Clinton teen Trump nou meer waarskynlik

donald-trump-vs-hillary-clinton

Foto: Youtube.com

Super Dinsdag is agter die rug en wat duidelik is, is dat die leierskap van die Republikeinse Party Donald Trump en sy ondersteuners onderskat het. Trump het daarin geslaag om meer as die helfde van die state te wen en wat sy groot oorwinning selfs meer indrukwekkend maak, is die diversiteit van state waar hy gewen het. Van Massachusetts in die noordooste, tot Arkansas en Alabama in die diep suide. Daarteenoor het Ted Cruz daarin geslaag om sy veldtog lewendig te hou, deur sy tuisstaat, Texas en buurstaat Oklahoma, te wen. Marco Rubio kon slegs Minnesota wen.

Aan die Demokrate se kant is Hillary Clinton nou in die sterkste posisie nog vanjaar. Hoewel sy sewe van die elf state kon wen, kon sy egter nie daarin slaag om genoeg skoonskip te maak ten einde die tweestryd met die sosialis, Bernie Sanders, te beëindig nie. Sanders se oorwinning in vier state hou sy hoop lewendig, hoewel ʼn mens moet erken dat Clinton nou ʼn duideliker roete voor haar het om haar party se nominasie te beklink.

Aan die Republikeine se kant is die nominasie nou Trump sʼn om te verloor en die enigste manier hoe dit moontlik kan gebeur, is vir die ander kandidate om saam te staan en agter een persoon in te val. Dit lyk totaal onwaarskynlik. Sou Trump oor twee weke van nou af daarin slaag om Florida te wen, sal hy onstuitbaar wees.

Aan die Demokrate se kant is die nominasie weer Clinton sʼn om te verloor. Clinton se steun lê onder ouer blanke kiesers en minderheidsgroepe, veral swart kiesers. Sanders het sterk steun onder jongmense en kiesers aan die ekstreem-linkse kant van die politieke spektrum. Oor die volgende paar weke sal state in die sentraal-westelike dele van die VSA stem en hier sal Clinton daarin moet slaag om die blanke bloukraagkiesers saam met swart en ouer wit liberale in ʼn meerderheidskoalisie te verenig. Haar organisasie is sterk en sy behoort daarin te slaag om state soos Illinois en Ohio te wen, wat vir haar die nominasie kan beteken.

Die scenario van ʼn nasionale verkiesingstryd tussen Clinton en Trump raak nou sterker. Een aanduiding daarvan is die wyse waarop beide kandidate, maar veral Clinton, op mekaar gefokus het in hul toesprake na die Super Dinsdagverkiesings. Clinton het in ʼn groot deel van haar toespraak op Trump se swakpunte gefokus. Ook Trump het minder daarop gefokus om sy mede-Republikeine aan te val en het begin om sy visier op Clinton in te stel.

Die volgende tien punte kan ʼn tweestryd tussen Clinton en Trump definieer:

  1. Demografie

Amerika se demografie is besig om vinnig te verander. Wittes, as persentasie van die bevolking, neem skerp af, veral onder jongmense, terwyl mense van minderheidsgroepe en gemengde afkoms skerp toeneem. Die vraag is of dit vanjaar in die kieserskorps gaan reflekteer. In 2008 en 2012 het Barack Obama daarin geslaag om die stempersentasie onder minderheidsgroepe te verhoog, terwyl lae entoesiasme oor John McCain en Mitt Romney meegebring het dat miljoene, veral werkersklas en laermiddelklas konserwatiewe kiesers, nie gaan stem het nie. Twee jaar gelede, tydens die middeltermynverkiesing, was die stempersentasie onder minderheidsgroepe weer baie laag en Republikeine kon ver wen omdat konserwatiewe, wit kiesers in groot getalle gaan stem het. Die vraag is wie gaan vanjaar stem? Gaan Clinton daarin slaag om weer minderheidsgroepe in groot getalle by die stembus te kry? Gaan Trump daarin slaag om vyf miljoen konserwatiewes en ʼn hele paar miljoen onafhanklikes wat in 2012 tuis gebly het, te oortuig om vir hom te gaan stem?

  1. Clinton se rekord as minister van Buitelandse sake

Een van Hillary Clinton se grootste uitdagings is twee skandale die afgelope tyd wat haar termyn as minister van buitelande sake kenmerk. Die eerste is haar gebruik van ʼn privaat e-posbediener vir werksverwante e-posse en die tweede is haar swak hantering van die veiligheid van Amerikaanse diplomatieke personeel in Benghazi, Libië, in September 2012, wat tot die wrede marteling en dood van die land se ambassadeur en ander diplomatieke personeel gelei het.

  1. Trump se liberale rekord

Ja, Ronald Reagan was ook eens op ʼn tyd ʼn liberale akteur wat ten gunste was van aborsies en ander dinge wat konserwatiewe kiesers haat. Dit is egter ʼn feit dat Donald Trump oor die jare gereeld liberale standpunte ingeneem en liberale kandidate ondersteun het. Sy konserwatiewe inslag is maar redelik jonk en dit kan heelwat skeptisisme onder konserwatiewe kiesers, veral dié wat tans vir Ted Cruz ondersteun, veroorsaak. Die vraag is of Trump, soos Reagan in 1976, daarin sal kan slaag om mense te oortuig dat hy werklik in sy hart konserwatief is.

  1. Die laaste maande van Obama as president

Clinton bou haar veldtog sterk op die rug van Obama se presidentskap. In haar toespraak na die Super Dinsdagverkiesings, het sy keer op keer na suksesse van die Obama-regering verwys en beklemtoon sy wil slegs daarop voortbou. Indien Obama se gewildheid oor die volgende paar maande toeneem, behoort Clinton se strategie vrugte af te werp. Indien Obama foute maak en sy gewildheid afneem, kan Clinton ook aan die ontvangkant van ʼn moegheid vir die Obama-era wees.

  1. Trump se vermoë om nuwe kiesers na die Republeinse Party te bring

Een van Donald Trump se sterkste argumente is dat hy onafhanklike kiesers wat nie direk met een van die twee groot partye assosieer nie, na sy veldtog aantrek. Bewyse daarvan was reeds duidelik in state soos New Hampshire en Suid-Carolina, waar onafhanklikes aan die voorverkiesings kon deelneem en waar heelwat gekies het om in die Republikeinse, eerder as Demokratiese, voorverkiesings te stem. Trump het heelwat van hierdie onafhanklikes se stemme ingepalm.

  1. Entoesiasme onder die kernsteunbasis van die onderskeie partye

Clinton se grootste uitdaging in November kan entoesiasme onder kern-Demokrate wees. Terwyl Obama daarin geslaag het om mense opgewonde te maak oor sy veldtog, slaag Clinton nie daarin nie. Sover was die aantal Demokrate wat aan voorverkiesings deelgeneem het laag en in elk geval wesenlik laer as vir die Republikeine. Peilings wys sover dat baie Demokrate in November tuis kan bly, omdat Clinton en haar veldtog hulle nie juis entoesiasties maak nie. Daarteenoor het Republikeine ʼn gedeelde drang om na agt jaar van Obama as president, weer een van hul eie manne as president te sien. Entoesiasme onder Republikeine is besonder hoog en in staat na staat word die rekords van die aantal mense wat aan voorverkiesings deelneem, gebreek. In Virginië was die vorige rekord van mense wat in ʼn Republikeinse voorverkiesing gestem het, 664 000. Gister het byna 1 miljoen mense vir Republikeinse kandidate in Virginia gestem.

  1. Verdeeldheid binne die Republikeinse Party

ʼn Mens kan nog sien hoe die Republikeine om Marco Rubio of Ted Cruz verenig, maar die kanse van ʼn verenigde party, met Donald Trump as kandidaat, lyk baie skraal. Groot verdeeldheid in die party kan daartoe lei dat die party ʼn swak veldtog in November voer. Sover kon Trump op sy nasionale boodskap en mediaprofiel alleen staatmaak om te wen. In November sal hy, indien hy sy party se kandidaat is, egter ʼn sterk georganiseerde en verenigde party nodig hê om mense by die stembus te kry.

  1. Televisiedebatte

Een van Clinton se sterkste punte is haar vermoë om op haar voete te dink en haar opponente in televisiedebatte te uitoorlê, soos wat sy onlangs in ʼn debat met Bernie Sanders gedoen het. Daarteenoor is televisiedebatte een van Trump se swakste punte. Dit kan egter alles na Oktober en November toe verander, veral indien Clinton weens haar rekord op die agtervoet beland en Trump as kandidaat ontwikkel en begin om beter vir debatte voor te berei. Politiek in Amerika raak egter toenemend gekoppel aan die drama en vermaak wat dit bied en daarom is televisiedebatte belangrik. Dit is egter ook belangrik om te besef die meeste Amerikaners steur hulle nog nie nou veel aan die verkiesing nie. Teen September vanjaar sal dit egter verander en dan sal meer en meer mense hul besluite begin vorm aan die hand van mediadekking van die veldtogte en veral die vermoë van kandidate om sterk standpunte tydens debatte in te neem.

  1. Geld

Om vanjaar ʼn nasionale veldtog vir die presidentskap te voer, sal waarskynlik tot soveel as een miljard dollar kos. Hillary Clinton is sterk gerat om maklik een miljard dollar in te samel. Sy het ʼn sterk netwerk van skenkers en omdat die Demokrate waarskynlik maklik sal verenig indien sy as hul kandidaat aangewys word, sal die volle party se instrumente aangewend word om haar veldtog te ondersteun. Daarteenoor finansier Donald Trump sover nog sy veldtog self en het hy geen wesenlike netwerk van skenkers nie. Hy sal egter in ʼn nasionale veldtog van skenkers afhanklik wees en die vraag is of die Republikeinse Party hom betyds hierin sal steun.

  1. ʼn Plaasvervanger vir Antonin Scalia

Antonin Scalia was een van die twee konserwatiefste regters in die Amerikaanse Hoogste Hof. Sy dood beteken President Obama kan ʼn plaasvervanger vir hom nomineer, wat dan deur die senaat goedgekeur moet word. Obama sal na alle waarskynlikheid ʼn liberale regter nomineer en die Republikeine, wat tans ʼn meerderheid in die senaat uitmaak, sal waarskynlik so ʼn regter afkeur. Die invloed hiervan op die verkiesing sal interessant wees. Die vraag is hoe gaan Amerikaners hierop reageer en sal dit vir hulle ʼn belangrike saak wees wat hul stemme kan beïnvloed? Alles hang af van die wyse waarop Obama dit hanteer en of hy van die nominasie ʼn strydpunt gaan maak.

Daar kan nog nie met absolute sekerheid gesê word dat Clinton en Trump hul onderskeie partye se kandidate gaan wees nie. Sanders kan nog vir Clinton inhaal en beide Cruz en Rubio het nog ʼn buitekans om Trump te uitoorlê. Dit sou egter naïef wees om te dink dat Clinton en Trump nie tans as gemaklike voorlopers beskou kan word nie. Beide kandidate het na Super Dinsdag sterk momentum en behoort in die volgende twee tot drie weke genoeg oorwinnings aan te teken om teen April in ʼn selfs sterker posisie te wees. Moet dus nie verbaas wees as dié twee al hoe meer op mekaar begin fokus nie. ʼn Stryd tussen Clinton en Trump in November kan een van die interessantste verkiesings nog in Amerika wees en dalk eerder juis weens beide se tekortkominge as hul sterkpunte.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

DMC de Koker ·

Hy sal waarskynlik ‘n beter president maak as al ons narre hierso!

Elri Maree ·

Dankie, Jaco.. dit was baie interessant en insiggewend!

ruben ·

Trump moet daar wen amerika is besig om Te verswart en hy Sal die inkoms van die immigrante beperk,dalk nog vir wit afrikaners amnestie ook gee.

gatiep ·

Stem saam met jou ruben hy is die laaste hoop vir ons wittes hier. die lot wat nou al jare daar regeer lyk my wil ons hier weg he maar se ook nie waarheen ons kan gaan nie. Ek bid net dat hulle nie hom ook gaan skiet soos Ragan nie.want ek dink Ragan het geskrik toe hulle hom probeer doodmaak het.
Dankie baie goeie berig die.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.