China en Indië in konflik

Die “lyn van feitelike beheer”. (Foto: Maxar Technologies via AP)

Die twee grootste lande op aarde, bevolkingsgewys, China en Indië, is tans in ’n botsing op hul grens in die Himalaja betrokke.

In die eerste skermutseling op 15 Junie is 20 Indiese soldate gedood en 10 in hegtenis geneem. Hulle is blykbaar intussen weer vrygelaat. Die getal Chinese soldate wat gedood is, indien enige, is nog nie amptelik bevestig nie. Blykbaar was die getal Chinese soldate betrokke by die botsing baie meer as die Indiese soldate en het die gevegte met slaanwapens en klippe gebeur aangesien die gebruik van vuurwapens op die grenslyn verbied word, juis om konflik te voorkom. Alhoewel daar ook al in die verlede spanning in die grensgebied was, is dit die eerste keer in baie jare dat daar soldate gedood is.

Die gebied waar die botsing plaasvind het, is die Galwan-vallei, op die grens tussen die Indiese Ladakh-streek en die Chinese Aksai Chin-gebied. Daar bestaan net ’n “lyn van feitelike beheer” pleks van ’n amptelik erkende grens. Die hele streek is reeds ’n delikate lappieskombers van gebiede wat deur onderskeie lande geadministreer word of beset is en wapenstilstandlinies eerder as internasionaal erkende grense het. Die Aksai Chin-gebied, wat aan die huidige konfliksone grens, was byvoorbeeld ‘n deel van Indië wat China in 1962 beset het, sonder dat Indië dit ooit amptelik afgestaan het.

Betogers hou baniere vas met pres. Xi Jinping se gesig daarop tydens ʼn protesoptog in Indië. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Die onlangse botsing gaan oor waar die feitlike grens is en die twee kante beskuldig mekaar van oortreding op die ander een se gebied. Indië het ook begin met die bou van ’n verbindingspad tussen twee voorposte en China beweer dat die pad deur sy gebied loop. Indië, op sy beurt, beweer dat China binne Indië se invloedsfeer strukture oprig. Daardie manier om in omstrede grensgebiede feite te skep deur die oprig van permanente strukture met bemanning is iets wat China ook in ander dele van Asië doen.

Nie net die grens tussen Indië en China is omstrede nie, maar ook dié tussen Indië en Pakistan wat die eens outonome Kasjmir verdeel en wat ook in die omgewing is. Trouens, die Galwan-vallei is deel van die Indiese deel van Kasjmir, ’n gebied wie se mense veg vir onafhanklikheid en wie se outonomie deur Indië in 2019 weggevat is. Die Himalaja-gebergte is van groot strategiese belang en geen kant sal grondgebied afstaan nie.

Betogers skeur ʼn banier waarop pres. Xi Jinping van China se gesig pryk middeldeur. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Militêr is China die sterker moondheid, maar nie een van die twee kante kan ’n volskaalse oorlog bekostig nie. Indië het boonop nog sy aartsvyand Pakistan, ’n bondgenoot van China, aan sy kant. Indië kan egter op steun deur die VSA reken en die konflik dryf die twee lande juis nader aan mekaar. Ook Brittanje sou eerder kant kies vir sy voormalige kolonie, Indië, as vir China wat tans die eertydse Britse besitting Hongkong se outonomie inperk. Verder versterk ook hierdie konflik China se beeld as die boelie van Asië.

Trouens, China speel nou amper die rol wat Duitsland voor die Eerste Wêreldoorlog gespeel het: dié van aggressiewe, ekonomies en militêr sterkste mag op die vasteland, wat egter die ander lande na mekaar toe dryf en homself isoleer. Met Japan bestaan daar ’n konflik oor ’n klein eilandgroep wat ’n paar jaar gelede ook tot skouerskuur gelei het en tans in die yskas is; met die Filippyne en Viëtnam is daar talle dispute oor eilandgroepe in die Suid-Chinese See, en Taiwan word gedurig deur China bedreig. Om nie te vergeet van die konflik in en oor Hongkong nie.

ʼn Protesoptog teen China in Ahmedabad, Indië. (Foto: Ajit Solanki, AP)

By alle geostrategiese scenario’s moet egter ook onthou word dat die situasie vandag heel anders is as 100 jaar gelede. China weet goed dat hy nie ’n oorlog kan bekostig nie as hy nie sy ekonomiese wonderwerk wil beëindig nie. Indië weet dat hy ’n direkte militêre konflik met China waarskynlik sal verloor en nog grondgebied sal afstaan. Die botsing met Indië word tans min deur die Chinese media gedra en geen groot nasionalistiese opwelling is te bespeur nie. Alhoewel in Indië die gemoedere in die bevolking hoog loop weens die brutale dood van sy soldate, het die eerste minister Narendra Modi sy woorde versigtig gekies om China nie uit te lok nie. Diplomate aan beide kante is ook gemoeid om ’n oplossing te vind hoe die konflik weer kan terugkeer tot sy gevriesde toestand. ’n Finale skikking oor die grens onder internasionale bemiddeling is egter onwaarskynlik.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eden

Die Sjinese raak al meer parmantig. Glo hulle dink reeds hul is magtiger as die Yanks wat hare kloof oor watter standbeelde afgebreek mag word en op hul knieë gaan voor hul meesters.

Jacobus

Jammer, dis meer soos die res van wêreld vs Sjina.