

Dit is net die begin van wit weerstand teen swart oorheersing! Dit gaan n totale aanslag verg, omrede n halwe aanslag totale onderdrukking sal teweeg bring, baie meer gaan gedoen moet word as slegs staking, boikot, ondermyning, sabotasie en misleidende bravade. Ons leef in n interresante tydvak waar boosheid teen mekaar geweeg gaan word en dit doodeenvoudig niks goeds inhou vir mens, dier en plant nie!

Paul ·

Soos gewoonlik uitmuntend verwoord Dr Leopold, maar toe haal ‘n persoon hier in die kommentaar die oog van die bal af en in plaas van op die hede te fokus, dwaal die nou oog na die verlede toe.

JJ ·

Kan daar dan nie ook gekyk word dat daar bv 6 miljoen wittes in die land is teen 45 miljoen swartes nie. Of sal dit nou rasisties wees?

Nick Oosthuizen ·

Hoor nou by mede werkers dat hulle weer werk . Is die staking dan verby en wat gebeur nou??

Danie ·

Daar gaan dalk heel waarskynlik ‘n staking van voedsellewering wees omdat verskeie boere nie kan/wil lenings kry om hulle oes in die grond te sit nie. Die onsekerheid op die korttermyn oor die grond kwessie gaan op die langtermyn ‘n tekort aan kos veroorsaak. Hou dit in gedagte.

Geregtigheid ·

Dankie MNR SCHOLTZ, Vas-en Saamstaan
Sal nuwe metodes moet kweek en
MOG die vyand gedenudeer word en die
oorwinning ?tot eer van die Here
Skitter van Reg en Geregtigheid vir almal ook
die vyand.

Ou joe ·

Beste oom Leopie, Oom mog maar of is dit nou mag, maar skryf. Na my mening is die kern verskil tussen ryk en arm die bevolkingsgroei en sal dit nooit uitgewis kan word as die groei nie getemper word nie. Groetnis

Heinrich ·

Die probleem hier is dat ‘n algemene agterstand op ‘n spesifieke groep mense toegepas word. As die algemene agterstand van swart mense ( wat mens moet bieg, onder hulle eie bestuur nog vererger het) van toepassing gebring word op professionele swart mense wat professionele werk het met al die voordele wat daarmee saamkom, sal hierdie probleem nooit opgelos word nie. Waarom moet die ongeskoolde, on-opgeleide armes as maatstaf gebruik word vir middelklas mense wat werk en voordele het?

GM ·

Die apartheid-kaart kan nie vir altyd gespeel word nie. Dit is nou jare later, en als wat gewerk het, is afgebreek. Ons is van ‘n Eerste-wêreld land, na rommelstatus toe gevat.
As jy uit jou situasie wil kom, kry jy nie 5 kinders en gee vir elkeen ‘n krummeltjie om van te leef nie, jy kry dalk een, en jy sorg dat jy jou als gee vir daardie een.
Op die ou einde van die dag, is die een wat als verniet kry, beter af as die een wat werk, en dan gaan niemand meer wil werk nie.
Daar is baie wat in plakkerskampe bly, wat beter af is finansieel, as baie van die belastingbetalers. Ek ken ‘n ou swartman wat ‘n paar honderd duisend rand in die bank het, en nog ‘n huis besit ook, maar hy loop in klere rond wat vodde is, en leef van hoender en Amazi, net sodat sy familie nie moet dink hy het geld en hom daarvoor kom doodmaak nie. En hy het tuinwerk gedoen vir mense en verniet op hul erf gebly, werksdae etes verniet gekry.
Ander weer kry hophuise, bou aan, en verhuur kamers uit.
Wanneer gaan apartheidskuld nou as vereffen beskou word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.