DA en demokrasie kry taai klap met Zille-saak

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Vir enigiemand met ’n sprankie insig in die Suid-Afrikaanse politiek moet dit duidelik wees dat die ANC half uitgetel teen die toue lê. Die oomblik nader dat sy belangrikste teenstander, die DA, hom ’n linkerhaakhou gee wat sy kop laat tol.

Maar nee. Wat doen die DA? Hy gaan en skiet homself in die voet. Nie onwillekeurig nie. Nie daarin gedwing nie. Hy doen dit weloorwoë.

Dis om van te wanhoop as jy dink dit gaan hier om die enigste politieke krag in die land wat ’n geloofwaardige alternatief vir die intens korrupte en gedegenereerde ANC is.

Die DA se optrede teen sy vorige leier, Helen Zille, laat ’n mens snak na asem weens die opperste domheid wat die huidige leier, Mmusi Maimane, en dié se ondersteuners in die partyleiding aan die dag lê.

Kom ons kry eers een ding van die tafel: Hierdie artikel is nie ’n verdediging van Zille nie. Sy het moeilikheid gesoek.

Dis uiters onwys om per twiet met jou kiesers te kommunikeer. ’n Medium wat jou 120 karakters toelaat, bied geen ruimte vir die noodsaaklike nuanses wat ’n politikus moet nakom as hy uit die moeilikheid en by die waarheid wil bly nie. Enige politikus moet banger vir ’n twiet as die duiwel vir ’n slypsteen wees.

Tweedens moes Zille geweet het dat die swart mense – selfs dié wat die DA steun – nie dié ongenuanseerde boodskap oor kolonialisme sou waardeer nie. Dat sy, streng feitelik, korrek was, is nie ter sake nie – in die politiek tel persepsies dikwels vir meer as objektiewe feite. Trouens, die persepsies wórd in eie reg feite, want hulle help jou beeld bou of afbreek.

Dus: Zille het vir haarself ’n lat in die pekel gelê vir haar teenstanders binne en buite die DA om haar te gesel.

Goed, dis uit die pad. Kom ons pak die DA.

Die politiek is tot op sekere hoogte ’n kwessie van bemarking. Dit vertoon ooreenkomste met – sê maar – die bemarking van ’n fabrikaat motorkar, supermarkte, ensovoorts, maar daar is ook deurslaggewende verskille.

Die tegnieke wat vir die bemarking nodig is, is baie dieselfde. Jy wil immers jou markaandeel vergroot.

Dan dink ek aan iets wat die bemarkingsdeskundige en oudpredikant Bertie du Plessis – ’n ou studentemaat van my – in ’n voorlegging voor sy ontydige dood aan Die Burger se hoofredaksie gesê het: As jy die bad vol water wil laat loop, help dit nie jy draai die kraan oop en trek die prop uit nie. Overgezet zijnde: Pas jou produk só aan dat jy nuwe klante trek, maar sonder dat jy jou getroue ondersteuners van die verlede verloor.

Maar die DA wil nie net skoene verkoop nie. In sy marknavorsing moet hy nie bloot vasstel of mense skoene met ’n spits of stomp voorkant soek nie.

Hy verkoop bowenal ideale en hoop, wat tog ’n groot verskil maak.

Die DA se reklameveldtog is dus enersyds daarop gemik om die ANC – volkome tereg – as onherroeplik besmet met korrupsie en fundamentele onbekwaamheid voor te stel; andersyds om te wys dat hy self ’n veel beter alternatief is.

Hieruit volg dit logies dat die DA na buite bekwaamheid, integriteit en eensgesindheid moet uitstraal.

Nou ja, op die plekke waar die DA regeer, doen hy dit relatief goed. En daar is ook geen yslike skandale van oneerlikheid nie – altans niks wat met die ANC se fundamentele morele verderflikheid vergelyk kan word nie.

Maar nou jaag die DA self ’n molshoop wat beperk kón gebly het, tot ’n yslike berg op. Zille het ’n tik op die vingers verdien. Maar daar is ’n groot moontlikheid dat sy vandeesweek uit die party geskop gaan word.

Die gretigheid waarmee daar op haar jag gemaak word, blyk ook uit die feit dat die partyleiding die DA se eie grondwet oortree het. Mmusi Maimane het laas Saterdag ’n perskonferensie belê om Zille se skorsing aan te kondig, maar binne ure moes hy dit verleë terugtrek met ’n tweede aankondiging dat sy 72 uur kry om redes aan te voer waarom sy nié geskors moet word nie.

Dié oorgretigheid om Zille by te kom reflekteer sleg op Maimane. Vergete is die uitstekende, selfs indrukwekkende, toesprake wat hy teen pres. Jacob Zuma in die parlement gehou het. Wat sy beeld nou oorheers, is die verbetenheid en nydigheid waarmee Zille agtervolg word.

Dis relevant om te vra waarom dit so is.

Is daar onoorbrugbare prinsipiële verskille tussen die twee? Nee.

Het hulle só ’n persoonlike hekel aan mekaar dat hulle mekaar nie langer in een party kan verduur nie? Ek ken Maimane nie; ek ken Zille taamlik goed, en ek weet sy kan ’n moeilike mens wees as sy wil. Maar sover ek weet, het Maimane sy leierskap van die DA onder meer te danke aan Zille se bereidheid om terug te staan as leier.

Nou waar kom die geveg dan vandaan?

Ek kan natuurlik nie in Maimane se hart kyk nie. Maar logika bied ’n moontlike verklaring aan.

Dit is gewoon maar iets wat al duisende kere in die geskiedenis gebeur het: Dis die nuwe bul wat nie die aanwesigheid van die ou bul in die kraal kan veel nie. As die oue nie self heeltemal wil padgee nie, moet hy uitgedrýf word.

Dit gaan om wie die enigste koning op die DA-mishopie moet wees. Solank Zille ’n meter of twee ver daarvandaan staan en kyk, voel Maimane nie seker van sy leierskap nie. En dus moet sy, goedskiks of kwaadskiks, waai.

Dat die DA – en ook die Suid-Afrikaanse demokrasie – in die proses ’n taai klap kry, is nie ter sake nie. Dit gaan om Maimane se mag, wat vir hom blykbaar baie belangriker as enigiets anders is.

As daar mense in die binnekring van die DA is wat dié verklaring geloofwaardig wil betwis, hoor ek dit graag.

Natuurlik wil die DA ’n deurbraak na die swart kiesers maak, en Zille se kolonialisme-twiets was nie verstandig nie. Maar deur haar só kompromisloos uit te dryf trek die party ook die prop uit die bad, want hy beledig ’n groot deel van sy ou ondersteunerskorps.

My stem is maar ’n enkele een. Maar die DA sal taamlik moet verander voordat hy mý weer vir my stem kan vra.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

56 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bert

Goeie ontleding waarmee ek kan saamstem. Ek wonder net wat die transformasie van die DA uiteindelik gaan beteken vir die DA. Tot watter mate is die fondasie van klassieke liberalisme ‘veilig’ in die hande van die nuwe opkomende ‘bulle’? Daar is alreeds daarvan afgewyk met die ondersteuning van regstellende aksie ens. En daar is sommige swart DA leiers wat enige dag tuis sal voel in die EFF. Die DA is inderdaad ANC lite.

Leendert

Mens kan net ten volle onderskryf wat u hierbo sê. Wat vir my ook goed is, dat hierdie gebeur het, is dat alle mense weer selfondersoek kan doen na hul waardes en waaraan hulle glo, vir wie hulle stem. Hordes Afrikaanssprekendes en wit mense stem vir die DA omdat hulle van die ANC ontslae wil raak, maar dan verloën hulle ook hulself. Betreffende taal, BEE, regstelaksie, indiensneming, gelyk beregtiging, jy noem dit, is hul beleid dieselfde as die van die ANC. Nou vra ek, hoe stem ‘n mens vir ‘n party wat ‘n ANDER persoon se belange en nie my… Lees meer »

Francois

Dis baie goed gestel, DA glo beter as die ANC ? maar hul gedrag is presies die selfde. DA kry nie my stem nie, ek glo nie meer in hulle nie

John

Mmusi speel op mense se wanhoop weens munisipaliteite se verval en korrupsie, maar ontken die bydraes van wit mense in die vooruitgang en beeld van die party. Hoe het hy gekom waar hy vandag is? Hy wil oor mense klouter tot bo. Sy huidige raadgewers sal ook uitgewerk word. Hoewel die Engelse leke-prediker by Bloemfontein dwarrels-fantome oor ‘n nuwe Christen-landsleier, met Mmusi in die voorste ry, oor die vlaktes langs vergete visioene van boere-konsentrasiekampe uitbasuin het, terwyl sy vliegtuig gereed staan vir vlug, is die werklikheid ‘n heel ander storie. Zille se keuses van vriend en vyand was nog altyd… Lees meer »

Vinkie

Ek het, toe Me Zille so ‘aangeval’ word deur haar twiet, besluit die DA sal NOOIT my stem kry nie. Ons is 5 in die gesin en ons almal het dit eenparig besluit. Ons het GEWEET dat Mmusi nie anders is as Zuma en Malema nie. Nou kom sy ware kleure ook uit. Ek stem VF+ al vir 22 jr.