Christelik-Afrikaanse onderwys kort strategiese verskuiwing

skool-21.jpeg

Argieffoto

Deur Leonard van der Dussen, besturende direkteur van Indicato Inligting

Die aanslag op Afrikaanse onderwys is hewig. Die hofuitspraak van 20 Mei 2016 het die magte van beheerrade erg geknou. Die aanslag op Afrikaanse enkelmediumskole het nou grondwetlike steun waar die reg van die groter meerderheid voor die plaaslike gemeenskap s’n kom; en die beginsels wat neergelê is in die uitspraak gee sterk steun aan die komende saak teen godsdiens in openbare skole.

Daar moet beplan word vir die huidige Christelik-Afrikaanse leerders wat in die komende twee jaar, of dalk selfs gouer, ’n behoefte gaan hê aan skoolgaan buite die openbare skoolstelsel, as daar werklik erns is met Christelik-Afrikaanse onderwys.

Christelik-Afrikaanse onderwys is nie gereed nie. Oënskynlik is daar reeds heelwat ontwikkelinge en instansies wat privaatskoolopsies aanbied in die Christelik-Afrikaanse ruimte buite openbare skole, maar dit is klein, gelokaliseerd en gefragmenteer en kan nie skielik ’n groot toestroming hanteer nie; en genoteerde maatskappye soos Curro en Advtech is op wins, groei en die massa ingestel en nie op behoud van Afrikaans en christelikheid nie.

Die huidige private Christelike-Afrikaanse onderwysaanbieding is klein, met die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) wat ongeveer 3 500 leerders in sowat 36 skole landwyd het, en die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO) met sowat 1 200 leerders in 12 skole. In albei gevalle sluit dit voorskoolse afdelings se getalle in en is die meeste getalle maar in enkele skole gekonsentreer. Daar is ’n paar onafhanklike privaat skole wat verdere kapasiteit verskaf, soos Euphorbia in Naboomspruit, die Sandton Akademie, Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw in Centurion, maar dit bly steeds kapasiteit vir honderde en nie duisende nie, soos wat nodig sou wees as die openbare skoolstelsel vir die Christen-Afrikaanse kind onbruikbaar word.

Die werklikheid is dat die gewig van Christelik-Afrikaanse onderwys tans in openbare skole sit, en daar rus ’n groot verantwoordelikheid op daardie beheerrade en hulle ouerkorps om hulpbronne en ondersteuning betyds en doelgerig in die regte rigting weg van die staat te stuur in belang van Christelik-Afrikaanse onderwys.

Melanie Buys het in haar artikel, “Die pad na finansiële selfstandigheid vir skole”, op Maroela Media daarop gewys dat daar omsigtiger gewerk moet word met gemeenskapsgeld wat in opbou van staatskole ingaan, terwyl dit bedoel is vir Afrikaanse onderwys. Die denkraamwerk om geld – kapitaal – te begin wegskuif en nie verder aan die regeringsmag te oorhandig nie, is ’n eerste stap om ruimte te skep vir onafhanklike Christelik-Afrikaanse onderwys.

Buys se voorstel om privaat geld wat na staatskole gaan in trusts te setel, het meriete, maar ook perke omdat eiendomsbesit uiteindelik aan die grond waarop dit staan, verbind is en die regering dit duidelik maak dat ook die nietasbare eiendom soos die christelike en Afrikaanse inslag, aan die menseregte van die breë bevolking ondergeskik gestel word.

Dis belangrik om ’n begin te maak om denke oor besteding van die staatskole af weg te beweeg – ’n gewoonte en verslawing wat die Afrikanergemeenskap sukkel om af te skud ná baie dekades waar staat, kerk en samelewing dermate ’n eenheid was dat dit nie nodig was om onderskeid te tref oor wie wat waar bestee, bydra en bou nie. Afrikaanse onderwys, staatsbelang en selfs kerk en gesin is lankal nie meer ’n eenheid nie en daar is inteendeel toenemende konflik tussen hierdie samelewingsverbande, maar ou gewoontes word nie maklik afgeleer nie.

Die vloei en plasing van kapitaal is deurslaggewend: dit moet begin skuif van ondersteuning van openbare skole na privaat skole; die enigste ander opsie is ’n regeringsverandering, iets wat nie maklik gaan gebeur nie en nie noodwendig die staat se houding teenoor Christelik-Afrikaanse onderwys gaan verander nie.

Die tweede groot denkverskuiwing wat nodig is, is om leerders te begin verplaas om ’n ordelike oorgang en groeiproses te bewerkstellig: die bedryfskoste van privaat skole is ’n eenvoudige som waar heelwat koste konstant is, terwyl die aantal leerders wat daartoe bydra die gemiddelde koste bepaal. Dit gaan egter oor baie meer as net finansies: ’n skool is nie die geboue nie, maar akademiese wisselwerking, sportspanne wat funksioneer en lekker kultuuraktiwiteite met kore en konserte.

Die gemeenskap – en elke ouer – moet ernstig nadink hoe lank daar gewag kan word binne die openbare skool voordat die skuif gemaak gaan word; en nie kortsigtige besluite neem nie. Die privaatskoolwese moet groei en kan dit nie sonder getalle doen nie. Daar is ook bestuurskundigheid en finansiële vermoë wat in die onafhanklike milieu (waar eie besluite geneem en deurgevoer kan word) aangewend kan word. Die denke moet verander van “julle moet” na “ons gaan” dit doen. As die privaat skool dan nog nie al die vleispotte van Egipte aanbied waarvan ons sukkel om van weg te stap nie, gaan dan soontoe en gaan help dit opbou.

Die privaat skole moet self natuurlik hulle verantwoordelikheid nakom en sorg dat die nodige produklewering en standaarde daar is, asook die volledigheid van moderne skoolaanbieding, wat akademiese gehalte, sport- en kultuuraanbieding insluit. Dit is ’n wisselwerking, en ook ’n gesonde kompeterende werking waar die beste privaat skole gouer ondersteun sal word en vinniger groei en die nodige uitsifting van swakker skole plaasvind om ’n milieu van gehalte in die Christelik-Afrikaanse skoolomgewing daar te stel.

Hierdie verskuiwing na privaat skole bied ’n gulde – en noodsaaklike – geleentheid vir vernuwing en modernisering van onderwys, wat ’n onderwerp op sy eie is, en wat Afrikaanse onderwys weer voluit betroubaar en gereken sal maak. Die privaat skool moet daaraan werk, en die ouer wat vooruit kan sien, moet sy kind en homself daar gaan betrokke maak om dit te help opbou voordat die huidige staatsbestel skielik nie meer Christelik-Afrikaanse onderwys toelaat nie, maar daar dan geen alternatief is nie.

Die derde verskuiwing in denke wat benodig word, is om die silo’s van eiebelang te oorkom en die onderwerp “Christelik-Afrikaanse onderwys” te maak, en nie te begin by verskillende beklemtonings en vashaak by selftrots nie, en veral om die huidige openbare Afrikaans-enkelmediumskole en die privaat skole wat almal Christelik-Afrikaanse onderwys aanbied, as een omgewing onder een opskrif te sien waarbinne kapitaal, personeel, leerders en al die geriewe en hulpbronne in een omvattende strategie georganiseer en daar saamgewerk word.

Openbare skole moet ophou om kleiner privaat skole bloot as ’n handige plek om sukkelende leerders heen te verwys, te sien, en privaat skole moet bereid wees om erkenning te gee aan daardie staatskole wat binne hulle staatsopgelegde beperkinge nog goeie onderwys lewer. Dit gaan nie maklik verander nie. Benewens die gevestigde belange en gewoonte om die staatskool te ondersteun, is dit menslik dat die staatskool nie sy presteerders aan die privaat skool wil afstaan nie. Die vraag is of daar insig gaan kom oor hoe dringend die situasie is, en hoe nodig dit is om onderling te skakel, te deel en ’n berekende oorgang van openbare skool na privaat skool aan die gang te sit, as Christelik-Afrikaanse onderwys dan werklik die doelwit is.

Die Afrikanergemeenskap se optrede gaan in hierdie druksituasie nou wys of Christelik-Afrikaanse onderwys werklik ons erns is en of die vermoë om op groot skaal en strategies te dink en op te tree, daar is. Die Christelik-Afrikaanse gemeenskap staan voor ’n groot toets.

  • Leonard van der Dussen is betrokke in onderwys as aandeelhouer in Raslouw Onderwys, en hy beywer hom vir akademies verantwoordbare vrye onderwys. Hy publiseer artikels oor onderwys op sy blog www.saonderwys.wordpress.com.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC

Dit IS ONS ERNS EN ERFENIS! ONS MOET BOU!

Danie

Moenie verder aan ‘n illusie lei nie. Gogga maak vir baba bang werk nie meer nie. Ons het alles klaar verloor as ons niks doen nie. Bly lê is nie ‘n antwoord nie. Hoekom nie iets doen wat moontlik kan slaag nie. Om alles te verloor nadat jy iets gedoen het met die wete dat jy ‘n kans gevat het is beter as om te weet jy het alles klaar verloor en nis gedoen nie. Dit gaan nie ‘n groter uitgawe teweeg bring om te probeer nie. Die fondse word net anders gebruik. Waar begin ons? Hoeveel dorpe is daar?… Lees meer »

Johan 2

Dit lyk v my mense het bietjie volstruis mentaliteit. Storm in n naby paniek vir inskrywings by staatskole terwyl hul die onafhanklike skole slegpraat. My kinders is ingeskryf en veilig in n privaat Christen Afrikaanse skool, maar die skole kort ondersteuning en het definitief nie die negatiewe kommentaar nodig wat baie so graag uiteel nie.

Marius

Ek sidder as ek dink aan baie van my eie skoolonderwysers en dat hulle ‘n voorbeeld vir my kinders moet wees. Ek dink dit is nou nog erger. Ek dink ons is onder ‘n groot illusie as ons dink dat skole (en dit sluit CVO-skole in) ons kinders rigting in hulle geloof moet gee. Die Christelike geloof is in meeste skole niks minder as ‘n morele kruk nie. Dit wat ek in my ouerhuis geleer het het my na God gelei. Ek sê dit alles alhoewel ek ‘n voorstander is van Christelike onderwys (self ‘n onderwyser). Soos wat kerke leegloop… Lees meer »

Marius

Ek dink ons moet ons staatskole nog steeds ondersteun. Van die land se beste onderwysers is daar, en ek dink dis ‘n bietjie van ‘n oorreaksie om oorboord te wil spring. Wees ook versigtig om Afrikaans en Christelike onderrig saam te gooi. Daar is puik Engelse skole met die meerderheid swart leerders wat enige dag net so Christelik is as Afrikaanse skole. Die leerders(byna meestal swart) woon ook die CSV by. Die beheerliggaam bepaal die geloofsbeleid, en net omdat ‘n skool Engels of parralel medium word beteken dit nie hy verloor sy Christelike karakter nie. Dis bietjie vaag in die… Lees meer »