China se terugkeer tot sosialisme en die implikasies vir die wêreld

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Dis nou al bykans ʼn jaar wat die Chinese kommunistiese regering op groot skaal in die ekonomie inmeng.

China was nooit ʼn vryemarkekonomie nie, en die regering het op allerhande maniere ingemeng: deur die wisselkoers kunsmatig laag te hou, deur groot staatlike infrastruktuurprojekte van stapel te stuur, en deur die bedryf van staatsmaatskappye. Dit was egter maatreëls ten gunste van die ekonomie en het gehelp dat China nou al vir dekades lank fenomenale groei toon. Die land het lankal die vlak van ʼn middelinkomsteland bereik en is ʼn kortkop agter die VSA as die grootste ekonomie ter wêreld.

Die strategie van die Kommunistiese Party, om die lot van sy eweknie in die Sowjet-Unie vry te spring, was om, aan die een kant, deur ekonomiese hervormings vir die bevolking (relatiewe) rykdom, modernisering en die vrugte van die globale verbruikersamelewing te gee en aan die ander kant, in ruil daarvoor, enige eise na demokratisering te verwerp en die monopolie op die mag te behou. Dit was, om die slagspreuke van Michail Gorbachev te gebruik, Perestroika sonder Glasnost, of anders gestel, ʼn Westerse leefstyl sonder Westerse waardes. Dit het ooglopend baie goed gewerk en politieke onrus was in China feitlik afwesig, afgesien van die meer onlangse proteste in Hongkong, wat egter polities nie heeltemal deel van China was nie.

Die nuwe klas van ondernemers met popsterstatus, televisie- en glanspersoonlikhede en veral die jeug se beheptheid met elektroniese vermaak het die leierskap rondom president Xi Jinping egter genoop om die leisels in te trek om te keer dat China sy sosialistiese wese heeltemal verloor. Globale tegnologiemaatskappy soos Tencent en Alibaba se vlerke is geknip. Jack Ma, stigter van Alibaba en op die vlak van ʼn Elon Musk of Bill Gates as skatryk internasionale sakeman, is blykbaar persoonlik voor stok gekry oor sekere “onpatriotiese” sienings.

Die ongelykheid, wat die enorme ontwikkeling van China teweeggebring het, is ook hard deur die party gekritiseer. ʼn Veldtog teen “internetverslawing” van die jeug is geloods en die regering wil selfs, in ʼn land met 1,3 miljard mense, die presiese hoeveelheid ure vir elektroniese vermaak voorskryf. Dieselfde elektronika, wat die regering nou weens die verval van die jeug kritiseer, word egter suksesvol gebruik om mense te kontroleer. Daar is reeds ʼn puntestelsel vir wenslike gedrag, wat op besondere gedienstigheid teenoor die staat neerkom. Opgesom: die kommuniste probeer om die gees wat hulle uit die bottel vrygelaat het weer terug te dwing sonder om hierdie reuseland ekonomies te ontwrig.

Vir lank is geglo dat sosialisme ʼn uitgediende konsep is en net so op die ashoop van die geskiedenis beland het soos die monargie of fascisme. Trouens, in menige voormalige sosialistiese lande het die eertydse kaders gemaklik na ʼn onideologiese klas politieke ondernemers en toutjietrekkers verander wat hulleself verryk en slegs nog nominaal sosialiste is. Dié tendens was in China ook sigbaar, met menige opportuniste vir wie die Kommunistiese Party ʼn middel tot ʼn doel was, en nie meer die doel op sigself nie. Xi is al geruime tyd besig om dié tendens te beveg en China se koers te verander.

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Sosialisme in al sy verskeie gedaantes en variasies maak egter al geruime tyd weer opgang, ook in die Weste. Dit kan wel wees dat die Chinese Kommunistiese Party, wat terloops nooit met sy geskiedenis en doktrine gebreek het nie, die dekades van ekonomiese groei net gebruik het as middel tot ʼn doel: doen besigheid mét en leer ván die Weste tot China die Weste verbygesteek het. Keer dan terug na jou eintlike doelwit, naamlik die kommunistiese oorheersing van die wêreld (verbloem as multipolariteit). Die drastiese koersverandering is moontlik omdat geen Chinese leier sedert Mao Tse-tung soveel mag in sy hande gekonsentreer het soos Xi Jinping nie, plus die tegnologiese middele tot beheer waarvan Mao nie eens kon droom nie. As volk met ʼn geskiedenis en beskawing wat tot in die vroegste tye terugreik, is langtermyn- strategiese denke iets wat deel van die Chinese DNA is.

Vir die wêreldekonomie is die implikasie nogal ernstig: die globale oplewing van die laaste sowat drie dekades was en is baie nou verbonde aan China se ekonomiese oplewing. As China nie meer groei as opperste doelwit sien nie en sy fokus inwaarts keer, meer nog, as China sy globale maatskappye se vlerke knip en hulle effektief van die globale ekonomie onttrek, sal dit ʼn slagting op wêreldmarkte veroorsaak, veral in die nuwe, tegnologiegedrewe ekonomie, wat homself eensydig van China afhanklik gemaak het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Goeie ontleding. Wat ek nie verstaan nie is dat so min mense se oe oopgaan vir die bedreiging wat al hoe groter word nie – “…. veral in die nuwe, tegnologiegedrewe ekonomie, wat homself eensydig van China afhanklik gemaak het.”

annie

Xi het groot geskrik vir die opstandigheid in Hong Kong soos vir ‘n spook wat oor sy graf loop; dat dit kan oorspoel na die land, hierdie bravado. Nog iets is die moontlikheid van kosskaarste as die ekonomie weens vetes met die Weste kan ontstaan wat onluste sal ontketen. Xi is baie kordaat maar wil die volk teen die opwindende buitewêreld veg? Hy moet dus weer haat kweek, ingetoënheid en veglustigheid. Die soet kind het uit die vervelige ou sosialistiese boks geklouter. Xi gaan sukkel. Nederland… ploeter platers… gaap!

CA

Daar is baie bewyse van die Weste/Amerika se geweldadige, ekonomiese en kulturele oorname van die wêreld, dié spore van verwoesting is wyd gesaai. Daarteenoor is daar min indien enige teken dat China die wêreld met kommunisme probeer oorheers; koue-oorlog projeksie wat tot baie krisisse gelei het die afgelope dekades.