Daar is geen verlossing buite die ANC nie

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Deur Morné Malan

In die derde eeu ná Christus skryf Cyprianus van Kartago “extra ecclesiam nulla salus est” (buite die kerk is daar geen verlossing/redding nie.) Hierdie spesifieke dogmatiek het mettertyd ontwikkel en is deur die hervormers (soos Martin Luther en Johannes Calvyn) gewysig sodat die kerk nie na die fisieke struktuur of formele organisasie verwys nie, maar eerder na die Woord van God en die sakramente.

In die lig van die fokus op die Skrif en Luther se verset teen die outoritêre neigings van die destydse Katolieke Kerk, het Luther hierdie siening ontwikkel tot ʼn punt van radikale individualisme vir sy tyd toe hy verduidelik het dat verlossing uiteindelik gaan oor jou eie gewete en God. Doen wat die Skrif vir jou sê en vertrou dat jou saak met God reg sal wees.

In 2018 vind ons weer neigings, dié keer binne die politiek, wat mens laat dink aan Cyprianus se siening oor verlossing. Die owerheid in Suid-Afrika doen hul bes om die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners daarvan te oortuig dat daar buite die ANC geen verlossing vir hulle sal wees nie. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB), verteenwoordigendheid, gelykheid van uitkomste, transformasie, wit bevoordeling (“white privilege”), ensovoorts, is alles net ʼn vergestalting van die ANC se boodskap dat diegene wat nie wit is nie, vroue en al die ander “gemarginaliseerde” groepe nooit hulself sal kan red nie.

Die verhaal wat die ANC vir mense binne hierdie groepe vertel, is taamlik duidelik en nie ingewikkeld nie.

“Maak nie saak hoe hard jy probeer nie; maak nie saak hoe slim jy is of hoeveel inisiatief jy neem nie, daar sal altyd hierdie eteriese onderdrukking wees wat jou verhoed om sukses te behaal. Sonder ons sal jy altyd arm wees.”

Natuurlik is hierdie verstaan van die werklikheid baie gerieflik vir die amptenare binne die ANC – as dit so is dat geeneen van hierdie mense dit ooit op hul eie sal maak nie, dan vloei dit tog logies hieruit dat die regering sonder enige redelike perke behoort in te meng in die lewens van burgers. Die regering kan immers nie toelaat dat mense op gelyke voet kompeteer nie, want dit sou net die ongelykhede vererger.

Mens kan ook nie die vermoë van mense om die neerhalende houding van hierdie siening mis te kyk, onderskat nie. Trouens, ek weet nie van enige prominente politieke leier wat al ooit gewonder het of dit nie dalk verkeerd is om burgers (veral swart burgers) soos kinders te behandel nie. Tog sou mens niks anders van enige politieke elite verwag het nie. Hoekom sou mens uit eie wil besluit dat jy minder mag sou wou hê? As ondernemings van miljoene (selfs miljarde) rande na jou toe moet kom vir goedkeuring van hul aktiwiteite, hoekom sou jy wou ontslae raak van die vermoë om hierdie tipe besluite te kan neem?

Sommiges binne die staat het vir seker goeie bedoelings en volg hierdie pad omdat hulle regtig glo dat dit al manier is om voorheen benadeelde mense te help. Moet egter nie onderskat hoe sinies en baatsugtig baie van hierdie mense kan wees nie. Vir baie van die politieke elite in Suid-Afrika gaan dit nie oor hoe om mense van hierdie groepe te help nie; dit gaan daaroor om ʼn gees van afhanklikheid by die burgery te skep. Dikwels is hierdie programme bloot net ʼn regverdiging vir die uitbreiding van die staat en sodoende die uitbreiding van staatsmag. Dit is immers logies dat as al die gemarginaliseerde groepe volledig afhanklik van die staat is, dan is die redelike ding om te doen om die staat uit te brei. Daar word soms ʼn onderskeid getref tussen mense wat werk vir ʼn lewe teenoor mense wat stem vir ʼn lewe. Dalk is dit te kras gestel, maar daar is beslis mense in Suid-Afrika wat weens die staat se propaganda daarvan oortuig is dat as die heersende party nie aan bewind is nie en hulle vir hulself moet sorg, hulle en diegene wat hulle liefhet, sal vergaan.

Derhalwe is baie van die uitdagings in die land (te wete, armoede, werkloosheid, ongelykheid en dies meer) eintlik geleenthede vir die ANC. Solank as wat mense arm, werkloos en afgunstig is, sal hulle altyd die staat se hulp kort en kan die staat ook toenemende ingrypings in die privaat sektor regverdig. Trouens, aangesien die privaat sektor (volgens die regering) net ongelykheid bevorder, kan hulle dit selfs regverdig om hierdie aspek van die ekonomie te belemmer sodat staatsalternatiewe (wat skynbaar gelykheid bevorder) hul plek kan neem.

Vir die staat is ongelykheid ʼn gerieflike “krisis” wat nooit opgelos sal word nie, maar wat hulle altyd kan gebruik om staatsmag te regverdig.

Ten slotte, iets wat my dikwels pla oor mense se ontleding van onluste in Suid-Afrika, is dat hulle dit koppel aan opstand teen die regering. Dit is bykans nooit die geval nie. ʼn Protes is nie ʼn poging van mense om te sê dat die staat hulle moet uitlos, vryheid bevorder en hulle ʼn kans moet gee om onafhanklik van die staat te floreer nie. Dit is juis die teenoorgestelde daarvan. Dit is ʼn oproep tot die staat om verder in te gryp, meer uit te brei en mense se vryhede nog meer te beperk. Dit is #FeesMustFall, #AfrikaansMustFall, optogte oor gesondheidsorg, rassisme en ʼn horde ander wat die regering kan gebruik om meer te belas, in te meng by onderrig, gesondheidsorg en om deur middel van wetgewing oor haatspraak selfs aan mense voor te skryf wat hulle mag sê. Dit is alles maniere om die staat se mag uit te brei.

Myns insiens het Suid-Afrika nou al genoeg betoog by die staat om meer doeltreffend te wees. Geen staat sal dit ooit wees nie. Suid-Afrikaners kort nie ʼn beter staat nie. Ons kort vryheid – ʼn swakker staat en ʼn omgewing waarbinne mense hulself kan red deur hul eie inisiatief en harde werk. Dit is al hoe mense innovering aanwakker, die ekonomie groei en werklik die armes, werkloses en gemarginaliseerdes kan bemagtig om hulself van die euwels te verlos – selfs buite die staat.

  • Malan is ʼn navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Uitstekende perspektiefskeppende artikel, baie dankie. Weer iets geleer vandag.

tamboti ·

Maar niemand sien dat die eertydse ANC ook getransformeer het van bevrydings organisasie na African National Corruption.
Die skrywer se siening is dalk nie heeltemal korrek m.b.t. die onluste nie; die mense kom in opstand teenoor die Staat, maar stel die ANC totaal vry van die skuld al bestaan die Staat uit ANC verkose lede. Die ironie is dat hul selfs in die naam van die ANC (of 3 alliansie vennote) organiseer om teen die Staat te betoog, maar die geweld word teen die samelewing afgewentel.
Plus dan word daar nog gedreig dat hulle nie vir die ANC sal stem nie, maar ook nie vir enige opposisie nie. Vryheid is om vir die ANC te stem, en as ons nie vry voel nie stem ons nie.
Wat kan die rede hiervoor wees?
Die antwoord is: totale onbegrip vir hoe demokrasie werk en geen waardering daarvoor nie.

Selfbeskikking ·

Daar is GEEN manier dat die ANC sal regkom nie. Reenbooghoop is naief en sal nie werk nie. Ons enigste hoop is selfbeskikkingsonderhandelinge.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.