Bybelse waardes in toekomstige SA gesoek

Flip Buys se artikel “Van Eerste na Derde Wêreld: Suid-Afrika onder die ANC”, is weldeurdag en gesubstansieerd. As Suid-Afrikaner, wat nie my Westerse wortels en –kultuur kan of wil ontken nie, maar myself tog ook hart en siel deel voel van Suid-Afrika, deel ek grootliks sy standpunte en kommer.

Ek is lief vir hierdie land en het geen plan om Suid-Afrika te verlaat nie en ek hoop my kinders sal ook hier bly. Ek moet egter ook sê dat ek die afgelope paar jaar (toenemend) met Afro-pessimisme worstel.

Almal weet Afrika is ryk aan natuurlike grondstowwe. Ek glo ook dat God nie sommige etniese groepe of volke minderwaardig aan ander gemaak het nie. Afrika het inderdaad ook die mense-potensiaal om ‘n uiters geseënde kontinent te wees. Tog vul Afrikalande in die meeste gevalle die onderste gedeelte van internasionale vergelykende lyste t.o.v. produktiwiteit, ontwikkeling en beskaafdheid.

Die kwellende vraag is: Waarom lyk dit al hoe meer of Suid-Afrika die tipiese “Afrika-pad” stap? Dit terwyl ‘n hele paar lande noord van ons die afgelope paar jaar tog positiewe groei-tendense en ‘n al meer geloofwaardige demokrasie openbaar.

Myns insiens moet die rede hiervoor veral in die kultureel-religieuse tradisies van Afrika gesoek word. Die animistiese Afrika-godsdienste met sy sterk okkultiese onderbou waarby die rol van die sg. voorvadergeeste geaksentueer word, werk daartoe mee om ‘n groot deel van Afrika se mense in die historiese Afrika-denke gevange te hou. Is dit nie opmerklik hoedat hierdie tendens veral onder president Zuma floreer nie!

Hiermee wil ek nie die Afrika-kultuur per se as minderwaardig stel teenoor die Westerse, kapitalisties-gefundeerde kultuur nie. Inteendeel, soos ek in ‘n vorige artikel vermeld het, dink ek daar is heelparty kultuurgebruike wat tradisioneel is aan Afrika en wat veel meer in ooreenstemming is met die antieke Midde-Oosterse kultuur soos wat ons dit ook in die Bybel teëkom.

Wat my laat vorentoe kyk en téén huidige ideologiese tendense in, hoop gee vir die toekoms, is my geloof in God. Feit is dat Afrika tans vrugbare grond vir die Evangelie is en dat Sy kerk (met die uitsondering van Noord-Afrika) dramaties groei.

Daar is oorvloedige bewyse in die loop van die geskiedenis en ook vandag, van die merkwaardige verandering wat geloof in Jesus Christus in die lewe van indiwidue en gemeenskappe wêreldwyd gebring het. Die rol wat die kerk byvoorbeeld die laaste vyftig jaar in Suid-Korea gespeel het om dit een van die mees beskaafde en vooruitstrewende lande in die wêreld te maak, is die moeite werd om van kennis te neem. Vergelyk dit met Noord-Korea wat geloof in God as’t ware verban het.

Ek ontmoet gereeld invloedryke Afrikane – plaaslik en elders op ons kontinent – wat getuienis dra dat die Here inderdaad mense nuut en vry maak – ook vry van die geestelike en emosionele slawerny waaraan onbybelse tradisies en kulture hulle gebind het. Ons moet onder andere bid dat meer sulke mense met Bybelse waardes in invloedryke posisies in die samelewing kom sodat hulle dáár sout en lig kan wees.

‘n Mens moenie die Evangelie, geloof in God en die krag van gebed onderskat nie. Daarom kan, en mag ons nooit moed opgee vir ons land en kontinent nie!

*Hierdie bydrae maak deel uit van ‘n nuwe gesprekreeks op Die Groot Debat, “1990 tot 2012: Die Nuwe Suid-Afrika se verlede en toekoms in oënskou. Stuur vir ons jou bydrae na [email protected]. Lees gerus ook Christo van der Rheede en Charl-Pierre Naudé se bydraes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.