Daar is hoop vir SA in die toekoms

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Daar is hoop vir Suid-Afrika in die toekoms. Dis omdat ons kan planne maak, ʼn sin vir humor het, en ons vir mekaar omgee.

As ʼn mens na positiewe scenario’s kyk, is dit van die boustene wat die potensiaal het om die fondasie vir ʼn goeie uitkoms te lewer.

So dink Doris Viljoen wat pas as die direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aangestel is. Sy is die eerste vrou aan hoof van dié belangrike instelling aan die Universiteit Stellenbosch se sakeskool. Sy het ʼn aansteeklike energie en entoesiasme as sy oor die toekoms begin lostrek. Sy meen haar werk is die “coolste job”.

By die instansie, wat in Engels as die Institute for Futures Research (IFR) geregistreer is, help hulle sakeondernemings om deur strategiese denke verskillende toekomsuitkomste te ontwerp wat so ver as 2050 geldig kan wees. Om dit te kan bereik, word eers ʼn taksering van die afgelope 30 jaar of so gedoen. Dan volg ʼn indringende ontleding van die hede. Wat gaan nou in die wêreld aan? Wat gaan in mense se koppe aan? Watter prosesse of stelsels veroorsaak nou verskuiwings?

Na al dié prosesse word verskillende scenario’s opgestel. Deur sulke dinkinstrumente word daar dan vorentoe gekyk.

Daar word as’t ware vir elke scenario ʼn “kleedrepetisie” gehou. Die deelnemers aan die oefening dink oor hoe hulle elke situasie sal beleef. Hoe lyk die praktiese situasie daar waar hulle ver in die toekoms staan? Nie net in hulle bepaalde bedryf nie, maar ook in die lewe rondom hulle. Probeer om ʼn geheelbelewenis vanaf daardie veraf wêrelde vorentoe te kry. Wat gaan woonomstandighede wees? Wat gaan hulle eet? Gaan mense ʼn formele werk hê? Watter vervoer gaan daar wees? Energie? Watter regering sal daar wees, indien enige? Wie sal in beheer wees? Dit is van die vrae wat gevra word. Terwyl jy in die hede woeker, moet jy kort-kort ʼn kopreis na die toekoms neem om te probeer bepaal of jy nog op dreef is met jou beplande scenario en of daar verstellings nodig is.

Viljoen maan egter teen sekere denkfoute. Die eerste is om te dink dat, soos sake nóú staan (goed of sleg) dit in die voorsienbare toekoms so sal bly. Die lewe is eenvoudig net te kompleks daarvoor. Die tweede fout is om te dink daar is net een oplossing, wat die Engelse ʼn “silver bullet” noem. Derdens is dit ʼn fout om net na ʼn sondebok te soek. Soveel energie en tyd word dikwels gebruik om iemand vir dinge wat verkeerde geloop het te soek en te blameer, dat daar naderhand niks vir ʼn soeke na oplossings oorbly nie. Die vierde fout is om te dink jy weet regtig wat aangaan. Waar kry jy jou feite? Hoe betroubaar is die bron? Op ʼn bepaalde tydstip gebeur daar allerhande dinge waarvan jy en vele ander in elk geval niks weet nie. As ʼn joernalis verslag lewer, vernou hy/sy reeds die inhoud nog verder tot wat hy/sy dink nuuswaardig is. As jy op Google na inligting soek, word algoritmes met elk van jou klieks ingespan om ʼn profiel van jou en jou belangstellings te kry. Dan word jy grootliks net met verdere inligting daaroor gevoer.

Viljoen praat oor die wiel van gevolge. Die wiel moet tot minstens die tweede en derde stel nagevolge gedraai word om werklik ʼn idee te begin kry van die invloed van huidige besluite.

Iemand wat homself daagliks met die toekoms bemoei om die hede daarna te skik is Elon Musk, die rykste persoon op aarde en gebore Suid-Afrikaner. Hy is die bestuurshoof van Tesla, ʼn maatskappy wat elektriese motors bou en sodoende reeds in die hede die noodwendige oorskakeling van huidige uitputbare steenkool- en olie-energiebronne na groen-energie begin realiseer. Daarby is hy die baas van SpaceX wat ruimtetuie vir bekostigbare ruimtevaarte bou. Een van sy aanhalings is: “Daar moet redes wees waarom jy in die môre opstaan en wil leef. Hoekom wil jy leef? Wat is die punt? Wat inspireer jou? Wat van die toekoms gryp jou verbeelding aan? As die toekoms nie insluit dat ons daar tussen die sterre is en dat ons ʼn multiplaneetspesie is nie, dan sal ek dit besonder neerdrukkend vind.”

Volgens Doris Viljoen is die reaksie van besluitnemers gedurende die Covid-pandemie ʼn goeie voorbeeld van hoe belangrik toekomsdenke is. Sy vertel die storie van wat in Nieu-Seeland afgespeel het. So agt jaar voordat die pandemie toegeslaan het, het die regering opdrag gegee dat amptenare navorsing moet doen oor wat gedoen kan word indien dié verafgeleë eilandstaat van die wêreld afgesny word. Van die amptenare het gedink dis sommer tydmors, maar tydens drie dae se dinkskrums is planne opgestel vir ingeval die land deur ʼn oorlog of ander groot krisis van die res van die wêreld afgesny word. Toe die koronavirus Nieu-Seeland tref, het van die amptenare van hulle studie onthou wat intussen lê en stof opgaar het. Dis herbewerk, aangepas en toegepas. Nieu-Seeland het toe een van die suksesvolste lande geword om tegelyk die pandemie te bestry én ekonomiese aktiwiteite te handhaaf.

Die toekoms gaan ongetwyfeld deur tegnologie beïnvloed word. Dis goed en sleg. Selfs Elon Musk het al oor die gevare van kunsmatige intelligensie (KI) gewaarsku. Daar bestaan al rekenaars/robotte wat probleme vinniger as die mens kan oplos en selfs al onafhanklik kan dink. Daar bestaan egter nie behoorlike internasionaalgeldende reëls vir KI nie. Etiese kwessies word al hoe moeiliker. Musk glo byvoorbeeld dat die oudwordproses gestuit en selfs omgekeer kan word, maar jy kan jouself afvra of dit gewens is. Hoekom moet dit gedoen word en wie sal aanspraak daarop kan maak? Moet dit toegelaat word dat mense se DNS gemanipuleer word sodat ouers babas van ʼn “spyskaart” af kan bestel, byvoorbeeld watter kleur oë die kind sal hê? Of erger nog, dat proefbuisbabas geskep kan word om “supermense” te wees.

ʼn Ander kwessie: Gaan regerings en die demokrasie soos ons dit in die huidige orde ken, bly bestaan? Politici se mag strek net tot by landsgrense. Demokraties verkose regerings kan net wette maak vir hulle eie lande. Maar inligtingsmaatskappye ken geen grense nie. Hulle mag strek tot binne die huise van miljarde mense en kletsgroepies. Hierdie maatskappye bepaal toenemend watter inligting aan mense gevoer word. Jou privaatheid word verder beïnvloed deur elke kliek wat jy gee.

In haar boek, The Big 9, verduidelik Amy Webb, Amerikaanse skrywer, hoe ʼn handjievol groot maatskappye die onverkose “regeerders” van die wêreld word. Daar is ses van hulle in Amerika en drie in China. Hulle is: Google, Amazon, Apple, IBM, Facebook, Microsoft, Alibaba, Tencent en Baidu. Hierdie reeds kapitaalkragtige maatskappye trek elke dag meer van die wêreld se rykdom na hulle toe. Die markwaarde van Apple het byvoorbeeld pas die perk van $3 biljoen (Engelse trillion) oorskry en daarmee die bruto binnelandse produk van Frankryk verbygesteek. Net ses lande het groter BBP’s as dit: die VSA en China, en dan Japan, Duitsland, Brittanje en Indië.

Intussen is China besig om wêreldwyd vastrapplek te kry waar hy met infrastruktuurontwikkeling help, en dit sluit die lê van vesel vir internetverbindings in. Anders as die Amerikaanse maatskappye is die Chinese maatskappye onder die duim van die land se kommunistiese regering wat nie veelpartydemokrasie en vryheid van die media toelaat nie.

Inligtingstegnologie het natuurlik ook groot voordele, soos byvoorbeeld in die onderwys. Maar, om die voordele te kan benut, moet daar digitale toegang wees en vaardighede in die gebruik daarvan. Selfs leerlinge in verafgeleë plattelandse gebiede kan deur die beste onderwysers op aarde onderrig word deur toegang tot die internet. Dan moet daar egter die geriewe wees en data moenie so duur wees soos tans in Suid-Afrika die geval is nie. Sonder ʼn daadwerklike poging om die internet landswyd aan ʼn groeiende getal van veral jonger mense beskikbaar te stel, sal die ongelykheid in die land en werkloosheid net toeneem, met ʼn gevolglike groter kloof tussen “haves and have nots”.

Wat Viljoen die meeste van alles in Suid-Afrika pla, is die beskikbaarheid van suiwer water in die volgende vyf, tien of selfs meer jare. Daar is min daadwerklike pogings aan die gang om ʼn omvattende plan saam te stel vir die behoud van dié lewensbelangrike bron. Dit sluit die bewaring van riviere en vleilande, die bekamping van besoedeling, instandhouding van waterpype en krane en behoorlike bestuur van sanitasie-aanlegte in.

Almal weet energie is ʼn probleem, maar Viljoen wys daarop dat veel wyer gedink sal moet word as om bloot op die stabiliteit van ons kragnetwerk te fokus. Suid-Afrika is een van die grootste lugbesoedelaars weens sy grootskaalse gebruik van steenkool vir kragopwekking. Internasionaal word die geduld al minder met lande wat steenkool as hoofbron vir energieopwekking gebruik, en daarom word streng strawwe beplan – Suid-Afrika kan dalk oor enkele jare vind dat sy uitvoere van byvoorbeeld vrugte verbied of aan hoë tariewe onderwerp word omdat daar steeds van steenkool gebruikgemaak word, en wat dan?

Musk meen dat alles in die lewe nie net oor die oplos van probleme kan gaan nie. Daar moet dinge wees wat mense inspirerend en opwindend vind en wat die lewe die moeite werd maak.

In Suid-Afrika het ons ʼn komplekse kookpot vol probleme, maar ons het ook ʼn groot klomp innoverende, optimistiese mense wat genoeg omgee om planne vir ʼn beter toekoms te maak. Wat sal ons hierdeur trek? Miskien ʼn sin vir humor?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andrew ·

Die liberale kant van die sienswyse. Van ons stel weer glad nie belang wat Universiteit Stellenbosch, of meer korrek, University of Stellbosch , meer te make het nie. Ek meen nie asof die klomp vir Afrikaans omgee nie, so hoe nou gemaak ?

Marthinus W ·

`n Duisend jaar of wat van vandag af, gaan daar waarskynlik slegs vier dominante tale wees: Engels, Spaans, Mandaryns en Arabies. Afrikaans gaan gebruik word in gedigte en korrespondensie tussen familie.

Andrew ·

Dan sal Afrika drasties hulle engels op skool moet verbeter. Dink ook die franse, russe en duitsers sal iets oor jou lys te sê he. Maar elkeen het sy opinie

Wicus ·

Natuurlik is daar hoop, al hou ons nie van die huidige bedeling nie, al sit ons met Covid, al verarm baie van ons. Dis tog so as mens geen hoop het nie, wel, dan sal dit afdraende met jou gaan.

Ek dink baie daaraan, ons kla oor beurtkrag, slaggate, vuil water, ho-e lewenskoste, duur hospitale, man 60 jaar terug het ons (ek en my ouers) nie krag gehad nie, al die paaie dorp toe was grond, omtrent net die hoofstraat in die dorp was geteer, ons het nie krane in die huis gehad nie, geen selfoon (onthou die slinger foon en nommer asb), ons het hout gekap om vuur in die stoof te maak, en so kan ek uitbrei!

Ek dink ons leef soos konings ten spyte van als, en ja, ek dink daar is genoeg rede vir hoop, iewers gaan daar ‘n draaipunt wees, ons moet net hoop en ook doen…….

Johannes_64 ·

Ek ry baie eerder weer daai Rambler op die grondpad om sak kole te gaan koop vir die stoof en voel veilig. Ek loop eerder die twee kilometer bus stop toe en voel veilig as om selfoon te kan rond dra…. Sukkel om eerder om die parafien uit die kragopwekker te kry om dit met petrol aan die gang te kry… en voel veilig, en werk aan die ontwikkeling van die land.
Die huidige toestand is wat oor is van daardie ontwikkeling, daar is geen poging om dit eers te onderhou nie, wat nog van verder ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.