Colombië: Eerste verkiesing sedert vredesverdrag met FARC

Foto: PoliticaExterior.com/Kalw.org

In die onlangse parlementsverkiesing in Colombië het die regse Sentrum-Demokrate die grootste party geword met 19 setels in die senaat, en hulle leier, oud-president Alvaro Uribe, het verreweg die meeste stemme van enige kandidaat gekry. Ook Cambio Radical (Radikale Verandering), ten spyte van hulle naam ʼn regs-liberale party, en die Konserwatiewes, het 16 en 15 setels onderskeidelik gekry. Die sentristiese Sosiale Eenheidsparty van president Juan Manuel Santos was die groot verloorder en het slegs 14 setels gekry (vorige keer 21).Die linkse Liberales het 14 setels gekry en die Groenes 10 setels, vyf meer as laas. Laastens is daar drie kleiner partye met tussen drie en vyf setels.

Die verkiesing se groot tema was die vredesverdrag tussen die regering en die kommunistiese terreurgroep FARC (Fuerzas Armadas Revolucionarios de Colombia, Gewapende Revolusionêre Magte van Colombië) wat in 2016 onderteken is en in die bevolking hoogs omstrede is. Die tans nog regerende president Santos het vir sy onderhandelings met die terroriste en die beëindiging van die dekade-oue insurgensieoorlog die Nobelprys vir Vrede gekry. Talle Colombiane voel egter dat FARC nou ongestraf bly nadat hulle vir dekades groot dele van die land geterroriseer het en meer as 200 000 mense op hulle gewete het. FARC-leiers kry as deel van die vredesooreenkoms amnestie en selfs vyf gewaarborgde setels in die parlement. In die verkiesing self is hulle egter duidelik verwerp en het minder as 1% van die stemme gekry en sou sonder die vergunning geen setel verower het nie.

Die swak vertoning van die Sosiale Eenheidsparty is ook ʼn boodskap aan mnr. Santos dat kiesers nie tevrede is met sy toegeeflike hantering van die terroriste nie, terwyl mnr. Uribe, wat as president sterk teen FARC opgetree het en hulle erg verswak het, beloon is met ʼn oorwinning. Hy moes egter in 2010 uittree en mnr. Santos, destyds nog ʼn vertroueling en minister van mnr. Uribe, het ʼn heel ander koers ingeslaan en vrede met FARC gesoek. Dit het jarelange onderhandelinge geverg, met talle terugslae. Mnr. Uribe se argument was en is dat FARC nie verdien om soos ʼn politieke opponent behandel te word nie, maar dat hulle ʼn bende terroriste is wat groot leed oor die bevolking van veral die Suidelike oerwoudgedeeltes gebring het deur ontvoerings, afpersing, dwelmhandel en ʼn algemene skrikbewind, en dat hulle militêr verslaan moet en kan word. Mnr. Santos glo egter dat dit beter is om hulle in die parlement te hê waar hulle geen gevaar inhou nie en beter beheerbaar is as in die oerwoud, waar hulle nooit finaal oorwin kan word nie. ʼn Afsplitsing van FARC sit die gewapende stryd nog voort. Die oorlog met FARC duur al vanaf die 1960’s. FARC beweer hy veg vir die “arm onderdrukte en landlose meerderheid” teen die grondbesitters, maar is wyd verwerp deur alle klasse van die samelewing. Juis die armstes het dikwels die meeste gely onder FARC se terreur.

Die kongresverkiesing is ʼn voorloper van die presidentsverkiesing in Mei vanjaar. Mnr. Santos moet ná twee termyne uittree en tans vind voorverkiesings vir die presidentskandidate plaas. Mnr. Uribe, die gewildste politikus in die land, mag nie weer staan nie, aangesien hy al vir twee termyne president was. Ivan Duque, wat gekies is as kandidaat vir die regse blok in die voorverkiesings, geniet egter mnr. Uribe se steun, wat vir hom ʼn voorsprong gee. Die linkse blok het Gustavo Petro as hulle kandidaat gekies. Die voorverkiesings se deelname was heelwat groter by die regse blok, wat al ʼn aanduiding is vir die presidentsverkiesing oor twee maande. Mnr. Duque staan vir die vrye mark, persoonlike vryheid, privaat besit en vir sterk bande met die VSA asook vir streng optrede teen misdaad, terwyl mnr. Petro vir inmenging in die ekonomie, herverdeling van grond en ʼn nuwe, meer sosialistiese ekonomiese model staan. Met Colombië se buurland Venezuela, waar sosialisme erg misluk het, as voorbeeld, is dit geen wonder dat die meerderheid Colombiane nie vir linkse politiek te vinde is nie. Indien die regse blok die presidentsverkiesing wen, is veranderinge aan die vredesverdrag met FARC, wat vervolging moontlik sal maak, waarskynlik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joe Hall ·

Nou wonder ek of die ontdekking van skimmel op Columbië se paw-paw bome die volgende verkiesingsuitslae sal beïnvloed.

Meen mmar net! ·

Neem kennis JM en BLF……julle soort word nie langer geduld in n wereld wat wil vooruitgaan nie…….waar almal en veral die armes minder hoef te lei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.