Cyril se omwenteling oor Eskom en die DA oor SEB

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Twee berigte van die afgelope paar dae het my aandag nogal getrek: Die een was oor pres. Cyril Ramaphosa wat hou van die idee dat kragsentrales verkoop word; die ander oor die DA wat dit oorweeg om sy steun vir die ANC-weergawe van rasgebaseerde regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te herroep.

Albei kom op ’n taamlike omwenteling neer.

Die idee om kragsentrales te verkoop, beteken dat die opwekking en distribusie van elektrisiteit verdeel word. Private maatskappye sal dan verantwoordelik wees vir die opwekking van krag, terwyl Eskom (’n staatsmaatskappy) dit onder verbruikers sal verdeel.

As woorde iets beteken, kom dit neer op ’n gedeeltelike privatisering van ’n strategiese bate wat nog altyd in die staat se hande was – ook onder die destydse Nasionale Party (NP). Onthou, dat sowel die NP as die ANC, in wisselende mate en elkeen op sy eie manier, nogal ’n sosialistiese agtergrond het.

Genl. J.B.M. Hertzog, die eerste leier van die NP, het byvoorbeeld in 1917 nogal positief oor die Bolsjewistiese revolusie in Rusland geoordeel. Die Bolsjewiste was teen imperialisme gekant, en dit was as ’t ware ’n kodewoord vir stoere Afrikanernasionaliste wat net kort tevore onder die Britse imperialisme gely het.

Iets later, vroeg in die Tweede Wêreldoorlog, het dr. Hendrik Verwoerd, toe redakteur van Die Transvaler, “ ’n soort staatsosialisme” bepleit. ’n Beduidende deel van die Afrikanernasionaliste, sowel in die NP as in die Ossewabrandwag, het nogal aangetrokke gevoel tot die sosialistiese deel van die Duitse Nasionaal-Sosialisme.

Nadat die NP in 1948 aan die bewind gekom het, is min van dié sosialistiese idees in die praktyk verwesenlik. Maar sommige strategiese bates, soos die spoorweë en hawens, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, en Eskom, het altyd in staatshande gebly.

Vir sy part is die ANC sedert die begin van sy ballingskap in 1961 toenemend deur die leiers van die SA Kommunistiese Party (SAKP) oorheers. Die SAKP was trouens een van die mees Kremlin-getroue kommunistiese partye ter wêreld, en dis opvallend hoe die ANC/SAKP in die jare 1961-1990 in byna elke denkbare opsig soos ’n getroue skoothondjie agter die Sowjetunie aangeloop het.

Die bewindoorname van die ANC in 1994 het saamgeval met die einde van die Koue Oorlog en die ineenstorting van die kommunisme as globale magsfaktor. Die nuwe paradigma, so was die algemene gevoel, was die Washington-konsensus – die liberale veelparty-demokrasie en die kapitalisme.

Die verwagting was dat die ANC teen wil en dank daarby sou moes inval. Gedeeltelik was dit ook so, al het die kole van die sosialistiese gedagtegoed sterk bly smeul. Natuurlik is die sosialisme, veral onder die bewind van pres. Jacob Zuma, oorspoel deur grootskaalse korrupsie, staatskaping en fundamentele onbekwaamheid. Maar die sosialisme het steeds ’n sterk vertrekpunt gebly.

Om dus, soos Ramaphosa maak, aan die privatisering van kragsentrales te dink, is in die ANC se ideologiese konteks dieselfde as om in die kerk te vloek. Dis ondenkbaar. Dit kom waarskynlik volgens talle kamerade neer op verraad.

Neem in ag dat dit slegs ’n Ramaphosa-toon in die water is. Die kans bestaan dat hy die aftog sal moet blaas. Maar die blote feit dat hy die idee in die openbaar opper, is ’n aanduiding daarvan dat die vasgeroeste ratte in die ANC dalk, net dálk, effens begin beweeg. Kom ons kyk wat gebeur.

Die ander nuusitem is dat die DA op sy nasionale konferensie binnekort ’n voorstel gaan oorweeg om rasgebaseerde regstellende aksie en SEB af te keur. Die DA en sy voorvaders tot by die ou Progressiewe Party van Helen Suzman, was altyd sterk op nierassigheid. Dit was trouens die fondament vir sy teenstand teen apartheid.

In die eerste jare ná 1994 het dit die DA se vertrekpunt gebly. Gevolglik het hy hom kragtig teen die ANC se soort regstellende aksie en SEB uitgespreek. Daardie regstellende aksie het daarop neergekom dat die bevolkingsamestelling in mindere of meerdere mate op alle vlakke in die staatsdiens, private sektor en selfs sportspanne gereflekteer moet word. In die praktyk het dit beteken dat onbekwame, onervare en ongekwalifiseerde swart mense bekwame, ervare en gekwalifiseerde wit mense vervang het.

Hiermee word nie te kenne gegee dat swart mense per definisie ongeskik vir die poste is nie. Wel dat historiese omstandighede (ja, apartheid, as ons eerlik wil wees) hulle dikwels van goeie opleidings- en professionele geleenthede weerhou het. Maar dit het verder as net dít gegaan. Die swart mense wat hoë poste gekry het, het dit baie dikwels gekry omdat hulle ANC-kaders was – en nie bloot omdat hulle ondersteuners van die regte party was nie, maar van die regte faksie in die regte party (eers die Mbeki-faksie, toe die Zuma-faksie).

Helen Zille. (Foto: Twitter)

Bowendien is SEB toegepas op swart mense en hul families wat dit nie nodig gehad het nie. Iemand soos – sê maar – Ramaphosa se seun het nie spesiale behandeling nodig om ekonomies ’n sukses te wees nie, maar die arm dog ambisieuse en ywerige Josef Tshabalala uit Kruispad wel. Maar kleur is die maatstaf; nie wie dit nodig het nie.

Dit het dus uiteindelik neergekom op onbeskaamde diefstal, selfverryking, korrupsie en geesdriftige deelname aan staatskaping. Wie het die ergste daaronder gely? Die arm swart mense wat in uitsiglose omstandighede in plakkerskampe en townships woon. Dis dié beleid met sy rampspoedige uitwerking wat die DA onder die leiding van Mmusi Maimane begin steun het.

Maimane se logika was nie heeltemal onbegryplik nie. Aangesien die swart mense nou eenmaal ’n groot meerderheid van die bevolking vorm, moet die DA ’n elektorale deurbraak na hulle maak as die party ooit wil hoop om die ANC as regering te vervang. En dus, was die redenasie, moet die DA se beleidsrigtings in die smaak van die swart mense val.

Nou ja, ’n mens kan lank en breed oor die wysheid daarvan redeneer. Bowendien het dit nie beduidende swart steun van die ANC weggetrek nie, terwyl die party baie wit en bruin steun prysgegee het. Bowendien het die party eintlik afstand gedoen van sy bestaansrede – nierassigheid.

Met Helen Zille wat nou weer ’n prominente rol in die DA speel, is die kans baie goed dat die party op sy skrede sal terugkeer en weer nierassigheid as uitgangspunt aanvaar. Op kort termyn sal die DA moet aanvaar dat hy in die opposisie gaan bly, veral omdat die natuurlike alternatief vir die ANC onder die swart mense eerder die EFF is. Op lang termyn moet die DA hom eenvoudig hou by sy beginsels.

Selfs al beteken dit dat hy ’n ewige opposisieparty bly, behou hy ten minste sy siel. En uiteindelik is dít belangriker.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan Venter ·

Betreffende Eskom en die voorsiening van krag het ons die spoed van Superman nodig, die krag van Atlas om ons vinnig uit die moeras te kry, kom reënseisoen gaan ons heeltemal onder, en soos met als kan dit nog jare neem voor die ANC tot ‘n besluit kom. De duiwel met Cyril se toon, dan moet die voet volg, dan wat nog en intussen gaan die land onder totdat die res van die ANC byt, dan nog is daar Cosatu en die SAKP.

Ek sal graag hul tydskedule/tydraamwerk en sperdatum wil sien wanneer als in werking moet wees, ingesluit die datum waarop daardie krag gelewer moet word. Maar natuurlik moet mens dan altyd gebeure soos die berig hier onder in berekening bring, en dit kan beteken dat dit onrealisties sal wees om ‘n sperdatum aan enige besluit van die ANC te koppel, dalk mag die projek eers vir Cyril se opvolger beskore wees om die volk en land te red:

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/partye-kry-stry-oor-kragvoorsiening/

Intussen skud die graderingsagentskappe die kop in ongeloof.

Michael ·

Die DA sweet oor die wit kiesers wat hy verloor het en miskien is dit die rede maar hoe ook al diskriminernde wette in die weksplek en op die sportveld is verkeerd en moet geskrap word so gou moontlik.

Jaco ·

Goeie artikel. Eskom se monopolie het so houvas dat ek bevrees is selfs die hele ANC kan hulle nie eers meer beheer nie. Enige poging sal onafwendbaar eindig in sabotasie vanaf Eskom se kant wat ons sal laat terugverlang na die goeie ou dae van loadshedding.

Jaco ·

Wat ook genoem moet word, is dat die ANC se kaderontplooiing ook maar ooreenkomste toon met die ou NP-regering se aanstelling van Broederbonders in lekker jobs in die staatsdiens en in groot Afrikanerbesighede. Broederbond lidmaatskap het selfs gehelp om top posisies in moderature van die 3 Afrikaanse susterkerke te kry.

Reinhardt ·

…en dit is steeds kaderontplooiing, of dit nou deur die ANC of NP gepleeg is, dit is verkeerd. Dis sekerlik ‘n billike stelling? Of is ons slegs ontsteld as dit die ANC is wat dit doen?

Reinhardt ·

100% korrek, die NP was net so lekker korrup, maar hier mag dit nie genoem word nie.

Henk ·

Ek stem saam , die verskil is dat die organisasies 100% gewerk het en nie ten gronde gegaan het nie .
Die anc weet nie eers hoe om iets korrup te bestuur nie . Soos die Bybel sê ” where there’s envy and strife , there’s chaos “

Johan Venter ·

Eskom en die ANC is onkapabel, frustrasie verby.

Gister was ons krag vir 7 uur af, 6 uur agv beurtkrag en 1 uur agv vesel vir die internet, slote wat hulle grou.

En dit was nie die eerste keer nie.

Hoe gefrustreerd moet besighede nie wees nie?

Toe die krag nou buite geskeduleerde tyd afgaan, vlie ek by die deur uit op soek na die skuldige, ek weet sommer dit is die ‘veselkontrakteur’ vir die internet soos laas wat die kragkabel afgekap het.

Drie strate van ons af vind ek hulle waar hul besig is om slote te grawe.

Wat ek nie kan verstaan nie is dat twee maande gelede het hulle op dieselfde lyn waar hulle nou grawe reeds vesel gelê.

Vervolg ….

Johan Venter ·

Vervolg van vorige kommentaar:

Nee sê die opsigter, dit moes Telkom se subkontrakteur gewees het, sy span grou nou weer dieselfde lyn oop om vir Vodacom vesel te lê. Toe sê hy dat daar ook nog ‘n ander kontrakteur vorentoe kan wees wat een of ander tyd vir ‘n ander instansie vesel sal kom lê.
So grou daar dan nou ‘n paar kontrakteurs dieselfde lyn oop om vir die on
derskeie instansies vesel te lê, 3 x word dieselfde werk oorgedoen, moontlik ook deur verskillende kontrakteurs.

Werkskepping kom by my op en dan besef mens verder waarom die ekonomie is waar dit is. Maar buiten vir beurtkrag, veroorsaak die lê van vesel ook kragonderbrekings omdat hulle nou en dan ‘n kragkabel af kap/pik wat mens nog verder teen die mure uit dryf.

En dan het erge weerlig ook nou en dan effek.

Reinhardt ·

Dit is nie werkskepping nie, dit is eenvoudige swak beplanning van die munisipaliteit. Waar ek werk roep ons alle telekommunikasie voorsieners in en vergader met hulle oor hul planne. Dan konsolideer ons al die planne sodat n sloot slegs eenmaal gegrawe word en dit dus effektief ontplooi word.

Michiel ·

Europa verdeel elektriciteitsvoorsiening in 3 komponente: Produksie, verspreiding en administrasie.
Produksie doen alleen dit, verspreiding versorg bekabeling tot in jou huis, en administrasie is niks anders as net geld invorder. Gevorderde geld wordt betaald aan ‘n sentralebeheer orgaan wat die geld versprei onder die 3 partye + stadsraad.
Byvoorbeeld: Medupi produseer, NetKabel bou onderhou, versorg infrastruktuur en ABC Elektra adminstreer “klante”. Van jou totale kragrekening wordt 60% bepaald deur Energiekomissie, en 40% mag administrasiekantoor self bepaal. Sodoende ontstaan enorme kompetisie onder admin kantore.

Elektra opsplits kan veel werkgeleentheid oplewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.