Covid-19: Daar ís silwer randjies

Foto: Pixabay

Daar is geen twyfel nie dat die Covid-19-koronavirus vele negatiewe gevolge vir die hele Suid-Afrika en die wêreld inhou. Daar word beraam dat dit minstens $1 biljoen (Engelse trillion) triljoen van die globale bruto produk kan afsny in 2020 en tot ’n verlies van een miljoen werkgeleenthede in Suid-Afrika kan lei.

Dit is ’n daadwerklike gesondheids- en ekonomiese bedreiging wat na verwagting negatiewe groei van ’n paar persentasiepunte in die eerste kwartaal van vanjaar gaan oplewer – veral in die lig van die afgekondigde “afsluiting”.

Tussendeur al die donker wolke is daar darem ’n paar silwer randjies ook. Lesetja Kganyago en sy span by die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) was oor die laaste paar jaar baie versigtig met die rentekoerse ondanks inflasie wat stewig onder beheer is en ’n baie pap ekonomie. Uit vrees vir die verkeerde politieke seine wat groot rentekoersverlagings kan uitstuur, was hulle behoedsaam om groot verlagings toe te staan. Hierdie strategie was myns insiens wys, al sou die ekonomie baie gebaat het by groter verlagings.

Hierdie “valkagtigheid” het hulle egter die ruimte gegun om onlangs die rentekoers met 100 basispunte te verlaag terwyl die konsensus was dat hulle dit met 50 basispunte sou afbring. Dit is inderdaad ’n reuseverlaging en sal maandeliks honderde of duisende rande in huiseienaars en diegene met ander skuld se sakke terugsit. Helaas benadeel dit pensioentrekkers en spaarders, maar die ekonomie het só ’n hupstoot nou nodig en rentekoers sal ook weer styg.

Rentekoerse is nie die allerantwoord op Suid-Afrika se huidige en toekomstige ekonomiese probleme nie, maar dit bring ten minste tydelike verligting vir beleërde gesinne, gemeenskappe en individue. Sodra mense weer met oorgawe kan bestee, gaan dit help om vir verlore besteding te vergoed.

Die olieprys, en by implikasie die brandstofprys, is die ander ligpunt in hierdie tye. Globale oliepryse is besig om te val soos produksie en aanbod houe vat weens, onder meer, verminderde lugverkeer. Selfs die rand se relatiewe verswakking sal nie ’n groot daling in die brandstofprys in April kan keer nie. Mense wat van die huis af werk, het die bykomende voordeel dat hulle nou minder hoef te ry en minder aan vervoer in die algemeen te bestee – veral aangesien die kinders ook nou almal by die huis is.

Die stygende brandstofprys is ook ’n vername element in die bepaling van die inflasiekoers en die dalende prys van petrol en diesel sal ook ’n gewenste uitwerking op hierdie stygende koers hê.

Ons besige werkslewe steel baie van ons gesinstyd. Ons wil dit nie só hê nie, maar vir baie van ons is lang reise na ons werkplekke en lang ure op kantoor (of weg van die kantoor) ongelukkig ’n realiteit. Met dié dat baie van ons tot ons huise beperk is saam met ons kinders, moet ons die tyd so goed moontlik aanwend. As jy steeds baie het om te doen, kan jy nogtans nou saam met jou kinders middagete en ontbyt eet en so tussendeur tyd saam met hulle bestee.

Laastens kry die natuur en aarde ’n blaaskans. Mense het onskatbare waarde na die aarde gebring, maar ons het ongelukkig ook skade veroorsaak. Hierdie krisis, wat mense wêreldwyd tot hul huise beperk, het die onbedoelde gevolg om die aarde ook kans te gee om te herstel. In Venesië is die gragte byvoorbeeld baie skoner as wat hulle gewoonlik is. Die besoedeling is plek-plek minder en sal waarskynlik nog veel minder word.

Hierdie ligpunte mag dalk net flikkeringe wees, maar dit is nietemin flikkeringe van hoop in onseker tye. Laat ons ook op die positiewe aspekte fokus terwyl ons nie vergeet om steeds die nodige te doen om hierdie krisis die hoof te bied nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

Absoluut! Want die besoekers aan al Sanparke se vakansieoorde ook wildtuine, moes teen gisteroggend op die laaste die parke en oorde verlaat tot verdere kennisgewing. Als is doodstil. Ook die Krugerpark is leeg. Wat ‘n saligheid vir die diere en as die mens die dag terug mag kom, is alle diere weer wild en verskrik, selfs die rooibokke.

Mens gun hulle dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.