China: Die reus om mee rekening te hou  

Kunstenaars oefen vir ʼn opvoering by die First World-konferensie in Beijing, China in 2016. Foto: Ng Han Guan/ wire.africannewsagency.com

Deur Tienie Fourie

Aan die begin van hierdie eeu het China wat soos ʼn Oosterse Rip van Winkel uit ʼn eeue lange slaap wakker geword het, vol vertroue verklaar dat hierdie eeu die Asiatiese eeu gaan word. Die Middelkoninkryk, soos hy graag na homself verwys, voel dat die tyd verby is dat die Weste die wêreld oorheers. China is reg om oor te neem.

Die Weste, onder die leiding van die VSA, het hom nie hieraan gesteur nie en later daaroor begin lag. Nou is daar egter internasionale waarnemers wat sê dat ʼn derde Wêreldoorlog so min as 15 jaar weg is. En, sê hulle, dit sal tussen die VSA en enkele van sy Europese bondgenote aan die een kant en China en een of twee ander lande aan die ander kant wees.

Kan so iets gebeur? En is daar al tekens hiervan?

Ten aanvang moet ʼn mens kyk hoe die VSA enersyds en China andersyds oorlog maak. Die VSA huiwer nie om troepe en bomwerpers in te stuur nie. Kyk maar na Irak, Afganistan, Sirië en ander lande. Oral ter wêreld is daar Amerikaanse troepe: in Japan, Indië, Pakistan, in Afrika, in Europa, ensovoorts. Waar die VSA voel hy moet sy belange beveilig, stuur hy soldate in. Pres. Donald Trump dreig om Noord-Korea te vernietig. Die Amerikaanse kongres het ook pas ʼn reuse-verhoging in sy verdedigingsbegroting goedgekeur. Dit lyk asof die VSA soos ʼn outydse cowboy gereed staan om rewolwers in albei hande te gebruik om almal wat nie met hom saamstem nie, plat te skiet.

China, aan die ander kant, raak nie sommer in ʼn oorlog betrokke nie. Hy doen dit net as hy sy eie grondgebied as bedreig ervaar, soos tydens die oorlog in 1952 met Korea, en toe Japan tydens die Tweede Wêreldoorlog die land binnegeval het. Terloops, tegnies is daar steeds oorlog tussen China en die VSA nadat vyandelikhede in die Koreaanse oorlog gestaak is. Geen land het amptelik ʼn vredesooreenkoms geteken nie en gevolglik heers daar eintlik net ʼn wapenstilstand.

Dis belangrik om te onthou dat China ook pogings weerstaan het om ʼn pro-Westerse regering tot stand te bring. Die burgeroorlog tussen Mao Zedong en Chiang Kai-shek was niks anders nie as om nog ʼn satellietstaat vir die VSA te skep. Chiang Kai-shek het verloor en na Taiwan uitgewyk. Dít het die Chinese nog nie vergeet nie.

Maar hoe maak China oorlog? Miskien moet ʼn mens gaan kyk na wat Sun Tzu, wat as die vader van Chinese oorlogvoering beskou word, sê in sy boek The Art of War. Die boek is ʼn voorgeskrewe werk vir elke Chinese soldaat. Die basis van Tzu se filosofie is dat ʼn mens ten alle koste geweld moet probeer vermy. Die grootste kuns is om die vyand sonder geweld tot oorgawe te dwing. Geen land het nog ná ʼn uitgerekte oorlog as oorwinnaar geseëvier nie. Val die vyand aan waar hy die swakste is, moet hom nie probeer verneder nie, dit lei net tot bitterheid.

Dus, wat doen die Chinese? Val die VSA aan waar hy die swakste is. Terwyl die Amerikaners miljoene dollar bestee om oral op die aardbol sy troepe te hou en eintlik op die pad na bankrotskap is, verdien China geld. Die VSA skuld op die oomblik meer as $1,3 triljoen aan China met geen vooruitsigte dat hy dit sal kan terugbetaal nie. Wat sal gebeur as China die krediet aan die VSA oproep en eis om betaal te word?

Trump beskou dit nie as ʼn probleem nie. Dis soos jy en jou bank: Skuld hom R100 en jy is in die moeilikheid; skuld hom ʼn miljoen rand en die bank is in die moeilikheid!

In weerwil hiervan het die Amerikaanse kongres pas goedgekeur dat iets soos 8% van sy begroting aan sy militêre magte bestee word. Dit gaan hoofsaaklik aan gesofistikeerde wapens waarvan China maar net kan droom. Dit werk egter nie altyd so nie: die Chinese weergawe van die Kalashnikov-aanvalsgeweer is baie betroubaarder as sy Amerikaanse eweknie.

Nie dat China nie ook besig is om sy militêre slaankrag uit te brei nie. Hoewel hy sy getal soldate na 2,3 miljoen verminder het, bestee hy miljoene dollar aan vliegdekskepe, nuwe fregatte, vliegtuie en meer intensiewe opleiding vir sy manne en vroue in uniform. Sy verdedigingsbegroting is net meer as 2% van sy totale begroting.

Dit is egter op ʼn ander gebied waar China meen hy het die oorhand: Met sy sowat 1,5 biljoen inwoners kan hy baie meer mannekrag in die veld instoot as wat die VSA kan doen. Mao Zedong het hoeka miljoene troepe in Korea laat veg en hom nie laat ontmoedig toe sy eie seun gesterf het nie.

Daar is egter nog ʼn gebied waar China sy bes doen: met rekenaar-oorlogvoering. ʼn Derde Wêreldoorlog kan dalk besleg word deur te voorkom dat jou vyand se missiele afgevuur word; deur te verseker dat sy kernplofkoppe skadeloos in die see val ensovoorts. Die VSA kla dikwels juis dat China die Pentagon se rekenaars probeer binnedring.

Dan praat ons nie eens van bondgenote nie. China, Rusland en Pakistan is aan die een kant, die VSA en Navo aan die ander kant. Die VSA probeer China met troepe omring, al moet hy by laasgenoemde geld leen om dit te doen.

Nou wat is die kans vir ʼn derde wêreldoorlog. Myns insiens is ons reeds in ʼn Derde Wêreldoorlog, maar nie met militêre wapens nie. China probeer geld verdien terwyl die VSA hom leegbloei. Die Chinese val sy vyand aan waar dit die seerste maak: daar waar dit sy beursie raak. Nie dat die VSA dit goedsmoeds sal aanvaar nie; verwag maar die een of ander tyd skermutselings. Albei lande het egter kernplofkoppe hoewel die VSA die enigste is wat dit teen mense gebruik het.

Sal die VSA weer soos ʼn Simson van ouds die pilare om hom omtrek soos by Hirosjima en Nagasaki indien dit al is wat hy oor het?

  • Tienie Fourie is ʼn joernalis wat by die Verenigde Nasies in New York sowel as in China gewerk het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Puik artikel, logiese afleidings, 100% in die kol.
Groot waardering.

John ·

Uitstekend. Sjina speel dit nog slimmer. Die land is vriende met Rusland, maar geniet die VSA se dwase speletjie om Rusland as die wereld se grootste boef uit te maak en al sy aandag daar te vestig as sou Rusland die wereld wil oorneem. (Eintlik is dit net andersom weens die grondstowwe aldaar.) Die Pentagon/Navo lief hierdie ‘vyand’ omdat dit ‘n koue oorlog bly. Om skoor te soek met Sjina sou onmiddellik op drama uitloop. (NK se meneertjie weet dit en buit dit uit.) Sjina is ver gevorder op robot- en ruimtenavorsing; eersgenoemde sekerlik dit voetsoldate van die toekoms. Sun Tzu se handboek vir ‘n teeparty-oorname van die wereld, word nou getrou Duitsland nagevolg, na die Nazi’s se ongure/bloeddorstige pogings… en raai dit werk soos ‘n cannabis-bom op die wysie van ‘Hoe sag roei ons bootjie…dit wieg heen en weer…’ en die hele Europa word aan die slaap gevang met die woede teen Rusland op die VSA se skouers oorgeplaas. Openbaring verwys na die land met die rooi vlag wat einde der dae rooi gaan saai… Wie sou dit wees?

Gerhard ·

Kyk hierbo word ernstig gegorrel. Omtrent al waarmee ek saamstem is dat die Sjinese binne ‘n dekade of twee die wereld gaan oorheers. Ek voel jammer vir die wat daarna uitsien want hulle gaan krokodil trane huil wanneer dit eendag gebeur. Baie van hulle gaan terug verlang na die dae toe bleekgesigte nog die wereld oorheers het soos wat hulle nou terug verlang daarna toe bleekgesigte nog Suid-Afrika regeer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.