DA-rusie soos manna vir ANC

helen-zille-mmusi-maimane

Helen Zille en Mmusi Maimane van die DA tydens die mediakonferensie (13 Junie 2017). Foto: Getrude Makhafola/ANA

Gesonde verstand in die DA het geseëvier. Die ooreenkoms tussen die DA-leier, Mmusi Maimane, en Helen Zille, Wes-Kaapse premier, kan die skade beperk ná ’n rusie wat die party groot skade berokken het.

Luidens berigte in die naweekkoerante wys interne DA-peilings dat die rusie oor Zille se twiets oor kolonialisme swart mense op taamlike skaal van die party laat wegloop. Blykbaar het die DA se steun onder swart mense sedert die begin van die affêre sowat twee maande gelede van 17% tot 10% gedaal.

Dit is slegte nuus vir die DA. Alleen in Gauteng, luidens berigte, moet die party ’n miljoen stemme bykry as hy in 2019 die bewind in dié provinsie wil oorneem – en minstens 700 000 van dié stemme sal uit die swart gemeenskap moet kom.

Soortgelyke syfers sal ongetwyfeld ook vir ander dele van die land (uiteraard met die uitsondering van die Wes-Kaap) geld.

Waar het die trein van die spoor geloop? En hoe lyk die toekoms?

’n Mens moet die saak natuurlik uit verskillende oogpunte bekyk. Verlede week het ek in dié ruimte betoog dat Zille buitengewoon onverstandig was om ’n ingewikkelde boodskap wat behoorlike nuansering verg in die 140 leestekens van ’n twiet oor te dra.

Pres. Donald Trump beland ook gereeld in probleme oor hy dieselfde doen. Twiets is vir ’n politikus handig om iets feiteliks – ’n vergadering wat êrens belê word, of so iets – mee te deel. Maar bly weg van die onding om ’n politieke boodskap daarmee oor te dra.

Sommige mense redeneer dat Zille feitelik korrek is wanneer sy daarop wys dat kolonialisme nie nét negatiewe gevolge gehad het nie. Dis reg. Maar is dit polities wys?

Stel jou voor dat Twitter 23 jaar ná die Anglo-Boereoorlog – dus in 1925 – bestaan het. Dat ’n politikus dan twiet dat die konsentrasiekampe nie nét negatief was nie; daar was immers skole in die kampe waar kinders geleer lees en skryf het!

Dit sou feitelik korrek wees, maar tewens die toppunt van politieke moeilikheidsoekery.

Dít is die eerste bousteen in die analise van hoe sake verkeerd geloop het. Dis waar dit begin het.

Maar Mmusi Maimane kon toe vir Zille gebel en gesê het: “Jislaaik, Helen, ek verstaan hoekom jy so iets getwiet het, maar dit was nie baie verstandig nie, jong. Ons word hier oorval deur verontwaardigde reaksies van swart mense wat sê hulle wil nie meer by ons staan nie.

“Ek gaan daarom ’n verklaring uitreik waarin ek jou op die vingers tik en sê jy het DA-beleid nie goed vertolk nie. Dan reageer jy met ’n ekskuus en sê jy het dit nie so bedoel nie; en dan los ons die saak net daar. Só kan ons die skade beperk.”

Maar Maimane laat waai met ’n donderende lawaai en loop Zille uit die aarde. En ek ken vir Zille – as só iets gebeur, kap sy haar hakke in die grond en slaan terug.

Sy het teruggeslaan met ’n artikel op die webwerf Daily Maverick waarin sy die politieke temperatuur nog ’n paar grade opgejaag het. En dít het die DA-establishment geen keuse gelaat nie – Zille moes aangekla word.

Dus sit die hele DA nou met die gebakte pere. En dit vanweë die ego’s van twee bulle in die kraal wat eintlik al lankal lus vir mekaar is, want elkeen wil die enigste bul – of minstens die mees geëerde bul – wees.

Dis amper soos die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914. Toe het land A die optrede van land B verkeerd gelees en dus verkeerd gereageer; daarna het land C gereageer op grond van sy oordrewe afkeer van land B. En toe mense hulle oë uitvee, het die kanonne gebulder en die jong mans gesterf.

Die kompromis tussen die twee bulle kan die skade beperk, maar – in elk geval nie op kort of middellang termyn – neutraliseer nie.

Die rusie in die DA was volstrek onnodig. Die tragedie is dat dit nie slegs die DA skaad nie; dit skaad die hele Suid-Afrika, en wel in twee opsigte.

Ten eerste is die DA die sterkste opposisieparty in die land. As hy sy kaarte reg speel, kan hy selfs deel vorm van ’n volgende regering. En al het ek min ooghare vir die spesie homo politicus as sodanig, kan ’n regering waarin die DA ’n prominente rol speel, kwalik erger wees as pres. Jacob Zuma en sy kornuite, wat slegs gekenmerk word deur ’n kombinasie van rassisme, oneerlikheid, korrupsie en onbekwaamheid.

Slegs ’n enkele instansie kry lekker oor dié interne DA-rusie – die ANC, en veral die Zuma-faksie. Dit kom regtig soos manna uit die hemel.

Maar daar is nog ’n aspek wat behandel moet word. Dit is die versoening tussen wit, swart en bruin.

Die euforie van 1994 het nie vreeslik lank gehou nie. Wyle pres. Nelson Mandela het verstandig opgetree deur versoening sy vernaamste doel te maak, en hy het die fondamente gelê waarop voortgebou kon word.

Dinge het egter al onder sy opvolger, pres. Thabo Mbeki, begin skeefloop. Dié se Afrikanistiese benadering het die rassistiese vleuel van die ANC moed gegee, en wit mense en in mindere mate ook bruin mense het toenemend die teiken vir swart populiste begin word.

Onder Zuma het sake heeltemal handuit geruk. Kopskote op wit mense is byna ’n outomatiese refleksie van dié man, wat die wittes as dankbare sondebok gebruik om die aandag van sy eie fundamentele oneerlikheid en verkoop van die staat aan die familie Gupta af te trek.

Binne die DA was daar ’n proses aan die gang wat die Mandela-vlammetjie – flou soos hy was – nie alleen aan die gang kon hou nie, maar kon aanblaas. Dit was iets wat gekoester moes word.

Tussen Maimane en Zille se ego’s is dié hoop ’n taamlike knou toegedien. Hoe nou verder? Dat ’n kompromis gevind is, is hoopgewend.

Al moet ’n mens bysê dat sake te ver gevorder het vir die skade om op kort termyn uitgewis te word. Die skade is nou eenmaal gedoen. Al wat ’n mens nou kan hoop, is dat die skade beperk bly en dat die pad geëffen word vir ’n langsame herstel op middellang of lang termyn.

Bowenal: Gedra julle soos volwasse leiers, nie soos stout kinders nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eish ·

(Wo) Man, proud (wo) man,
dressed in a little brief authority,
plays such fantastic tricks before high heaven,
as to make the angels weep.

Leendert ·

So word die kaf van die korrels geskei. Onder druk kom mense se werklike vermoëns na vore, hul leiers eienskappe. Ek glo ook, buiten dat Zille aangejaag het, het Maimane die pap op die grond laat val, ‘n gulde geleëntheid laat verby gaan om werklik as ‘n staatsman gereken te word. Hy is nog ‘n jong man, maar skiet ongelukkig ver tekort om as ‘n staatsman met visie en insig as toekomstige president gesien te word. Dalk groei hy in statuur, maar ongelukkig is dit so dat leiers en werklike staatsmanne het dit net in hulle, daardie slag, daardie uniekheid, en hulle word so gebore.

Leendert ·

Ek moet byvoeg, blootstelling en wye kennis verryk ‘n mens en dra by tot visie en insig. Ons leef nie in ‘n vakuum nie, lees en leer wat in die wêreld om jou aangaan, reis, gaan kyk. Zille, ‘n wêreldrysiger, het dalk verkeerd gedoen om in Singapoer te gaan kuier, dit wat sy daar teegekom het, hier te probeer oordra, terwyl Maimane in Zambie sy ding pobeer doen het.

Dalk het Zille ‘n les daarin gehad vir die mense tuis, hoe om die negatiewe in ‘n positiewe te omskep, en as oorwinnaar met daardie kennis die toekoms in te loop. Daardie kennis wou sy dalk deel. Maar nee, ons in SA leef op ‘n toetentaal ander planeet. Ons wil nie by ander leer nie, nie die weste, ten minste nie, maar ons kuier in Zambië. En ANC gesels met Rusland en China, veral China wat hordes produkte aan ons verskaf, gaan kyk maar hoe lyk ons winkels.

Loeis ·

Leopold, jy verwys na hoe die DA se swart steun agv Zille se Twiets gedaal het.

Weet jy dalk hoeveel hul se wit steun agv die party se reaksie en hantering daarvan gedaal het? Dit klink of dit baie substansieel kan wees.

Leopold Scholtz ·

Beste Loeis, nee ek weet nie. Ek stem saam, ek dink baie wittes keer die DA nou die rug toe. Ons sal eers weet as daar weer gestem word.

Kabous ·

Mmusi is ‘n swak leier.

De Lille het ongeveer
dieselfde paadjie geloop as Zille.

Ek is ‘n TROTSE ex-DA lid.

Daar is baie van my daar buite.

Zille is gewild onder bruin mense en blanke mense.

Mmusi se impulsiewe gedrag (swak leierskap) het die stille meerderheid die josie in gemaak.

As jy na Twitter getalle (follows) kyk het Helen dubbel soveel volgelingeas Mmusi.

Bruin mense vra hoekom is De Lille omgestamp.

Alles onder Mmusi se waak.

Ken2 ·

Ek het alle respek vir zille verloor. Sy vernietig nou alle hoop dat die DA die land in 2019 kon red, net om haar ego te beskerm. Soms moet mens vir die groter belang wegstap al was jy reg.

Peanut ·

Lyk my wit Mense is n aanvaarde irritasie wat verdra word maar geen erkenning sal gegee word aan dit wat wel goed was nie. Julle moet mooi dink met die volgende stembus rondte

CJ ·

Leopold. Jy maak ‘n vergeleiking met kolonialisme en die konsentrasiekampe (wel, eintlik oor die sensitiwiteit oor die twee). Ek kyk na “Verskroeide Aarde” op TV en het onlangs weer opgelees oor die konsentrasiekampe. Dis rou in my! Vergeet van 1927 – jou vergeleiking tussen konsentrasiekampe en kolonialisme in 2017, maak my die hoenders in! Die belangrike punt is egter ‘n mens se reaksie op iets wat iemand sê of skryf waarmee mens verskil. ‘n Mens kan half histeries raak en die hele wêrel wil afbreek, soos ANC, EFF en DA gedoen het (die eintlike storie hier!), of mens kan bloot sê dit is louter twak en aangaan met die lewe. Ek doen laasgenoemde! My afblaas hierbo bevestig natuurlik jou siening oor sensitiwiteit en wysheid. Ek geniet jou artikels! Dankie!

Frik Lotz ·

Nee wat, daar is geen verskil tussen DA en ANC nie. DA tree al hoe meer soos ANC op om swart stemme te werf. Die Afrikaners en witmense oor die algemeen is nie meer vir die DA belangrik nie. Die enigste party wat nog integriteit het en veg vir ons belange is die VF Plus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.