Christenvervolging bly probleem

Oorgawe-aan-Jesus

Argieffoto.

Volgens die 2018-ranglys van gevaarlikste lande om ’n mens se Christenskap te beoefen, wat pas deur die organisasie Geopende Deure uitgereik is, beklee Noord-Korea ná 16 jaar steeds die eerste plek. In dié land kan geloof in Christus ’n strafkamp of selfs teregstelling beteken. In skrille kontras hiermee is sowat 14 miljoen Suid-Koreane nou Christene.

Hierna volg nege Moslemlande as lande waar dit vir Christene baie gevaarlik is. Die 11de land op die lys is Indië, waar die Christenbevolking sowat 28 miljoen, of te wel 2,3% van die bevolking verteenwoordig. Volgens oorlewering het die apostel Thomas die Christengemeenskap gevestig, maar is deur die Hindoes gekruisig. Die afgelope aantal jare het veral jong Hindoes glo die vervolging van Christene verskerp weens die vinnige uitbreiding van die Christenbevolking.

’n Interessante inskrywing op die lys is Ethiopië in die 29ste plek. Dié land het ’n meerderheid Christene. Die vervolging geskied veral in die vorm van sekulêre gebruike wat deur die regering afgedwing word, soos in skole. Ook Moslems en lede van die Ortodokse Ethiopiese Kerk is by onderdrukking betrokke.

Die posisie van Christene in die Midde-Ooste bly ’n uitdaging, al is gebiede wat deur Isis beset was, herower. Die posisie van Christene het egter minstens tydelik in lande soos Irak en Sirië verbeter sedert Isis verdryf is. Soms word die maatstaf van minder kerke wat verbrand is gebruik, omdat die meeste kerke reeds afgebrand is. In Egipte loop Christene en hul kerke steeds deur onder radikale Moslems.

In dele van Asië versleg die posisie van Christene egter, aldus Geopende Deure.

Suid-Afrika kom nie op die lys voor nie, hoewel Christene ook sekere aanslae die hoof moes bied, soos die aanbied van godsdiens op skool. Aan die ander kant is ’n miljoen Christene by ’n saamtrek van Christene by Bloemfontein verwag, wat deur Angus Buchan gelei is. Die miljoen het nie heeltemal gematerialiseer nie, maar nogtans het ongelooflik baie opgedaag.

Die ander kant van die munt is dat bordele in die land floreer, dwelmbendes is besonder hardnekkig om onder die knie te kry, en die Zuma-administrasie word openlik van endemiese korrupsie en staatskaping beskuldig. Die land roep om verootmoediging en bekering. Die land se moord- en verkragtingskoers, die voorkoms en wreedheid van plaasaanvalle en vele meer reflekteer nie die aansprake van ’n Christengemeenskap wat sy kant bring nie.

Teen die agtergrond van die vervolging en gevare wat Christene elders ter wêreld te beurt val, is dit duidelik dat Christene in Suid-Afrika hul godsdiensvryheid moet waardeer. Maar dan moet hulle ook leef soos dit Christene betaam.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Heel tereg soos jy se Herman is ons besonders gelukkig om as Christene vry te staan van vervolging en juis daarom moet ons dankbaarheid wys deur te leef soos dit Christen Afrikaners betaam. Soos wat ons kan onderskei tussen goed en kwaad kan ons ook onderskei tussen goeie en bose mense en is dit ons plig om nie net na mekaar nie, maar ook na andere uit te reik wat goedheid nastreef en geregtigheid bring teen diegene wat boosheid nastreef. In Suid-Afrika kan Christen Afrikaners vrede en harmonie bewerkstellig tot voorspoed van alle Suid-Afrikaners deur op te tree teenoor mede Afrikaners en Suid-Afrikaners met verdraagsaamheid, onbevooroordeeldheid, geduld, vriendelikheid, onbaatsugtigheid, die waarheid en geregtigheid. Christen, asook Afrikaner belange kan net deur bogenoemde denkwyse en ingesteldheid bevorder en beskerm word. Daar bestaan geen ander formule of resep vir voorspoed nie.

Pieter ·

Dankie vir ‘n goeie artikel oor die aktuele onderwerp. Meeste mediahuise swyg oor die onderwerp, wat waarskylik ‘n barometer van die stand van openbare gesprek oor die saak is. Ons moet inderdaad die moed hê om daaroor te praat. ‘n Saak word nuuswaardig omdat die media daaroor rapporteur, nie andersom nie

Eish ·

Stof tot dankbaarheid om openlik te kan bely dat jy kind van die Allerhoogste is.
Wat te midde van intense vervolging, die ander wang kan draai, wat twee myl saamstap wanneer een myl afgedwing word, wat ook die onderkleed afstaan wanneer die bo-kleed geëis word.

Sebastiaan ·

Dankie vir die kommentaar/artikel. Die onderwerp kry heeltemal te min dekking. Terwyl die wêreld weer te kere gaan oor ‘n nbenulligheid soos ‘n advertensie vir ‘n kledingstuk, is daar egte probleme om oor besorg en aktivisties te wees, naamlik die vervolging van ons mede-Christene op baie plekke in die wêreld.

Jerry ·

Elkeen van ons maak maar ons keuses. Ek volg eerder Jesus se wee en word vervolg as wat ek mense se wee volg en vervolg word. Ek sterf eerder vir goedheid as vir boosheid. Jou kanse om teespoed te kry deur kwaad met kwaad te vergeld of om aan te hou om kwaad te doen deur met grootpraat en verwaandheid mense op te sweep vir n bepaalde menslike ideologie is 100%. Deur goedheid na te streef gun n ou jouself darem n kans op voorspoed. Jy moet voluit lewe met die keuse wat jy maak, want daar gaan nie omdraaikans wees nie. Die psige van die magshebbers is boos en hulle boosheid gaan hulle en die wat in hulle pad staan verswelg en daarom moet die Afrikaner Christen vir homself en sy nageslagte alternatiewe daar stel wat dit verhoed bv. Volkstaat en die buiteland. Die buiteland opsie is reeds daar. Die Volkstaat opsie nog nie en dit gaan al hoe moeiliker word om dit te verwesenlik. Niemand weet wat die dag van more inhou nie, maar ons weet wat die Woord ons teen waarsku.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.