DA verguis PW Botha vir eie gewin

PW-Botha

PW Botha lewer ‘n toespraak. Foto: Southafrica.to

Hermann Giliomee skryf op Politicsweb.co.za die afdanking van Dianne Kohler-Barnard het oor morele posisionering gegaan en het baie min te doen met die verstaan van ons verlede.

Die DA se roekelose en wraaksugtige afdanking van Dianne Kohler-Barnard laat my dink aan ʼn onlangse artikel deur James Bartholomew in The Spectator oor wat hy “die aaklige ontstaan van deugdeseine” (virtue signalling) noem.

Daar is ʼn groeiende neiging in die kontemporêre lewe om te adverteer hoe gaaf, ordentlik en deugsaam jy is. In Suid-Afrika is een van die gewildste maniere om te sê hoeveel jy wit rassisme en die vorige orde verafsku, al is daar nie veel meriete in jou argument nie.

Deugdeseine verg natuurlik geen fisieke of morele moed nie en jy kan gratis na jouself verwys as ʼn ordentliker mens as daardie “aaklige Nattes” van die vorige politieke bestel.

In die geval van Kohler-Barnard het die DA se Federale Bestuur geen poging aangewend om dit as ʼn oordeelsfout – wat sy gou reggestel het – te sien nie. Pleks daarvan het die DA oorgegaan tot deugdeseine en is die uiterste vorm van straf uitgedeel waaroor ʼn party beskik.

Die eerste prioriteit was om te toon hoeveel die DA die NP-leiers van die verlede verag. Die party wil goed voel oor homself omdat hy nie die groter uitdaging aanvaar om op te staan teen die ware rasse-nasionalisme wat die ANC nastreef nie terwyl hy net lippediens bewys aan nierassigheid.

Verskeie DA-swaargewigte was baie krities oor hierdie propagandistiese laagtepunt in die party se bestaan. Dit trek ook ʼn streep deur die DA se stigtingsgeskiedenis en dit lyk of hy nou lekker saamsing in die koor wat eis dat wit mense hul geskiedenis moet afsweer en dat dit dalk net FW de Klerk is wat teësinnig ʼn bietjie lof gegun word.

Inderwaarheid was PW Botha veel meer as De Klerk ʼn brug tussen die ou en die nuwe Suid-Afrika. As kabinetsminister was hy ywerig in die najaag van die apartheidsbeleid en veral die Wet op Groepsgebiede. Hy het toesig gehou oor die verwyderings uit Distrik Ses en talle ander stede en dorpe sonder dat hy enige benul gehad het van die pyn en skade wat hierdeur veroorsaak is.

Onder premier John Vorster (1966-’78) het die staat gelyk na ʼn lendelam instelling wat gesukkel het om tred te hou met die groeiende eise en dreigemente. Met Botha se oorname was daar ʼn radikale verandering van denke.

Daar is aanvanklik min van sy premierskap verwag, maar hy het die land soos ʼn storm getref. Hy het uitgereik na swart mense en hulle mede- Suid-Afrikaners genoem, hy het ʼn besoek aan Soweto gebring en al die leiers op ʼn toer van die tuislande besoek en gesê mense raak opstandig as hulle onderdruk word. Dit het gelyk of groot veranderinge op pad was en ná sy eerste jaar as premier het die Washington Post geskryf dat die veranderinge swartes verstom en ʼn nuwe hoop laat opvlam het vir ʼn alternatief teen geweld en wanhoop.

Botha het dit egter duidelik gestel dat dit ondenkbaar is dat die wit gemeenskap dit sal oorweeg om sy politieke mag af te gee. Hy wou ʼn gerasionaliseerde, voortreflike wit beheerde stelsel hê en het dit duidelik gestel dat ʼn swart meerderheidsregering nie aanvaarbaar is nie “omdat ons kinders nie ʼn toekoms in Suid-Afrika sal hê nie”.

Jannie Roux, direkteur-generaal in sy kantoor en die kabinetsekretaris, het Botha opgesom as een wie se mag “direk en persoonlik en sonder ʼn geheime agenda was”. Hy was ʼn reguitprater, streng, brutaal en oorweldigend en soms ook boefagtig, wraakgierig en kleinsielig.

Botha was op die hoogtepunt van sy mag tussen November 1983 en September 1984. In 1983 het die NP die referendum vir ʼn driekamerparlement gewen. Dit was die simboliese einde van ʼn wit regering, maar het alle swartes vervreem. In September 1984 is hy ingehuldig as die eerste uitvoerende president.

Die 19de-eeuse Franse politieke denker Alexis de Toqueville het onder meer geskryf dat die gevaarlikste oomblik vir ʼn swak regering gewoonlik aanbreek wanneer hy homself begin hervorm.

Botha se getuigskrifte as ʼn hervormer het onherroeplike skade gely met sy Rubicon-toespraak op 15 Augustus 1985 – die toespraak wat ʼn metafoor geword het vir ʼn leier wat nie die goue kans aangryp nie. Die gevolg was die bloedstorting en polarisasie in die opeenvolgende jare. Die president was glad nie van plan om met ʼn oopheid te onderhandel nie, vasbeslote om die interne opstande te onderdruk en ver van oortuig dat die vrylating van Nelson Mandela stabiliteit sal bring. Hy was ook vasbeslote om sy kieserskorps te behou.

Maar was dit realisties om verwagtinge van onderhandelinge te koester?

Johan van der Merwe, hoof van die veiligheidspolisie in die middel jare tagtig, se beoordeling was dat die NP konstitusionele selfmoord sou pleeg met onderhandelinge. “Die herinneringe aan die ANC se Kerkstraat-bom in 1983 (18 mense het gesterf) het ʼn sterk teenstroom van wittes ontketen.”

In Augustus 1985 was die meerderheid ANC-leiers van mening dat die regime nie genoeg verswak is nie. Samesprekinge kon groot onenigheid oor ekonomiese politiek veroorsaak het omdat baie nog die Sowjet-model as ʼn ware alternatief gesien het. Die nasionalisering van selfs die kleinste ondernemings was nog die mikpunt van die ANC/SAKP se verbanne leiers.

Solank daar grootskaalse steun van die Sowjetunie was, kon hulle aanhou veg. Toe die leierskap van die UDF dit in 1987 oorweeg het om weg te doen met kop-teen-kop verset teen die staat se magte, is hulle aangesê “om die rewolusie lewend te hou”.

Internasionaal was die klimaat ook nie gunstig nie. Die Koue Oorlog was nog ʼn werklikheid en die Berlynse Muur het nog gestaan. Dit was die uiteindelike val van die Muur wat die ANC laat onderhandel het en beslissend was in De Klerk se besluit om te onderhandel.

Botha is ná sy uittrede in 1989 wêreldwyd veroordeel as ʼn reaksionêr wat nie die Rubicon kon oorsteek nie en hy staan in sterk kontras met De Klerk.

Tog was Botha se termyn nie sonder groot prestasies nie. Hy het die simboliek van ʼn wit parlement afgebreek en die herverdeling van inkomste van wit na swart was onder sy leiding. Die paswette, berperkinge op swart aktiwiteite in die townships en alle vorms van werkreservering is tydens sy bewind geskrap.

Teen die einde van die 1980’s het Botha tot ʼn groot mate die openbare orde herstel. Die politieke sterftes as deel van die totale bevolking was die laagste van alle etniese- of rassekonflikte van die 20ste eeu.

Tog was daar onwettighede in die Botha-regering se totale strategie, soos die moorde op teenstanders tuis en oorsee. Die Vlakplaas-eenheid is gebruik om ANC-aktiviste dood te maak of te laat verdwyn terwyl die regering onskuld gepleit het.

In 1987 het die NP die verkiesing maklik gewen en vir die eerste keer het die meeste Engelssprekendes hom ondersteun.

Botha se verset teen die onvoorwaardelike vrylating van Mandela was sy grootste fout en die NP het homself verdoem tot ʼn ewigkrimpende ruimte

vir maneuvrering. Die ontmoeting van die twee leiers in 1989 het verbasend goed verloop, hoewel Mandela drie jaar later aan my gesê het hy is jammer hy het nie die kans gehad om ʼn nuwe Grondwet met Botha te onderhandel nie.

Dit is moeilik om te sê of Botha in staat sou gewees het om ʼn werkbare plan vir politieke magsdeling te ontwikkel. Hy was egter reg in sy siening dat die land se keuses nie tussen apartheid en meerderheidsregering was nie.

In geleerde kringe in die buiteland was daar ʼn toenemende aanvaarding dat ʼn land soos Suid-Afrika slegs deur magsdeling suksesvol geregeer kan word.

Dr. Niel Barnard, toe hoof van Nasionale Intelligensie, glo Botha sou voorgestel het dat wit en swart tien jaar lank saam regeer en kyk wat gebeur. Hy dink ook Mandela sou dit ernstig oorweeg het.

Botha het in Augustus 1989 bedank. Hy het nie Vorster se charisma gehad nie, maar met sy beheer oor sy party, die kabinet en die staatsadministrasie het hy die toesighouding deur die hoof van die regering baie verbeter.

Hy het die getal staatsdepartemente verminder en ʼn kabinetsekretariaat gestig wat oor die uitvoering van besluite toesig gehou en vir notules gesorg het. Hy het die reputasie van ‘n effektiewe administrsateur gehad en was goed voorberei vir elke vergadering.

Dit is ironies dat Kohler-Barnard uitgeskop is omdat sy skynbaar die mening gedeel het dat Botha ʼn bekwame administrateur was juis op ʼn tydstip wanneer die huidige president waarskynlik die swakste bestuurder is wat die land nog gehad het. Dit is nie verbasend dat dit gebeur wanneer die DA se leierskap op sy swakste is nie.

  • Hierdie artikel is oorspronklik op 9 November op Politicsweb.co.za gepubliseer. Besoek die webwerf vir die volledige meningstuk.
  • Hermann Giliomee is die skrywer van The Last Afrikaner Leaders: A Crucial Test of Power (Tafelberg 2012) waarin dele van hierdie artikel verskyn.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Koos ·

Goeie artikel. Ek sal enige-een aanraai om Herman Giliomee se boeke te lees. Die ANC en sy liberale gevolg hou daarvan om die waarheid te verdraai of selfs leuens te versprei.

Johann ·

Cliff Saunders het die heel laaste onderhoud met PW Botha gedoen voor sy afsterwe. NIEMAND wil dit uitsaai nie………maar die hele Suid Afrika behoort dit te sien.

Rudi ·

Geluister daarna. Nogal interessant. Hy lyk nogal baie oud maar weet waarvan hy praat. Net op die einde sit hy die pot mis. SA is nie ‘n groep van minderhede nie.

Daar is net een meerderheid armes wat die rykdom wil he van ‘n groep minderheid.

chrisp ·

Die rede vir die stilswye oor my geskiedenis,taal en kultuur was maar net om die swart stem te probeer werf en die witstem(die wittes wat nog glo die DA staan ook vir Afrikaner belange) te behou. Daarom sal hulle nooit maar nooit ‘n stem verhef oor Afrikaans(universiteit,skool,plekname ens) nie.Laat daar egter net ‘n geleentheid kom om die swartstem de win dan word sulke belaglikhede gepleeg.

Hulle begin nie nou skielik saamsing in die koor nie hulle doen dit al vir dekades lank .Jy kom dit nou eers agter Swaer.

O ja wat die vrou gese het is miskien ‘n oordeelsfout uit ‘n DA oogpunt maar waar, bly dit waar.
Dit gaan ook verseker nie die laaste keer wees dat die DA,ANC,EFF mense aanspreek of skors wat politieke onkorekte feite weergee wat wel waar is nie.

Jaco Putter ·

PW Botha het die afgrond voorsien waaroor die ANC besig is om die land te laat gaan, daarom het hy sterk daarteen gestaan om die land aan hulle te oorhandig. Dit is egter n waarheid wat nie vandag gewild is om te verkondig nie.

Loeis ·

Hoewel die Botha administrasie nie in die buiteland gewild was nie kan dit nie ontken word dat sy regering meer bevoeg was as wat die ANC se regering is nie. Ook was korrupsie nie aan die orde van die dag nie. Dit is opmerklik dat Kohler-Barnard dan vir die waarheid om verskoning vra en dat die DA haar steeds straf daarvoor. Hierdie debakel gaan daardie party stemme kos. My beste raaiskoot is dat VF+ en moontlik die ACDP na volgende jaar se verkiesing sterker uit die stryd gaan tree.

Jan ·

Dis so jammer dat sensuur (deur wie)nogsteeds toegepas word op die onderhoud

John ·

Die DA dink hulle het nie die Afrikaner se stem nodig nie; so glo hulle wanneer hul lustig in die koor inval saam met diegene wat Afrikaner-volksleiers uit die verlede die een na die ander afkraak en hul bly tjoepstil wanneer die kwessie van Afrikaans in opvoedkundige inrigtings ter sprake kom. Die partyleiers glo duisende ANC-kiesers sal sodoende na die DA oorloop. Die stigma wat glo aan die Afrikaner kleef, kry dus die skuld vir die huidige stempersentasies en staan in die pad van ‘n groot oorwinning oor die ANC. As die Afrikaners tog net wil verdwyn, dan sal alles beter word. ‘n Mens mag maar droom… ‘n party ook.

vermeende ·

Ja sy grootste fout was nie Mandela nie, dit was sy vertroue in de klerk en pik botha. Verder was hy ‘n goeie leier wat vir niemand terug gestaan het nie.

Frik Lotz ·

Die DA is niks anders as n ANC-lite nie. Hul voel niks vir die Afrikaner en ander minderhede nie, nog minder vir Afrikaans. Hoe Afrikaners nog steeds DA kan stem, gaan die verstand te bowe. Dis tyd dat Afrikaners begin om hul gewig by die VF Plus in te gooi, want die VF Plus is die enigste party wat veg vir minderheidsregte.

Dan ·

Laat die DA n haan gaan vang, hulle het niemand in hul geledere wat ooit die interegiteit van PW sal he nie.Hierdie nuwe leier van die DA sal nie die pyp kan rook nie.Hy het meer blaf as byt in hom.

Ahooy ·

Die DA is ook nou voor in die koor om vergoeding vir die Marikana “slagoffers” te beding. Dit skep net n president om in die toekoms vir elke barbaarse betoger wat met geweld afbreek, brand, beskadig en vernietig, en deur die wrede Polisie beseer word in n poging om hulle te beheer, vergoeding te betaal deur belastingbetalers geld. Ons regstelsel is mos daarop ingestel om die arme misdadegers te beskerm!

Die polisiemanne wat deur die media sleggesê en afgekraak word, word met halwe bakstene en klippe gegooi. Hulle word beseer, maar mag in opdrag nie optree nie, want die media soek mos sensasie en elke polisie optrede met n vergrootglas opgeblaas om n storie te kan maak. Tree een op, word hy deur die bestuur vir die wolwe gegooi.
Ons kweek n polisiemag(lede) wat begin weier om op te tree en eerder anderpad kyk,uit vrees vir nagevolge.
As jy niks doen nie – kan jy mos nie n fout maak nie.

Renier ·

Die DA is ‘n jammerlike poging om ‘n tweeparty stelsel in Suid-Afrika te vestig soos in die res van die korrupte weste (d.w.s. twee partye wat deur dieselfde groep agter die skerms beheer word). Ek verstaan regtig nie hoekom mense nog die politiek in Suid-Afrika nog ernstig opneem nie.

pieter ·

AS STAATSPRESIDENT HET HY NIE SO GOED GEVAAR NIE,MAAR MILITER DIE WERELD ORE AANGESIT

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.