Covid-19-entstowwe: ‘Merk van die dier’ of God se voorsienigheid?

Deur Gustav Krös van INcontext International

(Argieffoto: Unsplash)

Die afgelope maand is Covid-19-entstowwe druk bespreek. Die debat oor die gebruik van ’n Covid-19-entstof al dan nie, was reeds ’n algemene gesprekspunt nog vóórdat die eerste entstof goedgekeur is. Toe dit egter amptelik goedgekeur is en aangewend word, het die aantal (uiteenlopende) menings, (sosiale media) plasings of opmerkings en redenasies die hoogte ingeskiet.

Die tragiese werklikheid van hierdie hewige debat is dat die Kerk nie ongeskonde gebly het nie – dit het alreeds wydverspreide verdeeldheid, verwarring en vrees by Christene veroorsaak.

“Verdeeldheid”, “verwarring” en “vrees” is egter kenmerke wat nie aan Christene toegeken behoort te word nie. In Johannes 17:20-23 sê Jesus vir ons dat die wêreld op grond van ons eenheid sal weet dat God Hom gestuur het; in 2 Timoteus 1:7 word ons geleer: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (AFR83). Nóg ’n vertaling stel dit so mooi: “God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen.” (ABD07)

Vir Christene is dit ’n daaglikse stryd om “nugter” te bly, aangesien ons in ’n tydperk leef waar ons met inligting oorlaai word – blootgestel aan oorvloedige nuusdekking, fopnuus en “alternatiewe feite”. Elke persoon kan na sy/haar voorkeurnuusbron gaan om die nodige “feite” te kry wat sy/haar standpunt steun. Ongelukkig word baie Christene deur verskillende menings heen en weer geslinger en tans is die COVID-19-entstof op almal se lippe.

Die wetenskaplike aspek

Vir Christene is daar hoofsaaklik twee aspekte aan hierdie saak verbonde: wetenskap en geloof. As ons na die bespreking aangaande entstowwe kyk, is dit ’n baie gespesialiseerde veld waarin die meeste Christene nie onderlê is nie – daarom word ons dikwels so maklik beïnvloed.

Enige persoon wat klink asof hul kennis van entstowwe het, word onmiddellik hoog aangeslaan, omdat die meeste mense niks van die wetenskap aangaande entstowwe weet nie. Ons sit dus met ’n situasie waar enige persoon na vore kan kom en mense se menings beïnvloed, want die meeste mense beskik nie oor die nodige kennis om die argumente te weerlê nie. Met al die gepaardgaande en oorvloedige fopnuus, “alternatiewe feite” en samesweringsteorieë wat so geredelik beskikbaar is, sit ons uiteindelik met verdeelde, verwarde en vreesbevange Christene.

Wanneer ons dié onderwerp bespreek, is dit belangrik om in gedagte te hou dat ons met verskeie Covid-19-entstowwe te make het – ook dat daar nóg meer ontwikkel sal word. Telkens wanneer daar dus een of ander stelling gemaak word ten opsigte van ’n/dié Covid-19-entstof, moet ’n mens jouself vra of dié betrokke aanspraak betrekking het op alle Covid-19-entstowwe wat tot dusver goedgekeur is, of het dit net op sekere, of dalk net een enkele entstof betrekking?

Geaborteerde fetus-argument

Een van die bewerings wat gemaak word, is dat die entstof gemaak word deur die longweefsel van ’n geaborteerde manlike fetus te gebruik. Dit het egter net betrekking op die Oxford AstraZeneca-entstof en is nie van toepassing op die Pfizer/BioNTech- of Moderna-entstowwe nie. Hierdie bewering het in November 2020 die rondte begin doen en is deur verskillende instansies, onder meer die Associated PressReuters, Snopes, FactCheckNI, ensovoorts nagevors en bevind dat dit onwaar is.

Die FactCheckNI-webwerf verklaar (vry vertaal):

Die meeste COVID-19-entstowwe wat tans ontwikkel word, bevat nie menslike sellyne in die vervaardigingsproses nie. Pfizer en Moderna, byvoorbeeld, maak van mRNA-tegnologie** gebruik. Dit is ’n nuwe, sintetiese tipe entstof. Pfizer verduidelik dat mRNA-entstowwe van ’n DNA-templaat** in ’n laboratorium gemaak word en nie in selle soos met die tradisionele metode nie. Die entstof word dan sinteties vervaardig… Die COVID-19-entstof wat deur AstraZeneca, in samewerking met die Universiteit van Oxford ontwikkel word, het die meeste debat ontlok… AstraZeneca het weliswaar die HEK-293-sellyn gebruik om sy entstof mee te ontwikkel. Hierdie selle het hul oorsprong in ’n fetus wat in 1973 in Nederland geaborteer is. Dié fetus is, om ander redes as vir entstofnavorsing, wettiglik geaborteer… Gedurende die daaropvolgende dekades, is hierdie selle menigmaal gekloon en gereproduseer. Dr Paul Offit, ’n inentingskenner van die Philadelphia-kinderhospitaal, wat ook op ’n advieskomitee van die Amerikaanse administrasie vir voedsel en medisyne (FDA) dien, beskryf dit as “gestandaardiseerde sellyne”. Professor Helen Petousis Harris sê dat die selle wat tans gebruik word, “verlangse afstammelinge” van die oorspronklike selle is. Hulle is van aborsies wat dekades gelede reeds afgehandel is en navorsers maak nie van hedendaagse fetale selle gebruik nie. (1)

(Vir die volledige artikel: https://factcheckni.org/articles/covid-19-vaccines-and-aborted-fetuses/ of die Reuters-artikel: https://www.reuters.com/article/uk-factcheck-vaccine/fact-check-lung-tissue-of-an-aborted-male-foetus-is-not-in-the-vaccine-for-coronavirus-idUSKBN27W2I7)

Hoewel die Pfizer/BioNTech– of Moderna-entstowwe geen geaborteerde fetale selle bevat nie, is bevestigingstoetse wel met fetale selle gedoen. Nebraska Medicine het dit soos volg verduidelik:

… nóg Pfizer nóg Moderna se entstowwe het fetale sellyne gebruik tydens die ontwikkelings- of produksiefase. (Met ander woorde, geen fetale sellyne is gebruik om die entstof te vervaardig nie en dit is ook nie teenwoordig in die inspuiting wat jy van jou dokter sal ontvang nie.) Al twee maatskappye het egter die fetale sellyn HEK-293 in die bevestigingsfase gebruik om seker te maak dat die entstowwe werk.” ([2] – op 20 Januarie bygewerk.)

(Vir die volledige artikel: https://www.nebraskamed.com/COVID/you-asked-we-answered-do-the-covid-19-vaccines-contain-aborted-fetal-cells)

“Dit is belangrik om daarop te let dat INcontext nié aborsie goedkeur nié; ons poog egter om Christene van relevante en akkurate inligting te voorsien sodat hulle ingeligte besluite kan neem. Met inagneming van bogenoemde inligting, kan Christene dus van plan verander en besluit dat hulle bereid is om die entstof te ontvang, aangesien hulle nou weet dat babas nie geaborteer word om entstowwe te maak nie; ander Christene kan dalk verkies om eerder die Pfizer/BioNTech-entstof as die Oxford AstraZeneca-entstof te ontvang.”

Wat duidelik uit bogenoemde voorbeeld blyk, is dat ons met veelvuldige entstowwe te make het. Daarom moet veralgemenings oor Covid-19-entstowwe vermy word; waar veralgemening egter wel teëgekom word, is dit belangrik om jouself te vra of die outeur van die boodskap sy/haar navorsing op alle beskikbare entstowwe toegespits het.

Tempo van ontwikkeling

Nog ’n vraag wat gereeld gevra word (en agterdog wek), is hoe wetenskaplikes dit reggekry het om so gou ’n entstof te ontwikkel, as dit gewoonlik jare neem?

Een antwoord op hierdie vraag is dat daar in menseheugenis nog nooit so ’n gesamentlike poging deur verskillende regerings en wetenskaplikes was om ’n entstof te ontwikkel nie. Die feit dat soveel mense saam daaraan gewerk het, het die ontwikkelingsproses geweldig bespoedig. ’n Ander manier om daarna te kyk, is om God se voorsienigheid te erken ten opsigte van die tempo waarteen dit ontwikkel is.

In ’n artikel wat hy op 23 Desember 2020 gepubliseer het, verduidelik Fazale Rana, ’n biochemikus en Christen, hoe die ontwikkeling van die mRNA-entstowwe op navorsing wat reeds in die vroeë 1990’s begin het, gebaseer is.

Hy verklaar (vry vertaal):

“In dié stadium toe die COVID-19-uitbreking tot pandemie verklaar is, het navorsers reeds mRNA-entstowwe vir ’n aantal virale patogene ontwikkel en dit in diermodelle getoets. Hulle het selfs van hierdie entstowwe bevorder tot kleinskaalse kliniese studies op mense, wat veiligheidsassessering ingesluit het…

“In presies dieselfde stadium as wat die COVID-19-uitbreking begin het, was ons letterlik op die punt om mRNA-entstowwe te promoveer na grootskaalse kliniese proewe op mense. Indien hierdie uitbreking selfs net enkele jare vroeër plaasgevind het, twyfel ek of ons in staat sou wees om effektiewe mRNA-entstowwe teen COVID-19 teen dieselfde tempo sou kon ontwikkel, of dat ons die vermoë sou hê om groot hoeveelhede entstowwe te vervaardig sodra die mRNA-entstof gereed was. Die vinnige reaksie op die COVID-19-pandemie is moontlik gemaak deur die vordering wat die afgelope paar jaar in mRNA-entstowwe gemaak is; hierdie vooruitgang het gelei tot die tegniese kennis wat nodig is om mRNA-entstowwe vinnig te ontwikkel en te vervaardig. Sommige biomediese wetenskaplikes beskou mRNA-entstowwe juis om hierdie rede as die ideale entstowwe.

“As Christen en biochemikus kan ek nie anders as om God se voorsienigheid in die tydsberekening van die COVID-19-uitbreking te erken nie. Dit het plaasgevind presies op die tydstip wat sodanige vordering gemaak is op die gebied van mRNA-entstowwe, dat ’n vinnige reaksie nou moontlik is. Die merkwaardige samevloeiing van die COVID-19-pandemie met die vooruitgang gemaak in mRNA-entstowwe, het een van twee moontlike verklarings: dit is óf ’n toevallige ongeluk, óf dit is ’n weerspieëling van God se voorsienige tydsberekening en troue voorsiening aan die mensdom.

As Christen kies ek laasgenoemde verklaring. ’n Mens kan sê dat mRNA-entstowwe vooraf voorberei is vir ’n tyd soos hierdie.” (3)

(Vir die volledige artikel: https://reasons.org/explore/blogs/the-cells-design/read/the-cells-design/2020/12/23/the-covid-19-vaccines-and-god-s-providence)

Ons moet erken dat daar onder die wetenskaplikes wat aan entstowwe werk, ook Christen-wetenskaplikes is wat baie hard werk in die posisies waarin God hulle geplaas het om die mensdom in hul tyd van nood te help. God het Christene nog altyd in die mediese veld geplaas om mense te help. Lukas, wat die Evangelie van Lukas en Handelinge geskryf het, was ’n geneesheer en in die verlede was daar talle sendelinge (sowel as in die hede) wat as mediese praktisyns die sendingveld betree het om God se liefde en sorg deur die gawe van genesing aan die mensdom te betoon.

Op dieselfde manier het God sommige van sy kinders geposisioneer en toegerus om entstowwe ten bate van die mensdom te ontwikkel. Dit sou ’n verskriklike skande vir die Kerk wees as ons glo dat al hierdie verskillende wetenskaplikes, van oor die wêreld heen, wat vir verskillende farmaseutiese maatskappye werk, dit om “bose” redes doen, in plaas daarvan om hul harde werk en God se soewereine hand in dié tydige voorsiening te erken.

Ander bekommernisse

Nog ’n baie omstrede debat fokus op die oorsprong van die virus: of dit mensgemaak is en of dit ’n natuurlike oorsprong het. Wat ons egter nie kan ontken nie, is dat die virus ’n werklikheid is – dit maak mense siek en mense sterf. Daar is ook baie ander geldige vrae, soos hoe aansteeklik die virus is, die tempo waarteen dit muteer en die langtermyngevolge waarmee baie mense daarná sukkel.

Dit plaas elkeen van ons in ’n verantwoordelike posisie, aangesien m‎‎ý‎ besluite tot die dood van iemand anders kan lei – daarom moet die besluit om ingeënt te word al dan nie, nie ligtelik opgeneem word nie.

Die geloofsaspek

Vir Christene is daar ook ’n geloofsaspek wat ons in gedagte moet hou voordat enige dusdanige besluit geneem word. Vanuit ’n geloofsperspektief, is een van die redes waarom Christene huiwerig is om die entstof te ontvang, as gevolg van die bewering dat die entstof die “merk van die dier” is wat in Openbaring 13 beskryf word.

Sodra ’n mens na die boek Openbaring verwys, stuit ’n mens voor ’n soortgelyke gevaar wat vroeër genoem is met betrekking tot die vervaardiging van entstowwe: net soos daar verskillende metodes is om entstowwe te maak, is daar ook ’n menigte interpretasies van Openbaring. Hierdie interpretasies is so wyd uiteenlopend dat baie Christene dit glad vermy om dié boek te lees – hulle sukkel met die simboliese taal en weet nie watter interpretasie om te vertrou nie. Net soos baie mense bykans alles glo wat hulle oor entstowwe hoor/lees omdat hulle dit nie verstaan nie, glo baie ook bykans enige interpretasie van Openbaring omdat hulle dit nie verstaan nie.

Soos die mense van Berea in Handelinge 17:11 die Skrif ondersoek het om te sien of Paulus die waarheid praat, moet Christene ook reg deur hul lewe die Skrif ondersoek om dít wat aan hulle vertel word, te toets.

In hierdie geval is die boek Openbaring van uiterste belang, want selfs in Openbaring 13:14 word ons gewaarsku oor misleiding gedurende die “eindtyd”; in Matteus 24:4-5, 24, waarsku Jesus ons self oor misleiding gedurende die “eindtyd”. Die enigste manier waarop Christene hulself teen misleiding kan beskerm, is om die Skrif sélf te ken en te ondersoek.

Ondersoek die Skrif

Waarom kan die Covid-19-entstof dan nie die “merk van die dier” wees, soos in Openbaring 13:16-18 vermeld word nie? Eerstens het Openbaring ’n tydlyn – baie gebeure moet plaasvind voordat ons by die “merk van die dier” kom. Een belangrike gebeurtenis wat byvoorbeeld eers moet plaasvind en tot dusver nog nie plaasgevind het nie, is die totstandkoming van die “beeld van die dier” wat mense gedwing sal word om te aanbid, soos omskryf in Daniël 9:27, 11:31, 12:11, Matteus 24:15 en Openbaring 13:14-15. Eers hierná sal die “merk van die dier” bekendgestel word.

Tweedens word verklaar dat die “merk van die dier” aan die regterhand en op die voorkop van mense aangebring sal word. Die werklikheid is dat mense wat ingeënt word, nie aan die regterhand en voorkop gemerk word nie

Derdens lui dit dat mense nie in staat sal wees om te koop of te verkoop nie, tensy hulle die “merk van die dier” het. Mense wat nie ingeënt word nie, kan steeds koop en verkoop soos hulle wil.

Vierdens lui dit dat mense gedwing sal word om die “merk van die dier” te aanvaar; die waarheid is dat mense vry is om te besluit of hulle ingeënt wil word of nie.

Daarom, op grond van dit wat ons in die Bybel oor die “merk van die dier” lees, is daar geen direkte korrelasie tussen die “merk van die dier” en die Covid-19-entstowwe nie.

Romeine 8 beklemtoon dat ons redding gekoppel is aan die werk van die Gees en nie aan ons liggame nie. Romeine 8:11 sê: “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook jul sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” (AFR83). Niks wat ’n entstof aan jou liggaam kan doen, kan jou redding van jou wegneem nie. Romeine 8:38-39 sê: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (AFR83).

Aangesien entstowwe deur die mens gemaak word, is dit nie in staat om jou redding van jou weg te neem nie. Openbaring 13:15 verduidelik dat diegene wat weier om die beeld van die dier te aanbid, doodgemaak sal word. Dit dui daarop dat jy bewustelik sal moet besluit om Christus te versaak en “die dier” te aanbid. Dit herinner ons ook dat die duiwel die vernietiger van lewe is, terwyl entstowwe ontwikkel word om lewe te bewaar. Niks sal die duiwel gelukkiger maak as dat meer mense aan Covid-19 sterf nie. Deur die toediening van ’n effektiewe entstof sal mense se lewens egter behoue bly, en hulle sal genade ontvang om op die Evangelie te reageer en gered te word.

Ondersoek jou hart

Die vraag wat gelowiges hulself moet vra, is of al hierdie samesweringsteorieë rondom Covid-19 en die entstowwe, die DNA van hul harte verander het? Het die blootstelling aan en geloof in hierdie boodskappe verdeeldheid tussen jou en familielede meegebring? Het dit verwarring gebring? Het dit ’n gees van vrees in jou geplant? Miskien oorheers daardie “gees van vrees” nog nie jou lewe nie, maar die vraag is of dit geplant is, het dit vastrapplek gevind?

Aan die begin van hierdie artikel is verwys na 2 Timoteus 1:7: “God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen.” (ABD07). Geld dit vir jou? Staan jy nog steeds vas in die krag van die Gees? Of het vrees oor wat die toekoms inhou, in een of ander vorm in jou begin posvat?

Leef jy nog steeds in die Gees van liefde? Dit is as gevolg van ons liefde vir ons naaste dat ons maskers dra, ons hande ontsmet en sosiale afstand handhaaf. Dit is nie net om onsself uit selfsug te beskerm nie, maar ook om ons familie, vriende en almal wat my “naaste” is, te beskerm.

Het jy “gesonde verstand”, of weet jy nie meer wat om te glo nie? As jy twyfel, spandeer tyd saam met die Here deur self die Skrif te bestudeer en die Here om wysheid te vra, soos ons in Jakobus 1:5 daaraan herinner word: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (AFR83).

Gevolgtrekking

Die doel van hierdie artikel is nie om Christene te oortuig om ingeënt te word nie. Dit is geskryf om Christene in te lig dat hulle in werklikheid ’n keuse het of hulle ingeënt wil word of nie, aangesien soveel boodskappe gesirkuleer word om Christene te oortuig om nié ingeënt te word nie.

Die feit is dat ons te doen het met besluite wat tot lewe of dood kan lei, en daarom moet boodskappe oor Covid-19-entstowwe nie ligtelik opgeneem word nie. Ondersoek asseblief eers bewerings wat in boodskappe wat u ontvang, gemaak word voordat u dit net eenvoudig aan ander stuur.

Daar is baie ander vrae en teorieë aangaande die entstowwe wat ter wille van die lengte van hierdie artikel nie bespreek is nie. Die punte wat egter wel aangeraak is, is dié wat geag word die meeste gewig te dra om mense te verhoed om goeie oorweging te skenk aan inenting.

Mag hierdie debat ons tot gebed, die bestudering van die Skrif en die verdieping van ons verhouding met Christus dring, terwyl ons oorweging skenk daaraan om ingeënt te word of nie.

Bronne: 

  1. https://factcheckni.org/articles/covid-19-vaccines-and-aborted-fetuses/
  2. https://www.nebraskamed.com/COVID/you-asked-we-answered-do-the-covid-19-vaccines-contain-aborted-fetal-cells
  3. https://reasons.org/explore/blogs/the-cells-design/read/the-cells-design/2020/12/23/the-covid-19-vaccines-and-god-s-providence

Voetnota:

** Vir die doel van hierdie artikel en om verwarring te voorkom is die Engelse afkorting “DNA” nie met die Afrikaanse afkorting “DNS” vertaal nie en “mRNA” nie met “bRNS” nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.