Curriebeker: ‘n Taai stryd lê voor

haaieDie spanning is gebreek. Na twee skitterende wedstryde in die halfeindstryd weet ons nou wie dit gaan uitspook om die hoogste louere.

Die eerste wedstryd tussen die Bulle en die Sharks in die Shark-tenk was hard, opwindend en eensydig. Die Bulle is vroeg reeds in ʼn wurggreep vasgevang (of moet ons sê in ʼn Witdoodshaaibyt) en hulle het net nooit laat los nie.

Albei spanne het in die eerste twintig minute briljante rugby gespeel gegewe die reën en die swaar veld.

Alhoewel die Bulle met passie gespeel het, het hulle nooit in ʼn posisie gekom om punte aan te teken nie. Patrick Lambie daarenteen, het met gereelde klokslag die telbord aan die rol gehou. Die Bulle het moedig probeer maar die stadige gif van uitmergelende meedoënlose voorspelerspel het hulle algaande meer op die agtervoet geplaas.

Die Bulle was ook hulle eie grootste vyand want hulle het al swakker begin hanteer.

Hoe goed die Sharks regtig was, is bewys toe Morné Steyn eers in die 61ste minuut met ʼn strafskop vir die Bulle kon punte aanteken. Toe Lwazi Mvovo in die 73ste minuut die eerste drie van die wedstryd druk, was dit duidelik dat die Haaie in die eindstryd sal wees.

Afhangende van watter span jy ondersteun, sal daar seker in ʼn mindere of meerdere mate kritiek op die skeidsregter wees. Die Bulle se frustrasie met Mike Lawrence se hantering van die wedstryd het vroeg-vroeg al duidelik geword. Om die skeidsregter te blameer vir jou eie swak vertoning is egter nooit geregverdig nie.

In die tweede halfeindstryd op Coca-Cola-park het die weersomstandighede ook ʼn rol gespeel. Die veld was nat en ʼn stuifreën het kort-kort uitgesak.

Katrakillis het die WP in die derde minuut laat voorloop en in die 4de minuut is Gerhard van den Heever van die WP met ʼn geelkaart van die veld af gestuur omdat hy die bal doelbewus naby sy eie doellyn uit die veld geklap het.

Die betroubare skopskoen van Elton Jantjes het hom in dié kritieke wedstryd in die steek gelaat want hy het met twee strafskoppe misluk wat vir hom normaalweg maklike skoppe sou wees.

Die wedstryd was baie meer gelykop en eers in die 50ste minuut toe Michael Rhodes, die nommer 4-slot van die Leeus, onder die pale gaan druk het, het dit begin lyk of die WP se einde aangebreek het, want toe is die Leeus 13-6 voor en in beheer van die wedstryd.

Die onbesonge pak voorspelers met Duane Vermeulen, Springbok-agsteman, en Eben Etsebet, die 20-jarige slot van die WP, het egter ander planne gehad.

Hulle het gesorg vir vinnige balbesit wat tot Joe Pieterse se drie gelei het. Die telling ná die mislukte verdoelpoging was 13 -11 in die guns van die Leeus. Kort daarna loop die WP weer voor na ʼn strafskop deur die einste Joe Pieterse. Wéér verander die telling in die Leeus se guns na ʼn strafskop van Jantjes in die 78ste minuut van die wedstryd. Die telling 16-14 in die guns van die Leeus. Met nog net 90 sekondes speeltyd oor het almal gedink dat die wedstryd verby was. Die WP het egter nie so gedink nie. Met ʼn skitterende dryfmaalbeweging van ʼn lynstaan af, het hulle vir 25 meter die Leeus oorhoops gehad en in die 80ste minuut van die wedstryd het Duane Vermeulen die wendrie gedruk en die verslae Leeus kon dit nie glo nie. Die eindtelling was 21-16 in die WP se guns.

Nou is die tafel gedek vir die eindstryd tussen die twee kusspanne wat beloof om ʼn harde en meedoënlose wedstryd te wees.

Om ʼn voorspelling op die wedstryd te waag sal voorbarig wees, maar ek sal die Sharks met die tuisveld voordeel tog as die gunsteling vir die titel beskou.

Wat die relegasiewedstryd tussen die Cheetahs en die Kings betref is die gaping tussen die Curriebeker en die eerste divisie van die reeks baie duidelik beklemtoon. Met die oorwinning van 53 -14 oor die Kings op die Vrystaat-stadion kan ek nie indink dat die Kings eerkomende naweek die Cheetahs met ʼn punteverskil van 40 punte kan klop nie. My voorspelling is dat die Cheetahs in die Curriebeker sal bly en die Kings laaste op die Super 15 punteleer sal eindig.

Gelukwense aan Craig Joubert, die SA-skeidsregter in die Bledisloebeker-wedstryd tussen die All Blacks en die Wallabies in Australië. Veral die tweede helfte was die beste in baie jare omdat die skeidsregter nommer 31 was en nie probeer het om nommer 1 te wees nie.

Na so ʼn vertoning was dit nie vir my ʼn verrassing dat Bryce Laurence as skeidsregter bedank het nie.

Rugbygroete uit ʼn groen Bosveld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.