Ope brief: Clicks buig knie vir anargie

Ope brief deur Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van Clicks.

Vikesh Ramsunder.

Geagte mnr. Ramsunder

Julius Malema roep sy vegters en grondmagte op om Clicks aan te val. In oorlogtaal hits hy geweld aan oor ʼn advertensie. Hy twiet weer ʼn keer en sê die bevel is baie duidelik. Hy gaan verder en sê Clicks-winkels moet toegemaak word, want hy is moeg vir wit arrogansie.

ʼn Klein groepie anargiste in rooi pakke val aan. Winkels word gebrand, rakke word omgestamp en produkte beskadig. Kliënte word gekeer om hul voorskrifte in te dien en medisyne te kry, omstanders word geïntimideer. Absolute anargiste. Die EFF breek en brand om te kry wat hulle wil hê.

Dit het niks meer te doen met die inhoud van ʼn advertensie nie, maar met rasopportuniste wat geweld gebruik om hul agenda te bevorder. Die advertensie is bloot ʼn middel tot hul doel.

Suid-Afrika is gewalg. Almal vra: Waarom word die aanstigter(s) nie aangekla nie? Die anargie moet stop. Vervolg dié wat breek en brand. Kla die spul aan wat onskuldige winkelgangers intimideer.

En wat doen Clicks? Julle beloon die anargiste. Julle ontmoet hulle en bieg en buig. Julle gee ʼn suigstokkie vir die kleuter wat ʼn vloermoer gooi en al die maatjies knyp en hul hare trek. Julle voed anargistiese en rassegedrag.

Clicks gaan nou skenkings aan gemeenskappe maak soos deur die EFF aangewys.

Nee, mnr. Ramsunder, julle moet Julius Malema en sy bende strafregtelik aankla. Julle moenie erkenning aan hulle gee nie.

Julle moet die klaers wees. Dis wat die regstaat van goeie burgers verwag. Julle moet help om orde te skep. Nou voed julle wanorde.

Clicks benadeel nie bloot net hulself deur agteroor te buig om die bende tevrede te stel nie. Julle bring wet en orde in die hele land in die gedrang. Dit was jul plig om nee te sê vir hierdie intimidasie. Julle maak ‘n bespotting van die oppergesag van die reg en nou moet gewone Suid-Afrikaners die prys betaal.

Post-Clicks Suid-Afrika is ʼn gevaarlike plek, want anargiste weet daar is wins in brand en breek.

Wat doen julle nog? Julle voed hul rasse-ideologie. Jul oorgawe het hul rasse-ideologie versterk. Verder gaan julle beurse vir farmaseutiese studies beskikbaar stel, maar daar is ʼn voorwaarde: Dit moet aan swart studente toegeken word. Nog verder gaan julle gesprekke voer met die spul rassiste oor rassetransformasie. Dis mos gek!

Die EFF mobiliseer sy vegters deur haat teen wit mense aan te wakker. Malema was nie teen sjampoe nie; hy was teen wit Suid-Afrikaners.

Julle voed ʼn anargistiese klimaat en ʼn eksklusiewe rasse-ideologie. ʼn Gesamentlike verklaring word op ʼn EFF-briefhoof uitgereik en hulle nasionaliseer julle met hul agenda.

Waar julle vrees vir geweld wou takel, het julle geweld bevorder.

Waar julle rassisme wou takel, het julle net die rassiste tevrede gestel.

Waar julle Clicks, en spesifiek jul onderneming wou beskerm, stel julle ons almal bloot aan ʼn anargistiese kultuur. Dié wat reageer op die boewe, ís nou die boewe.

Korporatiewe Suid-Afrika, en spesifiek Clicks, is sonder ruggraat.

Val aan vegters! Volgende keer val die vegters weer aan. Dié keer met meer selfvertroue. Ek herinner jou aan Churchill se aanhaling: “An appeaser is one who feeds a crocodile, hoping it will eat him last.”

Julle het die krokodil gevoed.

Dirk Hermann.

Nog iets: ʼn Klein groepie anargiste gooi produkte van rakke af en julle ontneem alle Suid-Afrikaners om TRESemmé-produkte te koop. EFF-lede kon kies om nié die produkte te koop nie, maar julle kon nie namens Suid-Afrika besluit dat Suid-Afrikaners nie die produkte kan koop nie.

Met alle respek gesê, mnr. Ramsunder, die EFF het soos die Mafia opgetree.

Hulle storm gewelddadig die winkel in. Hulle maak winkels toe en sal dit oopmaak in ruil vir sekere dinge. Ons het weliswaar hier met Malema, die leier van ʼn politieke party, te make, maar dit kon netsowel Al Capone van ʼn Mafiakartel gewees het.

Julle het die knie vir anargie gebuig.

Julle het van die boewe helde gemaak en stel die helde (gewone mense) bloot aan ʼn boewe-demokrasie.

Julle het die koopkrag van die massa verraai ten gunste van die geweld van ʼn klein groepie anargiste.

Die EFF se gedrag het ons verwag. Ons lees wat hulle skryf, hoor wat hulle sê en glo hulle. Van Clicks het ons dit nie verwag nie. Ons het verwag Clicks gaan die kant van hul kliënte en Suid-Afrika kies.

Om Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aan te haal: “Julle gaan saai wat julle paai.”

Voete oor winkeldrumpels gaan julle straf.

Groete,
Dirk Hermann

Clicks buig die knie voor anargie!

Dr. Dirk Hermann vra: "Gaan die aanhitsers van geweld vervolg word? Gaan Clicks die die boewe bende wat hul winkels verwoes het aanspreeklik hou. Nee, hulle beloon hulle. So kan dit nie aangaan nie! Wat dink jy van Clicks se reaksie? ????

Posted by Solidariteit on Friday, September 11, 2020

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Toktokkie ·

Dankie Dirk, alles wat in my siel gewoed het, het jy mooi verwoord. Clicks is die enigste winkel wat my shampoo en conditioner maak aanhou, maar jy is heeltemal reg. Party breek af om hul punt te bewys, ander sal dit met voete oor hul winkeldrumpels wys. Ek sal ander shampoo en conditioner gaan soek. Of miskien moet ons self ‘n webwerf skep waar ons wat nie hierdie soort gedrag duld nie, in vrede online kan koop….

Persheks Adri ·

Hulle mag ons dreig, vandalisme vind plaas, haat spraak is reg in regering se oë, maar ons moet dit nie doen nie! Hulle maak en breek soos hulle lus is en die klomp by Clicks is bang.

Jy laat jou eie nasie sonder werk sit mal rooi petters. Nice dis hoe julle operate

MIA ·

Clicks het van lankal af al die besluit geneem om net Nie=blankes aan te stel in nuwe poste. So, die uitstappie van die EFF die afgelope week en die gevolge rakende Clicks se besluit om aan hulle toe te gee, was maar net weereens bewys waar hulle ondersteuning lê. Ek sal ook maar vir die toekoms vir Clicks totsiens sê.

Denise ·

EK KOOP NIKS WEER BY CLICKS NIE!… VIR MY PART KAN HULLE NOU MAAR TOE BLY

Stefan ·

Ja, die feff is al klaar besig om die volgende ‘protes’ te beplan.
Hierdie het bo verwagting voordelig vir hulle uitgewerk!

Veronika ·

Beter kon dit nie gestel word nie!! Is net soos ek ook voel!! Ek sal nie weer by Clicks koop nie.

Jessey ·

Nou ja, my paar sente wat ek by Clicks sal spandeer sal seker nie veel verskil maak aan hulle omset nie, maar ek stem saam, ek spandeer eerder my hard verdiende geld by plekke wat nie so maklik die knie buig nie. Miskien moes hulle in ruil gevra het dat EFF lede net by Clicks koop, want lyk my dis nou maar waar hulle hulle omset sal moet doen in die vervolg.

Ek het darem nog heelwat ander opsies van waar ek goedjies kan koop

Riana ·

Ek sal beslis nie weer by Clicks koop nie…en Ons Afrikaners moet weer begin om ons Aptekers te ondersteun met hulle 1 man sake….

Mercia ·

‘n Uitmuntende stuk skryfwerk wat alles presies sê soos wat dit is! Dis net skrikwekkend om te besef dat groot korporasies en firmas soos Clicks nie met dieselfde logiese beredenering hulle sommetjies kon maak nie. Die res van Suid Afrika slaan hulle hande saam oor die totale gebrek aan insig wat voor ons oë afgespeel het! En daarom draai ons sonder enige huiwering ons rug op die paaiende Clicks en skud die stof van ons voete af.

Michael ·

Vanoggend ons clickskaart weggegooi en ons lidmaatskap gekanselleer. Sal nooit weer daar koop nie

Twopence ·

Dié skrywe sê nou presies soos ek oor die aangeleentheid voel. Dit is tyd dat ons die kleiner eenman apteke begin ondersteun. In elk geval weet ek uit ondervinding dat kliënte baie beter diens by hulle ontvang.

Andrew ·

n paar wit mense moet nou gaan goed breek in clicks omdat clicks nie witmense se onskuld in die opmaak van die advertensie erken en beklemtoon het nie

Trotse Boervrou ·

Clicks kan net sowel hul deure sluit. Blankes was hul grootste mark gewees. Let wel ek praat in die verlede tyd. Ek voel verraai deur hulle. Al was hul die laaste winkel op aarde sal ek nooit weer by hulle koop nie. En ‘n paar ander winkels ook. Ja, die advertensie was verkeerd maar hoekom sê hulle nie dit was swartes wat daarvoor verantwoordelik was nie. Dit wil al hoe meer voorkom asof hier ‘n verskuilde agenda was agter hierdie advertensie. Hoe kan Clicks dit nie raaksien nie. Dit kon op ‘n vreedsame manier opgelos gewees het! Ek skaam my morsdood vir Clicks se skaamtelose optrede. Nee wat Clicks, julle het gaan lê, nevermind knie gebuig. Cheers!

Sandra ·

Mnr Hermann, beter kon ek of niemand anders dit gestel het nie. Jy slaan die spyker op die kop wat jou hele brief aanbetref. “EFF-lede kon kies om nié die produkte te koop nie, maar julle kon nie namens Suid-Afrika besluit dat Suid-Afrikaners nie die produkte kan koop nie.” Ek het presies dieselfde ding gese, maar u bewoord dit beter. Ek het gese Clicks besluit vir almal van ons, en ontneem ons dus van ons menslike reg om die sjampoe te koop. En dis waar, EFF kon kies of hulle die sjampoe wil koop of nie, en daardie besluit sou geskied het met normale Godsvresende, vredeliewende en wetsgehoorsame Suid Afrikaners. Ek eet byvoorbeeld nie lewer patee nie, want ek het gesien hoe ‘n mens dit verkry. Dit beteken net dat ek nie weer die produk sal koop nie. Ek het ‘n keuse gehad, en het dit gebruik. EFF en Clicks het ons gewone mense se keuses weggevat deur die simpel protes.

Schalk ·

Die aanlyn winkels is die antwoord. Die ergste is dat die EFF eintlik nie eers besef dat dit nie witmense se winkelgroepe is nie. Waarom voel Malema so ge-intimideer deur blankes? Minderwaardigheid kompleks? Skuil hy dalk agter die aksie om die aandag van hom af te neem met sy ander publieke dramas en aanklagtes? Die ANC se skynbare stilswye kan dalk as goedkeurend vertolk word?

JohanR ·

Wat my meer verbaas het is hoe DisChem, PnP, Checkers, Shoprite, Woolworths en seker Spar alhoevel ek nie 100% kan se nie, ook sommer al TRESemmé se produkte van die rakke afgehaal het. Is dit nie ‘n tipe binnelandse terrorisme nie, wat nie eers probeer stopsit deur die polisie en die hofe. Die hofe sedert 26ste Maart was ook meer as useless. Guess it takes a pandemic to point how how useless a countries President, it’s ministers, it’s police force, it’s army and the courts of the land really are!

Kattebol ·

Ek het deur die jare al hoe minder by clicks gekoop oor hulle so vrek duur is. Ek sal hulle nie mis nie.

Johan ·

Clicks, die dame wat haar wapen getrek het om haarself te verdedig het 100X meer ruggraat as julle.

Elmarie ·

Nie net het Clicks ingegee maar so ook al die ander (bang) winkelgroepe – Checkers, PnPay, Woolies… Deur die produkte van hul rakke af te haal het hul ook maar die knie gebuig voor die EFF. En van nou af is dit hoe die EFF op enugiets wat HULLE nie pas gaan reageer. ‘n President is geskep oftewel they’ ve created a monster

Jacobus ·

Voer die krokodil dan vreet hy jou dalk laaste. Mr Bumsunder, buk voor terroriste en hulle sal jou weer, en weer kom teister. Party leer deur herhaling. Clicks het van die beste vloer staf – en daar hou dit blykbaar op. Julle het julle staf in die die steek gelaat.

Herpiet ·

Dr Hermann puik verwoording hoe die meeste van ons voel!!!

Kokerboom ·

Dis tyd dat Blankes Clicks totaal boikot. Dit sal egter nie gebeur want ons kan nie saamstaan

Herpiet ·

Soos met Spur ja. Sien meeste eet nou maar weer lekker voort

Yvonne ·

Ek stem saam…dis n gemors…Clicks en sy werkers korps is inelk geval nie my geliefkoosde winkel nie

PieterP ·

Sal ons nou die Black like me en die Black is beautiful rakke gaan omgooi en dan sommer die res ook want ons kan?
Ek is in.

Botterblommetjie ·

Hulle moet vir omkopery en afpersing ook aangekla word… Want as julle nie dan…

Heksieperfeksi ·

Clicks is spineless, would rather appease a bunch of bullying thugs. Clicks has lost my respect.

groenboer ·

Helaas, dit is te betwyfel of veel mense aan ‘n Clicks-boikot sal deelneem, want ons mense is hopeloos, hulpeloos verslaaf aan koop en koop en koop. Boonop gaan Clicks nie weet of die boikot is omdat hulle die knie gebuig het en of dit is as gevolg van die gewraakte advertensie nie, so dan buig hulle dalk selfs verder agteroor.

Miskien moet hulle die hele maatskappy en sy bates nou maar aan die EFF oordra en klaarkry…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.