Churchill se lesse vir vandag

‘Werk met werklikhede’ – Churchill se les vir vandag

Foto verskaf aan Maroela Media

“If I were a Boer, I hope I should be fighting in the field”. Hierdie woorde was die eerste sin van die eerste toespraak wat die beroemde Winston Churchill in die Britse parlement gemaak het. Churchill is in 1900 op 26-jarige ouderdom verkies as parlementslid en het met hierdie sin sy nooienstoespraak in 1901 in die laerhuis begin.

Kort tevore het hy teruggekeer uit Suid-Afrika, ná sy ontsnapping nadat hy deur die Boere as krygsgevangene aangehou is. Sy toespraak het ʼn opskudding veroorsaak omdat die voortslepende Anglo-Boereoorlog die Britse bevolking diep verdeel het.

Churchill was ʼn onbeskaamde Britse imperialis wat Britse belange altyd eerste gestel het. Maar hy het besef dat ʼn donker skadu die glans van die Britse ryk verdof. Miskien daarom het hy ʼn besondere bewondering vir die Boere gehad. In sy saamgestelde boek oor die oorlog, The Boer War, beskryf hy sy belewing van die gewapende burgers  ná sy inhegtenisname in digterlike taal:

“What men they were, these Boers! I thought of them as I had seen them in the morning riding forward through the rain – thousands of independent riflemen, thinking for themselves, possessed of beautiful weapons, led with skill, living as they rode without commissariat or transport or ammunition column, moving like the wind, and supported by iron constitutions and a stern, hard Old Testament God who should surely smite the Amalekites hip and thigh.

“And then, above the rain storm that beat loudly on the corrugated iron, I heard the sound of a chaunt. The Boers were singing their evening psalm, and the menacing notes – more full of indignant war than love and mercy – struck a chill into my heart, so that I thought after all that the war was unjust, that the Boers were better men than we, that Heaven was against us, that Ladysmith, Mafeking and Kimberley would fall, that the Estcourt garrison would perish, that foreign Powers would intervene, that we should lose South Africa, and that that would be the beginning of the end.

“So for the time I despaired of the Empire, nor was it till the morning sun – all the brighter after the rain storms, all the warmer after the chills – struck in through the windows that things reassumed their true colours and proportions.”

Menslikheid

Dié aanhaling is van die eerste aanduidings van die ontluikende letterkundige talent wat uiteindelik in 1953 vir Churchill die Nobelprys vir letterkunde sou besorg. Dat hierdie beskrywing van die Boere diep uit sy hart gekom het, blyk uit verskeie opmerkings van Churchill oor die menslike behandeling wat hy as krygsgevangene van die Boere ontvang het.

Maar Churchill se deernis met die Boere het egter nie net by mooi woorde gebly nie. Miskien het hy besef dat die Boere die eerste vryheidsvegters van Afrika was. Ná sy aanstelling as onderminister van kolonies, het hy hom beywer vir selfregering vir die eertydse republieke, wat in 1907 toegestaan is. Moontlik het die versiende Churchill toe reeds die oorlogswolke in Europa sien saampak, en wou hy eerder in Britse belang die Boere aan sy kant probeer kry om die Britte hande los te maak as ʼn oorlog in Europa sou uitbreek.

Die verlening van selfregering het ʼn woedende reaksie onder die opposisie veroorsaak, wat aangevoer het dat Churchill nou sag teenoor die Britse vyande geword het. ʼn Groot deel van die Britse publiek was immers steeds sterk teen die Boere gekant, veral as gevolg van die opsweping deur die imperiale media en die nagevolge van die oorlog. Die Britte het uiteindelik agtergekom dat ʼn oorlog nie oorwinnaars het nie, en dat selfs die wenners ook maar verloorders was. Die Anglo-Boereoorlog was ʼn belangrike keerpunt in die Britse koloniale geskiedenis, en hulle het so ʼn duur les geleer dat hulle nooit weer in ʼn groot koloniale oorlog betrokke geraak het nie.

Waarskuwings

Churchill was gewoonlik stroomop en uit pas met die openbare mening. Dit het hom gereeld duur te staan gekom en hy is ʼn paar keer uitgeskop en moes op die kantlyn magteloos toekyk hoe sy waarskuwings bewaarheid word. Niemand wou na hom luister om oorloë te keer nie, sodat hý dit eindelik moes veg. Voor die Eerste Wêreldoorlog is hy van aanhitsing tot konflik beskuldig omdat hy teen ʼn komende oorlog met Duitsland gewaarsku het. Ná die oorlog was hy heftig teen die drakoniese vredesvoorwaardes gekant, omdat hy geweet het dit gaan die Duitsers tot ʼn volgende oorlog dryf. Toe is hy weer beskuldig dat hy sag en slap en pro-Duits is.

Paai lei tot oorlog

Ná Hitler se bewindsoorname het Churchill Britse herbewapening bepleit om die magsewewig te herstel en om ʼn oorlog te verhoed. Maar hieroor is hy weer uitgeskop omdat ʼn oorlogsmoeë publiek gedink het hy is ʼn ekstremis wat die land sowaar wéér in ʼn oorlog wil dompel.

Churchill was ʼn realis en nie ʼn dromer nie, en wou ʼn oorlog juis ten alle koste vermy! Maar Chamberlain se paaibeleid teenoor Hitler het baie meer redelik en gematig geklink. Churchill het vir hom gesê: “Jy wou ʼn oorlog met jou paaibeleid vermy. Nou gaan jy nog ʼn groter oorlog kry!” Profetiese woorde, wat die grootste bloedbad in die wêreldgeskiedenis ingelei het.

Enkele maande nadat die Nazi’s verslaan is het Churchill weer eens die verkiesing verloor. Sy waarskuwing dat die Sowjet-magte Oos-Europa oorgeneem het onder die dekmantel van die uitdrywing van die Duitsers, het soos verkiesingspraatjies geklink. Ná die verwoestende oorlog kon niemand die Britse kiesers seker kwalik neem dat hulle woedend was oor Churchill se uitspraak dat die verkeerde vark dalk eerste geslag is nie (Hitler voor Stalin).

Lees en glo

Die vraag is hoe Churchill dit kon regkry om deur die waas van die toekoms te sien? Paul Johnson gee die antwoord: Churchill het sy opponente se grondslagdokumente gelees, na hul toesprake geluister, en dit geglo. Hy en Hitler was seker die enigste wêreldleiers wat Mein Kampf gelees en geglo het! Churchill natuurlik nie in die ideologie nie, maar dat Hitler bedoel het wat hy sê. Hitler se aggressiewe nasionalistiese sosialisme spring duidelik uit bykans elke bladsy van sy boek. Dit was ʼn handboek vir oorlog, nie ʼn handleiding vir die herlewing van Duitsland nie.

Chamberlain was ʼn goeie mens, ʼn idealis wat graag die beste in ander wou raaksien en wou glo. Churchill daarenteen het berekend met werklikhede gewerk. Hy het na die feite gekyk soos hulle is en nie soos hy wens dit moes wees nie. Hy was sy tyd vooruit omdat hy sy opponente geglo en sy beleid op die werklikheid gegrond het.

Onpaaibaar

Jare ná die oorlog het iemand vir Churchill gevra waarom Chamberlain se paaibeleid verkeerd was. Hy móés Hitler mos versigtig hanteer en toegewings maak om ʼn bloedbad te probeer verhoed. Churchill se antwoord is vandag nog van toepassing: “Chamberlain se fout was nie dat hy Hitler probeer paai het nie, maar dat hy nie besef het dat Hitler fundamenteel onpaaibaar was nie”. Daarmee het hy bedoel dat Hitler nie net redelike toegewings wou hê nie; hy wou die wêreld oorheers.

Dit herinner aan Paul Krüger se uitroep oor lord Milner se aanhoudende eise: “Julle wil nie stemreg hê nie, julle wil my land hê!” Onderhandeling was vir Milner en Hitler ʼn metode om hul doel te bereik, en nie om botsende standpunte te versoen met wedersydse gee en neem nie. Churchill en Krüger het hulle nie laat flous deur hulle opponente se korttermyn-eise nie, hulle het hul langtermyn-strategie raakgesien en daarvoor reggemaak.

Lesse te leer vir vandag

Die vraag is of partye soos die ANC en EFF “paaibaar” is. Wil hulle byvoorbeeld maar net “gelykheid” in die werkplek en “toegang” by skole en universiteite hê? Of bedek hierdie mooi woorde ʼn magspolitieke ystervuis van nasionalistiese rasseoorheersing onder die dekmantel van “verteenwoordigendheid”?

Vir Afrikaners is die oplossing nie konflik nie, maar ook nie om die soetsappige beloftes en versekerings oor byvoorbeeld hoe veilig Afrikaans of Afrikaners se toekoms is te glo nie. Die derde weg is om eerder met sterk selfhelpinstellings met die owerheid te beding en ʼn toekoms te bou waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan. Daarom is dit noodsaaklik om die “Chamberlain-agtige” politieke beswyming van “die Grondwet sal ons beskerm” af te skud, en om eerder met Churchill se “werk met werklikhede”-benadering na die toekoms te kyk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

JC ·

Afrikaners is slim en wys, sommer baie, baie slim.
Uitstekend! Ons besit besondere Afrikaner leiers, soos blyk uit hierdie artikel.
As hierna gekyk word, is ons toekoms veilig!! Hoe bly is ek nie vir leiers soos Flip wat huidige probleme en bekommernisse kan aanpak en besweer met uitstekende oplossings, positiwiteit, logika en rasionaliteit, sonder om toe te laat dat die negatiewe enigsins oorheers. Die beskrywing wat Churchill die Boere gegee het maak mens besonder trots. Kyk ook gerus na wat Sir Arthur Conan Doyle gese het oor Boere asb!
Halleluja! Bravo Flip Buys, jy maak my trots en is ‘n ware leier van Suid-Afrikaners en Afrikaners!!

Theresa Papenfus ·

Baie insiggewend. En goed geskryf boonop. Baie dankie.

Herman ·

Baie waar en baie reg. En so kan ons n streep deur die laaste 20 jaar trek.
Die ANC wou nie een man een stem he nie, hulle wou SA he en alles wat oor die laadte eeu opgebou is he.
Hulle wou nooit n reenboog nasie he nie, hulle wou al die grond terug he. Die witman het dit mos gesteel.
En die lys gaan aan.
Ek voel so jammer vir die liberale met hulle arogante kortsigtigheid. Hulle bewens mos n teokoms, waar die enigste manier om die toekoms te voorspel is maar om na die verlede te kyk.
Eks net bly ons het uiteindelik leiers vir die meer realistiese en eerlike afrikaners.

Theuns ·

Uitstekende Kommentaar . Dankie Flip. Dit is jammer dat die Engelse nooit om verskoning gevra het vir hulle wandade in Suid-Afrika nie!

koot ·

Met ander woorde: ons apartheid maar net ‘n ander baadjie aantrek met die samewerking van die regering sodat ons ‘vry’ en ‘sonder vrees laer kan opslaan’. As ons nie ‘n kans wil waag en begin glo in die versekerings wat vir ons gegee word sal ons net bly waar ons is – staties en wroegend oor Afrikaans en Afrikaners se voortbestaan. Genade, ek sal enigiets doen om rustig te leef in hierdie suiderland van ons – ek sal selfs my kinders leer engels praat sodat hulle ‘n bydra kan lewer tot die groter geheel. Ek sal beslis nie my lewe aflê vir Afrikaans en Afrikanerskap nie. Om die waarheid te sê is daar min mensgemaakte dinge waarvoor ek bereid is om te sterf. Churchill word nes Oom Paul opgehemel en uit verband geruk. Kyk maar na die foute wat hulle ook gemaak het. Beter nog, kyk vorentoe en hou op om geleerde menings uit die verlede te krap soos ou stinkende koeie.

salie ·

Ek sal oorweeg om ‘n duur prys te betaal vir ‘n goeie hamburger en vir ‘n mooi stuk musiek sal ek dalk nog van my trane stort. Ek sal ook van my energie gee vir diesulkes sonder ‘n stem, maar ek stem saam met jou Koot, as dit by die behoudenis van my lewetjie kom sal ek baie dinge as nietig beskou.

Rudi ·

Koot: nou watse snaakse valse dichotomie stel jy nou daar op? Jy sal jou kinders leer Engels praat en daarom is Afrikaans irrelevant? Jy’t al gehoor mense kan tweetalig wees, ne?

Ai wena, skrik wakker. Maak nie saak of jy Afrikaans of Engels is nie, wit is jy wit. Retireer maar as jy wil, hou jou lyf maar gerus Chambarlain, dit sal jou nie red nie. Vroeër of later sal die ANC/EFF se rassepopuliste op jou tone kom trap. Ondersteun eerder nou reeds instansies wat jou regte sal beskerm.

Dr. Amari - Igoli River Castle Guesthouse. ·

Dit is waar die ANC wou nie een stem he nie, hulle wou SA en alles wat oor die laaste eeu opgebou is besit. Maar wie het hulle so onderrig? My mening mag verkeerd wees maar ek dink die ANC kry sy opdragte van elders. Die ANC is verward en deurmekaar – nr. 1 is so deurmekaar dat hy histeries lag en giggel – dit lyk of hy nou nie presies weet wat “hulle” gese het hy volgende moet doen nie. Ek kry die mense jammer – ek dink hulle besef hulle het die land verkoop en nou gryp hulle na elke denkbeeldige plan en sent en hoop iemand sal help. Baie dankie aan Solidariteit met ‘n besondere man soos Flip Buys. As ek en baie ander Afrikaners klaar handdoek ingegooi het, dan kom Flip met sy positiewe optrede ens. Hy gaan voort al luister ons nie altyd nie en is ons Afrikaners ook maar moeilik. Dankie Flip.

JC ·

Jou kommentaar en verwysing na uitsprake wat Churchill gemaak het dui presies op watter waagmoedige en onkonvensionele persoon hy was! Teen 1936 het alle tekens reeds daarop gedui dat Hitler deur ‘n totalitere regime die hele Europa wou omverwerp ter wille van “lebensraum”-lewensruimte- en kon Churchill dit insien. Dus wou hy moontlik die kwessie vooruitloop en in die kiem smoor, en was die uiting geopper nadat Hilter lank reeds gewys het waartoe hy in staat was deur onder meer die sg. Biersaal “Putsch” gedurende 8 tot 9 November 1923, en interessant genoeg ook vanaf 9 tot 10 November 1938 gedurende die berugte “Kristallnacht”. Touche

Koos Rustenburgs ·

Flip Buys is n Afrikanér met visie en leierskap wat ons nou nodig het.

Pieter van der Dussen Senior ·

Ek was nooit en is steeds geen bewonderaar van Chruchill nie. Behalwe miskien in die een opsig dat hy die Empire vernietig het met sy eie strewe na grootheid. Nogtans is Buys se artikel insiggewend van die sentiment wat destyds in Brittanje ontstaan het, veral onder die Skotte en Iere. ‘n Voorbeeld is Ramsay Macdonald se “What I Saw in South Africa” (Oktober 1902). Ook uitlatings deur joernaliste soos Edgar Wallace en ander. Maar dat Churchill – en hierin verskil ek van Buys – vrede nagstreef het, is vergesog. Inteendeel het sy optrede by Versailles in 1919 duidelik sy haat teen Duitsland en enige ander moontlike teenstander laat blyk. Ook die wyse waarop hy Chamberlain opsygestoot het en sy breedsprakige “Now we are at war again”-toespraak, sy arrogante besoek aan die Noord-Afrika-gevegsteater waarvandaan Montgomery hom summier huis toe gestuur het, sy opdrag aan sy drinkebroer Bomber Harris om Hamburg te gaan vernietig toe die oorlog reeds einde toe gestaan het, sy aandrang op Neurenberg terwyl Brittanje se eie hande van die bloed van die moordampveldtog in Suid-Afrika gedrup het…… Churchill was geen groot staatsman nie. Dit het Brian Irvine aan die lig gebring en met etlike jare in die tronk daarvoor geboet. Soos ek aan die begin gese het: Churchill se enigste moontlike staatkundige “heldedaad” was dat hy die Britse empire deur sy oneindige persoonlike ambisie na roem vernietig het……

Theresa ·

Dankie Flip en ja, jy en nog ‘n paar mense inspireer mens om nie net moedverlore te voel nie, maar om te onthou wat regtig in ons are bruis! Al is dit net die stukkie waar hy beskryf dat hy dink die Boere het wonderlik gelyk so sterk te perd. En dat die gesing van die gesang na oorlog meer as vrede geklink het – weet jy, dan besef mens weer ons is so sterk. Dalk is dit juis wat hordes so grensloos bly pla van ons. Ons is sterk!!!

Henry ·

Geskiedenis is interessant, maar ek stem veel eerder vir – “Lesse te leer vir vandag”.

Konflik en geweld, asook die grondwet beswyming, is reeds oor en oor as ‘n ernstige en ongeneeslike siektetoestand bewys. Beide is van geen nut vir mens of dier is nie.

Stem allie pad vir die derde weg se “werk met die werklikhede”!!!

Skatimyr ·

Ek het baie respek vir Flip en weet dat hy ‘n welbelese man is. Ek kan egter nie glo wat ek hier lees nie. Churchill het self gesê dat die oorwinnaars die geskiedenis, lees maar meer oor sy toespraak “are we monsters”. Hy wóú oorlog maak en dit het oor geld gegaan soos altyd. Kry asseblief na die feite oor Churchill en Bommer Harris se doelbewuste bomaanvalle op nie die gewone burgers. Kyk hoeveel Duitse burgers dood is in hierdie aanvalle op meer as 150 stede en dorpe. Kyk asb. na http://www.justice4germans.com

Skatimyr ·

Lees gerus eers Mike King van tomatobubble.com se “The Bad War” dit het inligting en fotos wat nooit in enige skool kirikulum geleer word of in die Massa Media is nie. Hy het ‘n ongewone skryfstyl maar hy draai nie doekies om nie. As jy nie wil nie sê jy dat jy tevrede is met die eensydige weergawe van die oorwinnaars (blou pil drinkers). Tyd om wakker te raak en vir jouself te dink.

Idiotinator ·

Skatimyr. Tomatobubble se bubble is gebars. Moet nie alles glo wat jy lees sonder om behoorlike navorsing te doen nie. http://rationalwiki.org/wiki/Tomatobubble
Daar is baie sterk aanduiding dat Mike King, soos ander media publikasies, net daarop uit is om sensasie te skep. Ongelukkig is die hoeveelheid inligting beskikbaar so baie en so diverse dat dit lank en moeilik sal wees om feitelike waarheid te bepaal. Dus, dit raak soos godsdiens, laat dit vir jou wees soos jy glo.

John ·

Ons het strategiese denkers nodig. Soos rugby-afrigters die opposisie se spelpatroon goed bestudeer en ‘n dinkskrum vorm saam ander kundiges, selfs sielkundiges wat help om die opposisie se aksies, houding en woorde te ontleed. Ons kan nie ‘n koueoorlog wen as ons nie die spel bestudeer nie. Die meeste van ons borrel oor van woede en byvoeglike naamwoorde as die ANC & kie en die EFF iets kwytraak. Wanneer die president skaterlag, kan dit baie dinge beteken. Ons moet dink. Hy is ‘n fyn strateeg. Waar is ons mense? Hulle wil die Boere emosioneel uitput, juis slaggereed maak. Die EFF is die ANC se voorlinie, soos wat baie keer in die wereld gebeur. Hulle gaan moontlik die eerste vuilwerk doen omdat hulle so eksplisiet is en die Boere tot aksie uitlok, waarna die weermag tot die stryd sal toetree. Indien die EFF onverantwoordelik grond gryp, sal ‘n boer, as hy nie vooraf opgelei en van raad bedien is nie, dalk uit woede aksie neem. Dit is wat die opposisie soek. Daar sal landswyd besin moet word oor die strategie van die vyande van die witman. Emosionele uitbarsting langs die braaivleisvure en die sing van die volkslied is om ‘n teenvoeter vir die swartmagretoriek te probeer vind. Ons moet slimmer werk… ons het nie teatrale Britse hoogdrawendheid nodig om te beplan nie.

Ben Prinsloo ·

Die skrywer se siening is 100% korrek. Ongelukkig is daar onder ons ou volkie soos in die verlede vandag nog joiners wat ons ou volkie op alherhande maniere besoedel en die gevolg is vat ons nou sien en ervaar. Hierdie joiners probeer dan nog net soos in die verlede hulle siening reverdig en sodoende baie van ons mense wat nie opgewasse is vir hulle slim praatjies nie ook saamvat.

Disselboom ·

Die probleem is eerder die gebrek aan gewilligheid tot debat en meningsverskil onder Afrikaners. Die gewoonte is tipies “100% korrek” en om alle vertroue op een man te plaas, en enige vrae of kritiek dadelik as ‘n aanval van die vyand te beskou. So vorm mens nie ‘n sterker-wordende strategie en toenemende samewerking nie.

Daar is nie net “100% Flip Buys” en die res is “joiners” en besoedelaars nie. Dit kan opbouend wees om rondom ‘n ou figuur soos Churchill menings te wissel en lesse uit die geskiedenis vir vandag te interpreteer.

As daar in die NP-regeringtyd so bietjie beter ruimte vir debat was en alles kritiek en vrae aan die Nasionale Party dadelik as ‘n soort verraad en nonsens afgemaak is nie, was daar dalk ‘n beter land vandag.

My mening oor Churchill? Nie nou nie. Die punt om debat kans te gee is nou eers belangriker.

Petrus ·

Ek deel nie jou mening dat Afrikaners onwillig sou wees om van mekaar te verskil nie, nog minder dat hulle huiwerig is om hul menings te lug.

Sarel Strydom ·

Kyk na ons eie geskiedenis. dr. Verwoerd word baie mense vandag beskou as die Vader van die sg. Apartheid, maar in werklikheid was hy sy Politieke tydgenote ver vooruit. Niemand sal dit egter ooit erken nie, want watter Politikus wil nou erken dat hy “stupid” was.

Herman G ·

Baie interessante artikel. Neville Chaimberlain na wie verwys word in die artikel se pa was Joe Chaimberlain, Minister van Kolonies – en Alfred Milner het aan hom geraporteer. Hy was net so lus om die Boere republieke to anekseer.
Ek het op History Channel ‘n episode gekyk waar Churchill se klein dogter vertel hoe hy die Boere bewonder het. Hy en Jan Smuts was ook groot pelle.
Oor sy voorspellings oor die 2de Wereld Oorlog – hy het geweet die Duitsers is baie, baie moeilik oor die Versailes vredesverdrag en hulle soek wraak. Plus die Duitsers (het destyds) geweet hoe om oorlog te maak. My mening is dat Churchill was ‘n ok oorlog leier, maar nie so goed soos mense glo nie.

Herman G ·

O, ja die ANC het ‘n reuse rat voor die NP se oe gedraai. Roelf Meyer en sy bende het gedink die ANC is eintlik ‘n klomp nice ouens en die SAW & SAP was vol nonsens om hulle as die vyand te beskou. Die ANC lag nou nog oor die onderhandelinge. Soos in die res van Afrika was hulle doel om mag te kry.

John ·

Duisende Boervroue en -kinders is in Britse konsentrasie-kampe mishandel en dood. Het Churchill ooit verskoning daarvoor gevra of dat kompensasie betaal word? Hy’t het darem die ‘mighty’ Apies ‘river’ oorleef. Ons moet hom dit krediet gee. Die dag sal nooit kom dat ek die Britte en hul helde sal besing nie. Ons sit steeds met die nagevolge: Engels a la carte, in my sop en in my poeding en…

Skatymir ·

Dit is ‘n treurige dag in ons geskiedenis as ‘n oorlog krimineel soos Churchill se joernalistieke slimstreke geglo word, nog erger – vereer word, nogal met ‘n toepaslike foto.

Rupert Ashford ·

Goed geskryf Flip. Mense se streke verander nie en mens kan baie uit die geskiedenis leer oor wat in die hede en die toekoms gaan gebeur. Ongelukkig skryf jy vir lesers wat nog nooit regtig swaargekry of baie verloor het nie en “baja slum” is. Hoewel die skrif aan die muur is maar hulle reken dis deel van hulle
“grent” muurbehangsels. Ons is ‘n generasie wat die laaste groot oorlog al byna 100 jaar terug gesien het so ons is baie onkundig, ons lewe in ‘n post geloof tyd waar mense reken hulle kan alles self doen en waar die grootste morele uitdaging die van “gelykheid” (feminisme, same sex marriage ens.). Maar doen so voort Flip, ons het mense met common sense ook nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.