Covid-19 verander SAL-prentjie drasties

Deur Gabriel Crouse

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Regeringsbesluite met betrekking tot die Suid-Afrikaans Lugdiens (SAL) kan ’n goeie aanwyser wees van sy reaksie teenoor die dubbeldoorkrisis van die Covid-19-pandemie en die nasionale skuldvalstrik wat die verwagte ekonomiese inkrimping oor die komende jaar grotendeels sal definieer.

Soos Sikonathi Mantshantsha van Business Maverick in November 2019 opgemerk het: “Staking teen die beperking (van SAL) is ’n volmagstryd om die wilskrag van die regering in sy volgehoue pogings om die ekonomie weer op koers te bring, te strem… Enige teken van swakheid aan die regering se kant, sal tot die laaste druppel uitgebuit word.”

Mantshantsha noem voorts dat die somtotaal van finansiële inspuitings wat in geouditeerde verslae tussen 1994 en 2019 opgeteken is, toon dat die SAL altesaam R57 miljard op hierdie wyse van die regering ontvang het. Dit is sowat R1 000 per Suid-Afrikaner – genoeg om ’n goedkoop vliegkaartjie van Johannesburg na Kaapstad te koop – hoewel die getal Suid-Afrikaners wat nog nooit per vliegtuig gereis het nie, onbekend bly.

Maar selfs hierdie feite is ’n onderskatting van hoeveel kapitaalinspuitings die SAL ontvang het. In 2008 het die privaat en kompeterende lugredery Kulula.com sy verontwaardiging oor die hoeveelste finansiële hupstoot vir die SAL/Mango uitgespreek. In dieselfde jaar is R15 miljard reeds gebruik om die SAL “te red”, met ’n addisionele R6,5 miljard geallokeer vir hierdie doel. Indien hierdie bedrag (R21,5 miljard) van 2008 teen inflasiekoers bereken word, verander dit na ’n skokkende R36,5 miljard, hoewel dit ’n hopelose onderskatting is aangesien baie van die kapitaalinspuitings reeds voor 2008 ontvang is.

In 2017 het die SAL-groep 10 071 mense in diens gehad. Die administrasie was egter so stelselloos dat daar sedertdien geen jaarlikse verslag uitgereik is om meer onlangse data te publiseer nie.

Mantshantsha het beweer dat daar teen die einde van 2019 “’n stryd was om die voorgestelde personeelaflegging van 994 werknemers by die lugredery te keer”, wat “die eerste skermutseling sou wees om te keer dat dieselfde by Eskom, Denel, PetroSA en die SAUK gebeur.

Hoe dit ook al sy, die stryd was nie tussen die vakbonde en ’n hervormingsgesinde regering nie. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings en pres. Cyril Ramaphosa het beide hul versekering gegee dat daar geen afleggings of selfs loonbevriesings by Eskom sal wees nie. Slegs die minister van finansies, Tito Mboweni, het dit pragmaties gestel dat daar “geen heilige koeie” tussen die verliesmakende staatsbeheerde entiteite (SBE) mag wees nie.

Die werklike stryd voor die Covid-19-pandemic was tussen pragmatiese Suid-Afrikaners met ’n waardetoevoegingsbenadering en diegene wat SBE’e bedryf het as ’n ondersteuningsnetwerk in ruil vir leenpligtigheid en “eenheid”.

Werknemers van SBE’e word self geraak deur hierdie stryd. Vir baie is daar nou die hopelose vooruitsig om hul professionele lewe en kundigheid te gee om as skoonmakers, dienspersoneel, vlugpersoneel, kombuispersoneel, werktuigkundiges en petroljoggies te werk – dit terwyl swak bestuur veroorsaak dat hierdie mense se toegewyde arbeid op veelvuldige en onvolhoubare verliese uitloop. Onder beter bestuur, egter, kan werkers met waardigheid bydra tot maatskappye wat diens eerder as netto verlies voorstaan.

Daar is drie argumente om met kapitaalinspuitings vir die SAL voort te gaan – soos reeds teen die einde van Januarie 2020 gebeur het met nog R3,5 miljard wat bewillig is.

Die eerste argument is dat die SAL ’n voortgesette, bruikbare logistieke funksie sal voorsien. Hierdie argument geld nie meer nie weens die sluiting van alle internasionale- en streekvlugte. Hierbenewens het die vraag na binnelandse vlugte verminder deur sosiale distansiëring wat kompeterende lugrederye toelaat om die agterstand in te haal.

Tweedens, volgens die argument van Ramaphosa dra SAL swaar aan die skuldlas wat met die verkoop van die lugredery onmiddellik gedelg sal kan word. Dit, sê Ramaphosa, mag selfs die insinking van ons fiskus tot gevolg hê.

’n Reuters-verslag van 2019 toon dat die SAL se skuld R12,7 miljard beloop en volgens die SAL se jongste finansiële verslag is sy jaarlikse inkomste R30,7 miljard.

Dus, toe Ramaphosa twee jaar gelede gesê het dat “indien jy die SAL vandag moet verkoop, jy niks daarvoor sal kry nie, trouens, jy sal iemand miljarde moet betaal net om daarvan ontslae te raak”, skets ’n donker prentjie van die regering se eie vermoë om kompeterende transaksies te onderhandel.

Dit sal egter die sakereddingspraktisyns wees, en nie die regering direk nie, wat so ’n transaksie sal fasiliteer. Dit blyk dat die DA die saak uit ’n meer praktiese oogpunt beskou en likwidasie voorstel sodat die “kapitaalinspuitings van miljarde” eerder aangewend kan word vir die Covid-19-pandemie se negatiewe effek.

Selfs al sou die SAL met sy skuld en inkomste uit die verkoop van bates, weggee word, sal dit die regering van toekomstige verpligtinge om die maatskappy finansieel te help, losmaak en so geleenthede skep om die geld beter en meer direk aan te wend vir individuele Suid-Afrikaners wat hulp dringend nodig het.

Die derde argument om die SAL in die lug te hou, is dat wydverspreide afleggings die ekonomie sal benadeel. Hier het Covid-19 egter die vergelyking weer eens drasties verander.

Suid-Afrikaners kan massa-afleggings verwag weens ’n superinkrimping van die aandelebeurs (soveel as R2,3 triljoen is van die Johannesburgse Effektebeurs [JE] afgevee), ’n aansienlike val van die rand se waarde en ’n wêreldwye ekonomiese depressie. Dit is waarom die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV) meen dat dit nou die tyd is om werkloosheidsvoordele uit te brei om die inkomste van dié wat hul werk gaan verloor, te behou en om nuwe werkgeleenthede te soek in ’n fundamenteel gewysigde ekonomiese klimaat.

Kom ons stel dit anders – sal jy eerder aanhou om werknemers te betaal om by maatskappye te werk wat nie behoorlik funksioneer nie – nie eens tydens goeie tye nie? Of verkies jy om eerder geldelike hulp te gee aan desperate en ywerig gemotiveerde Suid-Afrikaners sodat hulle geleenthede kan soek waar die hoop op wins realisties is.

Die antwoord hierop blyk eenvoudig te wees. Soos in die die Verenigde Koninkryk, behoort Suid-Afrika hierdie geleentheid te gebruik om die definisie en die omvang van werkloosheidsvoordele wat betaal moet word deur likwidering van bates wat lank reeds wanbestuur is, uit te brei. In ’n tyd van krisis is die enigste ander opsie om die pensioenkas te stroop – iets waarvoor Ramaphosa “ten gunste” was, met die insluiting van privaat pensioene. Maar dit sal die situasie net vererger.

Kortom: ons het nie nodig om die SAL te red nie, maar wel alle Suid-Afrikaners wat die hulp nodig het.

  • Gabriel Crouse is ’n ontleder en skrywer by die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV)

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC Venter

So gaan Korona Covid vir nog baie waarhede sorg, dat die mens gedwing word om die realiteit in die oë te kyk, herbesin hoe hy dinge doen, prioriteite herrangskik, ook as gevolg van die ekonomie wat gaan krimp en daar nie geld gaan wees wat die ANC-regering kwistig mee kan handel nie, as daar eningsins sal wees, mag Korona Covid ook vir die einde van die ANC se ideologie verantwoordelik wees.

Bloedhond

Dit is vir my baie goeie nuus!