‘Da’, ‘Njet’ en ‘Zazdarovje’

Deur genl.maj. Chris van Zyl 

‘n Standbeeld van Mikhail Kalasjnikof in Moskou. Foto:
AP Photo/Pavel Golovkin, File)

My kennis van Russies is beperk tot drie woorde, maar toe ek Mikhail Timofeyevich Kalasjnikof, wat allerweë as die “Vader van die AK47” bestempel word, gedurende sy besoek aan die RSA in November 1997 ontmoet, was dit meer as genoeg sodat ons mekaar van meet af kon verstaan.

Die algemene Westerse persepsie van Russe is dat die mans tipiese bonkige norsaards is terwyl Russiese vrouens oor die algemeen onversorg en oorgewig langrokdraers is. Niks is verder van die waarheid nie, want ’n breër glimlag as waarmee Kalasjnikof kon spog, sal moeilik gevind word (en ek aanvaar talle manlike soekers na Russiese bruide sal saamstem dat daar tóg vietse vrouens in Moskou rondloop).

Daar sal egter seker diegene wees wat oombliklik sal maan dat die Russe van nature goeie skaakspelers (in meer as een opsig) is en dat die uiterlike nie met innerlike oortuigings en intensies verwar moet word nie. Ek het die man egter heel anders beleef.

Ten tye van sy besoek aan Suid-Afrika was ek die bevelvoerende generaal van Kommandement Westelike Provinsie met hoofkwartier in die Kasteel in Kaapstad. As gereelde kleiteikenskut, en as gevolg van ons gedeelde liefde vir die sport, was ek goeie vriende met Fred Tatos (wat sedertdien oorlede is), die eertydse eienaar van Suburban Guns in Plumstead. In sy omswerwinge het wyle Fred kontak gemaak met Russiese wapenvervaardigers en kon dit nie anders nie as om ook paaie met die ewe beroemde (en berugte) Mikhail Kalasjnikof te kruis. Só het ’n nuwe en goeie vriendskap tussen hulle geblom – en ek aanvaar vir beide was die ander ’n ware tovarish (kameraad). Op Fred se inisiatief is Kalasjnikof uitgenooi om die RSA te besoek.

Indien dit in ag geneem word dat sy besoek in November 1997 gerealiseer het, ’n skamele drie jaar ná die nuwe politieke bedeling in werking getree het, en dat daar aan beide kante van die pre-’94-skeidslyne steeds bepaalde bedenkinge gegeld het, dan moes beide Mikhail en Fred besef het dat daar inderdaad op dun ys beweeg sou word. Selfs in die Cape Argus was tydige verslag gedoen dat een van die oorlewendes van die destydse slagting in die St. James Kerk, bestem was om die skepper van die berugte AK47, wat toevallig tydens die aanval gebruik was, te ontmoet.

Ek was die gasheer vir ’n skemerkelkfunksie in Het Bakhuys wat ter ere van die besoekende Rus aangebied was. Die ander gaste was hoofsaaklik vuurwapenliefhebbers uit beide die jagters- en sportskutgeledere, maar ook ’n hele paar militêre- en polisiegaste wat voorheen met Kalasjnikof se produk onder minder vreedsame omstandighede kennis gemaak het. Dit het meer as voldoende geleentheid gebied om op beide professionele- as persoonlike vlak met ons gas kontak te maak.

Dit was ’n geleentheid om deur vooropgestelde persepsies te breek en om kennis te maak met die mens wat destyds oor kundigheid, insig, ervaring en aanleg beskik het om ’n ongeëwenaarde produk te ontwikkel wat later onder die strafste omstandighede beproef en geloof sou word. Meer as dit – vir talle “vryheidsvegters” oor die aardbol heen het die AK47 ’n simbool geword van die stryd wat hulle gevoer het – ’n simbool wat vandag nog aan ’n kragtige, dog stille, boodskap gestalte gee.

Diegene wat met die AK47 se skerpkant te doene gekry het, was eweneens beïndruk met die wapen se eienskappe en vermoëns. Onder veeleisende omstandighede wat enige vervaardiger wat sou trag om die AK47 wat in 1945 ontwikkel is, se diensbaarheid, effektiwiteit en eenvoudige onderhoudsvereistes, selfs in die hande van mense wat die minimum opleiding ontvang het, te wou ewenaar, was dit ’n formidabele uitdaging. In 1959 neem hy sy ontwikkeling ’n stap verder met die ontwikkeling van die verbeterde AKM.

Die beste pogings deur die Amerikaners tydens die Viëtnam-oorlog, die Israeli’s wat op alle fronte Arabiese aggressie moes stuit, asook ander ontwikkelings elders ter wêreld, het duidelik tekort geskied. Toe Kalasjnikof weereens ’n verbeterde weergawe wat as die AK74 bekend sou staan, in die vroeë sewentigs sou ontwikkel, was die sirkel voltooi.

In Het Bakhuys was die tegniese spesifikasies van sy ontwikkelingswerk egter van mindere belang, want daar het die menslikheid van die bejaarde generaal (hy is in November 1919 gebore, wat beteken dat hy in 1997 reeds 78 jaar oud was) die geleentheid oorheers. Hy was pertinent gevra of hy tevrede was met die werk van sy hande synde talle terreurdade met sy skepping gepleeg was. Sy reaksie was dat dit sy doel was om ’n effektiewe vuurwapen te ontwikkel en beskikbaar te stel, maar dat hy nie aanspreeklikheid kan aanvaar vir waarvoor ander mense dit sou gebruik nie.

In retrospeksie geld dieselfde argument tans, synde daar hedendaagse ekstremistiese groeperinge is wat kommersiële voertuie bekom en dit gebruik om teen hoë spoed tussen niksvermoedende voetgangers in te jaag en sodoende talle se dood of verminking veroorsaak. Daar is egter min voertuigvervaardigers wie se ontwerp en produk van die 1940’s vandag steeds van doelmatige en tydlose ontwerp kan getuig.

Mikhail Kalasjnikof het die tydelike met die ewige in Desember 2013 verwissel en terwyl die AK47 se “stem” steeds dood en verwoesting in talle wêrelddele saai, wonder ek stilweg of sy finale bestemming dieselfde is waarvoor gelowiges soos ek hoop? Waarskynlik nie, want niemand anders kon soos hy die era van die Koue Oorlog sowel as die warm kant daarvan so verpersoonlik soos die Rooi Generaal nie.

Zazdarovje!

Прощайте! (Vaarwel!)

  • Genl.maj. Chris van Zyl is die assistant-hoofbestuurder van die TLU SA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jerry ·

Baie mooi storie. Sy uitvindsel was en is nog steeds n uitstekende en dodelike wapen vir kortafstandgevegte soos in n bosoorlog asook dig beboude gebiede, transitorooftogte, Mallrooftogte, voertuigkapings, huisrooftogte, bendegeweld, sluipmoorde en plaasaanvalle. Ek skat dat daar met die 2019 verkiesing meer AKs in Suid Afrika gaan wees as mense by die stembus. Mikhail se finale bestemming is seersekerlik daar waar sy hart regtig was.

Waarheid ·

Mense word nie geskiet deur die wapens self nie,
maar deur die mens wat die wapen ge-en mis bruik.

Vaalseun ·

Baie dankie vir die interessante vertelling, Chris. Kalasjnikof verdien sy erkenning. Die vraag is waaraan sou ons die prestasies van ‘n land in vergelyking met ander lande meet oor tyd? Geboue, infrastruktuur, kos, klere, voertuie, gereedskap, wapens, kommunikasie-middele? Wat plaas ‘n land se bevolking op ‘n hoër vlak van meelewendheid, sorgsaamheid, belangstelling, hardwerkendheid, deursettingsvermoë, waardering, erkenning, dapperheid, toewyding en tevredenheid?

Motor ·

Motors word ontwerp om mense en vragte te vervoer, terwyl wa-ens met die uitsluitlike doel ontwerp word om dood te maak, so die redenasie stem ek nie mee saam nie. As ons nie al ons aandag aan rugby spandeer het nie sou ons ook op die voorpunt van nuwe tegnologie en top wapens vir selfverdediging gewees het.

John ·

… ok maar goed dat ons wapenbedryf nie ver ontwikkeld gebly het nie en nou dalk net soortgelyk as die’ van N-Korea opgeeindig het nie…. of dalk miskien tog… dan het Trump ‘n goeie rede gehad om die plaaslike opgeblaasde ego’s tussen die kameeldorings in te jaag…

Piet Snot ·

Jou bekommernis oor die man se eindbestemming het my geraak, Chris.

Johan van Aswegen ·

Altyd so snaaks, alles Russies of Oosblok, saai verwoesting, alles Westers is fantasties.
Wat van Amerikaanse bomme wat verwoesting saai? Wat van Amerikaans vervaardigte vliegtuie soos die F16 of F15 wat op die oomblik in Yemen gebruik word deer die Saudi’s om Yemenis te dood, saai hulle ook verwoesting? Wat van Suid Afrikaans vervaardigte wapens?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.