Bybelse perspektief op die nuwe inligtingswet

Foto: www.sanef.org.za

Min sake het die afgelope paar jaar die land en veral die media so in rep en roer gehad as die wet op geklassifiseerde inligting wat pas deur die ANC meerderheid in die parlement deurgedruk is.

Dit blyk dat nie net die media nie, maar ook Jan Publiek oorwegend daarteen gekant is. Volgens ‘n meningspeiling wat deur Beeld gedoen is, blyk dit dat net 3% van sy lesers dink dis die regte ding.

Die onafhanklike media het nog selde en oor min sake so sterk en duidelik met een stem gepraat – ‘n reaksie wat ‘n mens sekerlik kan verstaan.

In die lig van die feit dat die media so ‘n belangrike rol speel in die vorming van die deursnee-publiek se menings (dink maar net aan die dae vóór 1994), kan daar sekerlik vanuit Christelike geledere gevra word of genoemde wet werklik so drakonies is? En, indien wel, moet Christene maar net gedienstig daarmee genoeë neem? Daar is myns insiens ‘n paar punte wat in berekening gebring moet word:

Eerstens: Het die kritici hulle deeglik van die inhoud van die wet vergewis?

Tweedens: Dit is tog sekerlik ‘n gegewe dat daar in enige land bona fide staatsgeheime is. Daarmee bedoel ek geheime ter wille en ten opsigte van die veiligheid, beskerming en voordeel van die inwoners van die land. In hierdie verband kom daar egter ‘n belangrike beginsel tersprake: Wanneer ‘n regering en regeringslui (op enige vlak) begin optree ter wille van selfsugtige eie-belang en voordeel en vergeet dat hulle in die eerste en laaste plek daar gestel is vir die voordeel en tot seën van die mense, flikker daar rooiligte.

Dis dan ook op hierdie punt dat daar eerlik en ernstig rede is om die ANC se obsessie met die goedkeuring van die wetgewing te bevraagteken: Waarom ignoreer die ANC die opsigtelike teëkanting van die meerderheid inwoners van die land? Waarom word daar nie oop kaarte met die publiek gespeel nie? Waarom (en dis ‘n baie groot ‘waarom?‘) is daar selfs met tugstappe gedreig indien ‘n ANC-lid nié vir die wetgewing stem nie? Waarom mag ANC-lede nie aan hulle eie gewetes gehoorsaam wees nie?

Hierdie soort dwinglandy en beheer spel onheil. Gegewe die belangrike rol van die gewete as deel van die innerlike en algemene openbaring van God in die mens (Rom.2:15), is dit uiters onthutsende politieke magsmisbruik en aantasting van die mens as vrye morele wese, geskape na die beeld van God – soos wat die geval was toe daar enkele jare gelede oor die kwessie van dieselfde-geslag huwelike gestem moes word. Ironies genoeg het die media in die algemeen nie met daardie kwessie dieselfde probleem gehad nie!

‘n Prinsipiële probleem wat ek as Christen met hierdie wetgewing het, is dat dit ‘n geleentheid gee aan mense om ongekontroleerd, as’t ware in die “donker” te kan opereer. En ongelukkig is hierdie mense die huidige politici wat nie juis aanspraak op hoë morele- en integriteitsgronde kan maak nie. Die probleem daarmee om in die “donker” te opereer, is ongelukkig dat dit vir mense ruimte skep en geleentheid gee om verkeerd te doen.

In navolging van Christus, behoort Christene “kinders van die lig” te wees. As Christene verwag ons optrede wat in die lig en in die openbaar is. Ons doen nie dinge in die geheim en skelm nie. Daarom is ek uit beginsel gekant teen enige “geheime” organisasie.

Daar is by die mens van nature sondige tendense en geneigdhede. Daarom sou ek die regering ernstig wil waarsku om nie vir homself ‘n strik te stel deur onder beskerming van ‘n wet dinge in die geheim te wil doen nie. Dit gaan uiteindelik sonde en boosheid baar.

Dit gaan ten diepste oor waarheid. God hou Hom nie op met die leuen nie. Hy is die verpersoonliking en absolute definisie van waarheid. Waar die waarheid in gedrang kom – selfs en veral ook deur die regering – sal Christene (en mense van integriteit in die algemeen) die kostes van hulle keuses moet bereken en gewillig moet wees om soos die Apostels in Handelinge 4:19-20 vir die owerheid te sê: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis, maar vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Die huidige regering en ‘n aansienlike deel van sy lede se bedenklike vlak van moraliteit en die endemiese afmetings van korrupsie in sy eie geledere, bring hierdie wetgewing onder ernstige verdenking. Indien enige bewyse na vore kom wat feitelike bewys kan lewer dat politici se skandes, korrupsie en misbruik van mag deur hierdie wetgewing gedien of beskerm word, sal burgerlike verset en -ongehoorsaamheid ‘n ernstige oorweging moet wees.

As dit uiteindelik oor die keuse tussen waarheid of leuens/korrupsie gaan – ook wat hierdie wetgewing en onderwerping daaraan betref – is die keuse vanselfsprekend…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sue ·

Dis baie insiggewend. Ons waardeer dit dat mense soos Isak Burger die geleentheid kry om hulle uit te spreek oor sekulêre aangeleenthede vanuit ‘n Christelike perspektief. Christenskap is immers iets wat elke aspek van ons lewe raak! Hoop ons gaan nog baie van hom hier lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.