Bybelse profesieë ook gerig teen die ANC

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

Ek is die afgelope tyd besig om weer die profetiese boeke van die Ou Testament te lees. ʼn Tema wat gereeld in sowel die groter as kleiner profete voorkom, is God se mishae met en toorn oor regeerders wat onreg en korrupsie pleeg, oneerlik is, hulleself verryk, mense uitbuit, boosheid verbloem en armes onderdruk.

Hierdie uitsprake en oordele van die profete was meestal gerig teen die leiers van Israel, maar dikwels ook teenoor heidenvolke. Die Here was immers nie net die God van Israel nie, maar is die Opperheer oor alle nasies.

By die lees van talle van hierdie uitsprake, kom die toedrag van sake in ons eie land telkens by my op. Dit voel soms kompleet asof van hierdie profetiese uitsprake spesifiek gerig was op die huidige regerende party in Suid-Afrika. Luister byvoorbeeld na Miga 7:3:

“Albei hande staan gereed om kwaad te doen; die hoë amptenaar en ook die regter vra ʼn omkoopgeskenk. Ja, die vername is die een wat sê wat hy wil hê en hulle verbind mense daartoe.”

Ek weet dat maghebbers wêreldwyd dikwels hulle posisies en mag misbruik tot hulle eie voordeel en nie primêr tot die voordeel van die mense van die land nie. Ons huidige regering, en spesifiek die ANC, het egter op ʼn onoortreflike wyse daarin geslaag om ʼn internasionale model en voorbeeld daar te stel van hoe ʼn regering ʼn land nié moet regeer nie.

Na byna 29 jaar aan bewind, is daar daagliks nuwe voorbeelde op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak van korrupsie, magsmisbruik, arrogansie, leuens, bedrog en onbekwaamheid wat gelei het tot die ineenstorting van feitlik elke goed-funksionerende instelling en infrastruktuur. En dinge word geensins beter nie – kyk maar net na die huidige verwikkelinge rondom Eskom.

Dag vir dag word ons gekonfronteer met méér en wreder gevalle van misdade, waar misdadigers as’t ware die middelvinger wys vir die polisie en regstelsel wat ten spyte van breedsprakige uitsprake en verklarings deur die minister van polisie duidelik nie in staat is om een van die mees basiese vereistes van ʼn regering – naamlik die beskerming van sy burgers en hulle regte – na te kom nie.

Terwyl die meeste tyd en energie spandeer word om interne konflikte te bestuur en eenheid te probeer verkry, is daar weinig sprake van diens aan die mense van wie hulle veronderstel is om staatsdienaars te wees.

Die huidige toedrag van sake skreeu letterlik en figuurlik ten hemele. Gedurende die apartheidstryd was daar dikwels van die Bevrydingsteologie gehoor. Daarvolgens het die geroep van die onderdruktes in ons land, net soos dié van die Israeliete in Egipteland, God se ore bereik.

Mag Suid-Afrika bevry word van goddelose ideologieë en mags- en geldbehepte regeerders wat nie hulle veronderstelde funksie uitvoer nie, naamlik om ons land en sy mense te dien.

Daar is wel bemoedigende tekens. Behalwe vir diepgaande krake en spanning in die regerende party, lyk dit asof die burgerlike- en besigheidsgemeenskap ʼn al belangriker rol speel en in verset kom teen die swak regering en patetiese onvermoë van diegene wat veronderstel is om diens te lewer.

Ek sou ook graag wou sien dat kerke en ekumeniese rade soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, ʼn veel meer onverskrokke amptelike standpunt sal inneem. Dink net aan die impak wat dit kan hê as ʼn kerk soos die ZCC, met ongeveer vyf miljoen lidmate by wie politieke leiers graag tydens hulle Paaskonferensie gaan flikflooi, hulle profetiese rol ondubbelsinnig vervul.

As gelowiges moet ons egter volhou om ons voor die Here te verootmoedig en tot Hom te bid. Die Here sál Hom oor ons ontferm! Reg deur die Bybel en die geskiedenis het God getoon dat Hy hoor en verhoor dié wat in opregtheid tot Hom nader.

Suid-Afrika is nie vir Hom ʼn hopelose geval nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kobus ·

Daar is ook iets in die Bybel geskryf oor wanneer ‘n slaaf koning word

De Bok ·

Ekumenise bewegings (en veral die SARK) sal nooit hulle profetiese rol kan volstaan nie. Hulle is self heeltemal uitverkoop aan die afgod van sekulere humanisme. Hulle aanbid “social justice” maar ignoreer die God van Abraham, Isak, en Jakob.
As ‘n kerk, of kerkverband, haar profetiese rol wil volstaan, moet sy eers seker maak sy is self gehoorsaam aan die ware God van die Bybel, voor sy begin om die politici op te roep tot dieselfde. Die situasie in Suid Afrika se kerke laat my dink aan Psalm 12. Hier is die Totius beryming:

Red, red, en hoor, o HEER,
geen vrome is daar meer;
getrouheid, in die land reeds klein,
het nou daaruit verdwyn.

Heinrich ·

Ek voel baie keer dat God ons straf met die ANC om ons weer op die regte pad te kry. In die Bybel neem hierdie straf ook ‘n goeie klompie jare.

Truman Burbank ·

Het jy iets regverdig verwag gogga? Want doktrine en eskatologie ens is nooit regverdig nie

Johann ·

“Kan ‘n nasie in ‘n dag gered word”? – met God is dit ‘n besliste JA! Dit sal my gesindheid wees want ek was ook eens “‘n slaaf” en nou ‘n Koning se kind wat sal handel/bid/regeer soos Hy van my vra. Hy weet wanneer die ongeregtige se sonde “vol” geraak het en sal dan daarvolgens handel.

Amelia ·

In die Bybel staan ook kap die bome af waar die hienden onder gesit het as ek my nie misgis nie hou die zcc “kerk” onder bome of vergis ek my

Hercules ·

doen jouself ‘n guns en doen bietjie navorsing mbt die zcc, dit is skrikwekkend!! en hope van die sge “lidmate” werk in ons huise, tuine en werksplekke!!

Truman Burbank ·

Ook Sakkie. Die een wat bepaal wat gebeur, maak seker dit gebeur. Goedheid en boosheid kom uit dieselfde hand. Jou handleiding stel dit duidelik.

Nettie ·

Die profetiese Woord vanaf God deur moderne boodskappers is dat die ANC slegs 30 jaar kry, en dat hulle vanself van die “skip” gaan afspring en verdwyn. Dis op hande, maar gaan nie maklik, pynloos of eenvoudig of oornag gebeur nie. Baie dinge gaan in die land en in die wereld plaasvind, want ons nader ook die Eindtye van die Bybel.

skurweberg ·

Die ergste wat kan gebeur is dat die ANC die regeermag sal verloor soos die NP hulle regeermag verloor het, maar wat dan? God se plan is steeds in plek. Sy regverdigheid kan nie gemanupileer word nie.

Marthinus W ·

As Protestant lees ek ander gelowe en sektes se geskrifte, sodat ek kan verstaan hoe hulle dink. Soms is daar oorvleueling van gedagtes; soms is daar n universele waarheid onder alle gelowe. In die Moslem eskatologie (leer van die einde van die wêreld), sê hulle: “Wanneer die goddeloosste lid van n stam die leier word, en die mees waardeloosste lid vann gemeenskap die leier word, en `n man gerespekteer word uit vrees vir die boosheid wat hy mag doen, en leierskap gegee word aan persone wat dit nie waardig is nie, verwag dan die Oordeelsdag.” [My vertaling] Kan nogal op die VSA en EU van toespassing gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.