Covid-19 – ʼn nabetragting

(Argieffoto)

Noudat ongeveer 30 maande verloop het sedert Covid-19 uitgebreek het en almal in die wêreld se lewens erg beïnvloed is, is dit ʼn goeie tyd om nabetragting te hou en na die internasionale impak en lesse van die uitbreking te kyk.

Hoewel Covid-19 hom nog steeds wêreldwyd uitwoed, het die lewe in die meeste lande weer amper na normaal teruggekeer. Die skielike oornag se terugkeer na normaliteit laat ook meer vrae as antwoorde. Die effek van die instel van inperkings en maatreëls sal egter nog lank met ons bly.

Inperkings

Só het die N1-hoofweg in Pretoria op 30 Maart 2020 gelyk (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Toe Covid-19 aan die begin van 2020 uitgebreek het, het die Chinese propagandamasjien wêreldmening erg beïnvloed. In die vroeë dae van die uitbreking van Covid-19 (toe nog die koronavirus genoem) het mense spontaan neergeslaan in China se strate, oënskynlik weens die siekte. Beeldmateriaal daarvan het versprei en die vrees dat die koronavirus ʼn soortgelyke impak as die Spaanse griep (1918-1920) sou hê, is sondermeer aanvaar.

Ons weet egter steeds min van die ontstaan van die virus en China se rol daarin. China, wat ten alle koste die siekte wou uitroei, se metodes daartoe het egter binne ʼn paar weke versprei en amper alle regerings het mense verplig om soos veroordeeldes in aanhouding in hul huise te bly. Die tyd van Covid-19-inperkings het begin, en dit kom selfs nou nog sporadies voor.

Hoewel baie mense tans beweer dat hulle teen sulke maatreëls gekant is/ was, was daar destyds amper eenstemmigheid oor 14 tot 21 dae van afsondering (wat toe maande geword het). Hierdie inperkings het in beide ontwikkelde en ontwikkelende lande voorgekom.

Die staat het bepaal wat noodsaaklike en nie-noodsaaklike items en besighede was. Groot maatskappye was noodsaaklik maar klein maatskappye, wat in meeste gevalle dieselfde produkte of dienste gelewer het, was nie noodsaaklik nie. Maskers moes deur almal gedra word, ongeag die effektiwiteit daarvan of die impak daarvan op veral kinders. Gou het klein diktatortjies wêreldwyd die situasie begin manipuleer en besluit wat mense, wat basies in aanhouding in hul huise was, mag koop en nie mag koop nie. Terloops, dit geld nie net in Suid-Afrika waar absurde reëls toegepas is nie, maar ook in sogenaamde Westerse demokrasieë.

Die enigste kontinent wat tot ʼn mate drakoniese maatreëls vrygespring het, was Afrika. Lewe in die armer gebiede het maar min of meer voortgegaan soos gewoonlik. Verstommend genoeg was Afrika ook die kontinent wat, teen die destydse voorspellings, in die proses die minste lewens verloor het.

Vrees

(Argieffoto: Ronny Hartmann/AFP)

ʼn Ongekende vrees het in die meeste lande posgevat. Alle regerings het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se pandemiemaatreëls aanvaar. Die media het ingeval en die vrees tot ongekende hoogtes gevoer. Wie kan vergeet die “telkaart” in koerante, op TV en oor die radio en sosiale media van mense wat Covid-19 onder lede het, die besmettingsfaktor en natuurlik die dodetal? Dood en vrees het alle beriggewing oorheers.

Dit kan nie ontken word dat mense van die siekte dood is nie – dit is natuurlik vir elke familie ʼn tragedie in die kleine. Wat wel hier ter sake is, is hoe die massa- en sosiale media saamgewerk het om histerie te bevorder.

Ons sal ook nooit werklik weet hoeveel mense van Covid-19 gesterf het nie. Amptelike syfers (soos teen einde Augustus) op die webwerf www.worldometers.com, verwys na oor die 600 miljoen gevalle van Covid-19, met 6,4 miljoen sterftes.

Hoewel die gevalle tans nie meer soveel aandag geniet nie en koerante en TV nou nie meer telling hou nie, is daar daagliks steeds wêreldwyd ongeveer 500 000 plus gevalle van Covid-19 en ongeveer 1 000 mense per dag wat daaraan sterf. Sowat 24 maande terug het sulke syfers almal in ʼn toestand van paniek gehad.

Wat ons egter ook nie weet nie, is in watter mate hierdie syfers gemanipuleer is/ was en hoekom, aangesien daar baie gevalle van sterftes van Covid-19 op doodsertifikate is waar families hoog en laag sweer dis nie korrek nie. Gevolglik is die syfers in ʼn groot mate onder verdenking.

Inentings

(Argieffoto: Unsplash)

Die volgende fase was die inentingsfase. Binne enkele maande het groot farmaseutiese maatskappye skielik amper op dieselfde tyd ʼn inenting teen Covid-19 gereed gehad. Aangesien dit gewoonlik jare neem om so ʼn entstof te ontwikkel, was daar nie oral entoesiasme oor die entstof nie.

Nietemin het gretige regerings die inentings aangekoop en die media insgelyks ingekoop daarin dat inentings amper in alle gevalle Covid-19 sal voorkom. Teen die tyd dat massaveldtogte van stapel gestuur is om inentings wêreldwyd toe te dien (begin 2021), het president Joe Biden van die VSA beloof dat ʼn inenting beslis dood sou voorkom. Biden het as hoof van die Westerse wêreld en die meestal Amerikaanse maatskappye wat die inentings vervaardig het, sekerlik die morele gesag gehad om sulke uitsprake te maak.

Die inentingsfase het egter ʼn nuwe stryd begin, die tussen die ingeëntes en die oningeëntes – laasgenoemde wat nou as “anti-vaksineerdes” beskuldig is. Aangesien regerings die inentings met entoesiasme bevorder het, het die media ook mense aangemoedig om Covid-inspuitings te kry. Die meeste mense het net gehoop dat dit die pandemie sou beëindig en dat die wêreld weer na normaal sou terugkeer.

Sterftes in die Weste en elders het egter nie dramaties gedaal nie, ten spyte van aannames en uitsprake oor die effektiwiteit van die inentings. Aangesien die uitbreking van Covid-19 in siklusse (golwe) plaasgevind het, is gou afleidings gemaak dat die Covid-19-inentings werk, net om maande later weer vasgevang te word in erge stygings in geïnfekteerdes. Die twee kampe (vir- en teen-inentings) het nou in ʼn daaglikse woorde-oorlog betrokke geraak.

Insgelyks het mense wat teen die (teen hierdie tyd) verpligte inentings gekant was, hul gewend na alternatiewe middels soos Ivermektien. Alternatiewe menings en uitsprake oor die effektiwiteit van die inentings is (en word steeds) nie verdra nie.

Wat presies die impak of die gebrek aan impak was van die entstof of die gebruik van alternatiewe sal ons ook nooit weet nie. Ons kan aanvaar dat die inentings wel lewens gered het, terwyl die wat nie ingeënt is nie, nié in miljoene omgekom het soos voorspel is nie – of kan aanspraak maak dat alternatiewe medikasie ook gewerk het.

Menseregteskendings

Honderde betogers wat teen afsonderingsregulasies gekant is, het op 24 Julie die strate van Sydney binnegevaar (Foto: Steven Saphore/AFP)

Die hoop wat entstof gebring het, het vinnig ontaard. Skielik het regerings mense verplig om die entstof te neem. Dié wat die mandaat van regerings ondersteun het, het aangedring dat Covid-19 nou slegs beëindig sal word indien almal ingeënt sou word. Groot maatskappye het mandate afgedwing op hul werkers en dit was ook haas onmoontlik om te reis, terug te gaan skool toe, geleenthede (soos sportwedstryde) by te woon of selfs openbare vervoer te gebruik sonder inentings. Oningeëntes is as uitgewekenes beskou en ingeëntes was bang dat eersgenoemde die ingeëntes sou besmet. Terselfdertyd het die effektiwiteit van die inentings onder verdenking gekom weens die feit dat ingeëntes steeds die siekte gekry het.

Die impak op mense se menseregte en bewegingsvryheid was egter ongekend. Behalwe die inperkings, wat as effektiewe bevegting van die virus oënskynlik weinig impak gehad het, het drakoniese maatreëls in lande soos Frankryk, Kanada, Brittanje, Australië, Italië, Nederland en Nieu-Seeland tot massabetogings gelei, wat brutaal onderdruk is. Terwyl Suid-Afrika belaglike reëls en regulasies (soos verbode rook en die toemaak van strande) gehad het, het meer effektiewe regerings in daardie lande die reëls baie nougeset afgedwing. Dit was gevolglik in baie gevalle moeilik om te onderskei tussen die afdwing van reëls byvoorbeeld in ʼn diktatuur soos China en dié in Nieu-Seeland.

Ten spyte van hierdie ongekende menseregteskendings, inperking van mense en gedwonge inentings, het die stryd teen Covid-19 baie meer waarde gedra as individuele vryhede, waarop die Westerse demokrasieë gebou is. Die skade aan demokrasie, die rol van die media om dit af te dwing en die stilswye van menseregte-organisasies, is tekenend van ʼn snelle kwyn van individuele vryhede. Dit sal beslis in die toekoms ʼn rol speel hoe regerings teenoor hul bevolkings gaan optree en mense se aanvaarding van outokrasie gedryf deur vrees.

Ekonomiese en psigologiese impak

(Foto: pixabay)

Die impak op die wêreldekonomie is steeds nie ten volle verreken nie. Regerings se optrede in meeste lande het tot ʼn groot verarming (van armes asook die middelklas) gelei. Stimuleringspakkette wat regerings orals uitgedeel het, het hoë inflasie aangewakker. Daarenteen het die miljardêrs van die wêreld ontsaglike rykdom verkry, aangesien stimuleringspakkette in baie gevalle eerder op aandele en luukse goedere spandeer is. Farmaseutiese maatskappye het fabelagtige winste getoon as gevolg van die verkoop van entstowwe aan regerings.

Die psigologiese impak van die inperkings op mense is ook nog nie verreken nie. Dat geestesiektes toegeneem het en vir dekades nog ʼn impak op mense sal hê, is redelik seker en het moontlik reeds tot heelwat sterftes gelei.

Die reaksie op die Covid-19-uitbreking, in plaas van Covid-19 self, het gelei het tot armoede, die sluiting van honderdduisende klein besighede, die afskaling van menseregte en demokratiese waardes, asook tekorte in produkte weens waardekettings wat nog nie herstel is nie. Terselfdertyd het regerings hul magsposisie teenoor hul bevolkings versterk. In die toekoms gaan vergrype deur regerings dus genormaliseer word en aangedryf word deur vrees vir byvoorbeeld klimaatsverandering of nog pandemies, met ʼn gewillige vennoot in die massa- en sosiale media.

Dis belangrik dat gemeenskappe nabetragting hou oor vergrype en propaganda tydens Covid-19, voordat individuele vryhede verder kwyn of selfs verdwyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Autobahn ·

Dankie vir die nabetragting!
Ook die vereensaming van veral ouer mense en die effek van maskers op kinders, was en is mense-veragtend en krimineel.
Om nie die geldgiere en meeloper dokters te vergeet wat ywerig ingeënt en saam verdien het nie.

Treurwilger ·

Skitterend opgesom, Nico Stegmann!
Die histeriese reaksie op Covid19 en die diktatoriese maatreëls daarteen sal vir ewig ‘n skandvlek op die sogenaamde moderne samelewing van die 21ste eeu wees.
Om te dink mense is verbied om hul sterwende ouers te groet op hul sterfbeddens, om maar één gruwelikheid te noem.

George ·

Om te dink toe het niemand geweet hoe die virus gaan reageer nie, onthou hoe mense in italie een na die ander gesterf het in die strate. Ek persoonlik ken 3 wat dood is agv covid, die mense wat se dit was net n griep is blind.

Treurwilger ·

George, jy is natuurlik geregtig daarop om jou opinie oor die artikel te lewer.
Doen dit gerus sonder kommentaar oor andersdenkende lesers se menings. Dankie.

Human ·

Jy praat die waarheid. Daar is altyd die beterweters wat dink hulle het die insig en waarheid in pag.

MakersMark ·

Stem saam. Baie lewens verloor deur valse informasie en bygelowe.

Schalk ·

Dit het meer verskille om die braaivleisvuur veroorsaak as Rugby , Poletiek of Godsdiens. Vriendekringe het opgebreek en wat jy ookal geglo of nie geglo het nie is vandag nog debateerbaar, Die skade het almal geraak in een of ander vorm en mens net weer laat besef hoe maklik jou drome en verwagtinge kan verander deur reeling , regulasies en propoganda.

VaalDonkie ·

Sjoe, dis mos nou hoe berigte (oftewel ‘n verslag) geskryf behoort te word: gee die oorsig en die feite en hou jou opinie vir jouself. Welgedaan. Dit is ‘n baie goeie samevatting van die afgelope 30 maande.

Koos 100 ·

Goeie artikel.
COVID het baie meer mense se lewens verwoes as wat dit mense gedood het.
Belasting betalers in SA gaan aanhou betaal totdat die huidige regerende party uit die kussings gelig word. Die R350 is mos nou permanent.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit het wêreldwyd gebeur en is verseker ‘n nuwe laagtepunt in ons moderne beskawing. Werkers wat weier is maklik afgedank.

Miskruier ·

Ons is n ” nugter” nasie, ek staan verstom hoe familie in Europa en Australie nog steeds nie wil insien dat ons nog steeds leef en gedy hier in Suid Afrika. Hul kan nie gou genoeg gaan tou staan vir die volgende spuit en raai, hul het almal covid gekry, o…maar ons sou dood gewees het daarzonder! As God wou hê dat ek aan covid sterf, sou dit gebeur het. Ek plaas my gesondheid in God se hand en nie in die hand van fabelagtig ryk Big Pharma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.