DA se stille optog na selfbeskikking in die Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Deur Phil Craig

Gedurende Februarie 2020 was alle oë op die staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa gerig wat, soos gewoonlik, versier was met die aanhoudende streke van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF). As jy egter in die Wes-Kaap gewoon het, het die werklike aksie stellig elders plaasgevind.

Nadat hy die provinsiale rede van Alan Winde aangehoor het, het Peter Marais, die Vryheidsfront Plus-kandidaat vir die Wes-Kaapse premier, die podium bestyg. Marais, ‘n bruin Afrikaanssprekende, het hom eers gerig tot diegene wat geweier het om die Afrikaanse gedeelte van die volkslied in die provinsiale parlement te sing, omdat Afrikaans die mees gesproke taal in die provinsie is, voordat hy hom tot Winde gewend het.

Marais het Winde gelukgewens met sy “visioenêre” toespraak en gesê dat dit “bedoel was om hoop te vestig”, voordat hy op die harde manier vir Winde daarop gewys het dat hy nie die wettige gesag het om dit te implementeer nie. Hy het sy aandag daarop gevestig dat die polisie, behuising, die onderwyskurrikulum, skoolvoeding, grondhervorming, belasting en die treinnetwerk alles die verantwoordelikheid van die nasionale regering is. Deur Winde na artikel 3, subartikel 9 van die Wes-Kaapse Grondwet te verwys, het hy hom versoek om die nasionale regering om ‘n referendum oor federale outonomie te vra ten einde artikel 235 van die Suid-Afrikaanse Grondwet te implementeer wat selfbeskikking aan die mense van die Wes-Kaap, en enige ander provinsies wat dit wou hê, gee.

Terwyl Winde uitdrukkingloos na Marais se toespraak geluister het, moes mens wonder: het Marais hom teen die politieke toue gehad, of was Marais in werklikheid ‘n welkome Trojaanse perd vir Winde se ware voornemens?

Die Wes-Kaapse manifes van die DA, getiteld Fighting for You – A Plan of Action for the Western Cape, het onderneem om “die stryd te lei om polisiëringsmagte en -begrotings van nasionale tot provinsiale regering af te wentel”, om “te veg om die bestuur van die spoorstelsel in die provinsie oor te neem by die nasionale regering” en om “te weier om die nasionale regering se voorgestelde rampspoedige Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Wes-Kaap te implementeer”. Dit, terwyl Winde in die toespraak wat bogenoemde van stapel gestuur het, verklaar het: “Die DA sal werk maak daarvan om die Wes-Kaap se kragvoorsiening deur onafhanklike kragprodusente te verseker omdat daar nie op Eskom staatgemaak kan word om die ligte aan te hou nie”.

Kaapstad. (Foto: pixabay)

Die Wes-Kaap se ervaring tydens die droogte het ongetwyfeld ’n groot rol gespeel om tot hierdie standpunte te kom. Dit het 19 maande geduur vanaf die datum waarop die provinsiale regering versoek het dat die droogte tot ‘n nasionale ramp verklaar word totdat die nasionale regering dit uiteindelik as sodanig verklaar het. Teen daardie tyd het die nasionale regering opgehou met die onderhoudswerk aan die Voëlvleidam in Kaapstad en die departement van water en sanitasie het nie meer geld gehad om aan die provinsie beskikbaar te stel nadat die ramp verklaar is nie.

Agter die skerms speel daar tans ‘n stille oorlog af tussen die DA in die Wes-Kaap en die ANC se nasionale regering vir wie die sentrale beheer van die staat ‘n wesenlike komponent van die Nasionale Demokratiese Revolusie is.

Die DA-bestuurde Stad Kaapstad het die nasionale regering hof toe geneem om die reg in te stel om onafhanklik elektrisiteit te verskaf. Gwede Mantashe het gepoog om druk op die stad te plaas deur die aansoek te laat vaar, en aangebied om die saak toe te gee as hulle sou, en gesê: “As mens hof toe gaan, skep mens ‘n presedent”, “as hulle hof toe gaan, sal ons die saak moet teenstaan” en “ons gaan nie die mag van die nasionale regering prysgee nie, want die saak word deur kwaadstokery gedryf”.

Die Stad Kaapstad het voortgegaan met die aansoek en uitspraak deur die hooggeregshof in Gauteng word tans voorbehou in die saak.

Terwyl hy die uitdagende agenda van Alan Winde bespreek het, is die tussentydse leier van die DA, John Steenhuisen, gevra of die DA ‘n spesiale verantwoordelikheid teenoor die Wes-Kaapse kiesers het, waarop hy “ja” geantwoord en verder uitgebrei het dat die DA doelbewus “die grense toets”. Die DA het destyds nog twee konstitusionele hofaksies begin om die regering se mag tydens die Covid-19-afsonderingtydperk te beperk. Die spanning het verder toegeneem toe die Wes-Kaapse regering die instruksies van die minister van onderwys verontagsaam en skole in die Wes-Kaap ‘n week voor die res van Suid-Afrika heropen het.

In reaksie op die Wes-Kaapse optrede het Panyaza Lesufi in die Gautengse Nasionale Vergadering verklaar:

“Die wangedrag en die houding van die Wes-Kaapse regering om te dink dat hulle ‘n federale staat is, of dat hulle ‘n regering op hul eie is, en dat hulle die nasionale regering kan uittart en die skole kan open as ons aangesê word om nie skole te heropen nie, moet verwerp word”.

Intussen het die ANC-belynde onderwysvakbonde gesê:

“Die houding van die Wes-Kaap om hulself buite die kollektief te definieer, mag nie toegelaat word nie. Suid-Afrika is een land en hul aandrang om hul eie ding te doen, ondermyn die eenheid van ons onderwysstelsel. Ons gaan nie net hul motiewe ondersoek nie, maar ook uitdaag.”

Dit wil dus voorkom asof die strydlyne getrek is, maar in die Suid-Afrikaanse politiek is niks so eenvoudig soos dit voorkom nie en is politieke ironie in oorvloed.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, saam met Peter Marais, die party se verteenwoordiger in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf.)

Peter Marais se oproep tot ‘n referendum oor federale outonomie, verteenwoordig ‘n versagting van sy vorige oproep tot volle Kaapse onafhanklikheid wat hy gemaak het toe hy in 2019 by die VF Plus aangesluit het. Hy is waarskynlik deur die VF Plus-leierskap daaraan herinner dat 92% van hul kiesers buite dié provinsie woon. Dit, terwyl die politieke kommentator RW Johnson in 2016 voorgestel het dat die DA ‘n beleid van stilswye oor Kaapse onafhanklikheid handhaaf. In 2019 het 69% van die stemme vir die DA nasionaal van buite die provinsie gekom. Toe ‘n peiling in die Kaapse Party, ook in 2019, voorgestel het dat 66% van die DA-kiesers in die Wes-Kaap ‘n referendum oor onafhanklikheid ondersteun, was die enigste opmerking deur die destydse DA-premier, Bonginkosi Madikizela, wat dit as “waansinnig” afgemaak het. Ten spyte hiervan beweer die Cape Independence Advocacy Group, ‘n politieke drukgroep wat ‘n referendum oor onafhanklikheid soek, dat baie DA-LP’s en leiers in die Wes-Kaap persoonlik nie net federale outonomie nie, maar sesessie ondersteun.

In ‘n laaste draai van ironie sou dit vir die Wes-Kaap baie makliker wees om volle onafhanklikheid te verkry as om federale outonomie te bekom. Outonomie benodig ‘n twee derde meerderheid in die nasionale vergadering wat, gegewe die ANC se verbintenis tot die sentralisering van mag, onmoontlik lyk. Totale onafhanklikheid vereis slegs ‘n 50% + 1-meerderheid van die kiesers in die Wes-Kaap, waar die DA tans 55% van die stemme het.

Een ding is seker: ons betree ‘n fassinerende era in die Suid-Afrikaanse politiek en dit mag dalk wees dat Ramaphosa nie die enigste politikus is wat daartoe in staat is om die lang spel te speel nie. Kan dit wees dat Alan Winde ‘n buitengewone pokerspeler is?

  • Phil Craig is ‘n gesinsman, ‘n reeks-entrepreneur en medestigter van die Cape Independence Advocacy Group. Hy beywer hom vir die skepping van die Kaap van Goeie Hoop, ‘n Eerste Wêreldland aan die suidpunt van Afrika wat vryheid, veiligheid en welvaart bring vir almal wat daar woon, ongeag hul ras, godsdiens en kultuur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lourens

Mmmmmmm, ons sal hierdie spasie dophou met al ons hoop.
Ná Weskaap, dan Vrystaat en Transvaal?
Nóg ‘n groot hoop.
Breek ons wonderlike land op as dit nie anders kan nie.

JohanR

Sal ons in 2028 kan se van die Wes-Kaap – “they enjoy a quality of life almost like no where else in the world, while the other eight provinces of South Africa are falling apart under the ANC.”

Wiehan

Soos ek voorheen elders in ‘n kommentaar genoem het: Republiek Kaap die Goeie Hoop

capie

‘n Onafhanklike Weskaap sal suksesvol bedryf kan word as na die CapeXit webwerf gekyk word. Dit sal die sleutel wees vir die res van die land en Afrika om die mag van die kommuniste en korrupte “regering” bloot te lê en te breek.

Ian

Die skrywer se onderrok hang uit as jy kyk na sy CV. Tog steun ek die idee in beginsel.