China wys sy agenda met politieke inmenging in Australië

china-vlag

Foto: PPPSDavid/Pixabay.com

’n Robuuste debat heers die afgelope weke in Australië oor die wyse waarop die Chinese regering en Chinese individue en instellings toenemend in Australië se binnelandse sake inmeng. Verskeie ondersoeke het die afgelope tyd aan die lig gebring hoe die Chinese regering die politieke stelsel in Australië probeer beïnvloed.

Ryk Chinese donateurs word gebruik om kandidate wat pro-Chinese posisies sal inneem, te ondersteun. Een so ’n voorbeeld is die jong Australiese senator, Sam Dastyari, wat skielik moes bedank nadat dit aan die lig gekom het dat die inhoud van talle van sy toesprake direk vanaf die Kommunistiese Party van China afkomstig is en dat hy as raadgewer oor teenobservasie strategieë vir ’n ryk Chinese donateur opgetree het.

Akademici van reg oor Australië het onlangs hul kommer uitgespreek oor die wyse waarop Chinese donateurs universiteite probeer beïnvloed om navorsingswerk wat China of sommige instellings in China in ’n positiewe lig stel, te doen. Een voorbeeld hiervan is ’n universiteit in Sydney wat ’n donasie van 1.8 miljoen Australiese dollar van ’n ryk Chinese sakeman, Xiangmo Huang ontvang het. Die universiteit het daarna werk gepubliseer wat fokus op die positiewe gevolge van ekonomiese samewerking tussen Australië en China.

Die regering in Australië is in ’n moeilike posisie. Aan die een kant wil hulle bande met China versterk en kan hulle nie bekostig dat daar onder Chinese regerings- en sakelui antagonisme jeens Australië ontstaan nie. China is verantwoordelik vir een derde van Australië se uitvoere, gemeet in monetêre waarde. Daarby put Australië se universiteite wesenlike voordeel uit die 180 000 Chinese studente wat by hulle studeer. Voorts besoek meer as een miljoen Chinese toeriste Australië elke jaar. Australië is ook ’n gunsteling-immigrasiebestemming vir hoogsgeskoolde Chinese beroepslui.

Daarteenoor is daar toenemende krapperigheid onder sommige politici en gewone burgers in Australië oor die wyse waarop China invloed in hul land se belangrike politieke, akademiese en ander instellings probeer koop. Hoewel daar die afgelope 18 maande ’n sterk bewustheid hieroor in Australië heers, is dit nie ’n nuwe uitdaging nie. Reeds in 2005 het die Chinese burger, Chen Yonglin, wat uit vrees vir vervolging uit China gevlug het, ontbloot hoe daar oor jare ’n hele netwerk van Chinese informante binne ’n groot hoeveelheid instellings in Australië geplant is.

Laat verlede jaar het die regering in Canberra sy nuwe Witskrif vir Buitelandse Beleid bekendgestel. Die dokument stel dit duidelik dat Amerika sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog die dominante mag in die streek om Australië was, maar dat China dit deesdae uitdaag. Die witskrif erken die belangrikheid van goeie bande tussen Australië en China, maar is ook reguit oor die verskil in belange, waardes en politieke- en regstelsels tussen die twee lande. Die dokument gaan sover om te pleit vir ’n verdieping van die verhouding tussen Australië en Amerika, duidelik met die doel om China se invloed in die streek teen te werk.

Australië se uitdagings is nie uniek nie. Talle Westerse lande is afhanklik van uitvoere na lande soos China, Indië en andere met vinniggroeiende bevolkings en gevolglik vinniggroeiende ekonomieë. Die botsing tussen ekonomiese belange en waardes en politieke stelsels wat nie versoen kan word nie, gaan eerder groter word in die komende jare.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Nie net in Australië nie. Probeer maar net enigiets in SA organiseer met die woorde “Dalai Lama” in die titel en kyk maar net wat sal gebeur.

bgj van der westhuizen ·

ja hulle is net so besig n afrika en veral n suid afrika

Gerhard ·

Die dag kom nader wanneer almal gaan terugdink aan die goeie ou dae toe die Amerikaners die wereld se voorste wereldland was.

Nico K ·

Ek stem saam met Gerhard. Daar is baie maroela lesers wat so erg negatief teenoor die VSA is, en hulle is beslis nie volmaak nie, maar as ek moet vertrou op ‘n land in die wêreld verkies ek nog steeds die VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.