Chinese draak slaan sy tande al dieper in

china-draak

Foto: Tookapic/Pixabay.com

Daar is ʼn spreekwoord – na aanleiding van die verhaal van die Trojaanse perd – wat lui dat jy moet oppas vir Grieke wat geskenke bring. Dit sal nie verkeerd wees om die “Grieke” vandag op die vasteland en in Suider-Afrika na “Chinese” te verander nie.

China het nou Engeland, België en Portugal se koloniale rol oorgeneem en is stelselmatig besig om Afrikalande met projekte, geskenke, plundering en groot getalle emigrante uit die Ooste oor te neem. En omdat Afrika is wat hy is – arm en korrup – is daar min verweer teen China se uitbreiding.

Volgens die jongste skattings is daar reeds 40 000 Chinese in Namibië (bevolking 2,3 miljoen) en tussen 400 000 en ʼn halfmiljoen in Suid-Afrika (geskatte bevolking 55 miljoen). Daarmee saam word die kontinent oorstroom met (dikwels baie minderwaardige en goedkoper) Chinese produkte ten koste van lande se eie industrieë. Die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf is op sy knieë en is na raming reeds van 75 000 werksgeleenthede ontneem, en tog voer die ANC en die EFF hul T-hemde en pette van China af in . . .

Handelsooreenkomste is met meer as 40 lande gesluit, waaronder Uganda, Kenia, Algerië en lande in Suider-Afrika. Handel tussen Beijing en Afrika was ʼn dekade gelede £4 miljard sterk en word tans gereken op £70 miljard.

Namibië maak beswaar

In Desember 2016 het Namibië se voorste 40 omgewingsorganisasies in ʼn sterkbewoorde brief die Chinese ambassadeur laat weet dat die land se mense woedend is oor die voortgesette misdade van Chinese burgers teen die natuurlewe en die ekologie. Volgens die brief het sulke optrede reeds tot verliese van R811 miljoen gelei.

Korrupte leiers werk natuurlik saam, soos die voormalige pres. Hifikepunye Lucas Pohamba (2004 tot 2009), wat net deur die grondwet gekeer is om al die land se natuurlike hulpbronne in ruil vir ʼn lening aan China te bied. Daar is – minstens voorlopig – darem ʼn einde gebring aan China se pogings om van Walvisbaai ʼn vlootbasis te maak. En laat dit ter ere van die huidige president, dr. Hage Geingob, gesê word dat hy ʼn groot geskenk van China geweier het omdat hy dit as ʼn groot belediging beskou het. Daar is ook Chinese hawe-ontwikkeling in Luanda aan die gang.

En moenie dink Namibië se verset geskied net langs diplomatieke kanale nie. Gevegte wat aan die Bosoorlog herinner, het al uitgebreek tussen Namibiese eenhede en groepe swaar gewapende stropers. Die eenhede het op ʼn klomp AK47-gewere beslag gelê en daar was ʼn paar ongevalle onder die stropers. “Stropers wat op ons eenhede skiet, sal dit berou,” het een van die eenhede se leiers gesê.

Namibiërs heg groot waarde aan natuurbewaring, soseer dat toeriste aangekla en beboet word as hulle van ʼn grondpad aftrek of enigiets verwyder.

China bou “Afrika se Manhattan”

In Desember het pres. Zuma en sy Chinese eweknie, pres. Xi Jinping, die vordering bespreek wat gemaak is met die vyf tot tien jaar lange strategiese program vir samewerking wat in 2014 ter waarde van R94 miljard gesluit is. Hiervolgens is die groot voorkeure:

♦Die aaneenskakeling van industrieë om Suid-Afrika se industrialiseringsproses te versnel.

♦Samewerking in spesiale ekonomiese sones en samewerking op marinegebied.

♦Die ontwikkeling van infrastruktuur en finansiële samewerking.

China het Suid-Afrika se grootste handelsvennoot geword en tweerigting-handelsverkeer het die afgelope vyf jaar reeds met 32% gespring van R205 miljard tot R270 miljard. Dit sluit goot beleggings in van Chinese maatskappye wat onder meer mynmaatskappye in Suid-Afrika gekoop het. Van die talle ander beleggings sluit in China se aandeel van 20% in Standard Bank en Naspers se groot aandeel in die Chinese internetmaatskappy Tencent.

Tans is die Chinese firma Zendai ook besig met die bou van ʼn reusestad van 1 600 ha by Modderfontein, aangrensend aan Sandton. Volgens beplanning gaan daar uiteindelik voorsiening gemaak word vir 30 000 gesinne en 20 000 werksgeleenthede.

Die hoof operasionele beampte van die ontwikkelingsmaatskappy, Zendai South Africa, Du Wendui, sê dit is ʼn 10 tot 15 jaar lange projek, met die doel om die “Manhattan van Afrika” tot stand te bring. Hy sien dit as die toekomstige hoofstad van Afrika en die projek sluit in ʼn sentrale sakekern, hospitaal en mediese geriewe, ʼn biblioteek, uitgebreide ontspanningsgeriewe, kerke, skole en dies meer.

China het ook reeds talle ander stede in Afrika gebou, soos Nova Cidade de Kilamba (Kilamba se Nuwe Stad) in Luanda. Dit bied huisvesting aan 500 000 mense, maar min Angolese kan die huur bekostig en dit was lank ʼn spookdorp. Volgens die jongste syfers woon daar tans 80 000 mense, van wie die meerderheid Chinese amptenare en ryk sakemanne is. Dar es Salaam en Nairobi beskik oor hul eie Chinese woongebiede.

Daar is nie net reeds groot getalle Chinese in die stedelike komplekse van Suid-Afrika aanwesig nie, maar daar is tans haas ʼn plattelandse dorpie sonder Chinese winkels en handelaars. Dit staan te besien of daar vir Suid-Afrikaners voordele hieruit sal kom.

Terugbetaling in natura

Dit het al moeiliker vir Afrikalande geword om geld te leen, en China het die gaping netjies gevul met lenings wat sy politieke en ekonomiese invloed met rasse skrede laat groei. En omdat Afrika nie in geld kan terugbetaal nie, word dit in natura gedoen met kontrakte vir projekte soos mynontginning en paaie.

So het Grace Mugabe van Zimbabwe onlangs die land se wapenskuld aan China met 36 olifantkalfies, ’n kameelperdkalfie, agt leeus en 12 hiënas vergoed. Hulle is wreed uit hul troppe verwilder en oor die volgende vyf jaar moet China nog 200 olifantkalfies kry ter delging van die skuld van $3,8 miljoen. Dit terwyl Afrika se olifantbevolking in die afgelope ses jaar van 230 000 tot 60 000 gestroop is . . .

Luidens ʼn berig in The Times of London word dieselfde Chinese sakevrou met wild uit Zimbabwe betaal vir die lewering van weermagskoene en -uniforms aan die Kongolese weermag. Born Free berig dat sowat 70% van die ivoor wat China bereik – ʼn gemiddeld van 400 ton per jaar – dit langs korrupte weë doen.

Maar daar is dalk hoop. Nadat daar al jare lank druk oor ivoorhandel op China uitgeoefen is, het die land twee weke gelede aangekondig dat die invoer van ivoor einde 2017 verbied sal word. As eerste stap sal ʼn groep fabrieke wat ivoor wettig verwerk op 31 Maart gesluit word. Niks is oor renosterhoring en die jongste smokkelitem – donkievelle – gesê nie.

China sal vir minstens 300 miljoen mense ʼn ander heenkome moet vind

China is die mees oorbevolkte land (1,27 miljard mense) en die een met die ergste lugbesoedeling. ʼn Kenner het in Beijing gesê China sal vir minstens 300 miljoen mense ʼn ander heenkome moet vind. (Nigerië is met 180 miljoen mense Afrika se getalrykste stad.) Een van China se goedkoopste uitvoerprodukte is sy eie burgers na Afrika – arbeiders wat dan ten koste van die plaaslike bevolkings met lae lone besoldig word.

Daar is net geen einde in sig vir die Chinese invloed en teenwoordigheid in Afrika nie. So word damme gebou wat natuurreserwes oorstroom, terwyl woude vir hul hout gestroop word. Hiervan gaan 70% na China. Confusiaanse Institute (staatsondersteunde Chinese “kultuursentrums”) het oral in Afrika verrys, tot in landjies soos Burundi en Rwanda. Hier word plaaslike sakemanne geleer om in Mandaryns en Kantonees handel te dryf.

In Afrika is korrupsie ʼn multimiljoenrandbedryf. Volgens China gaan Afrika oor pragmatisme en nie oor menseregte nie en hulle word verwelkom deur die regeerders wat die vrugte van Chinese betrokkenheid pluk. Afrika se mense is baie minder beïndruk, want China sien hulle as lui en sonder vaardighede en skep hoofsaaklik vir sy eie burgers werk en heenkome. In Angola het die regering ooreengekom dat 70% van die openbare werk aan Chinese firmas moet gaan, hoewel hulle bitter min Angolese in diens neem.

Die verhoudinge tussen China en Afrika word deur albei as ʼn wen-wen-situasie gesien, maar op die keper beskou, het dit ook ander uiters nadelige gevolge vir die vasteland. Meer as 90% van China se invoer uit Afrika bestaan uit primêre kommoditeite soos olie, minerale, edelgesteentes en niemonetêre goud. Op sy beurt voer Afrika goedere in wat lae tegnologie vereis en arbeidsintensief is terwyl hy self ʼn groot werkerskorps het en met armoede en werkloosheid sukkel.

Twee eeue gelede het Napoleon gesê: “China is ʼn slapende reus; laat haar slaap, want as sy wakker word, gaan sy die wêreld roer.” China is nou reeds geruime tyd wakker en kennelik besig om die wêreld te roer, ook in Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Vaalseun ·

Die luukse aftreedorpie wat China vir Afrika presidente gebou het wat aftree of sy volgende termyn presidentsverkiesing verloor het, staan glo leeg. Afrika-presidente wil nie aftree of ‘n verloor verkiesingsuitslag aanvaar nie. Die dorpie se naam is glo Chinkhandla.

Mike Visagie ·

Die ding wat almal miskyk is die volgende:
500 000 Sjinese is reeds woonagtig in SA.
Almal is in die ekonomiese aktiewe ouderdomsgroep.
Wat ook beteken hulle trou en kry kinders in SA.
Maar….GEEN Sjinese kinders gaan in SA skool nie!! Almal vat pad saam met grootouers terug Sjina toe vir skool opleiding.
Die effek daarvan is:
Gedurende die skoolgaande jare word ‘n persoon se identiteit en lojaliteit gevestig. Die Sjinesies gaan natuurlik ten volle Sjinees wees.
Binne die volgende paar jare (So vyf of so) gaan die eerstes begin klaarmaak met skool, en terugkom, want hulle is SA burgers.
Nie net is hulle SA burgers nie, maar is reeds geregtig op VOLLE BBBEE status! Gaan kyk maar, dis so!
Dus, ek en jy wat hier lees, sal agter hulle in elke enkele ry staan wat alles aanbetref in ons eie land.
Maar hulle lojaliteit sal lê by Sjina!
Die nou se dun straaltjie, gaan ‘n stortvloed word!

Vaalseun ·

Mike, ons het Taiwannese bure in Johannesburg gehad wat spesifiek hier kom huiskoop en bly het sodat al hulle kinders ‘n Westerse opvoeding kon kry. Die pa was ‘n finansiële direkteur met ‘n voltydse pos in Taiwan. Twee van my kollegas by die werk is jong Sjinese waarvan een in Johannesburg en een in Bloemfontein skoolgegaan het. Altwee praat vlot Afrikaans. Hulle sien hulleself as Suid-Afrikaners. Maar ek stem saam dat ‘n toestroming van immigrante uit enige land in hulle nuwe land groot probleme kan veroorsaak.

Conrad ·

Mike- dankie vir jou kommentaar! Dis so skokkend! Hul is lojaal aan Sjina- en wat is hul geloof! Wat gaan van SA word! Vir ons is daar nie meer n plekkie in ons eie land nie.

Tertius ·

Diversiteit (kulturele Marxisme) is seker die grootste bedreiging vir ‘n volk se voortbestaan. En dit is iets waarteen dr HF Verwoerd gewaarsku het. Mag God ons Genadig wees en ons Red want ons besef nie aldag die erns van hierdie saak nie.

John ·

Dis jammer dat hierdie oorsig op dowe ore sal val. In plaas van eie kundiges, gebruik die regering Indiers, Kubane, Sjinese ea en dit teen ‘n erge prys. Net uitlanders baat en ‘n paar slu amptenare. Daar word beweer dat ons baie meer mense huisves oa Oosterlinge as wat syfers aandui. Trump wil die VSA-produksie juis verhoog om Sjinese invoere te stuit. Plaaslike besighede speel ook saam. Koop swak produkte aan en verkoop dit ten duurste vir ‘n stywe wins. Moenie vergeet van die oorbevolkte Indie nie wat sy tentpenne hoeka op SA-/Afrika-bodem ingeslaan het nie. Die idee van ‘n enkele idilliese globale dorpie pas parasitiese sisteme soos ‘n ‘made-in-?’-handskoen en landsburgers/grondstof/plante/diere word slawe/eiendom van die kamma-redders.

Johann ·

Selfs grondbone in doppe word van China af ingevoer en in Boksburg verpak.

Salomon ·

Johann ek het juis nou die dag die pakke grondbone(packed in China) gesien in Sparre gesien.

Maria Van Dieweeck ·

Ek glo daar is meer van hulle hier . Daar is n netwerk van Durban hawe af. Die mense arriveer onwettig. Hul slaap snags oor in Sjinese winkels en so word hulle die land vol gesmokkel na klein dorpies

Andre ·

Hierdie is die eintlike “rooi gevaar” waarvoor ons versigtig moet wees .Hulle is besig om stelselmatig en baie subtiel alles in Afrika oor te neem en te beset.Dit is beslis nie blote toevalligheid nie , dit word doelgerig en spesifiek gedoen !

Loeis ·

Moet ook nie die Indiers uit Indie onderskat nie. Die meeste kontrakteurs wat by banke in Suid-Afrika (veral Standard Bank) werk, word deur Tata Consultancy Services hier geplaas. Die argument is dat Suid-Afrika ‘n vaardigheidstekort is, maar deur buitelanders die geleenthede hier te gee, word die plaaslike bevolking daarvan ontneem.

charlene ·

Ek is jammer, maar ek koop meeste van my goed by hulle winkels. Hoekom met ek duur betaal vir `n SA produk…. Wat het die SA vir my gedoen, ek is `n arm-gat wit mens wat my dood werk om te oorleef. Ek sal goedkoop koop en goedkoop betaal. As ek hulle nou ondersteun en my eie “arme agterbakse 2gesig rasistiese land” gaan onder, Oh well…..

Roelfie ·

Dalk wil jy ook my paar Chinese “all leather” skoene van Woolies oorneem? Met die derde dra het die plastiese skilletjie wat na leer lyk, begin afdop.

ig ·

Niemand sal kan funksioneer in Suid Afrika as elke Chinese produk nou soos in vandag ontrek word ,dit sluit in rekenaars,Cctv kameras,drukkers,ligte,bande,lugversorgers ,onderdele,meubels ens ens ens.Ja daar is goedkoop gemors maar daar is ook goeie produkte teen n goeie prys van hulle af.Ek weet van n hele paar Chinese in Afrikaanse skole en kleuterskole wat n bewys is dat hulle weet waar om gehalte onderwys te vind.Miskien sal dit nie n slegte ding wees as hulle n paar groot Industrie oorvat nie want hulle het n werksetiek wat skrik vir niks en hulle vat geen nonsens van unies nie.

Uli Kaempffer ·

Alle is waar hierbo, maar hiermee my opnie:

1. B-BBEE: geen uitlander kom ooit in aanmerking vir die gn. kwalifisering nie. Die enigste Sjinese wat wel in aanmerking kom, is die wat a.g.v.d. diedestydse “apartheid” benadeel was. Vir meer inligting: BEESA Group.
2. Indie is reeds by Sjina verby met getalle
3. Om Sjinese ware te koop, HET VEROORSAAK DAT BAIE WERKERS REEDS HUL WERK VERLOOR HET.
4. Sjina het geen werks wette, itiek ens nie, VSA, Europa ens wel. Hoe nie met kompetisie? Dink bietjie voor koop……
5. Die “inheemse” Sjinese het dieselfde nadelige gevolge.
En, en, en……

Conrad ·

Een ding waarvoor ek nie omgee nie- baie werkers in “my land”het reeds hul werk verloor agv Chinese.Maar, my mense sit baie lankal in wit plakkerskampe sonder werk. Die wat nou hul werk verloor deur Chinese- het ons werk gevat. Ons, wat kundig is.
GOEDSO! vat vir julle!

Stephanus Roux ·

Dit het al te ver gegaan. Ou Siener het gewaarsku destyds al. Passop dat geelvink nes skop . Dit is geignoreer. So kry maar vir julle, bleeksiel Suid Afrika.

Pat ·

Hou onmiddelik op om enige produk wat gemaak word in China te koop. Daar is gerugte dat die Chinese by die China Mall drugs aan die skoolkinders verkoop ook. Dis soos ‘n kanker en niks van hierdie land sal oorbly nie want ons regering is te geld behep. Buitendien, om iets op te pas moet jy omgee wie hom na jou gebruik – hulle voel vere of die nageslag iets het of nie, solank hulle nou kan vat wat hulle wil. Trump het ‘n punt beet en ek bid net dat ons ou volkie staande kan bly in al hierdie aanslae teen ons mooi land. Ons diere word uitgeroei en ons land word opgemors deur mense wat donkies en honde vreet. Hou op om hulle te ondersteun ten alle koste – betaal bietjie meer maar moenie daai “made in China” in jou huis inbring nie. Uit prinsiep!

Yvette ·

Dis duidelik dat heidense volke Suid Afrika, wat eens n Christen land van melk en heuning was, oorvat en ons mense toaal verdring op elke gebied. Hoekom? Ons het ons Gelofte met God vergeet. Hoeveel van ons eer nog die 16 e Desember as n Sabbat? Ons sal eenstemmig moet begin bid en vas en terugkeer na ons Vader! Vir Hom is niks onmoontlik nie- geen mag of getalle nie! MM plaas asb my kommentaar, ons sal dit waardeer. Baie dankie.

gatiep ·

Land is alreeds so uitverkoop vir my part kan die Chinas kan maar die laaste bietjie koop wat oor is. Glo nie hulle sal die land swakker maak as die klomp wat nou in beheer is. Ek het nie n land nie want ek voel onwelkom hier,meskien kan Trump vir ons klomp n stukkie woestyn erns gee waar ons kan gaan bly die US is groot.Ek voel nie meer lus om so onder die klomp rassiste se gesag te bly nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.