Chinese draak slaan sy tande al dieper in

china-draak

Foto: Tookapic/Pixabay.com

Daar is ʼn spreekwoord – na aanleiding van die verhaal van die Trojaanse perd – wat lui dat jy moet oppas vir Grieke wat geskenke bring. Dit sal nie verkeerd wees om die “Grieke” vandag op die vasteland en in Suider-Afrika na “Chinese” te verander nie.

China het nou Engeland, België en Portugal se koloniale rol oorgeneem en is stelselmatig besig om Afrikalande met projekte, geskenke, plundering en groot getalle emigrante uit die Ooste oor te neem. En omdat Afrika is wat hy is – arm en korrup – is daar min verweer teen China se uitbreiding.

Volgens die jongste skattings is daar reeds 40 000 Chinese in Namibië (bevolking 2,3 miljoen) en tussen 400 000 en ʼn halfmiljoen in Suid-Afrika (geskatte bevolking 55 miljoen). Daarmee saam word die kontinent oorstroom met (dikwels baie minderwaardige en goedkoper) Chinese produkte ten koste van lande se eie industrieë. Die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf is op sy knieë en is na raming reeds van 75 000 werksgeleenthede ontneem, en tog voer die ANC en die EFF hul T-hemde en pette van China af in . . .

Handelsooreenkomste is met meer as 40 lande gesluit, waaronder Uganda, Kenia, Algerië en lande in Suider-Afrika. Handel tussen Beijing en Afrika was ʼn dekade gelede £4 miljard sterk en word tans gereken op £70 miljard.

Namibië maak beswaar

In Desember 2016 het Namibië se voorste 40 omgewingsorganisasies in ʼn sterkbewoorde brief die Chinese ambassadeur laat weet dat die land se mense woedend is oor die voortgesette misdade van Chinese burgers teen die natuurlewe en die ekologie. Volgens die brief het sulke optrede reeds tot verliese van R811 miljoen gelei.

Korrupte leiers werk natuurlik saam, soos die voormalige pres. Hifikepunye Lucas Pohamba (2004 tot 2009), wat net deur die grondwet gekeer is om al die land se natuurlike hulpbronne in ruil vir ʼn lening aan China te bied. Daar is – minstens voorlopig – darem ʼn einde gebring aan China se pogings om van Walvisbaai ʼn vlootbasis te maak. En laat dit ter ere van die huidige president, dr. Hage Geingob, gesê word dat hy ʼn groot geskenk van China geweier het omdat hy dit as ʼn groot belediging beskou het. Daar is ook Chinese hawe-ontwikkeling in Luanda aan die gang.

En moenie dink Namibië se verset geskied net langs diplomatieke kanale nie. Gevegte wat aan die Bosoorlog herinner, het al uitgebreek tussen Namibiese eenhede en groepe swaar gewapende stropers. Die eenhede het op ʼn klomp AK47-gewere beslag gelê en daar was ʼn paar ongevalle onder die stropers. “Stropers wat op ons eenhede skiet, sal dit berou,” het een van die eenhede se leiers gesê.

Namibiërs heg groot waarde aan natuurbewaring, soseer dat toeriste aangekla en beboet word as hulle van ʼn grondpad aftrek of enigiets verwyder.

China bou “Afrika se Manhattan”

In Desember het pres. Zuma en sy Chinese eweknie, pres. Xi Jinping, die vordering bespreek wat gemaak is met die vyf tot tien jaar lange strategiese program vir samewerking wat in 2014 ter waarde van R94 miljard gesluit is. Hiervolgens is die groot voorkeure:

♦Die aaneenskakeling van industrieë om Suid-Afrika se industrialiseringsproses te versnel.

♦Samewerking in spesiale ekonomiese sones en samewerking op marinegebied.

♦Die ontwikkeling van infrastruktuur en finansiële samewerking.

China het Suid-Afrika se grootste handelsvennoot geword en tweerigting-handelsverkeer het die afgelope vyf jaar reeds met 32% gespring van R205 miljard tot R270 miljard. Dit sluit goot beleggings in van Chinese maatskappye wat onder meer mynmaatskappye in Suid-Afrika gekoop het. Van die talle ander beleggings sluit in China se aandeel van 20% in Standard Bank en Naspers se groot aandeel in die Chinese internetmaatskappy Tencent.

Tans is die Chinese firma Zendai ook besig met die bou van ʼn reusestad van 1 600 ha by Modderfontein, aangrensend aan Sandton. Volgens beplanning gaan daar uiteindelik voorsiening gemaak word vir 30 000 gesinne en 20 000 werksgeleenthede.

Die hoof operasionele beampte van die ontwikkelingsmaatskappy, Zendai South Africa, Du Wendui, sê dit is ʼn 10 tot 15 jaar lange projek, met die doel om die “Manhattan van Afrika” tot stand te bring. Hy sien dit as die toekomstige hoofstad van Afrika en die projek sluit in ʼn sentrale sakekern, hospitaal en mediese geriewe, ʼn biblioteek, uitgebreide ontspanningsgeriewe, kerke, skole en dies meer.

China het ook reeds talle ander stede in Afrika gebou, soos Nova Cidade de Kilamba (Kilamba se Nuwe Stad) in Luanda. Dit bied huisvesting aan 500 000 mense, maar min Angolese kan die huur bekostig en dit was lank ʼn spookdorp. Volgens die jongste syfers woon daar tans 80 000 mense, van wie die meerderheid Chinese amptenare en ryk sakemanne is. Dar es Salaam en Nairobi beskik oor hul eie Chinese woongebiede.

Daar is nie net reeds groot getalle Chinese in die stedelike komplekse van Suid-Afrika aanwesig nie, maar daar is tans haas ʼn plattelandse dorpie sonder Chinese winkels en handelaars. Dit staan te besien of daar vir Suid-Afrikaners voordele hieruit sal kom.

Terugbetaling in natura

Dit het al moeiliker vir Afrikalande geword om geld te leen, en China het die gaping netjies gevul met lenings wat sy politieke en ekonomiese invloed met rasse skrede laat groei. En omdat Afrika nie in geld kan terugbetaal nie, word dit in natura gedoen met kontrakte vir projekte soos mynontginning en paaie.

So het Grace Mugabe van Zimbabwe onlangs die land se wapenskuld aan China met 36 olifantkalfies, ’n kameelperdkalfie, agt leeus en 12 hiënas vergoed. Hulle is wreed uit hul troppe verwilder en oor die volgende vyf jaar moet China nog 200 olifantkalfies kry ter delging van die skuld van $3,8 miljoen. Dit terwyl Afrika se olifantbevolking in die afgelope ses jaar van 230 000 tot 60 000 gestroop is . . .

Luidens ʼn berig in The Times of London word dieselfde Chinese sakevrou met wild uit Zimbabwe betaal vir die lewering van weermagskoene en -uniforms aan die Kongolese weermag. Born Free berig dat sowat 70% van die ivoor wat China bereik – ʼn gemiddeld van 400 ton per jaar – dit langs korrupte weë doen.

Maar daar is dalk hoop. Nadat daar al jare lank druk oor ivoorhandel op China uitgeoefen is, het die land twee weke gelede aangekondig dat die invoer van ivoor einde 2017 verbied sal word. As eerste stap sal ʼn groep fabrieke wat ivoor wettig verwerk op 31 Maart gesluit word. Niks is oor renosterhoring en die jongste smokkelitem – donkievelle – gesê nie.

China sal vir minstens 300 miljoen mense ʼn ander heenkome moet vind

China is die mees oorbevolkte land (1,27 miljard mense) en die een met die ergste lugbesoedeling. ʼn Kenner het in Beijing gesê China sal vir minstens 300 miljoen mense ʼn ander heenkome moet vind. (Nigerië is met 180 miljoen mense Afrika se getalrykste stad.) Een van China se goedkoopste uitvoerprodukte is sy eie burgers na Afrika – arbeiders wat dan ten koste van die plaaslike bevolkings met lae lone besoldig word.

Daar is net geen einde in sig vir die Chinese invloed en teenwoordigheid in Afrika nie. So word damme gebou wat natuurreserwes oorstroom, terwyl woude vir hul hout gestroop word. Hiervan gaan 70% na China. Confusiaanse Institute (staatsondersteunde Chinese “kultuursentrums”) het oral in Afrika verrys, tot in landjies soos Burundi en Rwanda. Hier word plaaslike sakemanne geleer om in Mandaryns en Kantonees handel te dryf.

In Afrika is korrupsie ʼn multimiljoenrandbedryf. Volgens China gaan Afrika oor pragmatisme en nie oor menseregte nie en hulle word verwelkom deur die regeerders wat die vrugte van Chinese betrokkenheid pluk. Afrika se mense is baie minder beïndruk, want China sien hulle as lui en sonder vaardighede en skep hoofsaaklik vir sy eie burgers werk en heenkome. In Angola het die regering ooreengekom dat 70% van die openbare werk aan Chinese firmas moet gaan, hoewel hulle bitter min Angolese in diens neem.

Die verhoudinge tussen China en Afrika word deur albei as ʼn wen-wen-situasie gesien, maar op die keper beskou, het dit ook ander uiters nadelige gevolge vir die vasteland. Meer as 90% van China se invoer uit Afrika bestaan uit primêre kommoditeite soos olie, minerale, edelgesteentes en niemonetêre goud. Op sy beurt voer Afrika goedere in wat lae tegnologie vereis en arbeidsintensief is terwyl hy self ʼn groot werkerskorps het en met armoede en werkloosheid sukkel.

Twee eeue gelede het Napoleon gesê: “China is ʼn slapende reus; laat haar slaap, want as sy wakker word, gaan sy die wêreld roer.” China is nou reeds geruime tyd wakker en kennelik besig om die wêreld te roer, ook in Suid-Afrika.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vaalseun

Die luukse aftreedorpie wat China vir Afrika presidente gebou het wat aftree of sy volgende termyn presidentsverkiesing verloor het, staan glo leeg. Afrika-presidente wil nie aftree of ‘n verloor verkiesingsuitslag aanvaar nie. Die dorpie se naam is glo Chinkhandla.

Mike Visagie

Die ding wat almal miskyk is die volgende: 500 000 Sjinese is reeds woonagtig in SA. Almal is in die ekonomiese aktiewe ouderdomsgroep. Wat ook beteken hulle trou en kry kinders in SA. Maar….GEEN Sjinese kinders gaan in SA skool nie!! Almal vat pad saam met grootouers terug Sjina toe vir skool opleiding. Die effek daarvan is: Gedurende die skoolgaande jare word ‘n persoon se identiteit en lojaliteit gevestig. Die Sjinesies gaan natuurlik ten volle Sjinees wees. Binne die volgende paar jare (So vyf of so) gaan die eerstes begin klaarmaak met skool, en terugkom, want hulle is SA burgers.… Lees meer »

John

Dis jammer dat hierdie oorsig op dowe ore sal val. In plaas van eie kundiges, gebruik die regering Indiers, Kubane, Sjinese ea en dit teen ‘n erge prys. Net uitlanders baat en ‘n paar slu amptenare. Daar word beweer dat ons baie meer mense huisves oa Oosterlinge as wat syfers aandui. Trump wil die VSA-produksie juis verhoog om Sjinese invoere te stuit. Plaaslike besighede speel ook saam. Koop swak produkte aan en verkoop dit ten duurste vir ‘n stywe wins. Moenie vergeet van die oorbevolkte Indie nie wat sy tentpenne hoeka op SA-/Afrika-bodem ingeslaan het nie. Die idee van ‘n… Lees meer »

Johann

Selfs grondbone in doppe word van China af ingevoer en in Boksburg verpak.

Maria Van Dieweeck

Ek glo daar is meer van hulle hier . Daar is n netwerk van Durban hawe af. Die mense arriveer onwettig. Hul slaap snags oor in Sjinese winkels en so word hulle die land vol gesmokkel na klein dorpies