Christelike beskaafdheid het met hart én kop te doen

Christenskap, ware Christenskap, beteken eerstens (vir my ten minste) ʼn veranderde hart. In gewone taal (wat ook heel Bybels is) sê ons sommer dat so ʼn persoon sy/haar hart aan die Here gegee het.

Natuurlik impliseer Christenwees veel, veel meer as om net te sê dat jy jou hart aan die Here gegee het. Die laaste tyd kom ek al hoe meer onder die oortuiging dat dit nie genoeg is om net jou “hart” aan die Here te gee nie, maar ook jou kop. Rom. 12:2 beskryf dit so: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

"As die Christendom in Afrika met ʼn rivier vergelyk kan word, is hy baie wyd, maar ook baie vlak - iemand het gesê: ʼn myl wyd, maar net ʼn duim diep." (Panorama van die Oranje. Foto: dewet, Wikipedia)

Terwyl hartsverandering ons in die hemel sal kry, bepaal die verandering van ons denke onder meer ons selfbeeld, ons wêreldbeeld, hoe ons hier op aarde gaan lewe, hoe ons nie net teenoor God nie, maar ook teenoor mekaar gaan optree.

As God ons denke wil vernuwe en verander, wil Hy dit verander sodat ons meer soos Hy sal dink – oor onsself, oor ander en oor Sy skepping. Ons is immers Sy skepsele, geskape na Sy beeld en gelykenis. Natuurlik vind ons die betroubaarste uitdrukking van God se denke in die Bybel. Die waardes en beginsels waarna ons moet streef, is daar te vind – met die basiese beginsels van moraliteit en beskaafdheid onder andere in die Tien Gebooie. Die wese van beskaafdheid lê vir my hierin vervat.

Daarmee wil ek allermins te kenne gee dat net Christene of Christenvolke waarlik beskaafd kan wees. Ten opsigte van beskaafdheid staan byvoorbeeld Japan, met kwalik 3% Christene, waarskynlik niks terug vir enige Westerse (tradisioneel-Christelike) volk nie. Hierdie feit is vir my veral gedemonstreer deur die manier hoe hulle aan die begin van die jaar op die katastrofe van die aardbewing en tsoenami gereageer het.

Aan die anderkant is daar Afrika. Veral suid van die Sahara is die afgelope jare een van die grootste Christelike herlewings aan die gang met gemiddeld tussen 23 en 25 duisend mense wat daagliks tot bekering kom. Tog kwalifiseer Afrika in vele opsigte steeds om “Donker Afrika” genoem te word. Mnr. Mbeki se droom van ʼn “African Renaissance” dryf al verder in die niet in.

Afrika, wat ten opsigte van grondstowwe die rykste kontinent met die grootste potensiaal op aarde is, se ellendes en armoede word by die dag groter. Die verleentheid en tragedie is dat die meeste van Afrika se ellende mensgemaak is.

Hoe rym dit? Terwyl Afrika amper kwalifiseer om die mees Christelike kontinent genoem te word, is dit tegelyk die kontinent wat t.o.v. die meeste euwels en ellendes die onderste deel van internasionaal-vergelykende lyste vul.

Sommige kritici sal vinnig wees om te sê dat dit die Christendom en die Bybel se skuld is. Dis natuurlik ‘n onnadenkende en baie oppervlakkige stelling. Feit is dat die meeste lande wat vandag as beskaafde en welvarende lande bekendstaan, eers na hulle kerstening en die inkorporering van ‘n Bybelse waardestelsel en -moraliteit beskaafd en voorspoedig geword het. (Die wrange vrugte van ‘n sekulêr-humanistiese tydsgees en die verlies van Bybelse waardes en moraliteit deur ‘n post-Christelike geslag is egter vinnig besig om kop uit te steek in Wes Europa en die VSA – dink maar net aan die misdadige plundering en chaos wat die afgelope tyd in Engeland voorgekom het.

Terwyl daar verskillende teorieë vir Afrika se gesukkel is – histories, kultureel, polities, sistemies, godsdienstig – is ek van mening dat een van die belangrikste redes daarvoor is dat daar merendeels op mense se harte gefokus is toe die Evangelie aan hulle gebring is en nie ook op hulle koppe, op hulle denke nie. As die Christendom in Afrika met ʼn rivier vergelyk kan word, is hy baie wyd, maar ook baie vlak – iemand het gesê: ʼn myl wyd, maar net ʼn duim diep.

Die waardes, norme en koninkryksbeginsels soos in God se Groot Spreke vervat, moet deel van Afrika se denke en praktyk word. Afrika moet nie net sy hart nie, maar ook sy kop vir die Here gee. Die Groot Opdrag van Jesus in Mat. 28:19 was immers nie net om die wêreld in te gaan en te evangeliseer nie, maar om dissipels te maak.

Die persoon wat aan die begrip “beskaafdheid” sy diepste en ware betekenis gee, is Jesus Christus – al het Hy twee duisend jaar gelede in ʼn primitiewe gemeenskap gewoon en gewerk. Sy volgelinge behoort vandag ook so ʼn voorbeeld van beskaafdheid te stel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Isak Burger

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Geagte dr Burger,

Dankie vir ‘n baie insiggewende artikel.

Beskaafdheid is ‘n gedagtestoestand.  Die mens gedagtestoestand word deur verskeie faktore beïnvloed waarvan die belangrikste geloof, kultuur en omgewing is.

Omdat geloof nie die enigste invloed is nie, kan mense wel deur ander roetes by ‘n toestand van beskawing uitkom, maar die bydrae wat die Christelike geloof tot beskawingvorming gelewer het spreek, uit die toestand van die wêreld, vanself.

Dit is ‘n gawe van God waarvoor ons innig dankbaar kan wees.

Kan mens waarlik Christen wees sonder om ook jou gedagtes aan Hom en die soeke na Sy wil te wy? Stellig nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.