Covid-19 en entstof vra vir ongewilde maar ook kreatiewe besluite

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Prof. Shabir Madhi, entstofkundige van Wits skryf onlangs in The Conversation dat die Suid-Afrikaanse regering vanjaar nog “…47% van die Suid-Afrikaanse bevolking, sowat 40 miljoen mense, wil inent”.

Kundiges se beraming is dat Suid-Afrika ’n bevolking het van tussen 57 miljoen en 60 miljoen mense. Interessant is dat Statistieke Suid-Afrika beplan het om hierdie jaar weer ʼn sensus te laat doen ten einde ʼn meer betroubare beraming van die bevolking te kry. Of die sensus nog sal plaasvind midde-in die Covid-19-pandemie, is ʼn ander vraag. Ons is gevolglik aangewese op aangepaste 2011-sensussyfers. Die regering self werk tans met die beraming van ʼn bevolking van 58,78 miljoen mense.

Prof. Mahdi skryf dan om “kudde-immuniteit teen Covid-19 te bereik, het die regering onlangs die ambisieuse mikpunt gestel om 67% van die bevolking in te ent – sowat 40 miljoen mense. Luidens hul plan wil hulle dit nog hierdie jaar doen.”

Ten einde dan twee derdes van die bevolking in te ent (± 40 miljoen mense), is ʼn dubbele dosering nodig en het Suid-Afrika dus 80 miljoen dosisse nodig wat nog nie naastenby bestel of onderhandel is nie.

Dan sê prof. Mahdi “Ons betaal tans $12 (sowat R182) tot $13 (sowat R197) per dosis deur ons deelname aan die Covax-program. Dit is meer as drie keer soveel as wat dit sou kos om die entstof direk van AstraZeneca (of die Serum Instituut van Indië) te koop teen die huidige prys van $3 sowat R45) per dosis.”

In ʼn onlangse voorlegging het die Nasionale Tesourie die oordeel uitgespreek dat nagenoeg R20 miljard nodig sou wees om te voldoen aan die minimum van die selfgestelde teikens. Die meeste waarnemers reken dat die teikens totaal onhaalbaar en waarskynlik naïef is, want daar is nog geen planne vir die beskikbaarstelling van die entstofprogram vir Suid-Afrikaners nie. Selfs al sou Suid-Afrika daarin kon slaag om te onderhandel en entstowwe teen ’n verlaagde tarief in te voer, is bekostigbaarheid nog steeds ʼn faktor wat verreken moet word. Teen ’n konserwatiewe prysberaming van R179 per dosis, en met ʼn dubbele vaksinering wat nodig is, sal daar dan ten minste 80 miljoen dosisse ingevoer moet word om 40 miljoen mense in te ent. Die invoerkoste sal dus minstens R14,3 miljard wees.

Afgesien van die invoerkoste, moet die koste van dosistoediening ook bereken word. Dit beteken dat elke persoon twee inentings moet kry, wat die koste verder verhoog.

Die Business Day berig op 18 Januarie 2021 dat daar aan Suid-Afrika se behoeftes waarskynlik soos volg aandag gegee gaan word: “In dié stadium sal Suid-Afrika nege miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof kry, 1,5 miljoen van die AstraZeneca-entstof, 12 miljoen deur COVAX en 12,25 miljoen van die African Vaccine Acquisition Task Team (AVATT).” Wat die uiteindelike koste sal wees, is onseker.

Dit is alles goed en wel, maar farmaseutiese maatskappye moet nog steeds betaal word vir die lewering van die entstowwe. Dit is waar die kinkel in die kabel is, want die Suid-Afrikaanse fiskus het doodeenvoudig nie meer die vermoë om dit te kan doen nie. Met staatsondersteunde bates soos Eskom (noodsaaklik) en die SAL (wat tans ʼn ydelheidsprojek is) en die SABC (wat lankal enige nut verloor het) en wat voortdurend aan die deur klop vir reddingsfondse ten einde finansieel te oorleef, is alle moontlike vermoëns aan beskikbare fondse uitgeput.

Dit wil in elk geval volgens alle beskikbare inligting blyk dat die regering sy voete gesleep het met die bestelling van beskikbare entstofprogramme en nou agter in die tou staan terwyl ander lande met wie Suid-Afrika meeding, alreeds begin het met die toediening van die entstof. Dit is opperste nalatigheid wat uiteindelik weer tot onnodige lewensverliese gaan ly. Politieke wetenskaplikes in die VSA beskryf dit as “Democide” en word omskryf as “Die dood van ʼn land se burgerlike bevolking as gevolg van ’n regering se beleid, onder meer deur direkte optrede, onverskilligheid en nalatigheid.” Dit is ʼn definisie wat net so toegepas kan word op die huidige Suid-Afrikaanse regering se nalatige en onverskillige optrede om entstowwe tydig te bekom, te befonds en ʼn behoorlike uitrolplanne gereed te kry.

Dit is onduidelik hoekom die regering die invoer van entstof wil monopoliseer. Ongelukkig maak sodanige monopolisering die deur oop vir verdere tenderbedrog. Dit is dus duidelik dat die regering die privaat sektor ook moet toelaat om entstof in te voer ten einde beter koste-aanduidings vir vergelykende doeleindes te kry.

Politici, veral in die regerende party, lek hul lippe af vir moontlike fotogeleenthede wat mag opduik waar hulle die entstof ontvang. Pas is berig dat die premier van Limpopo reeds aangedui het dat hy van die eerstes sal wees om die entstof te ontvang en word aangevoer dat dit andere sal motiveer en aanspoor om entstof te ontvang. Politici en senior staatsamptenare moet egter van die laaste ontvangers van die entstof wees juis om hulle aan te spoor om soveel as moontlik entstof te bekom en suksesvol uit te rol, sonder enige bykomende korrupsie.

As ons regering sy prioriteite reg gehad het, kon befondsing al lankal beskikbaar gewees het, mits:

  • staatsondersteunde entiteite lankal deur privatisering gespeen gewees het van die belastingbetaler, of gesluit is. Sluiting van die SA Lugdiens sal onmiddellik sowat R10 miljard vir die aankoop van entstof beskikbaar stel, want die jongste reddingsboei sal dan onnodig wees;
  • daar erns was met die grootskaalse korrupsie en gesteelde en verkwiste geld weer teruggeplaas is in die staatskas;
  • die groot salarisrekening van die staat lankal besnoei is. Hoe onhanteerbaar dit geëskaleer het, is dit (volgens die Nasionale Tesourie se eie berekening) dat meer as 95% van staatsamptenare meer verdien as die onderste 50% van geregistreerde belastingbetalers. Staatsdienssalarisse, maatskaplike toelaes en rente op staatskuld beloop, volgens prof. Jannie Rossouw – wat op 3 Junie 2020 ’n AB-webinaar toegespreek het – tans meer as 100% van 2020/’21 se belastinginkomste; en
  • ʼn verdere besparing kan verkry word as politici ophou dink aan hul eie beveiliging en die meer as R1,7 miljard wat jaarliks aan baie belangrike persone se beskermingsdienste betaal word, anders aangewend word.

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

Aangesien daar ʼn groot huiwering en onwilligheid by die regering is om iets aan bogenoemde te doen, is die maklike uitweg die Nasionale Tesourie se voorstel vir ʼn eenmalige solidariteitsbelasting, wat ʼn reeds swaarbelaste salaristrekker nog verder sal uitput. In ʼn moontlike verkiesingsjaar sou dit ʼn riskante skuif wees deur ʼn reeds ongewilde regering. Dit verg egter nou kragtige en ongewilde besluite ten einde suksesvol met Covid-19 te handel. Ons wankelende ekonomie steier tans reeds onder ʼn regering wat skynbaar nie ongewilde besluite wil neem nie maar eerder fokus op maklike sigbare teikens.

Afgesien van die nodige ongewilde besluite wat politieke risiko inhou, sou dit verder beteken dat die regering kreatief moet dink om die verkryging en beskikbaarstelling van die entstofprogram te befonds sonder om belasting te verhoog. In dié verband sou ʼn moontlike voorstel kon wees om dan ʼn Covid-19-bonusobligasieprogram te begin.

Hier kan ʼn les uit die verlede geleer word. Verdedigingsbonusobligasies is verkoop (van 1977 tot 1984) om fondse in te samel vir Suid-Afrika se groter wordende verdedigingsdoeleindes en behoeftes. Die Bonusobligasies is ingevolge Wet 66 van 1975 ingestel en hiervolgens kon lede van die publiek die obligasies in R5-eenhede by die poskantoor koop. Hierdeur is die bonusobligasiehouer gewaarborg dat rente van 5% per jaar verdien kon word, vry van inkomstebelasting. Hierdie obligasies kon dan eers ná ten minste ʼn jaar nadat dit uitgereik is, weer afgelos word, maar het broodnodige inkomste aan die staat voorsien vir verdediging. Bo en behalwe die langtermyneffek kon houers van bonusobligasies deelneem aan ‘n maandelikse loting vir kontantpryse. Met ons nasionale lotery ook deesdae onder verdenking, sou ʼn bykomende stelsel wat terselfdertyd beloon deur belastingvrye rente en ook moontlike wengeld dalk ʼn aansporing kon wees vir ʼn onwillige vuisvoos publiek.

In 2019 het die Social Progress Imperative (SPI) — ’n groep van die Harvard-Universiteit in Cambridge, Massachusetts — bevind dat die gebrek aan maatskaplike vordering in Suid-Afrika nie toegeskryf word aan armoede nie, maar eerder aan die onvermoë om sy relatiewe rykdom in vooruitgang te omskep. Dít was voor Covid-19 en toe reeds ’n groot aanklag teen die regering en die bestuur van die land en al sy hulpbronne. Die Covid-19-pandemie het nie ons land se swak plekke blootgelê nie, maar slegs dit wat lank onder die oppervlak gesluimer het op ʼn besondere onsimpatieke wyse ontbloot.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Ons kan praat, kerm, dreig , vele diskoerse hou, sinnelose gesprekke voer tot die koeie huistoe kom!!!!Die ANC regime is diktatoriaal, marxisties ,sosialisties en rassisties en maak soos hul wil en hou ‘n dowe oor vir redelike opinies en versoeke. So, ons mors ons tyd. Dis tyd dat alternatiewes ge-implementer word en die nie-“our people” saam staan en hul ekonomiese magte en kragte as teenvoeter aanwend

Karel Kobus Kruger ·

Dis nie wat die NP en hul Broederbond meelopers in die vroeë negentigs van die ANC gesê het nie.

Strandloper ·

Of….Ons kan ophou kla en kerm en eenvoudig n natuurlike produk gebruik vir persoonlike beskerming naamlik HOCl….so veilig ek spuit dit selfs in my oë…

Vrijburger ·

Jy het ‘korrup’ uitgelos in jou beskrywing van die ANC.

annie ·

Die ANC het nie ‘n tekort aan kreatiewe denke nie, maar dis die duistere aard daarvan wat die kalf in die put laat beland en dis klokslag. Wat van die koste vir bybehore en verkoeling van die entstof plus die betaling van mediese personeel en die vervoer en beveiliging. Dis ‘n hengse klomp geld en daarby die versendingskoste vanaf die buiteland. Vyftig miljard is nader aan die kol en dan moet die uitgawes verbonde aan die kreatiewe denke van die skelms bykom, wat sekerlik reeds ‘n plan of twee veilig gebottel hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.